Rand en sent deur Suzaan Steyn: ’n onderhoud

  • 2

Foto van Suzaan Steyn: Phyllis Green

Ons almal draai ons sente om. Hoe laat ons maandeliks ons begrotings klop? Suzaan Steyn praat met Naomi Meyer oor haar boek Rand en sent, wat onlangs verskyn het.

Suzaan, wat was die hoofrede waarom die boek Rand en sent geskryf is? En sou jy dink die boek beantwoord sekere RSG-luisteraarsnavrae, of spruit die verskyning daarvan nie voort uit die RSG-program nie?

Die boek is ‘n direkte gevolg van die Rand en sent-program; om die waarheid te sê die boek ís die program op skrif. Van die mees gewilde onderhoude is getranskribeer en verwerk in 'n kompakte gids tot 'n wye verskeidenheid van finansiële onderwerpe: van die skep van trusts en die belastingvoordele, tot die opstel van 'n testament – selfs wanneer jy troeteldiere het – entrepreneurskap, spaar, beleggings, aandele, die hantering van skuld, wat jy jou kinders oor geld moet leer .... noem dit, en dis in die boek. En boonop in die woorde van finansiële spesialiste. Jy kan maar sê jy't jou eie finansiële adviseur op jou boekrak. 

Die boek neem die finansies van verskillende ouderdomsgroepe onder die loep. Wie is hoofsaaklik die teikenmark?

Almal wat werk vir 'n lewe en wil weet hoe om dit wat hulle daarmee verdien, vir hulle te laat werk. Jongmense wat wil begin spaar. Mense wat geld het om te belê. Entrepreneurs wat wil weet hoe om 'n onderneming te begin. Diegene met skuld wat wil weet hoe om uit die moeilikheid te kom. Mense wat kredietkaarte gebruik, wat wil weet hoe om 'n stokvel te stig, veilig aanlyn aandele wil aankoop, ens ens.

Hoe kan gewone Jan Alleman geld spaar in vandag se onsekere ekonomiese omstandighede?

Leef binne jou vermoë! Moenie alles uitgee wat jy het nie, of erger nog, dit wat jy nie het nie. Moenie onnodig skuld maak nie. Skuld op sigself is nie sleg nie. Bitter min van ons sal byvoorbeeld 'n eiendom of motor sonder skuld kan koop, maar skuld om aan die lewe te bly, moet 'n groot rooi vlag wees. En begin net om iets weg te sit – al is dit net R100 of R250 per maand. Begin iewers, want onthou die wonder van saamgestelde rente. (Dis rente waarop jy rente verdien en wat jou geld stelselmatig laat groei.) Einstein het gesê: “Saamgestelde rente is die agtste wonder van die wêreld. Diegene wat dit verstaan, verdien dit; diegene wat dit nie verstaan nie, betaal dit.” Jy kan self besluit wie jy wil wees. 

Wat is die goue reël tov geld spaar en om jou finansies te bestuur, as jy een moet uitsonder?

Om te spaar: Dink voor jy iets koop... Het jy dit regtig nodig? Hoeveel goed het jy in jou huis / klere in jou kas / kos in jou yskas wat jy regtig gebruik/opeet? Om jou finansies te bestuur: Begroot. Jy móét weet waarop jy jou geld uitgee. Kry die hulp van 'n betroubare finansiële adviseur saam met wie jy jou spaardoelwitte kan bepaal en 'n plan kan uitwerk om dit te bereik. 

Hoe gemaak met onbeplande finansiële uitgawes? (Vra 'n ma van skoolgaande kinders in 'n maand as die wasmasjien breek, die TV ook en die yskas begin lek.)

Dis waarvoor jy 'n noodfonds moet hê. Maak 'n spaarrekening oop waarin jy elke maand 'n bedrag geld wegsit en probeer so gou as moontlik minstens drie maande se salaris hierin spaar. Baie kenners meen selfs ses maande se salaris, maar doen wat vir jou gemaklik is. Jy mag glad nie aan die geld raak nie, maar dit net gebruik vir wanneer die yskas breek, die wasmasjien lek, die motor skielik nuwe bande nodig het, jou tand breek en die mediese fonds weier om te betaal of die hond 'n operasie moet kry. 'n Noodfonds het ook al 'n hele paar mense wat hul werk verloor het, 'n paar maande lank uit die verknorsing gehelp totdat hulle weer 'n salaris kon begin verdien. 

Aandelebeleggings en aanlyn bank-apps. Is dit veilig? Of eerder deur ‘n finansiële bestuurder? Slaggate om self in die aandelemark te belê?

Die risiko lê nie in die tegnologie nie, maar in jou beleggingskeuses. As jy weet wat jy doen – wanneer jy waarin moet belê – is jy veilig. Indien nie, moet jy eerder die hulp van 'n goeie finansiële adviseur inroep.

Hoe veilig is aanlyn bank of selfoonbankgebruik en bank-apps? As jy internettransaksies doen, hoe kan jy seker maak jy is op 'n veilige plek of waarvoor moet jy uitkyk om veilig aanlyn goed te koop?

Dis betreklik veilig solank jy nooit 'n openbare netwerk gebruik nie, jou wagwoorde gereeld verander en dit nooit met enigiemand deel nie, en altyd 'n rekenaar of selfoon gebruik wat ook met 'n wagwoord beskerm word. Gaan ook elke maand jou bankstate na en meld enige verdagte transaksies dadelik aan. Vir 'n paar rand ekstra sal jou bank jou per sms laat weet wanneer daar transaksies in jou rekening plaasvind. Dis die geld werd. 

Bitcoin versus banke: Hoe lyk die toekoms van banke en van geld wegsit? Gaan fisiese geld verdwyn? 

Tekens dui daarop dat geld soos ons dit ken, sal verdwyn. Banke is besig om ondersoek in te stel na die block chain-tegnologie wat die basis van kriptogeldeenhede soos bitcoin en etherium is. Dis nie te sê dat bitcoin en sy kripto-vriende die geldeenhede van die toekoms gaan wees nie, maar dit sal waarskynlik iets in die lyn wees. Wat banke betref het Bill Gates al in die jare ’90 gesê: “Banking is necessary, banks are not.” Banke sal in die toekoms dus ook 'n ander baadjie kry. Die beginsel om geld weg te sit en te spaar sal egter bly staan. 

Wat is die belangrikste: pensioene, testamente – of wat moet mense in verskillende lewensfases as die belangrikste ag, as jy breedweg kan gesels?

Ek het toevallig pas 'n onderhoud met 'n finansiële adviseur gedoen. Hier is sy lysie van die ses belangrikste finansiële produkte in volgorde van belangrikheid – en dit geld ons almal, ongeag ouderdom.

  1. Mediese fonds/hospitaalplan met gapingsdekking.
  2. Lewensversekering. As iemand in jou lewe finansieel afhanklik is van jou, soos jong kinders, 'n ouer familielid, 'n gestremde persoon, 'n lewensmaat wat nie finansieel vir hom- of haarself kan sorg nie, móét jy lewensversekering uitneem om seker te maak dat die persoon versorg sal wees indien iets met jou gebeur.
  3. Dekking vir gevreesde siekte en ongeskiktheid. Daarsonder sal jy nie na jouself of jou afhanklikes kan omsien as jy weens siekte of gestremheid nie meer 'n inkomste kan verdien nie. 
  4. Testament. Almal wat iets besit, moet 'n testament hê, oud en jonk. Dis uiters belangrik dat jy dit ook gereeld laat hersien en dadelik aanpas indien jou omstandighede verander, byvoorbeeld wanneer jy kinders kry of jou eie onderneming begin.
  5. 'n Noodfonds.
  6. Aftredevoorsiening: Een ding waaroor alle kenners dit eens is, is dat mens nooit te jonk is om te begin spaar nie. 

As mens 'n begroting uitwerk, wat is die kernbeginsels? Wat is mense geneig om te vergeet as hulle 'n begroting uitwerk – met ander woorde, watter uitgawes betrap mense onkant? 

Jy moet baie eerlik met jouself wees oor presies hoeveel geld jy maandeliks verdien en hoeveel jy uitgee. Tel eers alles bymekaar wat jy inkry: Is dit net jou salaris? Verdien jy ook iewers iets ekstra? Miskien huurgeld van 'n tweede eiendom, inkomste uit 'n onderneming wat jy na ure bedryf? En dan die lys met al jou vaste uitgawes: van die hoeveelheid belasting wat maandeliks van jou inkomste afgetrek word en jou pensioenfondsbydrae tot mediesefonds-premies, beleggings, kort- en langtermynversekering, telefoonrekening, huurgeld of 'n verbandafbetaling, munisipale rekeninge en heffingsfooie indien jy 'n deeltitel-eienaar is, ens. Kyk dan wat jy oor het en waarop jy dit uitgee. Die groot sondebokke is gewoonlik die koppie wegneemkoffie wat jy elke oggend koop op pad werk toe. Die wegneemtoebroodjie vir middagete, die pakkie skyfies en sjokolade teen vieruur. Sit net vir 'n maand lank die bedrag wat dié aankope jou daagliks kos iewers in jou kas weg en kyk hoeveel jy aan die einde van die maand daarop uitgegee het. Dit sal jou twee keer laat dink. Onthou net, dis darem ook belangrik om geld uit te hou om jouself mee te bederf! Maar eers as jy jou finansies onder beheer het. 

Rand en sent deur Suzaan Steyn: ’n lesersindruk

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top