Rand en sent deur Suzaan Steyn: ’n lesersindruk

  • 0

Rand en sent
Suzaan Steyn
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092383

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Met finansies is daar so baie veranderlikes dat ek soms wonder of dit raadsaam is dat mense vir mekaar raad gee of vra. Suid-Afrika, so word ons vertel, is die mees ongelyke land ter wêreld. Weelde en mensonterende armoede (om nou dié uitdrukking by Sampie Terreblanche te leen) vind mens sommer dikwels ’n klipgooi van mekaar af. Ou netwerke van patronaatskap hou welvaartpatrone in stand, en werkloosheid styg byna elke jaar. Al hierdie dinge is so, en dit maak dat Suid-Afrikaners se geldsake maar oor die algemeen na ’n droewige prentjie lyk, sonder enige lig aan die einde van die tonnel. Maar dit is ook ongetwyfeld waar dat baie mense eenvoudig finansieel totaal ongeletterd is. Te veel wil ons nie dink aan ons finansies nie. Sommige mense wil die finansies oorlaat aan ’n lewensmaat. Dit is nie wys nie, want finansiële sukses is, soos so baie ander dinge, ’n spanpoging.

Die goeie nuus is dat die publikasie Rand en sent mens kan help om die vaardighede te ontwikkel wat nodig is om finansieel geletterd te word. Hierdie vaardighede is baie divers en dit is vaardighede wat nie oornag aangeleer sal word nie. Ideaal gesproke moet mens reeds van ’n jong ouderdom af finansiële vaardighede leer. Miskien het pa en ma jou in die steek gelaat in daardie opsig, maar dit kan by jou begin! En daarvoor bied die boek ook ’n hoofstuk vol voorstelle oor hoe om gesonde finansiële beginsels by jou kroos te kweek. Diverse vaardighede, ja, maar vir die meeste daarvan het ’n mens glad nie ’n graad nodig in vuurpyl- of aktuariële wetenskappe nie. Iets so eenvoudig soos broodbak (waarvoor die boek ’n resep gee), is byvoorbeeld een van die vele vaardighede wat deel vorm van finansiële geletterdheid. Mens dink so maklik aan finansies as iets baie abstrak. Dis die aandelemarkte en syfers en letters en grafieke. En dit is ook deel van alles en vind mens ook in hierdie boek. Maar die ekonomie is eintlik ten nouste verweef met ons praktiese alledaagse lewe. Daarom is daar baie wat selfs ’n totale leek kan leer om groter finansiële geletterdheid te bevorder, deur die manier waarop mens oor alles in die lewe dink aan te pas by jou finansiële behoeftes.

Suzaan Steyn | Foto: Phyllis Green

Rand en sent is saamgestel deur die joernalis Suzaan Steyn, wat die aanbieder is van die program Rand en sent op die Afrikaanse radiostasie Radio Sonder Grense. Die boek bevat die raad van ’n verskeidenheid kundiges wat hulle kennis op die program gedeel het. Die boek beslaan 20 hoofstukke en dek onderwerpe soos die aandelemark, aftrede, arbeidskwessies, begrotings, belasting, eiendom, entrepreneurskap, kredietrekords, skuld, versekering en boedels en testamente. Daar is ook ’n hoofstuk oor spaar. Hoewel die hoofstuk oor spaar uitsluitlik op die spaar van geld fokus, moet die mens egter beslis wyer dink oor die onderwerp van spaar. Ons spaar nie net te min geld nie, ons mors ook te veel kos. Ons is te materialisties en begeer onnodige groot en duur motors en besittings. En ons doen beslis te min herwinning. Die herwinning van vullis sal in die toekoms ’n al groter rol in Suid-Afrika speel. Ons weet uit berigte in die media dat al meer van Suid-Afrika se vullishope onvolhoubaar word, en dat die regering die publiek in die toekoms moontlik gaan dwing om te herwin. Hoewel daar eintlik weinig kritiek is wat ek teen hierdie boek kan lewer, sou dit wonderlike gewees het indien daar iets oor herwinning ingesluit kon gewees het. Die herwinning van vullis sit nie net geld terug in die sak van die verbruiker nie, dit help ook om die omgewing skoner te hou en ons ekonomie meer volhoubaar te maak.

Die belangrikste les is dat daar weinig kitspaaie na finansiële sukses is. Die groot bedryfsmagnate met hulle verhale van kitsrykdom is die absolute uitsondering op die reël, en die deursneemens moet baie jare hard werk om finansiële sukses te smaak, en ook baie dissipline aan die dag lê. Daar is egter geen universele resep nie. Elke persoon se finansiële situasie is anders. Hoewel die boek dus dikwels voorstelle maak oor watter besluite om te neem, is dit waarskynlik belangriker om te let op wat die kenners in die boek jou aanraai om beslis nie te doen nie.

Rand en sent is een van daardie praktiese boeke waarna mens weer en weer sal kan terugkeer vir praktiese raad oor finansiële sake, en oor wat mens moet doen om slaggate te vermy. Veral die hoofstuk oor versekering is ’n wekroep om deeglik ingelig te wees oor jou regte en verpligtinge.

Rand en sent deur Suzaan Steyn: ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top