Bestaan linkse politiek nog?

  • 1

Prent: Pixabay

Die neiging dui daarop dat linkse politiek onder beleg is en dat die einde wêreldwyd en ook hier in Suid-Afrika in sig is.

Een van die grootste redes hiervoor is dat linkse politiek nie meer antwoorde en oplossings het vir ons dringendste sosiale en ekonomiese vraagstukke nie.

Ook hier in Suid-Afrika sukkel die linkses om munt te slaan uit die wêreldwye kapitalistiese krisis wat in 2008 sy verskyning gemaak het. Die neiging in Suid-Afrika is dat linkses eerder staatsmag misbruik om hulself en hul families ten koste van die armes en werkloses te bevoordeel.

‘n Menigte ekonomiese en politieke ontleders is van mening dat ons makro-ekonomiese beleid nie die gewenste uitwerking gehad het om ons voorheen benadeelde mense uit die ellende van armoede te red nie.

Dié mening sou aansluit by ’n stelling van Lindie Koorts, historikus aan die Universiteit van die Vrystaat, in haar Beeld-rubriek, dat GEAR (Groei, Indiensneming en Herverdeling) nie die nodige ekonomiese groei sou meegebring het waarop gehoop is om die land se ongelykhede opgelos te kry nie.

Volgens Koorts is “die sentrisme wat ons vandag het, niks minder as ’n rondvallery nie”.

Ook sou dit aansluit by die verbasende uitlating van die konserwatiewe Condoleezza Rice, ’n voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, dat daar genoegsame bewyse wêreldwyd bestaan dat kapitalisme ongelykheid teweegbring.

 ’n Soortgelyke sentiment is onlangs deur oudpresident Thabo Mbeki uitgespreek.

’n Ander politieke ontleder is van mening dat die vryemarkstelsel ’n swak geskiedenis het wanneer dit by die oplos van maatskaplike probleme kom.

Tragies genoeg kan linkses wêreldwyd nie die tekortkominge van kapitalisme tot hul voordeel uitbuit nie.

Nie eens die verskyning van COVID-19, wat die kragte van vraag en aanbod – ’n (mikro-) ekonomiese model van prysbepaling in die mark – verswak het, kon hulle tot hul voordeel inspan en met iets nuuts soos miskien “moderne sosialisme” vorendag kom nie.

.......

Die linkses se kreatiewe en vernuwende vermoëns is morsdood en hulle kan met niks nuuts vorendag kom nie. Hier in Suid-Afrika het hulle eerder besuinigingsmaatreëls ingestel wat verdere ekonomiese druk op arm en werklose mense plaas. Besuinigingsmaatreëls moet liewer ten tye van oorloë en pandemies vermy word, omdat dit vernietigend vir minderbevoorregte mense is.

...........

Die linkses se kreatiewe en vernuwende vermoëns is morsdood en hulle kan met niks nuuts vorendag kom nie. Hier in Suid-Afrika het hulle eerder besuinigingsmaatreëls ingestel wat verdere ekonomiese druk op arm en werklose mense plaas. Besuinigingsmaatreëls moet liewer ten tye van oorloë en pandemies vermy word, omdat dit vernietigend vir minderbevoorregte mense is.

Linkses se versuim om met een of meer alternatiewe ekonomiese modelle vorendag te kom het hul posisie wêreldwyd veral sedert die wêreldwye ekonomiese resessie van 2008 verswak.

Dié verswakking het sy verskyning in 2009 gemaak tydens die uitslae in die verkiesings vir die Europese parlement. Dit het gewys dat die sentrumregse partye veld gewen het teen die linkse en sentrumlinkse partye in Sentraal-Europese lande, soos Hongarye en Pole, asook Spanje en Portugal.

Die uitsonderings was linkse oorwinnings in drie Mediterreense lande (Griekeland, Siprus en Malta) en liberale oorwinnings in Skandinawiese en Baltiese state.

 Die gevolg was verdere “middelregse” uitslae van die verkiesings vir die Europese parlement die afgelope 12 jaar, die bewindsoorname van die Konserwatiewe Party (Tories) in Brittanje en die gevolglike vernietiging van die Britse Arbeidersparty van Tony Blair en Gordon Brown.

Die politieke omwentelinge is sterk beïnvloed deur die ekonomiese bekommernisse van Europeërs en die politieke swaai na middelregs die afgelope 15 jaar in Europa.

Die Europeërs is meer bekommerd oor ekonomiese kwessies soos behuising, onderwys, gesondheid, immigrasie en die veilige bewaring van hul pensioene.

Dit is hoekom middelregses soos die Tories, die Front Nasionaal van Frankryk en die ietwat verregse Onafhanklikheidsparty (Ukip) van Brittanje sterk staan.

Daarteenoor kwyn die steun van sosialistiese en middellinkse groeperinge soos die Franse Sosialistiese Party en die Britse Arbeiders.

Omdat mense geneig is om meer oor brood-en-botter-kwessies bekommerd te wees, is die aantreklikheid en die noodsaaklikheid van ideologiese debatte besig om te kwyn.

Die debat oor ideologieë se inherente tekortkominge en toekoms het al in die 1950’s onder akademici ’n bespiegeling teweeggebring, tot so ’n mate dat die Amerikaanse sosioloog, skrywer en joernalis Daniel Bell aangevoer het dat die ekonomie oor die politiek geseëvier het.

Of daar nog iets soos ideologieë bestaan, is egter ’n debat vir ’n ander dag.

........

In Amerika het die onbeholpenheid van die linkse Demokratiese Party Donald Trump in 2016 die Amerikaanse presidentverkiesing laat wen.

...........

In Amerika het die onbeholpenheid van die linkse Demokratiese Party Donald Trump in 2016 die Amerikaanse presidentverkiesing laat wen.

Dit is omdat werkers en die middelklas wêreldwyd ’n ekonomiese verval ervaar, hoofsaaklik omdat hulle voel dat hulle weens globalisering ekonomies agtergelaat word. Dié gevoel was veral sterk onder gemarginaliseerde kiesers. Dit was deurslaggewend in Trump se verrassende sege oor Hillary Clinton.

Teen 2016 was die Amerikaanse ekonomie 149% groter omdat produktiwiteit met 64% toegeneem het. Ten spyte van dié sukses het die gemiddelde Amerikaanse werker op ’n uurlikse grondslag steeds omtrent dieselfde salaris as in 1979 verdien. ’n Duidelike ontkoppeling tussen produktiwiteit en inkomste vir die middelklas. Ongelykheid het ook in dieselfde tydperk die hoogte in geskiet. Dus, al werk jy harder, bly jou inkomste dieselfde.

Dié situasie bots lynreg met die “Amerikaanse Droom” wat mense tradisioneel aangespoor het om ’n hoër lewenstandaard na te streef.

Teen 2012 het altesaam 23% van alle inkomste in Amerika aan die rykes gegaan en moes die armes toekyk hoe die rykes al hoe ryker word. Dit, tesame met die agternasit van ekonomiese hulpbronne deur immigrante uit arm lande na Amerika, het Trump met sy selfsugtige beleid van “Amerika eerste” die Withuis besorg.

Die Demokrate is as linkses so rigtingloos en onkreatief dat die persona van Trump en COVID-19 die verkiesing vir Joe Biden in 2020 gewen het. Was dit nie vir COVID-19 nie, sou Trump ’n tweede termyn gedien het.

Dié party is sedert Barack Obama se presidentstermyn wat op 20 Januarie 2017 geëindig het, leiersloos en ly aan ’n algehele gebrek aan oorspronklikheid, kreatiwiteit en rigtinggewendheid.

Ek het onlangs op ’n vliegtuig tussen Johannesburg en Kimberley langs twee Amerikaanse toeriste gesit. Hulle is Republikeine en kla dat Biden hulle geld deur middel van sy hulppakkette aan armes en werkers uitdeel.

.........

Ek het onlangs op ’n vliegtuig tussen Johannesburg en Kimberley langs twee Amerikaanse toeriste gesit. Hulle is Republikeine en kla dat Biden hulle geld deur middel van sy hulppakkette aan armes en werkers uitdeel.

...........

Sosialisme is tans ’n vloekwoord in Amerika. Die Republikeine is onder groot druk en gaan sosialisme een van die groot strydpunte tydens die middeltermynverkiesing volgende jaar en ook tydens die presidentsverkiesing in 2024 maak. Die volgende Amerikaanse president gaan na alle waarskynlikheid ’n Republikein wees.

Hoe dit ook al sy, ten spyte van die teenwoordigheid van COVID-19 – wat veral die ontwikkelende wêreld in ’n sosialistiese rigting gedruk het – vaar die vrye mark en die liberale demokrasie redelik goed teen diegene wat neig om die pad van sosialistiese ideoloë te bewandel. Die druk bou dus op teen die linkses om met alternatiewe vorendag te kom.

Die vraag moet wees: Bestaan linkse politiek nog?

Lees ook:

Alles is nie net wit of swart nie; let ook op die grys gebiede tussenin

  • 1

Kommentaar

  • Ek moet vir Jason vra om te heroorweeg hoe hy die swakheid van Franse sosialiste kan opvolg met die noem van mense se begaandheid met "brood en botter" kwessies. Vir Frankryk sal dit tog sekerlik kaas en wyn kwessies wees...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top