Alles is nie net wit of swart nie; let ook op die grys gebiede tussenin

  • 1

Suid-Afrika bevind hom tans op ’n ongemaklike gebied van moeilike politieke en ekonomiese uitdagings, wat nie maklik oplosbaar is nie. Oplossings tot dié kompleksiteit moet liewer nie net op die gebied van wit of swart areas gesoek word nie.

Miskien moet die grys gebiede tussenin ook bewandel word om oplossings te vind.

’n Paar dae gelede het ’n verslag deur Eunomix, ’n raadgewende maatskappy wat na politieke en ekonomiese risiko-scenario’s kyk, ons daarop gewys dat Suid-Afrika teen 2030 moontlik ’n mislukte staat kan wees.

Dié raadgewende maatskappy voorspel ’n geweldige ekonomiese en politieke ineenstorting wat Suid-Afrika in die gesig staar. Dit is nou tensy die land, volgens Eunomix, nie sy ekonomiese model drasties verander nie en beleidsmaatreëls instel wat groei bevorder nie.

Dié nuus is opgevolg deur ’n aankondiging deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) dat die land se uitgebreide werkloossyfer nou op 42% teenoor 39,37% in die eerste kwartaal staan. Dit is glo weens die skok van die COVID-19-inperking op Suid-Afrika se werksmag.

Daar was in die tweede kwartaal, volgens SSA, dus net 14,1 miljoen mense in Suid-Afrika, met ’n bevolking van 60 miljoen, wat amptelik werk gehad het. Dit beteken ’n volle 2,2 miljoen minder mense het werk gehad in die tweede kwartaal.

Die doodsmoor van handel, mynbou en produksie as gevolg van die COVID-19-inperking het nie net ’n verwoestende effek op Suid-Afrika nie, maar dit laat ontwikkelende en onwikkelde ekonomieë wêreldwyd steier.

Ekonome sê die wêreldekonomie het net voor die uitbreek van COVID-19 begin stabiliseer ná sy swakste prestasie in ’n dekade. Dié prestasie is ongelukkig deur COVID-19 ongedaan gemaak.

’n Ekonoom is ook van mening dat Suid-Afrika se ekonomie alreeds lank voor COVID-19 op sy knieë gedwing is. Dit is as gevolg van die "ontwrigting van onderliggende politieke en ekonomiese patrone".

Ontleders sê Suid-Afrika se vernaamste politieke partye wat hulle op die "sentrum" bevind, het ongelukkig min of geen innoverende idees oor hoe om ons ekonomiese uitdagings op te los nie.

As hul oninnoverendheid ’n effense feit is, sou ’n mens kon argumenteer dat dit hul stemme in die 2019-verkiesing gekos het. Die "verlinkses" en "populiste" aan die linkerkant en die "regses" (of is hulle gematigde "regses"?) en "konserwatiewes" aan die regterkant het liewer meer stemme op hulle verenig as die "bewakers van die middelgrond" of "sentriste".

Volgens sommige ontleders stem die "bewakers van die middelgrond" min of meer saam oor die diagnose van ons ekonomiese uitdagings, maar hulle verskil oor die oplossings.

Die eenkant vra vir nasionalisering en ’n swaarder regeringshand om maatskaplike geregtigheid te verseker. Hulle vra ook vir grondonteiening sonder vergoeding.

Die anderkant se klassieke liberaliste berus hulle by die uitgangspunt van die klassieke liberalisme dat staatsinmenging beperk moet word en bepleit ook ’n kleiner staat. Hulle is ook van mening dat grondonteiening sonder vergoeding geskrap moet word en dat Eskom en die SAL in die hande van privaat aandeelhouers en bestuur geplaas moet word.

Die oplossing vir die kiem van "aanhoudend-verby-mekaar-praat" lê miskien opgesluit in ’n sin wat ’n bekende ekonoom onlangs geskryf het.

"Ten spyte van ekonome se voorspellingsbravade, is die toekoms vir almal ’n geslote boek. Ons beste kans om ’n blik op die toekoms te kry, is om die verlede te verstaan".

Met bogenoemde sin behoort ons almal saam te kan stem om die verlede vierkantig in die oë te kyk en om dit beter te verstaan of ten minste te probeer verstaan.

Hopelik sal dit ons help om met innoverende en versoenende oplossings vorendag te kom, wat tot ons almal se voordeel sal strek.

Menigte ekonomiese en politieke ontleders is van mening dat ons makro-ekonomiese beleid lank voor die koms van staatskaping en COVID-19 nie die gewenste uitwerking gehad het om ons voorheen benadeelde mense uit die ellende van armoede te red nie.

Dié mening sou aansluit by ’n stelling van dr. Lindie Koorts, historikus aan die Universiteit van die Vrystaat, in haar Beeld-rubriek, dat GEAR (Groei, Indiensneming & Herverdeling) nie die nodige ekonomiese groei sou meebring waarop gehoop is om die land se ongelykhede op te los nie.

Volgens Koorts is "die sentrisme wat ons vandag het, niks minder as ’n rondvallery nie".

Ook sou dit aansluit by die verbasende-uitlating van die konserwatiewe dr. Condoleezza Rice, ’n voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, dat daar genoegsame bewyse wêreldwyd bestaan dat kapitalisme ongelykheid teweegbring.

 ’n Soortgelyke sentiment is onlangs deur oudpres. Thabo Mbeki uitgespreek. ’n Ander politieke ontleder is van mening dat die vryemarkstelsel ’n swak geskiedenis het wanneer dit by die oplos van maatskaplike probleme kom.

Met bogenoemde in gedagte, sou dit dan enigsins moontlik wees vir die "sentriste" om bymekaar uit te kom om nuwe oplossings vir ons ekonomiese uitdagings te vind? Miskien lê dié oplossings iewers tussen kapitalisme en sosialisme en wag om ontgin te word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top