Besondere erepenning van die SA Akademie 2021: ’n onderhoud met Rina Loader

  • 0

’n Besonderse erepenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is onlangs aan Rina Loader, woonagtig in Oostenryk, toegeken.

Die prys word aan haar toegeken vir haar inspanning oor 23 jaar met betrekking tot die bevordering en bekendstelling van Afrikaans in Europa en in die besonder haar betrokkenheid by die onderrig van Afrikaans aan die Universiteit van Wene waar sy sedert 1998 die vak Afrikaans uitgebou het en dus oor meer as twee dekades Afrikaans onderrig het. Hierdie betrokkenheid het geografies gesproke verder gestrek as Wene, omdat sy ook akademiese aksies rakende Afrikaans onderneem en/of georganiseer het in Duitsland (Leipzig, Hamburg), Hongarye (Boedapest) en Salzburg.

Sy praat met Naomi Meyer oor hierdie toekenning en haar betrokkenheid by Afrikaans in die buiteland.

Hallo Rina! Baie geluk met die erepenningtoekenning vanaf die Akademie. Ons het al vantevore op LitNet met jou gesels, en ook nog vroeër, in gesprekke dieper in ons argiewe). In hierdie tyd van afsondering en isolasie: Wat beteken hierdie toekenning vir jou?

So ’n toekenning kry na my mening in tye van isolasie ’n besondere profiel. Daarmee verwys ek nie net na die huidige inperkings nie. Afrikaans is ook in ander opsigte onder ’n tipe druk wat ooreenkomste met isolement toon. In sulke omstandighede is die toekenning vir my ’n besondere riem onder die hart, en wel in twee opsigte. Eerstens vir my persoonlik waar ek in Oostenryk byna ’n kwarteeu lank feitlik stoksielalleen vir Afrikaans in die bres moes staan. In hierdie konteks beleef ek die erkenning as ’n uiting van solidariteit waardeur die pad waarop ek my die afgelope kwarteeu bevind, bevestig word. Tweedens is dit ook ’n bevestiging dat die erkenning van Afrikaans se regmatige plek nie alleen op plaaslike vlak nie, maar ook internasionaal vir die Akademie belangrik is, wat my groot vreugde gee.

Vertel asseblief kortliks van jou betrokkenheid by Afrikaans in Wenen oor die jare.

Die Universiteit van Wenen is die grootste universiteit in Oostenryk en reeds eeue oud (in 1365 gestig) – twee goeie redes hoekom ek so opgewonde was toe ek in Oktober 1998 die kans gekry het om Afrikaans by dié spesifieke universiteit ’n stem te gee. As mens in ag neem dat Sentraal- en Oos-Europa as ’n minder vanselfspre­kende tuiste vir Afrikaans gegeld het as byvoorbeeld Nederland en België in Wes-Europa, was dit ’n belangrike ontwikkeling wat die profiel van Afrikaans in Europa verstewig het.

......

Elke kind moet die geleentheid kry om op alle vlakke in sy/haar moedertaal onderrig te word. Dit beteken nie dat meertaligheid daaronder moet ly nie, maar eerder dat dit in ’n kosmopolitiese wêreld juis aangemoe­dig word. My eie kleinkind kom op twee jaar reeds met Afrikaans, Duits en Pools reg.

......

Die aanvanklike idee was dat ek elke tweede semester die studente slegs oriënteer ten opsigte van Afrikaans en agtergrond gee oor Suid-Afrika self. Ek kon dit organiseer soos ek wou en het dus die tema so breed aangepak as wat dit in anderhalwe uur per week moontlik was. Die band wat tussen Nederlands en Afrikaans bestaan, sowel as die entoesiasme van die studente het egter daartoe gelei dat ek baie gou twee kursusse saamgestel het om oor beide semesters aan te bied en ek kon my dus meer toespits op Afrikaanse grammatika en letterkunde.

Daar was ook verskeie projekte oor die jare waarin Afrikaans vanuit Wenen bevorder kon word. By sommige is ook borge van buite ons universiteit gevind. Ek dink byvoorbeeld aan:

  • ’n Simposium oor Suid-Afrikaanse letterkunde waartydens die tema van migrasie in die Afrikaanse literatuur onder die soeklig gekom het. Studente kon hier kennis maak met name waarvan hulle net in die lesings gehoor het. Skrywers en letterkundiges is van dwarsoor die wêreld uitgenooi om voordragte te lewer. Achmat Dangor, Luc Renders, Ena Jansen, Marita van der Vyver, Johnny Masilela, Henk van Woerden, Alfred Schaffer en Etienne van Heerden het byvoorbeeld hier voordragte gelewer. ’n Groot lekkerkry was toe ’n student van my nie net musiek vir Adam Small se “What abou de lô?” gekomponeer het nie, maar die lied ook pragtig vertolk en voorgesing het. Dit het my herinner aan die dae toe ek nog in Pretoria met dramastudente doenig was.
  • In Salzburg was daar ook groot entoesiasme oor Afrikaans in die Departement vir Anglistiek, waar André P Brink en ook later JM Coetzee opgetree het. Brink het ook die studente in Wenen tydens die besoek toegespreek.
  • Ander besoekers deur die jare was Jerzy Kock en Pawal Zajas uit Pole; afkomstig uit Suid-Afrika was daar lesings deur Edwin Hees, Heike Gering, Carina van der Walt, Antjie Krog, asook Hennie van Coller, Jacques van der Elst en Fransjohan Pretorius.
  • Interessant om te noem is miskien ook ’n musikale en letterkundige potpourri wat ons in Wenen aangebied het. Twee Suid-Afrikaners, Marie-Louise Weissenböck (klavier) en Sandra Nel (sopraan), het verwerkings van Afrikaanse liedere aangebied en ek het Afrikaanse gedigte voorgelees. Die program het onder andere gedigte soos “Abel Rasmus” (Pulver­macher), “Oor die berge kom ’n man” (George Weideman) en “Die gevalle Zoeloe-indoena” (CM van der Heever) ingesluit. Die gehoor is van Duitse vertalings voorsien sodat hulle ons kon volg.
  • Ons was verder baie gelukkig om enkele gasdosente te ontvang wat elk ’n lesingreeks aangebied het. Dit was Lianne Barnard uit Olomouc in die Tjeggiese Republiek en Wannie Carstens van Noordwes Universiteit. Wannie Carstens het by Wenen aangedoen as deel van ’n uitgebreide Europese toer en dit was vir die studente en my kollegas ´n groot plesier om met hom te gesels en na hom te luister.

Betrokkenheid by Afrikaans het egter ook met vele struikelblokke te kampe gehad. Afrikaanse literatuur en blootstelling aan Afrikaanse uitspraak was beslis ’n uitdaging, omdat dit alles nie so voorhande is soos in Suid-Afrika nie. Mens is ver weg van alles wat Afrikaans is en posgeld vir boeke is ’n nagmerrie. Ons het gelukkig deur die jare talle boeke as skenkings van verskeie organisasies gekry.

Ek het verder ook dadelik gemerk dat kommunikasie tussen Europa en die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika en elders heel gebrekkig is. Dié besef het daartoe gelei dat ek reeds vanaf 2001 ’n webblad, Afrikaans in Europa, hanteer. Die hoofdoel is nog steeds om oor ’n wye temaveld inligting te bevorder. Ook in hierdie verband het ek groot ondersteuning van Wannie Carstens verkry.

Nederlands kry tans die wind van voor in Oostenryk – dalk ’n fase waaroor mens net kan hoop dat dit van verbygaande aard is. Ek is nou al verby die amptelike aftree-ouderdom en het geleer om versigtig te wees met hoop.

Verder is ek nog steeds besig met Afrikaans. In samewerking met Tobie van Dyk en Charlene Human van die Noordwes-Universiteit het pas ’n nuwe grammatikagids, Kortpad-Afrikaans, verskyn. Hierin het ek onder andere geput uit my ondervinding met die Afrikaans in Oostenryk. Ons berei reeds die tweede druk van die boek voor. Ek skryf ook aan werkboeke wat aansluit by die grammatikagids en probeer ook daarin my ervaring as dosent aan die Universiteit Wenen saam te vat met die hoop dat iemand dit nog nuttig kan gebruik. Verder ondersoek ek die moontlikheid om in die Taalsentrum van die Universiteit Wenen vir Afrikaans-entoesiaste toegang te verkry.

......

[D]aar bestaan nou al amper 30 jaar in ’n demokratiese Suid-Afrika waar gematigde Afrikaners goedge­sindheid bewys het. Miskien is dit nou tyd dat die kwessie rondom moedertaalonderrig in die kalklig kom.

......

Jy woon al jare lank in die buiteland en gedurende hierdie tyd het Afrikaans as taal baie ontwikkel en gegroei. Watter veranderinge merk jy op as jy in Suid-Afrika kom kuier – hoe klink die taal vir jou in vergelyking met toe jy weg is?

Dit is vir ’n Afrikaanssprekende persoon wat lank buite die land woon en net dan en wan in Suid-Afrika kom, telkens opmerklik hoe die idioom, woordeskat, sinsbou en klank van Afrikaans verander het en nog verander. ’n Weervoorspelling op die televisie klink net nie meer soos dit dertig jaar gelede geklink het nie – “reg oor die land” het “râg oor die land” geword en “ek” is nou “âk“. Vroeër het ons “geglo”, deesdae word daar “geglo-a”. Afgesien van positiewe ontwikkelinge in die intellektuele taal, is daar ook dinge wat ek nie like nie, byvoorbeeld die erosievirus wat rekenaarjargon en die trojane wat die post-Google-SMS-taal op die taalsentrum in ons kollektiewe brein se hard disk download. My indruk is ook dat idiome gedelete word. As iemand wat in die buiteland woon, na Afrikaanse omroepers en films en predikante op die kansel luister, dan wonder jy hoe dié Afrikaans by die gebruiklike variëteite waarvan taalkundiges praat, ingedeel word. Dalk is ’n nuwe “standaard” besig om te ontstaan ...

Van ver af gesien: Hoe lyk Afrikaans in Suid-Afrika vir jou? Is daar rede tot kommer, of is daar rede tot optimisme, of wat is jou algemene gedagtes?

Solank die taal rondom die braaivleisvure gepraat word, sal Afrikaans nie begrawe word nie. Maar wat ek hoor en lees van hoe byvoorbeeld in universiteite met Afrikaans omgegaan word, maak my wel ongemaklik. Ek kan die ongenoeë met Afrikaans verstaan omdat die gebruik daarvan tydens apartheid gepolitiseer is. Afrikaans was onnadenkend op anderstaliges afgedwing ten spyte van die ervaring wat ministers se eie voorgeslagte met die verengelsingsbeleid van die Britse kolonialiste gehad het. Maar daar bestaan nou al amper 30 jaar in ’n demokratiese Suid-Afrika waar gematigde Afrikaners goedge­sindheid bewys het. Miskien is dit nou tyd dat die kwessie rondom moedertaalonderrig in die kalklig kom. Die vergange ongeregtighede moet nie die jonger geslag benadeel nie. Elke kind moet die geleentheid kry om op alle vlakke in sy/haar moedertaal onderrig te word. Dit beteken nie dat meertaligheid daaronder moet ly nie, maar eerder dat dit in ’n kosmopolitiese wêreld juis aangemoe­dig word. My eie kleinkind kom op twee jaar reeds met Afrikaans, Duits en Pools reg. Dus: Ja, ek sien rede tot kommer, maar nie met die uitsluiting van optimisme nie. As mens “optimisme” definieer as ’n bereid­heid om uitdagings te aanvaar en konstruktief daarmee om te gaan, dan behoort dit altyd deel van mens se arsenaal te bly. Maar soos ek hier bo al gesê het, het ek geleer om versigtig te wees met hoop.

Hoe ervaar jy buitelanders se persepsies en idees van Afrikaans? Wat is die interessantste ontdekkings wat jy al aangaande Afrikaans in die buiteland gemaak het: rondom die taal, rondom mense se omgaan daarmee, in vergelyking met ander tale, of enige ander verhaal wat jy het om te deel?

Oor Afrikaans self is die meeste universiteitstudente en my kollegas altyd positief, maak nie saak of hulle uit Oostenryk, Pole, Luxemburg, Roemenië, Tsjeggië, Hongarye, Nederland, Switserland, ander dele van Afrika of Usbekistan afkomstig is nie. Selfs ’n paar Suid-Afrikaners het my lesings bygewoon, wat ek terstond ingespan het om hulle medestudente se uitspraak tydens groepwerk te verbeter. Diegene met ’n Germaans-Dietse agtergrond kon gou Afrikaans verstaan en was dikwels verbaas oor die feit dat Afrikaans ’n relatief eenvoudige taalstruktuur het in vergelyking met hulle moedertaal. Die besef dat die kultuur van ’n taal deur sy letterkunde ontsluit word, is vir nuwe studente duidelik ook ’n interessante invalshoek. Die feit dat taal nie in ’n lugleegte funksioneer nie, maar in ’n bepaalde konteks of omgewing bestaan, is positief deur die studente beleef. Dié invalshoek het in hulle lesings klem gekry en hulle het nie net ten opsigte van Afrikaans ’n oog vir dié dimensie ontwikkel nie, maar ook vir hulle eie tale. Hulle siening oor kommunikasie in iemand se moedertaal en moedertaalonderrig is kennelik daardeur beïnvloed. In Suid-Afrika kan mens natuurlik na Engels teruggryp, maar om met mense in hulle eie taal te kan praat, het besondere voordele – soos byvoorbeeld ’n student met belange by die landboubedryf kon getuig.

......

Solank die taal rondom die braaivleisvure gepraat word, sal Afrikaans nie begrawe word nie. Maar wat ek hoor en lees van hoe byvoorbeeld in universiteite met Afrikaans omgegaan word, maak my wel ongemaklik.

......

Die Europeërs met wie ek te doen gekry het, is wat die omgaan met ander tale betref, meestal heel ontspanne en taalkundig onderlê. Afrikaans is dikwels die derde of vierde taal waarmee hulle kennis wil maak.

Privaatstudente wat nie aan die Universiteit Wenen verbonde was nie, het ook deur die jare by my aangeklop. Ons het dikwels iewers in een van die lekker Weense koffiehuise Afrikaans geoefen, grammatika tussendeur behandel en die les afgesluit met Apfelstrudel of Sachertorte. Ek het byvoorbeeld ’n jong meisie gehelp wat in Namibië sendingwerk in Afrikaans wou gaan doen. Iemand anders wou weer leer om met sy skoonfamilie te kommunikeer. Nog iemand wou die verpligte Oostenrykse hospi­taal­jare in Kaapstad gaan doen. Ek kry ook te doen met mense wat Afrikaans deur middel van selfstudie bybring en in sulke gevalle het ek gereeld hulle oefeninge nagesien.

Oor die algemeen spreek die persepsie van en idees oor Afrikaans en Suid-Afrika vandag van beter ingeligtheid as toe ek in 1997 in Oostenryk aangeland het. Die meeste het destyds geweet apartheid is sleg, maar die begrip tuislande was van ’n ander planeet. Almal het van Mandela geweet, maar nie veel van die verskillende tale in die land nie. Ons moes telkemale verduidelik presies wat Afrikaans is, wie dit praat en waar dit gepraat word. Met die Wêreldsokkerbeker in 2010 was Suid-Afrika natuurlik meer nuuswaardig. Tans is die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus sowel as die lae immuniseringsgetalle van die land weer groot, maar negatiewe nuus. Ongelukkig is korrupsie in die land ook nie onbekend nie en dikwels word net die kop geskud as die land genoem word, waaruit mens nie veel meer as ’n vae negatiwiteit kan aflei nie.

Ek was nuuskierig om te hoor watter nuus oor my vaderland in die studente se lande van herkoms opduik. Uit die meeste antwoorde het geblyk dat interesse in Suid-Afrika sedert 2000 duidelik afgeneem het. Deesdae kom Suid-Afrikaanse gebeure meestal net op die periferie in plaaslike media voor, wat sommige studente ook aangee as ’n rede waarom hulle die lesings volg – nie alleen om die taal te leer nie, maar ook om inligting oor Suid-Afrika te kry van iemand wat daar gebore en getoë is.

My omgang met my studente, en met Oostenrykers oor die algemeen, het my geleer dat taal by mense aanvaarding en toegeneentheid kweek. Solank jy nie die plaaslike taal bemeester nie, bly jy ’n buitestan­der. Praat jy selfs krom en skeef, is dit goed genoeg, want dit toon jou respek en bereidheid om moeite te doen. En dit werk wedersyds. Sou dit nie in Suid-Afrika meer klem moet kry nie?

 ’n Slotgedagte: Dit was en is vir my ’n voorreg en plesier om met en in en hopelik ook vir Afrikaans te werk. Daarom is ek baie dankbaar vir die erepenning wat ek van die Akademie ontvang het.

Lees en kyk ook op LitNet en Voertaal:

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Rina Loader van die Universiteit Wenen, Oostenryk

LitNet Akademies internasionaal

Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Jerzy Koch en Karen Kuhn van die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Annelies Verdoolaege van die Universiteit Gent

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Eep Francken van die Universiteit Leiden

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Jacques Van Keymeulen van die Universiteit Gent

Afrikaanse letteren in Boedapest

Afrikaans is ons grote kans: die invoering van Afrikaans op die Universiteit van Zagreb

Op reis vir Afrikaans – Europa bied oneindige moontlikhede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top