Rina Loader

Rina Loader is in Krugersdorp gebore, maar het die grootste deel van haar lewe in Pretoria gewoon. Ná haar studie aan die Universiteit van Pretoria en Suid-Afrika het sy die Ateljee dell’Arte, ’n privaat skool vir onderrig in kommunikatiewe kinderdrama, in Pretoria tot stand gebring. Sy was lank aan die hoof van die Pretoria Eisteddfod se afdeling Afrikaanse Drama en was betrokke by die opleiding en eksaminering van onderwysers in hierdie vak, sowel as by die onderrig van Afri­kaans en Engels as tweede taal. Haar spesialiteit, eksperimentele omgewingsdrama, is met verskeie toekennings bekroon.

Sedert haar vertrek na Wenen is sy betrokke by die saamstel en opname van opvoedkundige leer- en leesprogramme. Vanaf 1999 is sy lektrise in Afrikaanse taal- en letterkunde en Suid-Afrikaanse landkunde aan die Instituut vir Europese en Vergely­kende Taal- en Literatuurwetenskap aan die Universiteit Wenen. Van haar studente het vir die eerste keer vertalingspryse gewen met vertalings van Afrikaanse literatuur in Duits. Sy speel ’n aktiewe rol om Afri­kaans in verskillende dele van Europa te bevorder.

In 2000 is sy betrokke by ’n Afri­kaanse werkswinkel, EWAfEM, in Leipzig, en in 2002 is sy mede-organiseerder van ’n simpo­sium in Wenen onder die titel Literature and Migration, South Africa. In 2003 is sy gas­dosent aan die Károli Gáspár University Budapest (KGRE). In 2004 neem sy deel aan die simposium South Africa in Perspective in Salzburg. Om kommunikasie tussen die Afri­kaanse belange­groepe te koördineer, kennis oor Suid-Afrika uit te brei en studiehulp aan studente te bied, bedryf sy die webblad “Afrikaans in Europa” vanuit Wenen, met ondersteu­ning van Europese en Suid-Afrikaanse akademici en belangstellendes. In 2015 word die Kanseliersmedalje van die Noordwes Universiteit aan haar toegeken vir haar bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans.

Onder haar ander aktiwiteite tel verskeie projekte om die Suid-Afrikaanse kultuur en letterkunde in Europa te bevorder. Sy het meegewerk aan die stigting van ’n Afrikaanse gemeente in die Reformierte Kirche van Oostenryk. Sy ondersteun ’n hulp­program vir weeskinders in Roemenië en besoek ’n belangegroep in Hamburg. Sy was vir ’n geruime tyd bestuurslid van die Oosten­ryks-Suid-Afrikaanse organisasie Friends of South Africa. 

Sy werk saam met die filmargief in Wenen wanneer Suid-Afrikaanse films vertoon word en tree op as keurder/beoordelaar vir vertalings uit Afrikaans en Nederlands in Duits. Sy is ook soms as produksie-assistente en weten­skaplike adviseur/navorser betrokke by filmproduksies vir die humanitêr georiënteerde filmorganisasie Cinéma Humain en vertolk ’n rol in die kortfilm Bornapart. Sy is mederedakteur van Band 2 van die Wiener Schriften zur niederländischen Sprache und Kultur, uitgegee deur Herbert van Uffelen. Sy is verantwoordelik vir verskeie weten­skaplike en populêre artikels en vir die saamstel van verskeie leerboeke oor vertolkings­werk vir kinders, asook oor die Afrikaanse taal, letterkunde en landkunde.

Haar huidige projek by die Universiteit van Wenen is om in samewerking met kollegas van die Noordwes Universiteit ’n basiese Afrikaanse grammatika, asook enkele werkboeke wat daarmee skakel, saam te stel. Dit sal hopelik ’n hupstoot wees vir die onderrig van nie-moedertaalsprekers in Suid-Afrika sowel as in ander lande waar Afrikaans ’n rol speel.

Besondere erepenning van die SA Akademie 2021: ’n onderhoud met Rina Loader

Naomi Meyer, Rina Loader Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2021-04-30

’n Besonderse erepenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is onlangs aan Rina Loader, woonagtig in Oostenryk, toegeken. Die prys word aan haar toegeken vir haar bydrae oor 23 jaar met betrekking tot die bevordering en bekendstelling van Afrikaans in Europa en in die besonder haar betrokkenheid by die onderrig van Afrikaans aan die Universiteit van Wene. Sy praat met Naomi Meyer oor hierdie toekenning en haar betrokkenheid by Afrikaans in die buiteland.

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Rina Loader van die Universiteit Wenen, Oostenryk

Menán van Heerden, Naomi Meyer, Rina Loader Onderhoude 2018-07-04

Hoe is dit gesteld met Afrikaans in die buiteland? Waar word die taal en sy letterkunde by universiteite as vak aangebied? Naomi Meyer en Menán van Heerden gesels met Rina Loader van die Universiteit Wenen, Oostenryk.

Top