Bekendstelling van ATKV-toneel se nasionale Simbiose-finaal: toekomstige toneelsterre skitter binnekort

  • 0

Links: ’n Wonderlike aand van saamkuier met Tienertoneel as goue draadjie wat almal verbind. Regs: Mercia Eksteen (hoofbestuurder: Kommunikasie) het gaste verwelkom.

  • Woorde: Maryke Roberts; foto’s: Clifford Roberts

Die Moederstad het verlede week haar beste voetjie voorgesit met ’n wolklose sonsondergang en nag behang met sterre toe die program van die ATKV-toneel se nasionale Simbiose-finaal by Rooftop on Bree bekendgestel is. Die nasionale Simbiose-finaal vind van 23 tot 28 September in die Kunstekaap plaas, en daarna is die nasionale wenproduksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien.

Altesaam 3 000 tieners het in 187 produksies  aan nege streeksfeeste regoor Suid-Afrika deelgeneem om om die top plekke mee te ding.

Al die uitblinkers en gaste van die aand het hulde gebring aan die ingrypende verandering in hul lewens sedert die ATKV deel van hul grootwordjare geword het.

Links: Wolfie en Wyfie, ATKV-Tienertoneel se twee gelukbringers, het gaste buite ontvang. Regs: Mens kon sien en ruik lente is in die lug met die veelkleurige tafels.

Die finaliste vir die Simbiose-finaal is ook aangekondig.

ATKV-Sêr se nasionale finaliste is:

  • Die Hoërskool Garsfontein in Pretoria met die tema “Checkers Sixty60 Superheroes”
  • Die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met die tema “LewensAar”
  • Die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met die tema “Vikings”
  • Die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes met die tema “Koerant”.

ATKV-Tienertoneel se nasionale finaliste is:

  • 99 Luftballons deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
  • Callback deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
  • Hoe lyk ’n engel? deur die Hoërskool Garsfontein in Pretoria
  • Kamp saam deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville
  • Kou my vingers tot die been deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion
  • Mensdom deur die Curro Durbanville Hoërskool in Durbanville
  • Spel deur Potchefstroom Gimnasium in Potchefstroom
  • Teddie et al deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
  • Vir Spot deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
  • Wat wolke weeg deur die Hoërskool Hugenote in Springs.

ATKV-Tjokkertoneel se nasionale finaliste is:

  • Dit kannie! deur die Laerskool Louw Geldenhuys in Randburg
  • Die storietafel deur die Curro Durbanville Laerskool in Durbanville
  • Skelmdans deur Beaumont Primary School in Somerset-Wes
  • Dertien deur die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes
  • Fladder deur die Laerskool Roodekrans in Krugersdorp
  • Sokkieverse deur die Laerskool Durbanville in Durbanville.

Mercia Eksteen, hoofbestuurder: Kommunikasie by die ATKV, het al die gaste verwelkom en gesê die 60 jaar wat almal al saam met die ATKV op hierdie reis is, is ’n ware ubuntu-ervaring. “Vanaand is ’n ware simbiotiese ervaring.” Sy het genoem watter rol ATKV Redenaars op hoërskool in haar lewe gespeel het, en aan die suksesvolle toespraak wat sy gelewer het, kon gaste oordeel dat sy nie oordryf nie!

“ATKV Tienertoneel bestaan uit vier innoverende projekte, 4 186 jong, talentvolle deelnemers. Gehore, spelers en stories wat al vir ses dekades saamleef en groei.”

Frieda van den Heever, die ATKV Sêr-mentor, het vertel dat sy ook self met Redenaars begin het voor sy by Tienertoneel aangesluit het en uiteindelik drama gaan studeer het. Sy het die liedjie “Ubuntu”, van haar eerste vollengte- Afrikaanse album, Spoorsny, gesing en gesê: “Ek is, omdat ons is. Ek is ’n mens omdat jy ’n mens is; anders glad nie.”

Sy het vertel hoe dankbaar sy is dat Sêr terug is op kampusse, want die meeste kampusse is maar ernstige plekke deesdae!

Terwyl die eerste sterre verskyn, word die dak bo ons koppe oopgeskuif. Onder blink die liggies van Kaapstad. Sterre van nou flonker daar bo. Die sterre van môre hier binne.

Danelle Jacobs, die beste aktrise vir 2023, het gesê: “Vir vyf jaar was die ATKV my tuiste en hulle verwelkom my steeds met ope arms terug. My betrokkenheid by Tienertoneel het my as ’n bruin meisie van Kakamas geleenthede gegee. Ek studeer nou aan die Universiteit Stellenbosch en sien uit na die finale om te sien hoe die volgende golf jongmense hul talente kom wys.”

Paul Strydom, beste akteur 2022/2023, het met die gehoor gedeel dat sy storie “anders sou gewees het as dit nie vir die ATKV was nie. JJ van Niekerk, projekorganiseerder: ATKV-Tienertoneel, het hom raakgesien in ’n stadium toe hy ’n laagtepunt in sy lewe bereik het. Hy was hoofseun van sy skool toe hy uit eie beweging sy baadjie vir die skool teruggegee het na ’n voorval wat hy berou het. Hy was verpletter, maar die wentrofee vir sy toneelspel het ’n ingrypende ommeswaai in sy lewe help bewerkstellig.

Voorgereg van gekuurde, gerookte salm, forelmootjie bedek met snoekpatee, crème fraiche met bros puntjies, gebraaide bababeet, ertjiespruite, truffel met gekapte piekelgemmer, afgerond met ’n sierblommetjie, is geniet voor die program voortgesit is.

Voorgereg van gekuurde, gerookte salm, forelmootjie bedek met snoekpatee, crème fraiche met bros puntjies, gebraaide bababeet ertjiespruite, truffel met gekapte piekelgemmer, afgerond met ’n sierblommetjie, is geniet voor die program voortgesit is. Tussendeur het Frieda nog liedjies gesing.

Saartjie Botha, Toyota Stellenbosch Woordfees-direkteur.

Saartjie Botha, Toyota Stellenbosch Woordfees se direkteur, het vertel dat sy “ook op [haar] dag in Tienertoneel betrokke was”. Sy was in Oranje Meisieskool in Bloemfontein, wat in haar standerd 7-jaar (graad 9)  in die Kaap aan die finale kom deelneem het. Heel toevallig het hul groep meisies die bekende sanger Gé Korsten ontmoet, wat hulle na die aandvertoning van Funeral march of a marionette deur Charles Gounod by Kunstekaap genooi het.

“Ek het daardie aand in die teater besef: Ek wil nie speel nie. Ek wil skryf. So ek sê ook vanaand dankie vir die ATKV. Tienertoneel beteken baie vir jouself, maar dit beteken ook baie vir die bedryf. Julle skep nie net akteurs vir die toekoms nie, maar ook gehore.
Daar is ambisie in hierdie rolle. Ons bedryf kla nogal. Daar is niks daarvan in Tienertoneel te bespeur nie. Ek sien daarna uit om jul wenstukke by vanjaar se Woordfees te sien.”

Die vertonings is op 5 Oktober om 10:00 en 6 Oktober om 09:30 by Rhenish Girls’ High School. Kaartjies is hier te koop.

Hoofgereg van geroosterde mignon-beesfilet met roosmary, knoffel en geroosterde wildesampioene, geroosterde broccoliblommetjies, pommes anna-kruiegebak met geroosterde wortelpuree, biefjus en bedek met ’n fillonessie

Die hoofgereg van geroosterde mignon-beesfilet met roosmaryn, knoffel en geroosterde wildesampioene, geroosterde broccoliblommetjies, pommes anna-kruiegebak met geroosterde wortelpuree, biefjus en bedek met ’n fillonessie is bedien nadat Saartjie klaar gesels het.

Frieda het vertel sy was in een van die eerste stukke wat Saartjie geskryf het. Tienertoneel is ’n fyn draadjie wat baie mense aan mekaar verbind.

Judy Hattingh, die beste Tjokker-aktrise van 2023, het vertel hoe lekker deelname is, nie net om jou akteursvermoëns te fokus nie, maar ook om vriende te maak en uit jou dop te kruip.

Charlize Herman, kommersiële hoof: VIA, het vertel dat die ATKV ook gehelp slyp het aan die mens wat sy vandag is en dis wonderlik om weer betrokke te wees deur middel van die ATKV-DigiToneel, ATKV se eie realiteitsprogram op VIA, Gekies vir die kollig. Sy sê: “ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners, om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm. Hierdie projek het in Maart afgeskop en die top agt finaliste het hul finale opnames verfilm ná vyf maande se mentorskap.”

Nagereg: Pikante suurlemoen-en-lemmetjie-wrongel met bros soetdeeg, bedek met Italiaanse meringue en brûlée. Gebakte New York-minikaaskoek crème brûlée bedek met bessie-coulis en vars bessies.

Gaste by die geleentheid is van links, Tienertoneel-deelnemer Nina Strydom, die aktrise Lindie Strydom, Hugo Strydom, Paul Strydom (beste akteur 2022/2023), Jean-Pierre de Waal en Annerine Visser. (Foto verskyn met skriftelike toestemming deur minderjariges se ouers.)

Mercia het die aand se verrigtinge afgesluit met die woorde: “Dankie aan almal wat lank vóór ons visie gehad het. Die klein saadjie wat in 1964 vir tienertoneel geplant is, het ’n reuse kremetartboom geword. Ons het mekaar gehelp skep aan meer as ’n platform en daardie boom se takke word elke jaar sterker.”

En met die woorde #Weesdieverskil onderaan die vertoonborde het almal met ’n lekker ligte gevoel die aand afgesluit.

  • Die vierde seisoen van Gekies vir die kolligword van 14 Oktober op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai.

Lees ook:

Persverklaring: Finaliste van 60ste ATKV-Tienertoneel bekend

Suidoosterfees 2024: ’n onderhoud oor ATKV Jeugteater by die fees

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top