Persverklaring: Finaliste van 60ste ATKV-Tienertoneel bekend

  • 0

Die 60ste ATKV-Tienertoneel was vanjaar simbioties, met meer as 3 000 tieners wat hul stories tydens nege streeksfeeste landswyd vertel het.

187 produksies van regoor Suid-Afrika het nie op die planke teruggehou nie en die mentorbeoordelaars was weereens verstom oor die gehalte en kreatiwiteit waarmee vandag se tieners teaterproduksies aanpak.

Solomon Cupido, een van vanjaar se mentorbeoordelaars, meen die talent wat tydens ATKV-Tienertoneel te sien is, is bemoedigend sover dit die toekoms van Suid-Afrikaanse teater betref:

Ek het die geleentheid gehad om die afgelope drie jaar ATKV-Tienertoneel te mentor en ek kan eerlik sê dat ’n aantal skole en individue merkwaardige groei getoon het. Ek is veral beïndruk met sommige leerders wat voorheen ensemble- of ondersteunende rolle gespeel het, en nou hoofrolle met uitsonderlike vertonings vertolk het. Hul vordering het selfs tot nominasies gelei, wat werklik inspirerend is.

Dit is opwindend om die algehele verbetering in produksies te sien, sowel as die meer deurdagte keuse van tekste vanjaar. Die groei regoor die veld is werklik lofwaardig.

Mentorbeoordelaar Liezl de Kock is dit eens met Cupido.

ATKV-Tienertoneel is vanjaar 60 jaar jonk en die talent van die tienerakteurs, skrywers, tegniese spanne en regiseurs is vir my verstommend.

Dankie aan elke skool wat toneel ondersteun en tieners inspireer om die kans te vat om hul verbeelding vlerke te gee. Ek was op vele opsigte aangeraak en nederig dankbaar vir die ervaring wat my liefde vir teater weer laat vlamvat het. Julle is teaterkrygers wat stories, passie, deernis en vreugde die lig laat sien!

ATKV-Tienertoneel se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deurdat die deelnemers aan elke produksie na afloop van hul optrede met mentorbeoordelaars, wat hul stempel afdruk in die vermaaklikheids- en tersiêre-onderrigbedryf, in ’n tweerigtingsgesprek tree en saam oor die tieners se produksies kopkrap.

Vanjaar se mentorbeoordelaars was Marijda Kamper, Mari Molefe van Heerden, Marlo Minnaar, André Lotter, Jacques Bessenger, prof. Marié-Heleen Coetzee, Lindsey Cele, Liezl de Kock, Chris Vorster, Donovan Pietersen, Wilhelm van der Walt en Solomon Cupido.

Met ATKV-Tienertoneel word leerders soveel geleenthede moontlik gegee om by alle aspekte van ’n toneelstuk betrokke te raak, met ander woorde, by die spel, regie, skryf, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en selfs bemarking!

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV-Toneelaanbod, is daarvan oortuig dat hierdie projek simbioties ’n rol speel in die manier hoe mense na mekaar kyk en saam leef:

ATKV-Tienertoneel het in sy 60ste bestaansjaar weereens bewys gelewer van simbiotiese talent, passie en kreatiwiteit. Die produksies praat hard en duidelik met elke gehoorlid en die stories kruip in die harte van teatergangers, wat ’n werklike verskil in ons samelewing teweegbring. Dit was ook vanjaar opmerklik dat ATKV-Tienertoneel die platform bied om die taal inklusief te bevorder deurdat ander landstale en selfs internasionale tale saam met Afrikaans op verhoë gehoor is. Die passievolle manier waarmee leerders wat Afrikaans as hul derde of selfs vyfde taal beoefen en dan ook so stories uit hul gemeenskap vertel, was boeiend en inspirerend.

Die slegs-leerders-kategorie (vir produksies waar leerders alle aspekte van teater self behartig) het ’n geweldige groei in standaard getoon deurdat daar vanjaar vir die eerste keer sedert 2019 weer ’n slegs-leerders-produksie in die nasionale top-10-produksies is.

Die top-10-produksies word genooi na die nasionale Simbiose-finaal, wat tussen 23 en 28 September in die Kunstekaap-dramateater in Kaapstad plaasvind.

Hierdie finaal pas naatloos in by vanjaar se “simbiose”-tema en hope is op die spel:

  • Die wenproduksie stap vanjaar weg met die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant en ’n speelvak tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees.
  • Die naaswenner kry ’n kontantprys van R20 000 en die derdeplekwenner kry R10 000.
  • Totale prysgeld van R65 000 word vanjaar uitgeloof en die beste van die bestes word tydens ’n spogprysuitdeling op 28 September gekroon.

Die top-10-produksies wat na die nasionale finaal deurdring, is soos volg:

  • 99 Luftballons deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
  • CALLBACK deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
  • Hoe lyk ’n engel? deur die Hoërskool Garsfontein in Pretoria
  • KAMP SAAM deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville (*slegs-leerders-produksie)
  • Kou my vingers tot die been deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion
  • Mensdom deur die Curro Durbanville Hoërskool in DurbanvilleSPEL deur Potchefstroom Gimnasium in Potchefstroom
  • Teddie et al. deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
  • VIR SPOT deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
  • Wat wolke weeg deur die Hoërskool Hugenote in Springs

Kaartjies vir die nasionale Simbiose-finaal is vanaf Woensdag 4 September op Webtickets beskikbaar.

Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor ATKV-Tienertoneel se nasionale finaal en moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top