Barrett se ruimtereis deur Chareldine van der Merwe bekendgestel

  • 0

René Arendse en Chareldine van der Merwe (Foto: Marzahn Botha)

Titel: Barrett se ruimtereis
Skrywer: Chareldine van der Merwe
Turksvy Publikasies
ISBN: 9781066579471

Kleinkind is ouma se hoofkarakter

René Arendse, ’n bekende kampvegter vir Afrikaans, het verlede Saterdag met Chareldine van der Merwe oor haar nuutste en derde kinderboek, Barrett se ruimtereis, by die Tokara Deli voor ’n uitgesoekte gehoor gesels. Die ruimte was gevul met vriende, familie en ondersteuners van Chareldine wat diep spore in die Afrikaanse leesmilieu trap. Vier generasies was bymekaar: Barrett, sy ma Trudine (Chareldine se dogter), Chareldine en haar ma, Doreen. Kinders het ook die dag kom saam kuier en op die mat voor Chareldine gesit. Die opwinding was, soos altyd vir die woelwater, Barrett, groot en hy het tussen die skares rondbeweeg.

Chareldine is bekend vir haar werk as projekbestuurder van die ATKV se Vriende van Afrikaans (VVA), waar sy haar beywer vir leesbevordering en kinders se toegang tot boeke. Sy is ook die ma van die bekende Springbokvleuel Edwill van der Merwe. Maar die afgelope paar jaar het sy nóg ’n rol bygekry: dié van kinderboekskrywer. Haar derde en jongste boek, Barrett se ruimtereis, neem jong lesers op ’n verbeeldingsvlug na die maan.

Chareldine, jy is betrokke by die ATKV en jy is die ma van ’n bekende sportman – en nou skryf jy ook kinderboeke. Jy het natuurlik al ’n paar jaar gelede begin. Maar begin by die begin: Wanneer het jy besluit jy gaan kinderboeke skryf? En as ek reg tel, is ons nou al by boek drie?

Ja, Barrett se ruimtereis is my derde kinderboek. My eerste boek, Huisies vir muisies, het in 2024 verskyn, gevolg deur ’n Rand vir ’n tand in 2025.

Die idee vir my eerste boek het eintlik al in 2020 ontstaan, toe ons as familie baie gaan stap het. Op ’n dag het ’n veldmuis oor die paadjie gehardloop. My suster se oudste seun, Xavier, wou weet wat dit is. Toe ek verduidelik dat dit ’n veldmuis is, wou hy dadelik weet of veldmuise ook geld vir kinders se tande bring, soos die tandmuis. Daardie vraag het by my gebly.

My werk by die Vriende van Afrikaans gaan juis daaroor om kinders te leer lees en ’n liefde vir stories by hulle te kweek. Ek sien daagliks hoe belangrik boeke is, maar ook hoe baie kinders nie toegang daartoe het nie. Dit is vir my besonder lekker om stories te skep wat uit kinders se eie ervarings en leefwêreld kom.

Is jou boeke ’n reeks? Vertel ons ’n bietjie waaroor die eerste twee gaan – en natuurlik ook die nuwe een.

Die eerste twee boeke sluit by mekaar aan deur die karakters Xavier en Kendrick, twee boeties wat graag saam speel en nuwe dinge ontdek.

In Huisies vir muisies gaan hulle in die veld fietsry terwyl die familie saamstap. Wanneer hulle op ’n veldmuisie afkom, ontstaan daar ’n gesprek oor die tandmuis en hoe belangrik dit is om mooi na jou tande en jou liggaam te kyk. Die verhaal gaan ook oor ’n liefde vir die natuur en die diere waarmee ons ons omgewing deel. In ’n Rand vir ’n tand kom die twee boeties weer voor. Hierdie keer beleef Kendrick groot teenspoed en moet hy leer om kalm te bly wanneer dinge skeefloop. Sy broer en familie help hom om ’n oplossing te vind. Dit gaan dus ook oor hoe ons mekaar ondersteun en probleme aanpak.

Barrett se ruimtereis het ’n ander hoofkarakter en neem ons na ’n heel ander wêreld. Barrett is my kleinseun. In die storie is Ouma en Oupa se huis sy gunstelingkuierplek. Ouma het rakke vol boeke en lees vir hom stories oor die ruimte voor, terwyl hy en Oupa saans op die stoep na die maan en sterre kyk. Barrett droom daarvan om eendag ’n ruimtevaarder te word. Sy grootouers moedig hom aan om groot te droom, en dan gebeur iets besonders: Hy bevind hom skielik op die maan, waar ’n groot verrassing op hom wag.

Al verskil die verhale, is daar ’n gemene deler: Dit is stories waarmee kinders kan identifiseer, wat hulle verbeelding prikkel en waarin daar ook iets is om te leer.

Waarom is lees vir jou so belangrik – veral lees vir kinders? Of dalk moet ek die vraag anders stel: Waarom is stories so belangrik? Want lees moet tog nie net iets wees wat kinders móét doen nie. Dit moet lekker wees.

Ek stem heeltemal saam. Dit help nie ons verwag van kinders om lief te wees vir lees as hulle dit net as nog ’n skooltaak ervaar nie. Hulle moet die lekker van ’n storie ontdek.

Kinders is van nature nuuskierig. Hulle wil weet hoe dinge werk en waarom dinge gebeur. Stories gee hulle die geleentheid om vrae te vra, nuwe dinge te ontdek en hulle in ander mense se omstandighede in te leef.

Vir my is dit ook belangrik dat stories binne kinders se verwysingsraamwerk moet wees, maar hulle moet ook blootgestel word aan dinge wat hulle nie weet nie, sodat hul wêrelde verbreed kan word. Ons kan deur stories vir kinders leer om na hulleself, ander mense, diere en die omgewing om te sien. Maar die verhaal moet eerstens vir hulle lekker wees. Voorlees speel hierin ’n groot rol. Dit help met taalontwikkeling, woordeskat en begrip, maar dit skep ook ’n besondere band tussen die kind en die persoon wat voorlees.

In my werk sien ek ongelukkig dat baie kinders nie genoeg toegang tot boeke het nie. Veral in afgeleë gemeenskappe is dit ’n werklike probleem. Deur die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek neem ons boeke na skole en gemeenskappe, lees ons vir kinders voor en bied ons werkswinkels vir ouers en opvoeders aan.

Ons wil nie net hê kinders moet die woorde op ’n bladsy kan lees nie. Ons wil hê hulle moet verstaan wat hulle lees, dit geniet en uiteindelik self na boeke begin gryp. Dit is hoe ’n mens ’n lewenslange liefde vir lees kweek.

Wat het jou die idee vir Barrett se ruimtereis gegee? Ek hou van die gedagte van ’n ouma met haar rakke vol boeke en ’n oupa wat saans saam met sy kleinseun na die sterre kyk. Is dit ook hoe dinge in julle huis werk? En watter karakters in die boek is jou gunstelinge?

Die verhaal draai om Barrett, my kleinseun, en die besonderse verhouding tussen ’n kind en sy grootouers. Ek en my man, Edward, het twee kleinseuns, Barrett en Luka, en ons familie is vir ons baie belangrik.

Barrett was van baie klein af behep met die maan. Barrett is loshande my gunstelingkarakter in die storie. Die storie sluit baie goed aan by die tema wat in die kurrikulum vir Grondslagfase voorgeskryf word. Daarom was dit vit my goed om hieroor te skryf, sodat daar lekker stories is wat kinders sal aanmoedig om dit te lees en saam met ons op ’n reis te gaan. Dit is ook belangrik dat kinders met die karakters kan identifiseer.

In die boek is dit die stories wat Ouma voorlees en die tyd wat Oupa saam met Barrett onder die sterre deurbring wat sy belangstelling in die ruimte aanwakker. Hy begin droom oor die moontlikheid om self eendag maan toe te gaan. Ek hou van die gedagte dat ’n kind se verbeelding deur iets so eenvoudig soos ’n boek of ’n gesprek aangegryp kan word. ’n Mens hoef nie self in ’n ruimtetuig te klim om saam met ’n storie op reis te gaan nie.

Dit is natuurlik nie sommer net ’n geval van gaan sit en skryf nie. ’n Boek neem tyd. Het jy ’n skryfroetine, en skryf jy elke dag? En waarmee is jy op die oomblik besig?

My werk by die Vriende van Afrikaans hou my baie besig. Ek bied gereeld werkswinkels aan oor voorlees, leesbegrip, taalontwikkeling en leeruitdagings. Ek is ook betrokke by projekte wat daarop gerig is om boeke by kinders uit te kry en ouers en opvoeders toe te rus om kinders met hulle leesontwikkeling te help.

Ek het ook ’n leessentrum in Kylemore begin om kinders met lees- en leeruitdagings te ondersteun. My liefde vir stories en my werk met kinders is dus baie nou verweef. My eerste boek se idee het lank by my gebly voordat dit uiteindelik ’n gepubliseerde verhaal geword het. Dit wys seker maar dat ’n storie soms lank saam met ’n mens kan loop.

Ek skryf soos die motivering kom. Met hierdie boek/storie wil ek graag iets vir my kleinkind agterlaat wat eg aan hom is. Ek het die storie in ’n week geskryf, maar het baie herskryf en daaraan geskaaf, ook deur voorstelle en raad van my uitgewer. Ons het nog ’n kleinseun wat amper een jaar oud is, en ek wil graag vir Luka ook ’n storie skryf.

Lees en kyk ook:

Huisies vir muisies deur Chareldine van der Merwe: ’n onderhoud

Wêreldhardopleesdag, 5 Februarie 2025: Chareldine van der Merwe lees voor uit Huisies vir muisies

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top