Lidia Rauch

Lidia Rauch het na agt jaar in professionele politiek besluit om die wêreld van sosiale entrepreneurskap te betree. Sy het onlangs haar maatskappy, Bloom Enterprise, geregistreer. Bloom is toegewy daaraan om ’n inklusiewe Suid-Afrikaanse samelewing te bou deur volhoubare sosiale verandering te bevorder. Lidia spesialiseer ook in Thinking Environment® om spasies te skep vir haar kliënte om hul denke te transformeer.

Sy is oortuig dat slegs deur ruimtes vir luister en outentieke denke te skep, ons werklik betekenisvol tot ’n inklusiewe samelewing kan bydra.

Lidia glo dat ideologieë van meerderwaardigheid en voortdurende onderdrukking in Suid-Afrika bestaan en dat hierdie denke afgeleer behoort te word.

Sy nooi haar kliënte uit om die pad na sosiale, organisatoriese en persoonlike transformasie saam met haar te stap.

Lidia het verlede jaar haar meestersgraad in inklusiewe innovering aan die Universiteit Kaapstad voltooi. Die navorsingsonderwerp van haar kwalitatiewe studie was “Building an inclusive South African society: The position of young, white Afrikaans-speaking women”. Sy hoop om haar navorsing verder te neem en binnekort met haar PhD te begin.

Lidia is ook tans besig om ’n boek te skryf oor haar navorsingsbevindinge. Sy is baie geïnteresseerd daarin om die idee van wit voorreg verder te ondersoek. Die vraag waarmee sy tans worstel, is: “Moet wit Suid-Afrikaners bloot bewus wees van hul wit bevoorregting of is dit iets wat positief kan gebruik kan word in hul samelewing?”

Lidia geniet dit om na te dink oor aktuele kwessies en om na interessante plekke in die wêreld te reis. Jy sal haar gereeld teëkom met haar neus in ’n goeie boek, by ’n goeie teatervertoning of sommer enige ander plek met ’n glas goeie wyn in haar hand.

Belydenis van geluk

Lidia Rauch Menings 2020-04-30

"Dis hoe FOMO (fear of missing out) kan verander in JOMO (joy of missing out). En hierdie besef is die grootste geskenk wat die lockdown my kom gee het."

’n Uitnodiging na empatie soos nooit tevore

Lidia Rauch Menings 2020-04-23

"In Suid-Afrika raak ons so gewoond aan bedelaars by elke straathoek. Maar op hierdie Dinsdagmiddag lyk Johannesburg soos ’n spookdorp en ek sien die man raak. Belangriker as dit: Ek sien die mens voor my raak soos nog nooit tevore nie."

Wys my jou lemoene, die Bulls Babes en ander gedagtes

Lidia Rauch Menings 2020-04-14

"Ek het niks teen hierdie dames se gekose loopbaan of tydverdryf nie – hulle is professionele dansers en ek glo dat dit ons reg is as vrouens om met ons lywe te maak soos ons goeddink. Wat my egter pla, is die feit dat dit die stereotipe van rugby, brandewyn, boobs en boude voed."

Die verantwoordelikheid lê by my en jou

Lidia Rauch Menings 2020-03-16

"Daar is ’n verantwoordelikheidsgaping, want De Klerk en sy garde het ons generasie gefaal … Maar vir hoe lank kan ons ons ouers se generasie kwalik neem voordat ons sake in eie hande begin neem?"

Top