Wys my jou lemoene, die Bulls Babes en ander gedagtes

  • 11

......

“Hoekom is dit oukei dat ’n man ’n versoek rig om ’n vrou se borste te sien, almal daaroor lag en dat dit ’n top Afrikaanse treffer word?”

......

Saterdag 7 Maart was ’n groot dag in my lewe. Nee, ek het nie verjaar nie en ook nie getrou nie. Ek het onlangs Gauteng toe getrek van die Kaap af en was vir die eerste keer in my lewe op Loftus. As ’n 31-jarige vrou wat tradisioneel eintlik min in rugby belangstel, is dit vir my snaaks hoe groot die oomblik gevoel het. Voor die wedstryd gaan drink ons ’n drankie en aanskou die kinders wat balle skop op die oefenvelde. Soveel onskuld, soveel pret. Dit gee ’n mens sommer ’n warm gevoel. Vandat ek kan onthou, word daar grappies gemaak en staaltjies vertel oor die “Loftus-ervaring”. Jy weet, horings en neusringe en so. So ek was uiteraard baie nuuskierig oor hoe hierdie eerstehandse kennismaking gaan verloop.

Dit was ’n wedstryd tussen die Blou Bulle en die Nieu-Seelandse Highlanders. Die skare was ’n bietjie meer yl gesaai as waarvoor ek gehoop het en die Bulle het ’n bietjie gesukkel aan die begin, maar toe hulle eers begin lostrek, was daar geen keer nie. Wat ’n lekker eerste game. Ek moet wel eerlik wees: My aandag was meer op die toeskouers as op die veld. Wat ek daar in die skare gewaar het, is wat my die langste sal bybly.

Toe die eerste drie gedruk is, was die atmosfeer elektries en die gees was ongelooflik, maar dit het nie net oor die rugby gegaan nie. Asof uit nêrens verskyn daar ’n groepie dames wat ek later sou uitvind bekend staan as die Bulls Babes, geklee in spandex wat net-net genoeg toemaak om nie aanstoot te gee nie, maar min genoeg bedek om die toeskouers se verbeelding te laat oortyd werk. Van oral oor sien ek hoe families, jong kinders, ouer mans, eintlik maar almal, met mag en mening hul foto saam met die dames wil laat neem. Die skoliere hier neffens my fluit en maak heupbewegings wat net op een manier interpreteer kan word en een of twee tannies in die ry voor my skud hul koppe en kyk of hulle mans besig is om te loer.

Foto: Pixabay.com

Dit is vir my ’n baie interessante verskynsel. Ons is hier vir die rugby, tog is daar vrouens met sexy uitrustings aan besig om suggestiewe dans moves op die veld uit te voer. En die skare in vervoering te laat met elke swaai van die pom-pom en wip van die poniestert.

Ek het niks teen hierdie dames se gekose loopbaan of tydverdryf nie – hulle is professionele dansers en ek glo dat dit ons reg is as vrouens om met ons lywe te maak soos ons goeddink. Wat my egter pla, is die feit dat dit die stereotipe van rugby, brandewyn, boobs en boude voed (komende van my wat nou net buite karakter ’n brandewyn bestel het, want “when in Rome ...”). Dit is daardie stereotipe wat so gereeld aan plekke soos Loftus gekoppel word wat ek vir ’n oomblik daar op die oefenvelde tussen die kinders wat baljaar in twyfel begin trek het.

Met die nasmaak van daai brandewyn nog in my mond en die flikker van pom-poms hier in die hoek van my oog hoor ek ewe skielik hierdie lirieke luidrugtig oor die luidsprekers speel:

Wys my jou lemoene
Of jou boerpampoene
Ek wil so graag aan dit voel
Of jou kaalgat perskes
Of dit die moeite werd is
Ek sal dit definitief moet proe.

So ’n catchy tune dat ek amper saamsing voor ek besef wat hier kwytgeraak word. Ek vind uit dit is ’n treffer deur die “De la Rey”-sanger Bok Van Blerk. Met die eerste luisteropslag is daar een ding vir my duidelik: Bok maak geen geheim daarvan dat die “lemoene” ’n vrou se borste en die “kaalgat perskes” ’n vrou se boude is nie. En as daar enige twyfel bestaan het, was een kyk van die musiekvideo genoeg om die debat te laat vaar.

Ek was geskok om te sien die liedjie is reeds in September 2017 uitgebring. Ook maar goed dat dit my meer as twee jaar gevat het om met hierdie hoogs aanstootlike lirieke gekonfronteer te word. Ek moet bieg ek het al die lirieke gaan lees die oomblik wat ek by die huis gekom het en tot my skok gaan Bok aan en sê:

Maar kan ons nie maar ’n plan maak dat ons tog jou lemoene sien nie.
Iets vir iets.
Ons sal jou ons pere wys, dan wys jy ons jou lemoene.

Iets vir iets? Het ek reg gelees? Hoekom is dit oukei dat ’n man ’n versoek rig om ’n vrou se borste te sien, almal daaroor lag en dat dit ’n top Afrikaanse treffer word? Hoekom is dit oukei dat ’n man kan sê dat hy dit “so graag wil voel”? En dan boonop onderhandel om sy “pere” vir ’n vrou te wys? En almal lag en sing saam?

Nou kyk, ons almal weet die Afrikaner (wie weet wat hierdie term deesdae beteken) is lief vir ’n stukkie tong-in-die-kies, stoute humor en ek is seker dit is oor hierdie boeg dat liedjies soos “Lemoene” gegooi word. Maar daar is steeds iets wat baie ongemalik met my sit, want hierdie is nie ’n geïsoleerde voorval nie: Liedjies soos Snotkop se “Souserig”, Ricus Nel se “Boerepompie” en die bekendste van almal, “Dames” deur Biggy, trippel op en oor daardie selfde tou.

Daar is ongelukkig te veel Afrikaanse “treffers” wat vrouens nie net totaal objektiveer nie, maar blatant disrespekteer. Daar is hopeloos te min van ons wat hierteen opstaan. Te min van ons wat dink oor die lirieke wat vandag se top Afrikaanse popliedjies kenmerk.

Wat vir my die moeilikste was om te besef en aan myself te erken, is dat ek ook al telkemale Afrikaanse treffers afgemaak het as “ligte vermaak”. Dit is mos onskuldig. Net om tussen die skare by Loftus te sit en dit bloot af te maak as vermaak, maak my deel van die probleem. Dit is ongelukkig allesbehalwe onskuldig en ons kan dit nie langer ontken nie.

Terug by Loftus. Reg voor my sit twee seuntjies met hul Bloubul-truie aan. Ek skat hulle nie ouer as 10 jaar oud nie. Hulle het uit volle bors saam met Bok van Blerk gesing dat hulle ’n vrou se borste wil sien en wil voel “of dit die moeite werd is”. In daardie oomblik besef ek dat ons nie moet wonder hoekom sommige mans uiteindelik nie respek het vir die vrouens in hul lewe nie. Hierdie seuntjies is heeltemal onskuldig en verstaan heel moontlik nie wat hulle sing nie. Maar die realiteit is dat daar nou iets in hul koppe geanker is wat sê dat dit oukei is om transaksioneel oor vrouens se lywe te dink en hulle te objektiveer. Die seuntjies se ouers (en die oorgrote meerderheid van die toeskouers) sing dan saam. Hoe kan dit verkeerd wees?

Hoe kan ons dit toelaat en afmaak in ’n wêreld en land waar geweld teen vroue die hoogste is wat dit nog ooit was? Hoe kan ons enigsins hierdie lirieke probeer regverdig en afmaak as onskuldige vermaak?

Dit is tyd dat elkeen van ons opstaan vir vrouens regoor ons land en ons wêreld. Ons moet ons liggame en ons regte beskerm. Dit is tyd om ’n generasie van beide mans en vrouens op te rig wat nie deel van die probleem is nie, maar bou aan in ’n toekoms waar vrouens nie meer hoef te wonder #AmINext nie.

Dit sal ook net lekker wees om nie bang te wees dat een of ander man aan my “lemoene” of “boerpampoene” gaan vat of vir my sy “pere” wys sonder dat ek hom daartoe uitgenooi het nie.

Dis al. 

#RespekVirVrouensIsCool

  • 11

Kommentaar

  • Ek stem, kon nog nooit verstaan hoekom die jong meisies wel aansoek doen om in so 'n video te verskyn nie. En hoekom sulke lirieke wel so vastrapplek kry nie.

  • Hetta Moolman

    Ek stem 100% saam!
    Ons Afrikanervroue is so gekondisioneer om sulke blatante disrespek nie raak te hoor nie, dit is skokkend !
    Waarom laat on dit toe?!
    Komaan Afrikaanse dames! Disrespek vir ons as vroue word te maklik afgelag ...
    Kom ons staan op vir ons reg om met respek behandel te word - ook in Afrikaanse songs en by die rugby!

  • Dit is 'n onderwerp waaroor ons gerus meer kan praat, openbare debatte voer, ons afkeer wys. Waarom word hierdie vrae nie bespreek op panele tydens kunstefeeste nie? Dis regtig iets wat nie meer aanvaarbaar moet wees nie.

  • Chris Marnewick SC

    Daar is ’n vrot stroom humor, as dit die regte beskrywing is, wat Afrikaanssprekendes plat, agterlik en onverfynd laat lyk.

    En om te dink ek het in Linden in die 1950’s laas my Engelse vriende hoor roep: “Afrikaners vrot bananas!”

    Vrot, trot, trot, Bok.

  • Die Afrikaanse musiek wat mens deesdae hoor, staan my nie aan nie. Ek kry goormaag as iemand sing hoe hy verlang na sy bybie, sy tjoklits. My tone krul pynlik in my tekkies as ek hoor hoe iemand kreun hoe seer die liefde hom gemaak het. Nee, gee my die klassieke: orkeswerke, pianokonserte, opera, ja! Orraait, ek kan nou nie meer deur Tosca sit nie, maar arias, gewilde, bekende arias is my kos. Moenie nou dink ek is 'n snobis nie, nee, allemins. Lekker boeremusiek wat jou voete laat jeuk, en jou spiere gee wat jy nie wat jy nie meer gedink het jy het meer nie, ja!
    Van opera gepraat; ek lees hier elders dat die skonere geslag kla dat hulle sleg behandel word in Afrikaanse liedjies soos lemoene en boerpampoene en boerepompie. Ek het toe daarna geluister, en ek moet erken, met bietjie verbeelding sal jy nogal heerlik kan sokkie daarmee. Die vrouegeslag word ook nie lelik daarin voorgestel nie, inteendeel, hulle is die mooiste goedjies wat ek nog in my lewe gesien het. Ek kan hulle sommer opvreet, lemoene, boerpampoene en al. So van opera gepraat, here, julle moet kyk hoe die arme vroulike karakters daarin behandel, mishandel misvorm word. .
    Hulle word voorgehou as wispelturig, slette, moordenaars en word self wreed om die lewe gebring. Nee, wat! lemoene en waatlemoene is sommer 'n vulletjie. Val liewer die operas aan en begin sommer by Rigoletto waarin Gilda haar lewe opoffer net 'n ontroue vreksel se lewe te red. In La Forza del Destino is dit weer, ek dink dis Leonora, wat deur haar broer met 'n mes doodgesteek word. Nee, in die wêreld van die opera word die vrou vertrap, en is sy slaaf van haar meester, die man.
    So terloops, die konsertina het hier by ons verskeie benaminge. Ek ken boerepompie en donkielong. Ek verbeel my krismiswurm is nog een. Ek mag verkeerd wees.

  • Barend van der Merwe

    Mens wens dat u skrywe as wekroep wil dien vir die rugbyadministrateurs. Maar helaas dink ek die hoop beskaam. Dit is nie toeval dat die stadion grootliks leeg was nie. Die resep van meisies wat dans, kommin musiek, baie drank en rugby werk net nie meer nie. Dit het 15 jaar gelede gewerk. Baie min mense stel nog daarin belang. Dit is elke wedstryd dieselfde. Dit is nie meer interessant nie.

  • Me Rauch, ek stem nie saam met jou oor die "gebruik" van dames wat voor rugby wedstryde voor die toeskouers op die pawiljoene dans nie. Ek dink die idee het van die VSA oorgewaai waar daar ook sulke lawwighede te sien is. Die brannas en coke storie is 'n ander dag se storie. Dit is egter vir my onstellend dat die veralgemening gebruik word en dat dit voor die deur van die Afrikaanse persoon gelê word. Ek het al op verskeie stadions rugby gekyk. Elke stadion het sy eie "kultuur en tradisie". Daar is gevegte/onderonsies wat uitbreek en ander kattekwade. Wat gebeur nie op en om Nuweland nie. Ek praat nie eers van Elliark, Kingspark en die ander nie. Net omdat die "meerderheid" toeskouers in Pretoria Afrikaans is, is dit maklik om die Afrikaanse persoon onder skoot te kry. Ek dink ook die Blou Bulle rugby unie is baie slim om dit te doen. Daar is in elke geval niks anders opwindend op Loftus om na te kyk as die dansende dames nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top