Dis dag 29 van lockdown en ek het ’n belydenis. Ek het nog nooit soveel vrede en opregte geluk ervaar nie. My lewe is meer eenvoudig en vervelig as ooit tevore, maar ek is happy. Om te sê hierdie was ’n onvoorspelbare uitkoms van lockdown is ’n understatement. Jy sien, my verstaan van sukses het nog altyd beteken om so produktief as moontlik met my tyd om te gaan. Ek het nog altyd geglo dat hierdie vorm van “sukses” my gelukkig sou maak. Maar hierdie afgelope paar weke het my tot die gewaarwording gebring dat ek nie werklike geluk verstaan het tot nou nie.
My naweke en die meeste weeksaande was gewoonlik ’n malle gejaag van een verpligting of sosiale geleentheid na ’n ander. As ek nie besig was om met ’n vriendin op te vang oor ’n glas wyn nie, was ek op een of ander manier besig om myself te probeer verbeter: hetsy ’n gym-klas, ’n vergadering, navorsing vir my tesis of ’n interessante praatjie. Ek het myself oortuig dat ek my tyd moet gebruik as geleentheid vir verbetering, wat my dan uiteindelik ’n meer afgeronde weergawe van myself sal maak. Ek het myself oor die jare oortuig dat stilsit en ontspan ’n teken van ’n gebrek aan ambisie is. Dit het effektief beteken wanneer ek myself die dag toelaat om rustig te wees, ek doodeenvoudig uitpaas met Netflix wat blêr of myself besig hou met een of ander vorm van “selfcare”. Jy weet presies waarvan ek praat: Sit daai gesigmasker op, vat daai bad, maak daai lysie, lees daai boek en vat daai middagslapie.
Met die aankondiging van lockdown het die wêreld soos ons dit ken, gaan stilstaan en is die hamsterwieletjie uit die hok uit gehaal.
So volg die wiskunde: Geluk is vir my gekoppel aan sukses en sukses het sinoniem geword met produktiwiteit, wat weer op sy beurt deel van ’n roetine van jaag en noodgedwonge selfcare is. Die antwoord op hierdie som is eenvoudig: Die lockdown het my gedwing om my idee van geluk te ondersoek en herdefinieer.
Lockdown het my laat besef dat selfcare nie slegs die vorm van bederfies hoef aan te neem nie. Dit kan eerder ook behels om daai kas uit te pak wat ek aanhou uitstel, my gmail-rekening uit te sorteer en my belasting te doen. Basies kan selfcare ook “adulting” wees: die informele term vir gedrag wat gesien word as verantwoordelike en “grootmens”-gedrag. Hierdie gedrag behels dikwels die voldoening aan die alledaagse eise van onafhanklike en professionele lewe (dictionary.com). Die adulting-weergawe van selfcare bring soveel geleentheid vir geluk, tevredenheid en gesonde produktiwiteit.
Ek het tydens die afgelope 29 dae besef daar is soveel mooi in die eenvoud. Soveel geluk in die stilte. Soveel tyd vir regte selfcare as ek nie besig is om my idee van “sukses” na te jaag nie. Dit het ek nóú eers regtig besef. Dat dit nou ’n globale pandemie moes vat. Ek het besef dat ek nog nooit op my volwassenheidsreis werklik myself die kans gegee het om te sit, te reflekteer, te dink en doodeenvoudig soms die meer vervelige dinge in die lewe te geniet nie. Ek het besef dat dit my hoofbestanddeel tot ware geluk is, wat nog altyd ontbreek het. Want, ek het myself oortuig dat ek doodeenvoudig net te “besig” was.
Ek maak nou eers hierdie deurbraak slegs omdat die druk vir die eerste keer in my lewe af is! Ek praat van die eksterne, konstante druk om meer, beter, mooier, slimmer, ryker, meer geliefd, meer suksesvol en meer aanvaarbaar te wees. Die wete dat die res van die wêreld ook nou rustig moet wees, het die druk heeltemal kom wegneem. Ek kan ontspan, want daar is nie een of ander verbeelde wedloop waaraan ek veronderstel is om nou deel te neem nie. Want hoekom en vir wie het ek in die eerste plek vir hierdie resies ingeskryf?
Moenie my verkeerd verstaan nie: Ek is steeds gedrewe, ambisieus, en sal waarskynlik altyd streef na ’n beter weergawe van myself. Maar die fundamentele verskil het by my kom pos vat: Ek sal dit in die toekoms doen vir myself, nie vir die wêreld of om aan opgemaakte verwagtinge te voldoen nie. Die bron van hierdie kopskuif het begin met die spasie vir asemhaal, dink, eenvoud en net wees. Spasie vir die adulting-weergawe van selfcare en net ontspan in pajamas wanneer dit nodig is. Om dit deel te maak van my daaglikse lewe en nie bloot te reserveer vir wanneer ek naby burnout is nie.
Dis hoe FOMO (fear of missing out) kan verander in JOMO (joy of missing out). En hierdie besef is die grootste geskenk wat die lockdown my kom gee het. Ek het kennis gemaak met ware geluk. In my pantoffels, met ’n koppie koffie en ’n goeie boek in die hand, genoeg tyd om te wees, te dink, bewus te raak van my asem en die kosbaarheid van elke oomblik. Die lockdown was die mooiste bring-tot-perspektief-geleentheid en ek is so dankbaar.
Te midde van die angs en dringendheid vir die wêreld om terug te keer na normaal, kom ons neem ’n oomblik om te dink oor watter dele van “normaal” die moeite werd is om na terug te keer. Die wêreld rondom ons pas aan by die realiteit van die pandemie en gaan nooit weer dieselfde wees nie. Ons hoef ook nie te wees nie. Ons kan die uitnodiging tot normaliteit herevalueer en herstel aanvaar en ons eie, opregte gelukkige “nuwe normaal” skep. Ons het nou die geleentheid.
Kommentaar
100%. Met die ouderdom het heelwat van dit wat jy skryf al deur die newels van “die volgende taak om met akklamasie af te handel” begin duidelik word. Nou sê jy dit pront en reg.
Geluk met ’n puik geskrif en dankie!
Ah, die daaglikse strewe na “sukses”, is ‘n blessing en ‘n curse. Dis die ongemak in jou maag wat jou druk om meer te doen en soms beter te doen, maar dit beteken ook dat jy te hard is op jouself. Jy som dit baie mooi hierbo op Lidia. Wegedaan.