’n Uitnodiging na empatie soos nooit tevore

  • 1

......

“In Suid-Afrika raak ons so gewoond aan bedelaars by elke straathoek. Maar op hierdie Dinsdagmiddag lyk Johannesburg soos ’n spookdorp en ek sien die man raak. Belangriker as dit: Ek sien die mens voor my raak soos nog nooit tevore nie.”

......

Nou die dag maak ek my sitkameroefensessie klaar. Ek voel heel goed oor my voorbeeldige kalorieverbranding. Lekker. Ek bespeur egter ’n effense krap in my keel en besluit om nie kanse te vat nie en gou apteek toe te ry vir Linctagon. Plastiekhandskoene aan, serpie om die mond en neus, en ek spring in die kar. Nie ver van die huis af nie hou ek stil by die eerste verkeerslig oppad apteek toe. ’n Hawelose man kom na my venster en smeek vir kos. Hy is honger, sê hy.

Foto: Pixabay.com

Skielik is ek meer bewus as ooit van hoe fundamenteel ons twee se realiteite verskil. Dit verskil nog altyd, maar in daardie oomblik meer as ooit. Die verskil was net nog nooit so duidelik nie.

Ek het so pas ’n home workout voltooi, wat beteken ek het ’n goeie internetdiens by die huis. Die huis. Daai plek met ’n gemaklike bank, ’n bed ... die haves and have nots is te veel om te lys. Met die eerste teken van ’n seer keel kon ek dadelik in die kar klim en apteek toe ry. Daar was genoeg petrol in my kar en genoeg geld in my rekening om hierdie besluit outomaties te kon neem. En natuurlik is daar meer as genoeg kos in my yskas dat ek later vanmiddag vir my ’n lekker middagete aanmekaar kan slaan.

......

“Ek glo ons moet eerder streef na billikheid. En hierdie pandemie maak die strewe na billikheid ’n baie moeiliker taak as ooit tevore. Want die kwesbaarstes in die samelewing staar nou soveel risiko’s in die gesig waarvan die herstelling onmiskenbaar lank gaan vat. En ek voel moedeloos en hartseer.”

......

In Suid-Afrika raak ons so gewoond aan bedelaars by elke straathoek. Maar op hierdie Dinsdagmiddag lyk Johannesburg soos ’n spookdorp en ek sien die man raak. Belangriker as dit: Ek sien die mens voor my raak soos nog nooit tevore nie. Ek wonder hoeveel mense al vandag by hierdie verkeerslig stilgehou het en ek wonder waar hierdie man se kos vandag vandaan gaan kom. In daardie oomblik het ek niks by my nie en besluit om ’n paar noodsaaklikhede te koop en vir hom te gee op pad terug. Tot my spyt is hy nie meer daar toe ek weer verby kom nie. Ek hoop regtig hy is oukei.

Ek is oorval deur ’n gevoel van skuld gemeng met onreg. Ek weet, ek weet, dis nie my skuld dat hy op straat is nie en nog meer dat my skuldgevoel niemand help nie. Maar, ek voel skuldig, want die harde realiteit oorweldig my. Ek is nie beter as hy nie. Ek is net lucky. Lucky dat ek in ’n huis gebore is en nie in ’n shack of op straat nie. Ek is bewus van Suid-Afrika se menigte suksesstories en dit gee soveel hoop, maar ek kan eenvoudig nie ontken dat hierdie pandemie die speelveld soveel meer ongelyk maak nie. Suid-Afrika se ongelykheid lê oopgevlek vir almal om te sien. Meer ongelyk as ooit tevore. Daar is eenvoudig geen ruimte meer vir ontkenning nie.

Hierdie skreiende ongelykheid maak die onderskeid tussen gelykheid (equality) en billikheid/regverdigheid (equity) belangriker as ooit om te verstaan. Ons almal het al die prentjie van die drie mans gesien wat oor die muur die sportwedstryd wil kyk. Die langste man sien oor die muur en kan die aksie sorgeloos gade slaan. Die ander twee korter mans kyk in die muur voor hul vas. Hulle is wel gelyk: Almal het ’n gelyke kans. Maar regverdigheid/billikheid beteken dat almal gelyke toegang tot die wedstryd moet kry. Dit beteken dat die twee korter mans bokse gegee moet word om op die lang man se ooghoogte te kom. Slegs dan is daar billikheid: ware gelykheid.

Ek glo ons moet eerder streef na billikheid. En hierdie pandemie maak die strewe na billikheid ’n baie moeiliker taak as ooit tevore. Want die kwesbaarstes in die samelewing staar nou soveel risiko’s in die gesig waarvan die herstelling onmiskenbaar lank gaan vat. En ek voel moedeloos en hartseer. Die gedagte is oorweldigend. Ek besef dis soveel makliker om nog ’n Netflix-episode aan te skakel, op my eie probleme te fokus en te vergeet van die man by die verkeerslig. Maar ek kan eenvoudig nie.

Ek kan nie ophou dink aan hoe hemelsbreed ons lewenservarings verskil nie. Is daar dan iets wat ons gemeen het?

Met hierdie vraag wat in my kop draal besef ek dat hierdie pandemie ook ’n geskenk vir ons elkeen gegee het, die silwer omlyning as’t ware. Die COVID-19-pandemie is die mees opregte uitnodiging na empatie waarmee ons as die globale mensdom nog ooit gekonfronteer is. Hierdie pandemie affekteer ons almal en dit het ’n direkte impak op ons almal. Dit het met ons almal gebeur. En daardeur kan ons almal verenig word. As ons, onsself toelaat, kan ons werklik saam voel. Nie net besef hoe bevoorreg ons is en dink aan dié wat minder het as ons nie. Maar saam voel. Op ’n manier soos nooit tevore nie.

Natuurlik is my realiteit 100 keer meer gemaklik as dié van die man by die verkeerslig, maar daardie Dinsdag het ek vir die eerste keer besef dat daar iets is wat ons twee saambind. En daar is soveel potensiaal vir omgee, vereniging en diensbaarheid wat daarin lê. Die uitnodiging tot empatie gaan uit aan ons elkeen, en ons kan besluit of ons dit gaan aanvaar. En ek glo as ons dit doen, kan dit die eerste domino wees wat val in die verwesenliking van billkheid.

  • 1

Kommentaar

  • Stem 100% met jou saam, Lidia.
    Ons het nie die antwoord vir gelyke kanse nie, maar om empatie te toon, daarvoor het ons almal gelyke geleenthede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top