Ek is op 4 Maart 1947 in Roodepoort gebore, toe almal begin rustig raak het na die stres en onsekerheid van die Wêreldoorlog. Seker dié dat ek as 'n gelukkige, positiewe, ongebonde tweede kind kon grootword. Toe ek twaalf was, het ons Durban toe verhuis, waar ek 'n groot liefde vir die see ontwikkel het.
Gematrikuleer aan Hoërskool Port Natal en toe joernalistiek gaan studeer aan die PU vir CHO. Daar het ek my lewensmaat, Floris, ontmoet, en ons vier vanjaar ons 40ste huweliksherdenking.
Dit is Floris wat ons gesin leer reis-en-geniet het, wat die toestande ook al was. Saam met my enigste suster, Madrie, haar man Andries en hulle vyf kinders het ons en ons vyf kinders die land platgery.
As joernalis het ek by Die Transvaler begin werk, toe by Landbouweekblad op die vroueredaksie, en daarna vryskut gedoen vir verskeie tydskrifte terwyl die kinders grootgeword het. Ons het in al vier die destydse provinsies gebly: Kaapstad in die Kaap, Durban en Empangeni in Natal, Harrismith in die Vrystaat en Pretoria in die ou Transvaal.
Tussen 1988 en 1994 was ek mededirekteur en redakteur van die Harrismith Chronicle en van 1997 verbonde aan die Rekord Streekskoerant in Pretoria. Vir my werk daar het ek ATKV-toekennings ontvang en is in 2001 aangewys as Kommunika Toastmasters in Centurion se Kommunikator van die Jaar. Ek en ons twee dogters, Madeleen en Hannelie (fotograaf), het in 1995 die Mondi-prys gekry vir ons artikel oor Tourette-sindroom wat in De Kat verskyn het.
Toe al ons kinders hulle vlerkies gespan en 'n draai in die buiteland gaan maak het, het ek en Floris, so knap duskant 60 jaar, besluit dat dit nie net die jonges is wat oorsee kan gaan werk nie - ons wil ook. So was ons twee keer vir jaarkontrakte Engelse onnies in Suid-Korea, waar ons die wonderlikste ervarings gehad het. En ons brand om dit te vertel.
Opgedateer/Updated: 2008-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za