"Platberg" deur Kobie Coetzee

  • 0

Platberg

As ou Platberg op ’n winter-oggend
sneeu op sy rug het
dan trek hy so stilweg
’n miskombers daaroor heen.
Hy skuif dit versigtig deur die dorp se strate
waar die bome weerskante
in swart kant-onderrokkies staan.

Dan kyk ons verwonderd by ons warm kokonne uit
Waar is die res van alles heen?
Met die wollerigheid om ons,
voel ons nie die koue
en Platberg glimlag,
want sy plan het gewerk.

Kom die son op,
dan skeur hy die miskombers aan flarde,
maar dan is ons dagtaak al lankal aan die gang
Onverstoorbaar en rustig en blou kyk ou Platberg
hoe ons hardloop en werk en moeg word en sug.
Dan kyk hy verwonderd op die moeë mense neer
Waarom tog al die geswoeg?
Dan vang hy die aandgloed pienk in sy arms
en vou ons vir die nag daarin toe.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top