“Kosmosland” deur Kobie Coetzee

  • 0

Kosmosland

 

Die Oos-Vrystaat is weer mooi vanjaar
Die reën maak die aarde bly
Nou staan die koppies met lappe groen fluweel
tussen hul oopgesprei

Die groter berge staan stil en kyk
na die feestelikheid omheen
na lammers en kalwers wat kaperjolle maak
en ’n spruitjie wat vrolik dreun

Die Oos-Vrystaat is weer mooi vanjaar
die kosmos begin stippel-stippel blom
en kort voor lank is die groen kombers
met blommetjieslap omgesoom

Ooooo ...

Kosmos wuiwend, juig in die wind
Hupp'lend, dartelend, vry soos ’n kind
Pienk in skakerings en laggende wit,
knoppies nog toegevoude handjies wat bid.

’n Kosmosblommetjie is vriendskap
want vriendskap kos mos niks
en kosmossome langs die grootpad
is genade om arms vol te pluk
en kosmossome langs die grootpad
is genade om arms vol te pluk

[Die uitspraak moet Vrystaats wees – “verweel” vir “fluweel” en “kallers” vir “kalwers”.]


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top