Vervaldatum-kompetisie: Twee bome

  • 1

Die plataan!

Die plataanboom het geval in die nag se storm. Een van die twee wat hulle saam geplant het.

Stadig draai Petrus om. Hy sal vir Maria moet gaan sê. Sy kop loop vinniger vooruit as sy bene. Hoe sal hy dit vir haar vertel? Hulle twee se bome, en nou het een geval. Wie se boom is dit wat daar lê? Hy kan nie onthou nie.

Hulle was al twee agtien – pas klaar met matriek. Pa het die plaas vir hom afgesny. Hy en Pa het die pilare by die ingang opgemessel – met mooi klip wat hulle in die koppie agter die huis gaan haal het.

Maria was saam met hom bly.

“Wat kan ek my plaas noem?” het hy haar gevra. Hulle het langs die spruit in die koelte van groot ou populiere gesit – sy laer af teen die walletjie, met haar kop op sy skoot.

“Kom ons plant twee mooi bome weerskante van die hek – een vir jou en een vir my. Dan noem jy die plaas na die bome.”

“Watse bome? Akkers?”

“Nee, plataanbome. Hulle is vir my so mooi – veral in die herfs. Hulle blare lyk mos soos hande wat so oopvou hemel toe. En hulle bolletjiesaad lyk soos Kersfeesversierings. En ...”

Laggend het hy haar op die mond gesoen, maar toe hy sy kop oplig, het sy voortgegaan: “... en het jy al gesien as die nuwe blaartjies in die lente uitkom! Dis soos ferweel ... klein sagte babahandjies.”

Hulle het twee jong plataanbome geplant: hy een kant van die pad en sy anderkant. Net ’n entjie binnekant die pilare. “Die bome se wortels moenie die pilare laat kraak nie,” het hy gesê. Hy het ’n swaar dwarslêer glad afgewerk en sy het die plaas se naam daarop geverf. Hulle het dit tussen die hekpilare aan sterk kettings opgehang: PLATAAN.

Maar sy moes stad toe om te gaan werk. Haar pa het uitgeboer. Sy sou by haar suster in Johannesburg gaan bly.

Die briewe het al hoe minder geword. Hy het hulle twee bome natgelei en versorg en heeltyd vir homself gesê: na die oestyd gaan ek haar haal. Sy hoort nie in die stad nie, sy hoort hier.

Toe die brief. “Ek trou volgende maand met Dawid du Toit.”

Stukkend.

Hy het uitgehardloop en wou die bome stukkend breek ... uitpluk ... onder sy voete vermorsel. Maar die bome was al hoër as sy kop. Die takke sterk en sierlik. En dit was herfs. Hy het oor die geel blare gestreel, toe tussen die twee bome in die middel van die pad gaan lê. Opgekyk en deur die waas voor sy oë gesien die toppe leun na mekaar toe oor. “Ek sal wag,” het hy geprewel. “Eendag sal sy na my toe terugkom.”

In die lente het hy die ferweel-babablaartjies vir sy broers se kinders gewys. In die winter het hy saam met die kinders op die warmgebakte sandpad tussen die bome gaan lê – gekyk na die bolletjiesaad aan die kaal takke teen die helderblou lug. Kan dit Kersfees wees in Juliemaand?

“Hoekom het jy nooit getrou nie, oom Petrus?”

“Ek wag vir Maria.”

Toe kom sy!

Verlede jaar.

Die oproep: “Petrus, is dit jy?”

“Ja ... Wie praat?” Sy hart het in hom geruk. Hy was seker dit was haar stem, maar hy wou nie verniet bly word nie.

“Dis Maria! Reken, ek sit toe vanoggend daar by my dogter se haarkapper en soos dit maar gaan, praat ons oor dit en dat. Sy vra toe waar ek grootgeword het. Toe ek haar sê, word haar oë sommer so groot en sy sê: ‘Haai, ek het ’n oom daar wat nooit getrou het nie. Hy sê hy wag vir Maria. By sy plaas se hek staan twee pragtige plataanbome.’ ‘Ek is Maria,’ sê ek vir haar. Is jou oom se naam Petrus?’ ‘Ja!’ skreeu sy. Toe lag ons dat die trane loop en sy versnipper amper my hare. Toe gee sy vir my jou telefoonnommer en hier bel ek nou vir jou!”

Sy het kom kuier. Hulle het soos kinders in die pad onder die plataanbome gaan sit en sy het hom van haar lewe vertel. Van drie mislukte huwelike. Van haar kinders. Sy was nog net so fyn en klein, maar die swaarkry en hartseer het in haar oë gelê. Eindelik het hulle kreun-kreun opgestaan, vir mekaar se gesteun gelag en met hulle knobbelhande in mekaar teruggestap huis toe. Hulle is ’n maand later getroud. “Nou het ek eindelik tuisgekom,” het sy gesug toe hulle daardie aand in mekaar se arms lê.

Hier is hy nou by die huis. Sy sit met ’n kombers om haar bene gevou op die stoep.

“Ons een boom lê plat,” sê hy skor.

“Die storm?” vra sy.

“Ja.”

“Wie se boom?”

“Ek kan nie onthou nie. Kan jy onthou watter een het jy geplant?”

“Nee.”

”Dan is dit goed. Want met jou kanker en my hart hoef ons nie te weet wie eerste sal gaan nie,” sê hy en vou die smal skouers in sy arms toe.

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.     

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top