As ou Platberg op ’n wintersoggend sneeu op sy rug het
dan trek hy so stilweg ’n miskombers daaroor heen.
Hy stoot dit versigtig deur die dorp se strate
waar die bome ontbloot in hulle kant-onderrokkies staan.
Dan kyk ons verwonderd by ons warm kokonne uit:
Waar is die res van die wêreld heen?
Met die wol'righeid om ons voel ons nie die koue
En ou Platberg moet glimlag, want sy plan het gewerk.
As die son opkom, skeur hy die miskombers aan flarde.
Ja, dan is ons dagtaak lankal aan die gang.
Onverstoorbaar en rustig en blou kyk ou Platberg
Hoe ons hardloop en swoeg en moeg word en sug.
Dan kyk hy meewarig op ons arme mense neer:
Waarom tog al die gewroeg?
Dan vang hy die aandgloed se goud in sy arms
en vou ons vir die nag daarin toe.

