ATKV-redenaars 2023: die perspektief van ’n taalonderwyser

  • 4

Lida de la Bat (foto: voorsien)

ATKV-Redenaars is een van die ATKV se kultuurprojekte. Die webtuiste van die ATKV beskryf dié projek soos volg: "[Dit] gee leerders die platform om hul sê met selfvertroue in Afrikaans te sê – ’n vaardigheid wat hulle in die toekoms aan die voorpunt van hul veld sal plaas. Hierdie kompetisie is een van die ATKV se oudstes en word landswyd, sowel as in Namibië, vir laerskool- en hoërskoolleerders aangebied."

Die finale rondte van die redenaarskompetisie vind vanjaar op 17 en 18 Augustus by een van die ATKV-oorde, die Goudini-Spa, plaas.

Lida de la Bat, ’n Afrikaans Huistaal-onderwyser van Hoërskool Stellenbosch, deel haar gedagtes oor die redenaarskompetisie, waarvan sy onlangs die semifinalerondte bygewoon het.


Ek was in graad 3 toe ek eendag oor die interkom na die hoof se kantoor geroep is. Onder ’n gebrom en ’n luide “oééé” van my klasmaats is ek daar uit. Toe ek uiteindelik voor die enorme houttafel staan, is die hoof (ons moes hom “doktor” noem) se eerste woorde aan my: “Juffrou Malherbe, ek hoor jy hou van praat in die klas.” Ek het my dadelik lam geskrik – ek het geweet ek praat baie, maar volgens my was sake darem nie so ernstig nie. Min het ek geweet dat my broek ’n paar maande later nog meer as in die kantoor sou bewe: As negejarige het ek in ’n skool se personeelkamer agter die kateder gestaan en vir ’n klomp grootmense en beoordelaars van die ATKV vertel waarom gholfbane nie goed is vir die waterkrisis in die Wes-Kaap nie.

Baie kinders in my Afrikaansklas se konnotasie met die ATKV is dat die afkorting altyd in taalvraestelle gevra word, omdat hulle moet leer waar die besparingskoppelteken gebruik word. Vir mense soos ek, en die kinders wat oor die afgelope twee weke aan die ATKV-redenaarskompetisie se semifinaal deelgeneem het, beteken dit egter veel meer.

As ’n taaljuffrou is die vraag wat ek die meeste hoor (behalwe “Wanneer lui die klok?”), een oor die mees gevreesde assessering: “Juffrou, moet ek voor die hele klas mondeling praat?” Kinders sal byna hul pousebroodjies weggee om ná skool te kan mondeling praat, sodat net die juffrou luister. Wanneer hulle wel daar staan, is die tekens van angs duidelik: ’n hoë laggie vir die maatjie wat vir hulle oogknip, kaartjies wat bewe, of ’n dankie aan die gehoor terwyl hulle al halfpad terug is na hulle bank. Volwassenes is dieselfde: Niemand wil ’n beurt hê om voor die saal die dag te open, of selfs ’n voorlegging in ’n Teams-vergadering doen wanneer daar meer as vyf mense teenwoordig is nie. Feitlik almal is dit eens: Openbare redevoering (of in plein Afrikaans: “voor mense praat”) is angswekkend.

............
Feitlik almal is dit eens: Openbare redevoering (of in plein Afrikaans: “voor mense praat”) is angswekkend.
..............

Die ATKV verrig egter die afgelope paar dekades wondere om leerders van jongs af gewoond te maak daaraan om die bewe in hulle broek te ignoreer en so ’n moontlik lewenslange vrees te kan oorkom. Soos een van die senior redenaars in sy toespraak, “My tamatieplant bemagtig my”, genoem het: Om ’n klein vrees (soos om tamaties te eet) te oorkom, bemagtig jou om ook groter hindernisse in jou lewe aan te pak. Om as ’n agt- of negejarige tjokkertjie voor ’n klas vol vreemdelinge te staan en hulle te oortuig van stellings soos “Skoene haal die kleur uit my lewe” of “Klein seuntjies kan groot dinge doen”, doen wondere vir kinders se selfvertroue en redenasievermoë. Hierdie kinders word groot, en praat dan in graad 11 of matriek oor moeilike onderwerpe soos “Die mensdom volg ideologies-gedrewe sondebokke blindelings” of “Jong Suid-Afrika, jy het mag!” So leer hierdie kinders om op ’n gestruktureerde manier ’n opinie te hê oor begrippe soos “inklusief”, “ideologie”, en “bemagtig” – iets wat in ons hedendaagse opiniegedrewe samelewing lewensbelangrik raak

In belese Afrikaanse kringe hoor ’n mens dikwels die sêding “Dis ’n feit soos ’n koei.” Dit is egter so dat ons, met die oormaat inligting wat deesdae tot ons beskikking is, nie maklik weet hoe om feit van fiksie te skei nie, en glo dan enige Jan Rap wat sy opgekookte perd in ’n pot as beesstert voordoen. Deur kinders van jongs af te leer hoe om feite bymekaar te maak en daarvolgens ’n opinie te vorm, maak ons hulle nie net reg vir die grootmenswêreld nie, ons gee hulle ’n voorsprong bo die grootmense vir wie Facebook en tant Sarie van oorkant se WhatsApp-boodskap die hoofbron van inligting is. Om van jongs af te weet hoe om ’n opinie in woorde om te sit en jou “hoekom” met weldeurdagte feite te kan staaf sodat jy nie met ’n “sommer”-antwoord met jou broek op jou knieë gevang word nie, is van onskatbare waarde.

...........
Deur kinders van jongs af te leer hoe om feite bymekaar te maak en daarvolgens ’n opinie te vorm, maak ons hulle nie net reg vir die grootmenswêreld nie, ons gee hulle ’n voorsprong bo die grootmense vir wie Facebook en tant Sarie van oorkant se WhatsApp-boodskap die hoofbron van inligting is.
............

Ja, ek is goed bewus daarvan dat kinders (of eerder, ouers) toesprake koop of toesprake vir hulle kinders skryf. Dit is ’n realiteit – daar gaan altyd mense wees wat die kortpad wil neem, of dit nou op skoolvlak is, of mense wat ChatGPT gebruik om hul finalejaarprojekte vir hulle te doen. Die feit bly staan: As kinders die geleentheid op die regte manier aangryp en self die werk insit, gaan hulle uitstyg bo die res wat gou in die grootmenswêreld gaan besef dat niemand anders hulle skoene vir hulle kan volstaan nie.

............
Ek moet bieg – ek was nie verlede week besonder lus om vir ’n hele middag na toesprake te luister nie. Dis nou eksamen, en ek het vraestelle gehad wat moes klaar. Op pad huis toe was ek egter verbaas oor die oorweldigende gevoel van hoop wat ek ervaar het.
.............

Ek moet bieg – ek was nie verlede week besonder lus om vir ’n hele middag na toesprake te luister nie. Dis nou eksamen, en ek het vraestelle gehad wat moes klaar. Op pad huis toe was ek egter verbaas oor die oorweldigende gevoel van hoop wat ek ervaar het. Ja, natuurlik is ons bekommerd oor ons kinders se toekoms. Die wêreld, as ek vir Francois van Coke mag aanhaal, is mal, en daar is beslis meer onsekerhede en verandering in hulle toekoms as waarvan vorige generasies kon droom.

Soos wat ek egter so na hierdie spulletjie geluister het, is die kinders op die regte pad. Hulle dink oor moeilike dinge; hulle is nie bang vir praat nie; en hulle opinies is geldig en deur feite gestaaf. Ek dink ons gaan in ons nabye toekoms baie dapper mense nodig hê, en hierdie kinders is beslis nie bang nie.

Hulle is inklusief, hulle vorm hulle eie ideologieë, en hulle bemagtig[1].

Ons kinders is orraait.

[1] Die temas waartussen die graad 10- tot 12-leerders vanjaar in die voorbereide kategorie van die redenaars moes kies om te praat, was onderskeidelik “inklusief”, “ideologie” en “bemagtig”.

Lees ook:

ATKV-redenaars 2023: wenke deur Elbie Adendorff

ATKV-Digipraat: wenke van ’n gereelde beoordelaar van redenaarskompetisies

ATKV-Tienertoneel-persverklaring: Dreunend-dapper talent bekroon

  • 4

Kommentaar

  • Stephanie vd Westhuizen

    Ek moedig hierdie kompetisie aan. Ongelukkig kan geen laerskoolleerder hul eie toesprake skryf nie. In meeste gevalle kan baie ouers ook nie. Ek is 'n graad 2-juffrou in Pretoria. Ja, daar is so gemiddeld 5 kleintjies wat langs juffrou wil staan as hul 'n klaspraatjie het.
    Ek beoordeel self tot op provinsiale vlak ATKV. Dis wonderlik om die talent aan te hoor, veral in die onvoorbereide toesprake.
    Daar is beslis hoop vir ons jongmense!
    Ek het met 'n spreekkoor by my skooltjie in Waverley begin en daardeur hopelik 'n saadjie geplant ...

  • Hetta Pieterse

    Ek was van die eerste beoordelaars by ATKV. Het later opgehou veral omdat te veel kinders toesprake koop. Die oordrewe reëls tov erkenning van inligtingoorsprong, en misverstaan van gebruik van notas deur beoordelaars (waar daar VERWAG WORD dat daar notas MOET wees), het baie goeie, natuurlike sprekers uitgeskakel. Het al letterlik honderde opgelei in publieke optrede, maar beoordeling het te akademies geraak ipv analities en oorspronklik. Sela.

  • Marné Van Der Westhuizen

    Self kon ek dit nie beter stel nie. Ek het in daardie selfde lokaal gesit, nie as onderwyser of beoordelaar nie, maar as mamma van een van die sprekers. En ja, jy was nie die enigste een wat min lus was vir die lang sit nie. Die kinders het ons egter so geboei met hulle oortuigings en opinies wat uit die hart uit kom, dat ons nie eers agtergekom het daar was nie 'n pouse nie. Die onderwerpe het diep getref, en het my as toehoorder stof tot nadenke gegee. Ons kinders is meer as net "oraait". Hulle is absoluut vreesloos en bereid om op te staan en hul saak te stel vir dit waarin hulle glo, want hulle doen dit uit die hart.

  • Hetta Pieterse

    Van die beste toesprake in die laaste paar jaar het ek gehoor by die Byeenkoms van Meisieskole in Paarl. Die talent en oorspronklikheid van sprekers was uitmuntend. Ek is nou 80, maar die jeug interesseer my steeds met hul nuwe sprankel en deursettingsvermoë in hierdie deurmekaar en dikwels moeilike samelewing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top