Anonieme skrywers en outeursidentiteit

  • 0

...

Forensiese linguistiek behels die toepassing van taalkundige beginsels om kwessies rakende (onder andere) outeursidentifikasie te ondersoek en bewyse te lewer wat juridiese waarde het.
...

Die LitNet-kritikus van resensente, Crito, het in die onlangse verlede self onder kritiek deurgeloop weens haar kommentaar op die wyse waarop sy die werk van boekbeïnvloeders beoordeel. Dit spruit veral uit die inhoud van die artikel “Dwarsklappe”. Teen die agtergrond van ’n brief deur Ilse de Korte op LitNet (7 November 2022), ’n onderhoud met Crito (16 November 2022), en ’n bydrae van Jeanette Serdyn in Die Burger (28 November 2022) sal dit die moeite loon om vanuit ’n forensies-linguistiese perspektief die geldigheid van anonimiteit in die media onder die loep te neem, asook sommige maniere waarop anonieme outeurs geïdentifiseer kan word.

Forensiese linguistiek behels die toepassing van taalkundige beginsels om kwessies rakende (onder andere) outeursidentifikasie te ondersoek en bewyse te lewer wat juridiese waarde het. Vanuit ’n forensies-linguistiese perspektief is dit dus ’n basiese vertrekpunt dat kwade opset veronderstel word by die outeur wat sy/haar identiteit deur middel van ’n skuilnaam verberg, byvoorbeeld in die geval van dreigbriewe of lasterlike geskrifte. Dieselfde taalkundige beginsels kan egter toegepas word om outeurs te identifiseer wat anoniem is of skuilname om niekwaadwillige redes gebruik, wanneer die skryfsels dus ook geen forensiese implikasies het nie.

’n Bekende geval in die geskiedenis (1787) is die sogenaamde Federalist Papers (Mosteller & Wallace 1984), waarin die pseudoniem Publius gebruik is deur drie outeurs, Hamilton, Madison en Jay, wat ’n reeks van 146 koerantopstelle geskryf het ter ondersteuning van die bekragtiging van die Grondwet van die VSA. Hoewel die identiteit van die drie mettertyd rugbaar geword het, het Hamilton en Madison albei aanspraak gemaak op die outeurskap van 12 van die tekste toe dit geblyk het dat die gebundelde weergawe van die opstelle ’n gewilde publikasie was. (Eers in 1963 kon daar deur middel van ’n statisties-vergelykende ondersoek bewys word dat Hamilton al 12 geskryf het.)

...
Hoewel daar inderdaad waarheid steek in die opmerking dat individue se (spontane) taalgebruik bepaalde eienskappe bevat wat as kenmerkend beskou kan word, is dit ’n oorvereenvoudiging.
...

Outeursanonimiteit, of dit nou deur die gebruik van ’n skuilnaam of deur die verswyging van die skrywer se naam weerspieël word, kan na verskillende en uiteenlopende oorsake teruggevoer word. In die geval van die Federalist Papers het verskillende outeurs ’n gemeenskaplike doel gehad, en is die doel van die taalhandeling (om lesers te oortuig) belangriker geag as die identiteit van individue. Hierdie oorweging het egter vervaag toe persoonlike voordeel ’n faktor geword en tot aanspraak op outeurskap gelei het.

Wat betref die besluit van ’n outeur om sy/haar identiteit te verberg, is daar twee faktore wat agtereenvolgens ’n rol speel in, en bepalend inwerk op die besluit. Die vertrekpunt is die taalhandelingsdoel (die sogenaamde illokusie) met die teks, en daarmee saam uiteraard ook wie die beoogde leser is. Hierdie besluit bepaal dan ook of daar sprake is van ’n kwade opset. Dit is op hierdie punt dat ’n outeursidentifikasie forensiese implikasies kan veronderstel wat tot vervolging of ’n skikking kan lei. Die tweede faktor is die voorstelbare effek (die sogenaamde perlokusie), wat die inhoud van die teks, asook bekendheid met die identiteit van die outeur, op lesers sal/kan hê, asook op die outeur. In die geval van ’n kritiese teks wat lesers moontlik kan antagoniseer, sou anonimiteit as ’n selfbeskermingsmaatreël kon geld. ’n Kombinasie van dié faktore word, bewustelik of onbewustelik, in mindere of meerdere mate deur die outeur in ag geneem. Wanneer ’n teks gepubliseer word, hou die subredakteur gewoonlik ’n wakende ogie oor moontlike onbehoorlikhede en oortreding van die wet. Daar is dus ’n saak uit te maak vir anonimiteit binne die perke wat deur die reg gestel word.

...
Stilistiese kenmerke van die betrokke teks kan geïdentifiseer word, soos ’n voorkeur vir spesifieke uitdrukkings, of spesifieke kombinasies van woorde, aspekte van literêre styl soos alliterasie of hiperbool, of tipiese foute of afwykings van óf die erkende sintaksis óf standaardspelling.
...

’n Gemeenskaplike tema by De Korte en Serdyn se genoemde tekste hier bo is die bespiegeling oor die outeurskap van die resensies wat (reeds oor 14 jaar) onder die pseudoniem Crito verskyn het. De Korte noem dat daar moontlik sprake kan wees van ’n “kartel” van verskillende outeurs wat om die beurt bydra, terwyl sommige meen dat dit uit die “veranderinge in Crito se taalgebruik” duidelik is dat ’n nuwe resensent by ’n vorige oorneem. Volgens Serdyn sê “linguiste ... ’n mens se taalgebruik is soos ’n vingerafdruk” en dat “’n idiolek ’n string woorde, uitdrukkings en sinsvorme [is] wat aantoon dat ’n stuk teks deur ’n bepaalde persoon geskryf is”. Hoewel daar inderdaad waarheid steek in die opmerking dat individue se (spontane) taalgebruik bepaalde eienskappe bevat wat as kenmerkend beskou kan word, is dit ’n oorvereenvoudiging. Anders as in die geval van ’n vingerafdruk (of ook stemtimbre) is die taalgebruik van ’n individu, en spesifiek (leksikale of) inhoudswoorde, nie onveranderlik nie, en word dit beïnvloed deur faktore soos die tema onder bespreking, interaksie met ander taalgebruikers (wat soms ook as rolmodelle dien), emosionele gesteldheid, norme van toepassing op die tekstipe, ens. Wat egter die aandag van die skrywer ontglip, is sy/haar onderbewuste voorkeur vir die gebruik van (grammatiese of) funksiewoorde – iets wat in die statistiese ondersoek na die Federalist Papers die deurslag gegee het. Dit is naamlik woorde soos voorsetsels (on, upon), voegwoorde (while, whilst), lidwoorde (the, a, an) en aanwysende woorde (that, this, these, those). In Mosteller & Wallace se ondersoek, ’n kwantitatiewe ontleding, is die betwiste tekste vergelyk met onbetwiste tekste van die onderskeie Publius-skrywers en kon die identiteit van die outeur bo alle redelike twyfel vasgestel word deur op grond van statistiesebeduidendheidstoetse die relatiewe frekwensie van die funksiewoorde te bereken.

Dit beteken egter nie dat leksikale items van minder waarde is nie. Stilistiese kenmerke van die betrokke teks kan geïdentifiseer word, soos ’n voorkeur vir spesifieke uitdrukkings, of spesifieke kombinasies van woorde, aspekte van literêre styl soos alliterasie of hiperbool, of tipiese foute of afwykings van óf die erkende sintaksis óf standaardspelling. Dit is ’n voorbeeld van ’n kwalitatiewe ontleding.

In die geval van die Crito-resensies sou dit slegs aan die hand van die beskikbare tekste moontlik wees om aan te toon of daar wel van verskillende outeurs sprake is of nie. Dit sou dan die bestaan van ’n “kartel” van resensente wat ’n skuilnaam deel, kon bevestig. Om ’n bepaalde outeur te kan identifiseer sou dit nodig wees om tekste afkomstig van ’n vermeende individu ter vergelyking te bekom en vas te stel of die bevindings van ’n kwantitatiewe ontleding en dié van kwantitatiewe ontleding mekaar staaf.

Bronne

De Korte, Ilse. LitNet (7 November 2022)

LitNet-redaksie en Crito. LitNet (16 November)

Mosteller, Frederick en David L Wallace. 1984. Applied Bayesian and classical inference: the case of the Federalist Papers. New York: Springer Verlag

Serdyn, Jeanette. Die Burger (28 November 2022)

Lees ook:

Die eerste Crito-prys vir Lesersindrukke word aangekondig

Ilse de Korte oor Crito se "Dwarsklappe": Wanneer die gebrek aan hekwagters en anonimiteit die oop gesprek bedreig

Crito antwoord kritici

Dwarsklappe

Crito reageer op Bettina Wyngaard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top