Op 31 Maart 2023 het die Wes-Kaapse komitee van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ’n insiggewende dialoog oor linguistiese menseregte met bepaalde verwysing na die strafregstelsel by die Universiteit van Kaapstad gehou. Die sleutelspreker was oudregter Albie Sachs, vergesel van ’n paneel bestaande uit Monwabisi Ralarala van die Universiteit van Wes-Kaapland, Zakeera Docrat van Rhodes-universiteit en my.
..........
Die 88-jarige Sachs het op sy flambojante manier begin deur kortliks te verwys na sy ervarings toe hy in die sestigerjare van die vorige eeu weens pro-ANC-aktiwiteite 168 dae lank in eensame opsluiting aangehou is. Sy voordrag kan eintlik as ’n taaltestament beskryf word.
............
Die 88-jarige Sachs het op sy flambojante manier begin deur kortliks te verwys na sy ervarings toe hy in die sestigerjare van die vorige eeu weens pro-ANC-aktiwiteite 168 dae lank in eensame opsluiting aangehou is. Sy voordrag kan eintlik as ’n taaltestament beskryf word. Hy was tydens sy ballingskap onder meer 11 jaar in Mosambiek (waar hy ’n sluipmoordaanslag met ’n motorbom oorleef het – hy het nie daarna verwys nie). Hy het vertel dat oudpres Samora Machel van Mosambiek Portugees as amptelike taal vir Mosambiek voorgestaan het. Machel het gesê: “For the nation to live, the tribe must die”, ten einde die stamverdelingslyne te probeer uitskakel. Sachs het gesê Machel was verkeerd om Portugees as die enigste amptelike taal vir Mosambiek te propageer. Toe hy en Baleka Mbete die taalbedeling van die nuwe Suid-Afrika by Kempton Park namens die ANC onderhandel het, het hulle die mat onder die Nasionale Party (NP) se span uitgepluk met hulle voorstel van 11 amptelike tale. Hy het gemeld dat hulle gekonfronteer is deur sowat 20 professore, linguiste en selfs Niël Barnard in die NP se span. Oudpres FW de Klerk wou nie gesien word dat hy die taal uitverkoop het deur Afrikaans te laat afgradeer nie. Die slag was gou verby nadat die sogenaamde niestatusverminderingsbepaling in artikel 3 van die Tussentydse Grondwet ingevoeg is om die NP tevrede te stel. Engels het nie beskerming nodig gehad nie en Afrikaans en die Afrikatale is gelykgestel. Die volgorde van tale in artikel 3, wat oor amptelike tale handel, is opsetlik nie alfabeties gedoen nie, want dan was Afrikaans eerste en Engels tweede, en dit sou die verkeerde indruk oor belangrikheid geskep het.
Sachs het nie verwys na die feit dat die nuwe grondwet aan die hand van grondwetlike beginsels beoordeel moes word, en nie ooreenkomstig die bepalings van byvoorbeeld artikel 3, waarin die niestatusverminderingsbepaling vervat is nie. Dit is waar die NP-onderhandelaars Afrikaans in die steek gelaat het, en dit is in die Konstitusionele Hof (KH) se sertifiseringsuitspraak van die Grondwet mooi uiteengesit.
Die omstrede kwessie van taal van rekord in die howe en die agtergesprek daaromtrent het hy openbaar. Volgens hom is die inisiatief in 2009 deur oudhoofregter Pius Langa geneem en Sachs het gedink Langa het dit ook geïmplementeer. Hy het die gedagte tydens hulle gesprekke in die KH geopponeer. Hy stem nie saam met die huidige beleid nie en is van mening dat dit hersien moet word. (Ek herinner my dat die griffier van die KH my ’n ruk na ek die talewetsaak in Pretoria in 2010 gewen het, geskakel het en gevra het hoe ver die appèl is. Ek was verstom oor hierdie buitengewone navraag en dalk het die hofsaak die implementering van hierdie besluit gerem.)
Sachs het die interessante agtergrond van die besluit verduidelik. Die probleem was blykbaar veral in die Pretoriase Hooggeregshof, waar baie verhore in Afrikaans aangehoor is. Afrikaans het ’n probleem vir die transformasie van die regbank geskep, aangesien Engelssprekende regters weens hulle onvermoë om Afrikaans te gebruik, nie daar ontplooi kon word nie. Hy het klem gelê daarop dat hy nie met hierdie standpunt akkoord gegaan het nie en steeds ’n probleem het daarmee dat Afrikaans só uitgesluit word.
Tydens die paneelbespreking het ek daarop gewys dat dit oudhoofregter Mogoeng Mogoeng was wat hierdie besluit om Engels tot enigste taal van rekord in die howe te verklaar, op 16 April 2017 in die Sunday Times gepubliseer het, en nie in die Staatskoerant soos vereis deur subartikel 8(5)(b) van die Wet op Hoër Howe, 2013 (Wet 10 van 2013) nie. Verder, dat hierdie besluit ongrondwetlik is en dat die hoofregter nie wetgewende bevoegdheid het nie. Trouens, tot vandag is dit nie amptelik so afgekondig nie, maar dit word wel toegepas.
Die argument ten gunste van hierdie besluit dat sake op appèl in ander tale, waarvan die rekord dan eers vertaal moet word, problematies is, is deur my en Zakeera Docrat verwerp. Sachs het aangedui dat hy dink daar gaan ’n praktiese oplossing vir hierdie spesifieke probleem wees. Ek het genoem dat daar ’n bitter klein aantal sake op appèl gaan en Docrat het bygevoeg dat daar regters in al die afdelings in die Hooggeregshof is wat die Afrikatale en Afrikaans verstaan en dus die appèlle daarin kan hanteer. Ek het aangevoer dat die krisis met die oorvol strafhowe met ’n behoorlike taalbestuursplan uitgeskakel kan word. Daarvolgens kan sake in die taal van die sprekers van die streek gevoer word en daar sal dan nie ’n noodsaak vir tolking wees nie, wat die hofrolle onmiddellik sal verkort. Tolking veroorsaak dubbeltyd, uitstel weens die onbeskikbaarheid van tolke en dikwels ook onakkurate rekords weens swak tolking. Die aanstellingsbeleid van amptenare en voorsittende beamptes moet dan ook die taaldemografie van die streek respekteer.
..........
Die aanstellingsbeleid van amptenare en voorsittende beamptes moet dan ook die taaldemografie van die streek respekteer.
..............
Ek het verder ’n pleidooi gerig dat daar in geslagsmisdaadsake slegs by uitsondering van tolke gebruik gemaak moet word, aangesien tolking die slagoffer se lyding verdubbel. Hierdie aspek behoort prioriteit in ’n taalbestuursplan te geniet. Die regte van gearresteerdes, aangehoudenes en beskuldigdes word in artikel 35 van die Grondwet beskerm, maar wat van die slagoffer se regte? het ek gevra. Hulle trauma word deur tolking, en dikwels onakkurate tolking, herhaal en só word hulle waardigheid geskend.
............
Monwabisi Ralarala het die problematiek by die afneem van polisieverklarings deur beamptes wat nie die klaer of getuie se taal magtig is nie, beklemtoon. In sodanige gevalle tree die beampte tegelykertyd as interpreteerder, tolk en vertaler vir die verklaringgewer op ‒ soms met rampspoedige gevolge.
..............
Monwabisi Ralarala het die problematiek by die afneem van polisieverklarings deur beamptes wat nie die klaer of getuie se taal magtig is nie, beklemtoon. In sodanige gevalle tree die beampte tegelykertyd as interpreteerder, tolk en vertaler vir die verklaringgewer op ‒ soms met rampspoedige gevolge. Die jong dr Docrat, ’n voorste kampvegter vir forensiese linguistiek en in die besonder daarvoor dat die Afrikatale as taal van rekord in die howe gebruik moet word, het die lewering van tweetalige hofuitsprake deur veral adjunkhoofregter Mandisa Maya aangeprys. Sachs het gemeld dat dit ’n positiewe ontwikkeling is wat waarskynlik sal toeneem.
Aan die einde het ek hom retories gevra of hy, in die lig van sy statuur en gravitas, nie die hoofregter wil nader om die verkeerde besluit van oudhoofregter Mogoeng te laat herroep en te vervang met ’n taalbestuursplan vir die howe nie.
Sachs het verder die wens uitgespreek dat alle wit, bruin en Indiër-leerders die Afrikataal van hulle streek tot matriek moet leer om daarin te kan kommunikeer en dat dit ’n versuim van ons nuwe demokratiese stelsel is dat so ’n reëling nie gebiedend gemaak is nie. Ek is op rekord dat ek hierdie standpunt steun en het hom ook openlik hierin gesekondeer. Die Afrikaanse skole laat Afrikaanse leerders in die steek indien dit nie gedoen word nie.
Daarna het hy uitgebrei oor die enigste taalsaak in die KH waarin hy direk betrokke was, naamlik die Ex parte Gauteng Provincial Legislature: In re Dispute Concerning the Constitutionality of Certain Provisions of the Gauteng School Education Bill of 1995, 1996 (3) SA 165 (CC)-saak waarin beslis is dat kinders nie op grond van taal van skole uitgesluit mag word nie. Hy het die beginsel deurgetrek na die Universiteit Stellenbosch se huidige beleid en met goedkeuring daarna verwys. Sy benadering is gegrond daarop dat waar openbare skole nie vol is nie, anderstalige leerders nie uitgesluit mag word nie. Dit is in alle gevalle tans die verstekposisie. Sy persepsie is dat Afrikaans nie enige staatsbeskerming benodig nie. Hy meen dat dit sterk in die kerk, privaatsektor, literatuur, ens is en deur verskillende sterk gemeenskappe gesteun word. Staatsondersteuning vir die bevordering van Afrikaans is dus nie meer nodig nie, maar wel vir Afrikatale. Afrikaans het volgens hom ontwikkel tot ’n lewenskragtige moderne taal met staatsbevoorregting.
Ek het hom gekomplimenteer vir die kleurryke en veel aangehaalde wyse waarop hy Afrikaans in die voormelde saak beskryf het. Voorts het ek die geleentheid gebruik om Konstitusionele Hof-regter SA Majiedt te bedank vir sy regstellende uitspraak in die saak oor die taalbeleid van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) waarin hy die rassistiese wanpersepsies oor Afrikaans met gesag begrawe het. Weens die tema van die aand het ek dit nie gerade geag om die oudregter oor sy klaarblyklike wanpersepsie oor Afrikaanse skole aan te spreek nie.
Sachs het ook ’n pleidooi gerig dat PanSAT ’n groter rol in die bevordering van die meertalige taalbestel moet vervul. Sy rol en interaksie met Neville Alexander by die totstandkoming van PanSAT was interessant: Hy het geskerts dat die naam daarvan amper PanSAlbie was. Die gedagte was dat daar nie ’n taalraad vir elke taal geskep moes word nie, maar dat een Pan-Suid Afrikaanse Taalraad alle tale moet bevorder. Hy is waarskynlik onbewus daarvan dat hierdie belangrike instelling die stiefkind van die regering is, wat dit heeltemal onderbefonds.
’n Verdere wetenswaardigheid is sy melding dat die KH vroeg al besluit het om nie Latynse terme te gebruik nie, behalwe die term prima facie waarvoor daar nie ’n akkurate Engelse vertaling bestaan nie.
Sy historiese taalbewustheid het geblyk uit sy vertelling aan die gehoor dat die Afrikaner na die Anglo-Boereoorlog gebuk gegaan het onder ’n brutale angliseringsbeleid, gepaardgaande armoede, marginalisering en ontneming te midde van die beweerde superieure Empire, en dat hulle hard geveg het vir die waardigheid van hulle taal. Hy het afgesluit deur te meld dat hy nie die huidige “amper in beginsel” anti-Afrikaanse tendens ondersteun nie, aangesien dit die beginsel van gelyke aansien van ons tale waarvoor geveg is, ondermyn.
Sachs het dus met hierdie voordrag die metaforiese verwysing na hom as die Don Quixote vir die bevordering van die edele ideaal van verdraagsaamheid, wedersydse respek en die bevordering van diversiteit gestand gedoen.
(Die volledige voordrag is hier beskikbaar.).
Cerneels Lourens
Lees ook:
Albie Sachs, van beeldestormer tot ikoon, en sy sagte plek vir Afrikaners