Dit was die Afrikaanse digter Uys Krige wat oudregter Albie Sachs indirek aangespoor het om hom by die vryheidstryd teen apartheid aan te sluit.
So het Sachs die afgelope naweek vertel tydens ’n gesprek in die Bôrdinghuis by die Breytenbach Sentrum in Wellington.

Foto: Jean Oosthuizen
Die tema van die gesprek was "From iconoclast to icon".
Sachs was die gas van die FilosofieKafee onder leiding van Lamé Ebersohn wat elke maand daar vergader. Hy het onder andere gesels oor die vreugde – en ook ongemak – wat hy onlangs ervaar het toe hy ’n toekenning van die Clooney Foundation for Justice ontvang het.
Sachs het uitgebrei oor sy lewe en drome in die jare van die anti-apartheidstryd en hoe dit gebeur het dat hy so ’n sagte plek vir Afrikaners het.

Foto: Jean Oosthuizen
Die stryd waartoe hy hom as jongman verbind het, het hom op 7 April 1988 sy regterarm gekos en ook die sig in sy linkeroog toe ’n motorbom wat deur Suid-Afrika se veiligheidsmagte geplant is, ontplof toe hy sy motor se deur oopmaak.
Hy het sy praatjie begin met ’n verwysing na Jan Rabie se boek Ons, die afgod. Dit is waar sy verbintenis met Afrikaners regtig begin het. Sy ma Ray het daarvan gehou om kunsuitstallings in die Kaap by te woon en veral dié van Marjorie Wallace, wat met die skrywer Jan Rabie getroud was.
So het hy ook van Rabie se mede-Afrikaners leer ken wat uiteindelik as die Sestigers bekend geword het.
Mense soos André P Brink, Etienne Leroux en Ingrid Jonker was onder diegene wat by Rabie en Wallace se woonstel in Groenpunt aangedoen het terwyl Wallace besig was om op haar versoek ’n skildery van hom te skilder.
Hy meen Marjorie Wallace, wat ’n vreemde Afrikaans met ’n Skotse aksent gepraat het, wou hom graag skilder met die hoop dat sy ma dit sou koop.
Breyten Breytenbach, wat in die buiteland woon, het Sachs met ’n e-pos-boodskap welkom geheet by die Bôrdinghuis en sy waardering uitgespreek vir die sagte plekkie wat hy nog altyd vir Afrikaners het ten spyte van al hulle verskille.
“Ek was nog altyd verbaas hoekom is ek en Breyten so lief vir mekaar, want ons verskil oor omtrent alles met mekaar. Miskien is dit omdat albei van ons intense romantici is. Maar Breyten, jy is die pessimistiese diep romantikus en ek die optimistiese romantikus,” het Sachs gesê.
Dit was veral in die ’60’s, terwyl daar ’n verbod op hom geplaas was om openbare byeenkomste by te woon, dat hy nader kennis gemaak het met verskeie progressief denkende Afrikaners.

Van links: Vanessa September-Sachs, Albie Sachs, Lame Ebersohn en Mariana Kruger (Foto: Jean Oosthuizen)
Jan Rabie en Marjorie Wallace se woonstel was die bymekaarkomplek van progressiewe Afrikaners. Baie van die jong skrywers van daardie tyd, soos Etienne Leroux, het daar ingeloer terwyl Wallace besig was om hom te skilder en hy kon na hulle almal se wonderlike gesprekke luister, vertel Sachs.
“Daar was ’n warmte en toegeneentheid teenoor my van almal wat daar gekom het en dit was asof hulle my isolasie kon aanvoel.”
Nog iemand wat hom inspireer het, was die kunstenaar Gregoire Boonzaaier.
Met verwysing na die groot verskeidenheid Afrikaners in die land het sy vrou Vanessa ’n definisie van Afrikaners voorgelees uit die boek Dear Comrade President: Oliver Tambo and the foundations of South Africa’s Constitution deur André Odendaal wat onlangs verskyn het. Sachs was verantwoordelik vir die redaksionele kommentaar in die publikasie.
Hierdie definisie van Afrikaners is ’n konkoksie wat deur Breytenbach, Brink, Van Zyl Slabbert en Ampie Coetzee saamgeflans is toe ’n groep van 60 Afrikaanse skrywers, joernaliste, sakemanne, politici en ander intellektueles in 1987 met leiers van die ANC in ballingskap in Dakar, Senegal gaan praat het.
Dit bestaan uit een lang sin met slegs twee kommas. Sachs sê dit het hom en Odendaal hoofbrekens besorg om hierdie definisie vir die boek in Engels te vertaal:
Daar is bruin en bleek kommuniste en boere en boere en bittereinders en liberale, Dakar-pelgrims en agnostici en Boeddhiste en afvalliges en wederstrewiges en skrumskakels en alkoholiste en kerkmuise en kultuurkokkerotte en moffies en mekênieks en vissermense sonder kwotas en vorige grensvegters bierpense en nihiliste en diakens en gesellinne en filosowe en koffiedrinkers kortom, daardie ruie en ongerepte maar lewenskragtige verskeidenheid onfahanklikes en bywoners en sinmakers en usefull idiots wat met reg daarop aanspraak kan maak dat hulle die meerderheid Afrikaners is (maar nooit so aanmatigende sal wees om te dink hulle is die verteenwoordigende nie).
Sachs sê hoewel hy nie Afrikaanssprekend is nie, het hy volkome tuis gevoel tussen die Afrikaners wat hy in die ’60’s by Rabie en Wallace se woonstel ontmoet het.
“Ek het ook grootgeword in ’n wêreld waar iemand soos Uys Krige ’n rondawel in Clifton gehad het. Toe ek vir my ma vra watse soort werk doen oom Uys en sy sê hy is ’n digter, het ek geen benul gehad dat dit ’n werk kan wees nie, want dis dan net woorde wat hy skryf.”
Op universiteit het sy ma vir hom gesê om na een van Krige se lesings te gaan luister. Dit het gehandel oor ’n Spaanse digter se vryheidsgedig en die lesing was hoofsaaklik in Engels met ’n bietjie Afrikaans, baie Spaans en selfs ’n bietjie Frans tussenin.
Daar het hy besef watter groot rol poësie in ’n vryheidstryd kan speel. ’n Maand later het hy by die versetveldtog teen apartheid aangesluit.
Mense in die ANC het hom al dikwels gevra hoe dit gebeur het dat hy kultuur in die ANC ingebring het; dan sê hy vir hulle dit was eintlik andersom en dit was kultuur wat hom in die vryheidstryd laat beland het. Uys Krige se lesing oor ’n Spaanse gedig het die deurslag gegee.
Sachs het ook vertel van die dag toe ’n ander Afrikaner, ene Henry van der Westhuizen, hom in sy kantoor kom groet het toe hy al ’n regter was. Van der Westhuizen het kom bieg dat hy die man was wat verantwoordelik was vir die bom waarin hy sy regterarm en een oog se sig verloor het. Hy sê toe Van der Westhuizen daardie dag uit sy kantoor loop, kon hy dit nie oor sy hart kry om hom met die hand te groet nie. Later het hy hom weer by ’n funksie raakgeloop en hom toe met die hand gegroet nadat Van der Westhuizen voor die Waarheid-en-versoeningskommissie getuig het. Nog later het hy by mense wat Van der Westhuizen ken, gehoor hy het daardie aand glo in trane uitgebars toe hy by die huis kom.
Lede van die gehoor wou tydens vraetyd by Sachs weet wat sy siening van die huidige situasie in die land is en hoe hy as oudregter oor die Zondo-verslag voel.
Hy het gesê by die lees van die verslag was die emosies wat hy ervaar het, ’n mengsel van afgryse en vreugde. Hy is met weersin vervul omdat al die dinge wat in die verslag ontbloot is, plaasgevind het. Die weersin was nie net as gevolg van al die geld wat gesteel is nie, maar ook oor die afgryslikheid wat dit doen aan die nagedagtenis van mense soos Oliver Tambo, Nelson Mandela, Walter Sisulu en die ander eerbare leiers van die vryheidstryd.
Vir Sachs, wat byna sy hele lewe aan die ANC gewy het, is dit ’n bitter pil om te sluk dat daar mense is wat die organisasie waarvoor ander mense hulle lewe opgeoffer het vir eie gewin wil misbruik en besig is om dit van binne te vernietig.
Hy ervaar egter ook ’n emosie van vreugde omdat die vergrype aan die kaak gestel is in Zondo se verslag en dat hy dit onder almal se aandag gebring het. “Selfs die land se president het twee volle dae voor die Zondo-kommissie verskyn en daar is min lande waar ’n dienende president bereid sal wees om so onder kruisverhoor geneem te word.”
Sachs sê hy het groot respek vir Cyril Ramaphosa, en hoewel hy nie met alles saamstem wat hy sê of gedoen het nie, is hy nie ’n skelm nie.
Wat hom ook hoop gee, is dat Suid-Afrikaners vandag vry is om te vra wat hulle wil en kritiek teen die regering kan uitspreek sonder vrees dat daar iewers ’n regeringspioen is wat jou kan laat opsluit as jy die regering durf kritiseer of die verkeerde vrae vra.
Nog ’n bron van vreugde is dat almal in die land die reg het om te stem. Dit is nie fopverkiesings nie en die verkiesingsuitslae word deur almal aanvaar, soos tydens die munisipale verkiesing toe die ANC Johannesburg verloor het en hulle dit sonder slag of stoot aanvaar het terwyl dit selfs in Amerika nie altyd die geval is nie, soos toe Trump nie sy nederlaag wou aanvaar nie.
Sachs meen die land se Grondwet was die ANC se grootste bydrae tot Suid-Afrika en die land se burgers moet dit koester en beskerm.
Hy is ook positief oor die regstelsel en meen dit is in goeie hande onder leiding van hoofregter Raymond Zondo en sy span.
“Daar is ’n lewenskragtigheid onder Suid-Afrikaners wat my positief stem. Ek hoor dit in die stemme van ons sangers en ons skrywers. Dit maak my nie un-pissed off oor die negatiewe dinge nie, maar lelik soos dit is, mag dit nie die positiewe goed wat daar is, uitwis nie.”
Hy vertel hoe hy tydens die oorgangsjare na demokrasie by ’n geleentheid in die buiteland langs Roelf Meyer gesit het. Iemand in die gehoor wou by hom weet hoe dit voel om langs die man te sit wie se regering hom wou doodmaak met ’n bom en hom met net een arm gelaat het. Fantasties, het hy geantwoord. “Toe wou ons mekaar doodmaak en vandag sit ons langs mekaar om saam van die land ’n beter plek te maak.”


Kommentaar
Lieflik, dankie.
Eerbare man soos min.
Tragies dat die bevrydingsbeweging die land waarvoor hulle geveg het letterlik vernietig het. Albe Sachs en sy makkers is seker skaamkwaad. Hul drome van 'n bevryde SA het skipbreuk gely.
Daar is min soos jy Albie. Dankie. Kom kuier weer by die woordeboek.
Baie insiggewend, Cerneels. Goed om te weet die stryd is nie verlore.