Albie Sachs oor Afrikaners

  • 3

Albie Sachs (Foto: Izak de Vries)

Na aanleiding van Albie Sachs se oop gesprek by die Breytenbach Sentrum op Vrydag 4 November 2022

Albie Sachs, wat deur ’n bom uit Afrikanergeledere vermink is, het my en mede-Afrikaners Vrydagaand trots Afrikaans gemaak toe hy oor Afrikaners gepraat het as mense wat ook vir geregtigheid gestaan het.

Wat hy nie genoem het nie, was dat Uys Krige, Breyten, Ampie Coetzee en André Brink deel van ’n miniskule groepie kunstenaars en denkers was. Die groot gros Afrikaners het die Sestigers net soveel soos mense van kleur verpes.

Om ’n idee te gee van die mentaliteit in daardie jare: Uys Krige het my vriend Harold Rubin in die hof verdedig. Harold het ’n skildery van Christus gemaak met ’n krismishoed op sy kop en Kersfeesklatergoud op die grond. Daarby het gestaan: “God forgive them for they know not what they do.” Die boodskap het by die publiek verbygegaan, Harold is van godslastering aangekla. Die landdros het Krige se bydrae vermeld in die uitspraak toe hy Harold onskuldig bevind het.

Terug na Vrydagaand. Vraetyd.

Tussen huldeblyke staan twee Afrikaners op. Een vra vir Albie of die verlies van sy arm die moeite werd was. Ja, u het reg gelees. Dit was die Handves van Regte wat deur daardie oorblywende arm geskryf is, wat tot gevolg het dat daardie einste Afrikaner vandag met ’n man kan trou en in vrede leef sonder die geteister van homofobe.

Die ander man was inderdaad nie daar om ’n vraag te vra nie, maar om sy boek te promoveer en aan te dring op ’n private gesprek met Albie. Ek vermoed om hom ’n ding of twee te sê. Ek wil vir hom sê dat ek nie belangstel in sy boek nie. Hy kan met gerustheid daarin skryf, want hy weet niemand gaan hom in die nag kom oplaai en vir 90 dae in isolasie wegsluit, of by venster uit, of by ’n trap af gooi nie. Danksy ons Handves van Regte.

Ons land is in groot moeilikheid omdat dele van die ANC korrup skyn te wees. Dis ’n tragedie. Maar dele ons vorige bestel was ook korrup en nog boos ook daarby. Wat doen ons as Afrikaners om iets te probeer beter maak, om iets terug te gee aan ’n land wat vir ons o so goed was? En is. Dit gaan met ons persoonlik beter as in 1994. Ten spyte van ’n paar ongerieflikhede, ry ons in nog langer motors as tevore. In plaas van om te sit en kla, het iemand dalk gedink om ’n kleiner motor te ry en die oorskot te gebruik om ’n verdienstelike swart kind op universiteit te hou?

Ek weet Vrydagaand is deur ’n klein monstergroepie Afrikaners verteenwoordig, maar die gevoel waarmee ek daar weg is, is dat daar verlang word na ’n ou, soms korrupte, soms bose Afrikanerregering.

Edith Cavell, ’n Britse verpleegster wat in WW1 Engelse en Duitse soldate verpleeg het, het, net voor sy deur ’n Duitse vuurpeleton afgemaai is, gesê: “Patriotism is not enough.”

Voordat ons nie verby patriotisme, nepotisme, tribalisme, nasionalisme en al die ander -ismes kan kyk nie, en sien dat elke ander mens op ons planeet ons broer/suster in dieselfde verknorsing is nie, is ons nie vry van menseregtevergrype nie.

En as die geleentheid weer eens na ons kant toe kom, gaan ons opstaan soos Albie Sachs? Of nie?

Ek weet dit sit nie in baie van ons se broek nie, ek self was nie Vrydagaand dapper nie, maar hê ten minste respek vir dié wat wel teen ongeregtigheid opstaan.

Lees ook:

Albie Sachs, van beeldestormer tot ikoon, en sy sagte plek vir Afrikaners

  • 3

Kommentaar

  • Francois Verster

    "Dis ’n tragedie. Maar dele ons vorige bestel was ook korrup en nog boos ook daarby." Suzette, jy beweer mense wens die bose NP was weer aan bewind. Dis inderdaad 'n miniskule groepie daardie, ek ken geeneen wat dit wens nie. Maar, is magsbebbers wat hulle eie mense in selfs erger armoede dompel en van hoop stroop en besteel, nie boos nie? Jy veralgemeen sonder om dit te erken. Onderdrukkers is almal "boos."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top