Al wat ek weet, Marita van der Vyver se jeugroman kry tweede lewe in vollengte film

  • 0

Verlede jaar het die bekroonde filmmaker-duo Devon Delmar en Jason Jacobs geen filmkykers met droë oë uit die Rotunda by die Silwerskermfees laat stap met hul film Carissa nie. Dié film waarin Gretchen Ramsden die hoofrol speel, vertel die verhaal van ’n jong vrou en haar gemeenskap in die hartjie van die Sederberge. Carissa is by ’n kruispad in haar lewe. Haar ouma wil hê sy moet by ’n nuwe gholflandgoed gaan werk, maar Carissa vlug na die berge waar sy haar vervreemde oupa – een van die laaste oorspronklike rooibosteeboere – ontmoet. Hier word sy gekonfronteer met vrae oor identiteit, erfenis en verbondenheid.

Die film verken die komplekse reis van selfontdekking en beklemtoon hoe verantwoordelikheid met persoonlike groei gepaard gaan. Dit het verskeie Silwerskermbenoemings ontvang en Gretchen het spesiale lof vir haar kragtige spel ontvang.

Dit het in die Final Cut-kategorie van die Venesiese Rolprentfees die jurieprys gewen en is ook by die Santa Barbara Internasionale Rolprentfees en die BlackStar Rolprentfees in Philadelphia, VSA vertoon. Carissa was ook een van die Suid-Afrikaanse rolprente wat geoormerk was vir die 2026-Oscars in die kategorie beste internasionale rolprent.

Die film is vanjaar weer by die Silwerskermfees wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai gehou is, vertoon.

Vanjaar was Devon en Jason met ’n dubbeldoor terug by die fees – nie weer met ’n storie eie aan hulle nie, maar met Al wat ek weet, gegrond op Marita van der Vyver se gelyknamige jeugroman wat 10 jaar gelede verskyn het. Die boek het in 2017 die kykNET-Rapport Boekprys vir film ontvang. Dié prys bekroon ’n Afrikaanse werk wat potensiaal het om ’n film te word.

Profetiese woorde ...

Hul speelfilm was een van drie wat vanjaar om die titel van beste speelfilm meegeding het en as feesgunsteling aangewys is. Drie akteurs is benoem vir hul rolle: June van Merch (beste vroulike byspeler in ’n speelfilm), Jonan Mouton (beste akteur in ’n speelfilm) en Zenobia Kloppers (beste aktrise in ’n speelfilm).

Met die Silwerskermtoekennings vir film en TV by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aan die einde van die fees, het Rocco Pool weggestap met die trofee vir beste produksie-ontwerp en Guy Steer vir beste klankontwerp.

Marita van der Vyver het uit Frankryk by die fees kom kuier en saam die première geniet en op die bloutapyt verskyn.

Die tiener Gabriel (Jonan Mouton) woon ná sy ma se dood by sy tannie Lotta (Zenobia Kloppers) en ouma Lenie (June van Merch) in Springfield Terrace in Woodstock. Gabriel is egter in ’n duur skool met baie geleenthede, maar sy houding stoot mense weg, en in terapie waarvoor sy pa betaal, onderdruk hy sy rouproses en wil nie saamwerk nie.

Toe hy vir Sasha (Antoinette Myburgh) ontmoet, verander sy wêreld dramaties. Die kontras tussen haar gegoede lewe in die rykmansbuurt van Kaapstad en sy realiteit in Woodstock vorm ’n treffende agtergrond en bewys net weer dat sielkundige probleme nie aan ras of klas gekoppel kan word nie. Gabriel ontdek ook dat Sasha dalk met erger probleme as hy worstel.

Om haar te beïndruk besluit hy om deel te neem aan ’n rymkletskompetisie, maar die probleem is, hy kan nie rympies skryf nie! Hy gaan op ’n ontdekkingsreis saam met Helen (weer Gretchen Ramsden) wat hom help om fyn te luister, waar te neem en weer te gee.

In 2017 vertel Marita vir Naomi Meyer op LitNet dat sy aanvanklik nie geweet het of sy die storie uit Gabriel of sy pa se oogpunt moes skryf nie. In die weergawe wat vir Lapa se kompetisie ingeskryf is, was daar stukke wat uit die pa se oogpunt geskryf is. Haar uitgewer het toe gesê sy moet die pa laat vaar. “Tieners gee nie om wat pa’s en ma’s dink nie. Hulle wil hulle eie stories lees.” (Lees die volledige artikel hier.)

En dis presies wat die fliek so mooi uitbeeld. Dis amper asof jy die wêreld uit Gabriel se oë ervaar.

Dit bring ons terug by die jong filmmakers. Hulle vertel dat die film ernstige temas met sensitiwiteit hanteer, maar dit is ook vol pret en humor en “dit is ons liefdesbrief aan Huri ǂOaxa (Tafelberg) en die mense wat sy beskerm”.

Maar om die insigte en diepte van die fliek te verstaan moet mens bietjie dieper delf in diegene wat agter die kameras staan, se lewens.

Jason is self ’n digter en boonop die wenner van die 2017-Kunste Onbeperk-toekenning. Hy het in 2018 by die Silwerskermfees gedebuteer met Nama Swaan, ’n magiese realisme kortfilm. Die film se boodskap is dat jy nooit moet ophou droom nie. Hy is vanjaar se Nasionale Kunstefees se Standard Bank Jong Kunstenaar vir toneel.

Devon is ’n rolprentmaker, draaiboekskrywer en komponis wat bekend is vir sy innoverende, gemeenskapsgewortelde benadering tot storievertelling. As mede-regisseur en mede-skrywer (saam met Jason onder die kollektief KRAAL), fokus sy werk op die verkenning van identiteit, tradisie, die spanning tussen moderniteit en erfenis en die verhouding tussen mens en omgewing.

Vrae vir Devon Delmar en Jason Jacobs, mede-draaiboekskrywers en -regisseurs.

MR: Jul eerste twee speelfilms is oorspronklike of eie stories. Wat aan Marita se boek het julle oortuig dit moet ’n film word?

DD en JJ: Ons vorige rolprente is oorspronklike stories geïnspireer deur die gemeenskappe van Wupperthal en Kharkams en hul persoonlike en alledaagse lewens, of uitkyk op die lewe. Die skuif na meer kommersiële en bestaande fiksie (in dié geval Marita se boek) was natuurlik, maar dra ook ’n groot gemeenskapselement waar ons intiem met die Springfield Terrace-gemeenskap in Woodstock gewerk het.

In die jeugroman het Gabriel se reis van diep rou tot om oor te begin ons die meeste getref. Dinge raak baie donker vir hom naby aan die einde, maar daar is ook hoop. Van lekker lag kom lekker huil. Ons sien ook baie van onsself in hom, veral omdat ons ook so hardkoppig was as tieners wat gesukkel het om oor ons gevoelens te praat. Ons hoop jonger mans sal aanklank vind daarby. Ons leef steeds in ’n tyd waar ons nie genoeg veilige ruimtes vir tieners skep om eerlik te wees oor wat regtig in hul harte aangaan nie.

MR: In Carissa het julle gekyk na ’n plattelandse meisie se soeke na verbondenheid te midde van ’n bedreigde erfenis, en in Al wat ek weet verken julle Gabriel se reis tussen die tradisionele Woodstock en ’n bevoorregte Kaapse skool. Hoe definieer julle as filmmakers die begrip behoort in ’n land waar mense dikwels gelyktydig in verskillende, botsende wêrelde moet navigeer – en watter rol speel ’n mens se fisiese en sosiale ruimte daarin?

DD en JJ: Dit is belangrik om te erken dat ons steeds in stede en dorpe bly, waar ras, klas en kultuur ’n groot impak het op hoe mens die wêreld navigate. Dit is beslis veral painstakingly visible in die stad en ons omhels hierdie ongemak deur nie weg te kyk nie, maar deur ons werk te ondersoek. Ons is positief oor die omhelsing van ’n allesomvattende ubuntu-idee, maar sober in ons wete dat dit sukkel om te realiseer. Dit strek dan ook uit tot die films wat ons skep. Wie het eintlik toegang tot die finale produk en wat beteken dit as ons stories nie die mense vanwaar dit kom kan bereik nie?

MR: Jul vorige films het op die platteland afgespeel en dikwels in armsalige omstandighede, waar mense moed verloor het. Hoekom die besluit om stad toe te skuif?

DD en JJ: In die platteland het jy die voordeel van ’n meer gefokusde produksie op stel, maar nadele soos dat daar nie die belangrike hulpbronne is wat die stad jou bied nie. Die proses om in die stad te verfilm was ’n groot leerskool, maar met die ervaring van Annemarie du Plessis en Meria Productions, as die vervaardiger en produksiemaatskappy, is daar na almal se belange omgesien.

MR: Gabriel se verhouding met Sasha oorbrug klas en verskille in agtergrond, en beklemtoon dat geestelike gesondheid en innerlike pyn geen grense van ras of bevoorregting ken nie. Dink julle die Suid-Afrikaanse film- en kunsbedryf gee genoeg ruimte om verhale oor ras en trauma op ’n nuansryke manier uit te beeld sonder om in stereotipes te verval, en hoe het julle hierdie balans in die verwerking van die boek benader?

DD en JJ: Dit is belangrik om te oorweeg dat ras en klas ’n groot rol speel in wie toegang het tot sielkundige hulp, veral omdat ons steeds in die nagevolge van kolonialisme en apartheid lewe. Of liefs, forseer word om so te doen. Dit was vir ons belangrik om deur Sasha en Gabriel te wys dat wie jy liefhet nie gebaseer is op ras of klas nie, maar eerder wat daardie persoon vir jou eie gesondheid kan beteken. Ons kan natuurlik nie help as gehore iets anders in dit lees nie en verwelkom meer detailed readings van die verhouding op skerm. Maar dit is nie die gom van die storie nie. Die storie handel oor Gabriel (en ook grotendeels Sasha) wat sukkel met hul persoonlike geestesgesondheid en hoe hulle ongeag vanwaar hulle afkomstig is, steeds moet deal met die ongemak wat genesing bring.

MR: Marita se boek het ’n dekade gelede verskyn, maar die tema van tieners wat ’n veilige ruimte soek om hul eie stem te vind, voel vandag steeds dringend. Waar staan SA se jeug en ons breër gemeenskap volgens julle in 2026 wanneer dit kom by deernis, intergenerasionele trauma en die skep van veilige ruimtes vir die volgende geslag?

DD en JJ: Dit is eintlik nie ons plek om namens tieners te praat nie, maar wat ons wel optel in vandag se jeug, is die nood om gesien en gehoor te word. Ek dink nie ons tieners verstaan noodwendig in detail die taal of betekenisse van trauma indiepte nie, maar hulle dra natuurlik die erfenis of nalatenskap van wat op hulle geplak is. Trauma wat net aanhou dieper sny. Ons hoop die film kan ons jeug die moed gee om te praat en te deel in die struikelblokke wat hulle versmoor of enkel laat.

MR: Jason, jy het by die Nasionale Kunstefees die produksie Kraal aangebied. Hoe verskil teater en film vir jou? Wat kan jy daarmee sê wat jy nie met film kan sê nie?

JJ: Dit is vir my ’n groot eer om steeds teaterwerk te kan doen en intentionally stories oor my mense te kan produce vir teater. Dit bied jou ook die geleentheid om iets oor ’n langer tydperk te ontwikkel.

Kraal het reeds in 2022 by die Woordfees sy debuut gehad, waar ek met my pa Anthony kon saamwerk. Ná my pa se afsterwe het ek soos Gabriel in ’n diep emosionele donker gat geval en ek kon vir baie lank nie aan my eie stories raak nie. Maar tyd genees en teater gee mens kans om stadig en statig deur jou rou te werk. Kraal het tot so ’n mate gegroei dat ons drie nuwe skeppings kon uitdink: ’n nuwe weergawe van die eenpersoonvertoning, die opslaan van ’n inheemse matjieshuis, asook die ontwikkeling van ’n kort dokumentêr wat ’n gedeelte van die Kamiesberg-erfenis eer.

Teater gee jou meer vryheid om buite die boks te dink, maar die belangrikste element is hoe teater en stories ’n live audience op ’n meer intieme manier nader aan mekaar kan bring. Teater beteken ook baie vir die mense wat dit skep. Want die storie bly vir jare by jou.

(Kraal word ondersteun deur NATi en Toyota US Woordfees en is ’n magiese herverbeelding van die skrywer se voorvaderlyn in ’n poging om wonde te heel binne die nalatenskap van ’n oorgeërfde dopstelsel.)

MR: Hoekom die besluit om weer vir Gretchen in ’n groot rol te gebruik? Wat geniet julle van haar as aktrise?

DD en JJ: Gretchen is ’n akteur wat ons baie respekteer. Dit is vanselfsprekend dat sy in baie van ons films gaan wees (as sy dit toelaat), want ons het ’n verstandhouding onder mekaar wat diep strek. Haar talent praat tale wat amper kosmies is. Tale wat ons ook self leer ken oor wat dit beteken om stories te maak oor ons land en die kulture wat ons geërf het.

MR: Daar is baie plekke waar die dialoog versag en musiek eerder die voertaal word. Vertel asseblief meer van die klankbaan en hoekom musiek vir julle so belangrik is?

DD en JJ: Benjamin Jephta se oorspronklike klankbaan is geïnspireer deur die Kaapse Klopse en sy eie jazztaal. Ons het van die begin van ons skryfproses af geweet dat ons ’n gevoel van chaos op die skerm en deur die klankbaan moes meebring om Gabriel se innerlike wêreld uit te beeld. Een van diepgaande ontsteltenisse en wroegings met die self in gesprek met alles en almal om hom. In die film word hy in verskillende rigtings getrek, omdat hy oorweldig word deur almal se bekommernis oor sy geesteswelstand. Sy aandag word elke keer afgelei wanneer hy aan die trauma oor sy verlies herinner word, terwyl al sy onderdrukte emosies veg om bo die geraas gehoor te word. Om sodoende op ’n plek te kom waar die gehoor saam met hom hierdie chaos kan voel, het ons op jazz (en ander influences) gesteun, maar die soort waar daar cymbals flash en note onophoudelik uit die saksofonis se stem onderstreep word. En Benjamin Jephta het dit alles in sy arsenaal gehad, terwyl hy aanklank gevind het by die Kaapse erfenis oor jazztaal wat deur hom vloei.

MR: Waaraan werk julle volgende?

DD en JJ: Ons is tans besig om werk wat ons reeds al begin het, te voltooi in die teaterspasie, wat langer neem as wat ons gedink het dit sou. Ons wil nie verklap wat by ons spook nie, maar al wat ons weet, is ons is vasbeslote om eg Suid-Afrikaanse stories meer lewe te gee.

  • Al wat ek weet is ook saam met Variasies op ’n tema by vanjaar se Silwerskermfees vertoon.
  • Al wat ek weet sal landwyd vanaf 30 Oktober vertoon word ná sy plaaslike première by die Silwerskermfees.
Lees ook:

’n Droomrit vol deernis en verbeelding

Al wat ek weet: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 – Al wat ek weet, Marita van der Vyver

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top