’n Droomrit vol deernis en verbeelding

  • 0

...
“Hierdie rolprent is een wat ons herinner om te volhard, lief te hê en is bewys van die beloning wat kom saam met mens se euwels oorkom.”
... 

Rolprent: Al wat ek weet
Draaiboek: Devon Delmar en Jason Jacobs verwerk na die roman van Marita van der Vyver
Regie: Devon Delmar en Jason Jacobs
Vervaardiger: Annemarie du Plessis
Kinematograaf: Gray Kotze
Musiek: Benjamin Jephta
Klankontwerp: Guy Steer
Ontwerp: Rocco Pool
Produksiehuis: Meria Produksies
Met: Jonan Mouton, Zenobia Kloppers, June van Merch, Antoinette Myburgh, Gretchen Ramsden, Waldemar Schultz, Jana Cilliers, Hildegardt Whites en Elton Landrew

Ons almal is van ’n spul memories en drome aanmekaargesit. Sommige beter as ander. Elkeen gaan dan deur die lewe met die doel om die swaar skadu van die twee goeters te oorleef. En party probeer dit in woorde omsit, wat ’n groter geneuk is. Maar ons almal moet tog sin maak van die lig en donker in ons harte. Nou net om die regte woorde te kry.

*

’n Tienerseun met die naam Gabriel (Jonan Mouton) sukkel om by te hou met die lewe. Veral tussen die bedrywige Springfield Terrace in Woodstock, sy hoërskoollewe, die chaotiese deurmekaarspul van sy kop en die herinneringe aan ’n traumatiese insident, sy ma (Hildegardt Whites) wat dood is.

Tog wil die lewe gelewe wees. Gabriel bly by sy tannie Lotta (Zenobia Kloppers) en ouma Lenie (June van Merch) wat albei vol draadwerk is, nes hy self ook. ’n Omgeklitste tiener. As hy nie moet jaag om ’n taxi te kry skool toe nie, dan moet hy weer vir woordelose en seniele Ouma met die hulp van verpleegster Lotta versorg.

Sy pa (Waldemar Schultz) stuur hom om ’n sielkundige (Jana Cilliers) te gaan sien. Hier het hy min te sê. En die sielkundige verseker hom dat hy nie verplig is om te praat of die sessies by te woon nie. ’n Verfrissende figuur. Tog verander Gabriel se siening gou wanneer hy die rowwe diamant Sasha (Antoinette Myburgh) ook by dieselfde spreekkamer raakloop. Gabriel is onmiddellik smoorverlief. En die rabbedoe laat nie op hom wag nie. Kort voor lank is hy op haar spoor en die twee vat saam ’n taxi-rit gemaak van drome.

Hierna begin dinge geleidelik te verbeter vir Gabriel.

Met die aansporing van ’n mede-skolier Helen (Gretchen Ramsden) besluit hy om by die digkunsklub aan te sluit. Hier leer hy klomp nuwe kreatiewe maniere om uiting aan sy gevoelens te gee. ’n Nuwe meganisme om ook beter met sy sielkundige te kommunikeer. Hy besluit om aan die nasionale digkunskompetisie deel te neem, maar die skrywery bly ’n gesukkel. Die eksentrieke Helen is egter vasbeslote om hom te help. Sy neem hom op verskeie uitstappies om inspirasie te vind. Van treinritte, taxi ranks tot performance poetry-geleenthede.

Maar wanneer Sasha hom al meer begin ghost, kom die spoke van die verlede om hom in te haal. Klopse-musikante oral waar hy kyk. Dringende melodieë wat hom wil terugvat na die plek waantoe hy nie wil gaan nie.

Eers na ’n tragiese nadraai besluit Gabriel om sy vrese vierkantig in die oë te kyk en die woorde vol wonde binne hom vry te laat.

*

Al wat ek weet is met goeie rede vereer met twee pryse (beste klank en produksie-ontwerp), sowel as drie benoemings (Mouton, Kloppers en Van Merch). Al drie bied uitstaanvertolkings met goeie balans met humor, maar tog ook diepte. Ook Cilliers het nodige gegrondheid tot die prent gebring. Jare se ervaring wat sy met gemak tot die rol bring.

Jason Jacobs en Devon Delmar het ’n eiesoortige twist met die oorspronklike teks (2016) gedoen, met unieke nadraaie wat met hul verwerking na vore kom. Die Kaapse Klopse wat op ’n onheilspellende wyse ingeweef word, asook ’n paar heerlike magiese oomblikke. Alles kenmerkend aan hul styl vol magic, soos met Variations on a theme (2026) en Carissa (2025).

Hierdie rolprent is een wat ons herinner om te volhard, lief te hê en is bewys van die beloning wat kom saam met mens se euwels oorkom. Nog lank sal die film oud en jonk vermaak en inspireer.

Soos Gabriel, kry ons ook soms die kans om van die seer memories sin te maak. Maar ook om braaf genoeg te wees om ons drome na te jaag. Op die ou einde is dit soms al wat ons weet.

Lees ook:

Al wat ek weet: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 – Al wat ek weet, Marita van der Vyver

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top