- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Op 18 January 1826 skryf Thomas Jefferson, die derde president van die VSA, aan sy jare lange vriend, die diplomaat William Short: “On the subject of emancipation I have ceased to think … the plan of converting the blacks into Serfs would certainly be better than keeping them in their present condition.”
Jefferson sou ’n paar maande later sterf, op 4 Julie, presies 50 jaar na die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring in 1776. Die onafhanklikheidsverklaring het natuurlik beloof dat “all men are created equal, that they are endowed by their Creator with certain unalienable Rights, that among these are Life, Liberty and the pursuit of Happiness”. En tog, vir die byna 600 000 slawe in die 1820’s-VSA was hierdie halfeeu oue geskrif niks meer as ’n leë belofte nie. Dit sou ’n burgeroorlog 40 jaar later verg om vryheid vir álmal te verseker.
Oorkant die Atlantiese Oseaan aan die suidpunt van Afrika was dinge egter aan die verander. In die Kaapkolonie, op dieselfde dag as wat Jefferson sy brief geskryf het, het die slaaf Sophia uiteindelik haar vryheid bekom. Nadat sy in 1823 as die slaaf van eienaar Gebhard geregistreer is, was sy met sy afsterwe die eerste wat uit sy boedel bevry is. (Terloops, vandag verwys akademici na slawe as “slaaf-gemaaktes” – “enslaved” – hoewel ek vermoed dit lank sal neem vir dié term om in die volksmond opgeneem te word.)
Sophia het dinge egter nie net daar gelaat nie. Oor die volgende paar maande was sy verantwoordelik vir ’n merkwaardige aantal vrystellings. Sy het £195 betaal om haar ma Flora, pa Dampie, en drie van haar jong kinders, Clara, Louisa en Elizabeth, te bevry. Saam met Georgina, wat ook deur die boedel van Gebhard bevry is, was daar, teen die einde van 1826 drie generasies van haar familie wat vrye status in Kaapstad kon vind.
Die studie van slawerny wek wye belangstelling. In Amerika veral is daar baie belangstelling in die geskiedenis en gevolge van slawerny – woon enige geskiedeniskonferensie by, en dis treffend hoe baie boeke oor die onderwerp verskyn. Ook in die populêre media word slawerny wyd bespreek. ’n Maand of wat gelede het Kalifornië wette aanvaar wat reparasies vir die nageslagte van slawe moontlik maak, maar hoewel die taakspan se voorstelle ’n paar honderd miljard dollar sou kos, het die goewerneur uiteindelik net $12 miljoen beskikbaar gestel.
Dis nie net in Amerika waar daar ’n oplewing in die belangstelling in slawerny is nie. Die Nederlandse koning, Willem-Alexander, het verlede jaar verskoning gevra vir die Nederlanders se rol in slawerny. (Daar was wel kritiek – na my mening geldig – dat hy nie die Kaap genoem het nie; dit was oënskynlik ’n verskoning vir Nederlandse slawerny in die Karibiese Eilande.) Etlike gróót navorsingsprojekte by ’n aantal Nederlandse universiteite wil hierdie slawegeskiedenis nou beter verstaan. Dieselfde geld vir Frankryk, Engeland en Swede. Ook is die geskiedenis van slawerny in die Indiese Oseaan ’n onderwerp wat al meer aandag kry; anders as die Atlantiese slawehandel, wat eers begin het na Columbus Amerika vir Europeërs toeganklik gemaak het, het die Indiese Oseaan- (en Rooi See-) handelsroetes baie ouer wortels.
Dis daarom ironies dat die slawegeskiedenis van Suid-Afrika vandag so min aandag kry. Want dit was nie altyd so nie. Teen die 1970’s was daar ’n groep jong historici wat die argiewe ingevaar het om ons begrip en nalatenskap van slawerny – en dalk ook die apartheid-idee van afsonderlike rassegroepe – te ontrafel. Mense soos Hans Heese, Robert Ross, JL Hattingh, Robert Shell, Nigel Worden, Karel Schoeman, Dan Sleigh, Andrew Bank, Wayne Dooling en Gerald Groenewald was gretig om die opkoms, omvang en kompleksiteit van die Kaapse slawegeskiedenis te ontbloot, en miskien ook om lig te werp op hoe hierdie diepgewortelde sosiale en ekonomiese instellings tot vandag toe voortduur.
Op een of twee uitsonderings na is daardie generasie historici nie meer aktiewe navorsers nie.
’n Paar maande gelede lewer ek ’n praatjie by die Stellenbosse erfenisgemeenskap eBosch. Ek begin vertel van die navorsing wat ek en die LEAP-span doen om die werk van hierdie generasie voort te sit, nou met die hulp van nuwe datastelle en, veral, nuwe metodes en tegnologie. Groot hoeveelhede sensusrekords, boedeldokumente, en slawehandelsregisters stel ons in staat om die lewens van individuele slawe en hul besluite beter te verstaan. Met die hulp van gevorderde tegnieke soos masjienleer kan ons nou patrone identifiseer wat voorheen onsigbaar was.
Sophia se storie is een so ’n voorbeeld. In ’n nuwe artikel in die vaktydskryf Slavery & Abolition ontleed Kate Ekama die 1266-slawe in Kaapstad wat vrygestel is of hulself tussen 1825 en 1834 vrygekoop het – “manumitted” in Engels. Ekama wys dat 38% van hierdie transaksies verband gehou het met slawe wat hul eie vryheid gekoop het of iemand wat dit vir hulle gekoop het. Dit laat ons met twee vrae: Wie het die fondse verskaf vir hierdie vrystellings, en hoe het die slawe wat hulself vrygekoop het, die fondse ingesamel? Looninkomste was natuurlik een moontlikheid, maar daar was ook ander opsies, soos erfgeld, lenings en werksooreenkomste waar toekomstige arbeid vir vryheid “betaal” is. Een voorbeeld hiervan is waar sommige slawe aanhou werk het vir hul voormalige eienaars met die veronderstelling dat hulle hul vryheid (en dalk hul familielede s’n) so kon verdien. In ander gevalle het gemeenskapsnetwerke hul spaargeld saamgesit om iemand se vryheid te kan koop. Filantropiese organisasies het ook baie “geskenke” van vryheid gekoop, maar dit het tipies ook vereis dat werk deur die begunstigde voortgesit word. Daar was dus ’n noue verband tussen arbeid en vryheid; slawe se werk was nie net ’n manier om vryheid te verkry nie, maar ook die voorwaarde daarvoor.
Sommige slawe was eenvoudig nie in staat om hul vryheid te koop nie, en het vryheid op ’n ander manier gevind. In sy PhD-studie wat verlede jaar voltooi is, gebruik Karl Bergemann die drosteradvertensies in twee koloniale koerante van die 1830’s om die bewegings en beweegredes van die slawedrosters te ondersoek. Hy vind dat, anders as drosters in die 18de eeu, drosters teen die 1830’s eerder na Kaapstad as na die platteland gevlug het. Die rede: In Kaapstad kon hulle makliker “wegraak” in die nuwe gemeenskappe van bevryde slawe en so ’n nuwe lewe vir hulself uitkerf.
So is daar nog baie onbeantwoorde vrae, soos: Hoekom het die swart boere van Jonkershoek hul plase in die 1710’s verloor? Paul van der Linde, nou ’n PhD-student in Nederland en verbonde aan LEAP, beweer dis weens die swart boere se noue verbintenis met die Van der Stels. Toe Willem Adriaan uitgeskop is, het swart boere hul politieke vennoot verloor. (Ek dink daar is ook ’n geldige alternatiewe hipotese: Teen die tyd dat slawevroue vrygestel is, was hulle te oud om kinders te kry. Slawegesinne was dus baie kleiner as setlaargesinne en het gevolglik vinnig ’n al kleiner deel van die bevolking geword.)
Nog ’n vraag: Waarheen het voormalige slawe ná die amptelike vrystelling in 1838 getrek? Lisa-Cheree Martin, ’n PhD-student in ekonomie by LEAP, toon dat dit hoofsaaklik vaardige slawe was wat na die sendingstasies gemigreer het. Lisa se resultate wys dat mens nie die seleksie-effekte kan ignoreer wanneer mens die impak van sendingstasies bestudeer nie.
Sulke vernuwende navorsing is nodig om ons Kaapse geskiedenis beter te verstaan. Dis jammer daar is nie meer daarvan nie. Daar is natuurlik gereelde pogings om Kaapse slawerny weer in die kollig te plaas. Eunice Visser se kultuurhistoriese geskiedenis van die Kaapse slawe wat in 2022 deur Protea uitgegee is, is ’n bielie van ’n boek (en ’n pryswenner). Maar soos Gerald Groenewald meld in ’n resensie in South African Journal of Cultural History, is groot dele van die boek erg verouderd (omdat dit op Visser se M-verhandeling van 2002 gebaseer is, ignoreer dit die meeste van die literatuur sedertdien), en ongelukkig herhaal dit ook ou mites sonder historiese bewyse. Patric Mellet se The truth about Cape slavery is nog ’n onlangse bydrae. Ons deel die mening dat Kaapse slawerny meer aandag kort. Maar ons metodes en motivering verskil.
In kort is daar nog baie onbeantwoorde vrae oor die ekonomiese stelsel van slawerny. Die ryk Kaapse bronne kan ons help om hierdie vrae te beantwoord, en so by te dra tot ’n internasionale diskoers. Mens sou hoop dat die geskiedenisdepartemente van universiteite soos Kaapstad en Stellenbosch – geleë in die distrikte waar die meeste Kaapse slawe sou gewoon en gewerk het, en waar baie afstammelinge steeds hunker na ’n beter verstaan van hul eie geskiedenis – hierdie gaping sou raaksien en aanspreek. Maar terwyl historici by die res van die wêreld se top universiteite oor hul voete val om hierdie geskiedenisse in hul eie konteks op te skryf, is Suid-Afrikaanse historici verknog aan die 20ste eeu. Dis hier, sou ek eerder dink, waar alumni wat hulle beywer vir die behoud van ons universiteite se Kaapse erfenis, dalk ’n groter rol kan speel.
Lees ook in LitNet Akademies:
Suid-Afrika se lang tog na ekonomiese vryheid: ’n Persoonlike reis
Lees ook op Voertaal en LitNet:
Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief by Eunice Bauermeester: book review
Creoolcultuur aan de Kaap: Historische studie over culturele dynamiek en interculturele vermenging
Nederland se koning verwelkom betoging in Suid-Afrika oor slawerny
Nederlandse koning biedt excuses aan voor rol Oranjes in slavernijverleden
Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications
First sip: The truth about Cape slavery by Patric Tariq Mellet
Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, ’n bespreking
Kommentaar
Soos altyd, interessant en insiggewend.