Here en Boere deur Karel Schoeman

  • 0

Titel: Here En Boere
Skrywer: Karel Schoeman
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869192730

 

 

Koop Here En Boere by Kalahari.com.

 


Hierdie boek is die vyfde en laaste uit die pen van die bekroonde Karel Schoeman en deel van sy magistrale studie oor die wêreld van die VOC en dié se
internasionale handelsryk, kolonies, besittings en onderdane. Die ander studies in die reeks was Patrisiërs en Prinse: Die Europese samelewing en die stigting van ’n kolonie aan die Kaap, 1619–1715 (2008, 436 bladsye); Handelsryk in die Ooste: Die wêreld van die VOC, 1619–1688 (2009, 351 bladsye);Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652–1662 (2010, 436 bladsye) en Burgers en amptenare: Die vroeë ontwikkeling van die kolonie aan die Kaap, 1662–1679 (2011, 504 bladsye). Daarbenewens het
Schoeman ook alreeds uitgebreid oor die Khoikhoi en slawe van die Kaapse kolonie gepubliseer: Armosyn van die Kaap: die wêreld van ’n slavin, 1652–1733 (2001); Kinders van die Kompanjie: Kaapse biografieë uit die sewentiende eeu (2006) en Early slavery at the Cape of Good Hope, 1652–1717 (2007).

Soos uit die titels afgelei kan word, bespreek en ontleed Schoeman in eersgenoemde vyf werke die verweefde wêreld van die VOC-handelsimperium gedurende die
17de en 18de eeu en hoe die VOC-besittings, -amptenare en -onderdane dikwels aan mekaar op interessante wyses verbind of verwant was en hoe hierdie
handelswêreld holisties met die Europese politiek en ekonomie van daardie era aaneengeskakel was. Alhoewel daar noodwendig oorvleueling ten opsigte van die
persone, plekke en historiese gebeure in die verskillende dele ter wille van kontekstualisering voorkom, slaag Schoeman wel baie goed daarin om in elke
afsonderlike boek op verskillende aspekte van die VOC se koloniale geskiedenis, met spesifieke verwysing na die Kaapse verversingspos en kolonie, te
konsentreer.

Soos hier bo aangedui, is deel 5, Here en boere, soos die vorige vier dele, ook van formidabele lengte. Ook hierdie werk is ’n ensiklopediese
potpourri oor die lewens, leefwyse, besittings, ens van ’n geselekteerde aantal prominente VOC-amptenare en vryburgers in die bewindstydperke van die twee
Van der Stel-goewerneurs (Simon en Willem Adriaan) aan die Kaap. Dit bestaan uit nege hoofstukke.

Die boek begin by die jeugjare van Simon van der Stel en bespreek die sosiale omstandighede waarin hy grootgeword het. Hy is waarskynlik op Mauritius
gebore. Nadat sy vader in ’n skermutseling met inboorlinge van Ceylon (die huidige Sri Lanka) gedood is, het Simon na Batavia, die VOC se Oosterse
hoofkwartier (vandag Djakarta in Indonesië), en uiteindelik na Nederland teruggekeer. Klaarblyklik was sy ouma ’n mestiko-Mardyker van slawe-afkoms van die
Coromandel-kus in Indonesië. Van der Stel het goeie familieverbintenisse in Nederland gehad – ’n sentrale tema in hierdie werk – met die gevolg dat hy sy
aanstelling as goewerneur aan die Kaap nie weens enige vroeëre aanstellings op grond van ondervinding in die VOC-hiërargie verkry het nie, maar as gevolg
van sy eie en sy vrou se familieverbintenisse met die Kompanjie. Van der Stel is deur reisigers en eietydse waarnemers as baie vriendelik, intelligent en
gasvry beskou. Sy vrou het hom nie na die Kaap vergesel nie en Schoeman bespiegel dat hy waarskynlik aan die Kaap verhoudings met ander vroue, ook
slavinne, sou kon aangegaan het. Van der Stel het klaarblyklik ’n harde bestuurstyl gehandhaaf, soms te kras en oorhaastig geoordeel en hom nie altyd aan
die Kompanjie se prosedurele maatreëls gesteur nie. Die boek gee ook interessante beskrywings oor sy seuns se opgang in diens van die Kompanjie.

Die gehalte en grootte van huisvesting van Kompanjiesamptenare in die Kasteel, Nuwejaarsgebruike, en musiek aan die Kaap word onder andere in hoofstuk 2
bespreek. Van der Stel het selfs musikante van skepe voor anker in Tafelbaai ontbied om “tot eie vermaak” aan die Kaap op te tree. Daarby word die
kleredrag van amptenare aan die Kaap, jagtogte, bergklim en Europese belangstelling in die Kaapse planteryk bespreek. Privaatboerdery deur amptenare, wat
in WA van der Stel se ampstermyn soveel onmin sou veroorsaak, is in 1684, dit wil sê gedurende Simon se bewind, toegelaat. Constantia is in 1685 formeel
aan laasgenoemde oorgemaak. Sy plaas was 891 morg (nagenoeg 763 ha) groot teenoor die gemiddelde 60 morg-plase (nagenoeg 51 ha) van die vryburgers. Van der
Stel het byvoorbeeld 75 slawe op Constantia besit en daarby ook oor die dienste van 22 Kompanjieslawe beskik. Sy nonchalant houding teenoor slawerny was
tipies van die kringe van die tyd waarin hy beweeg het, maar tog het hy goed vir sy slawe gesorg. Met sy dood is baie van hulle vrygestel en sommige het
selfs klein erfenisse ontvang. Van der Stel het ook blanke huur- of leenknegte en ’n aantal Khoikhoi-arbeiders in diens gehad.

In hoofstuk 3 word die Nederlandse en VOC-statusbewustheid van die 17de eeu bespreek – ’n ander belangrike tema in die boek. Schoeman verduidelik
interessant hoe kommissarisse Van Goens en Van Rheede, wat die Kaap in ’n stadium toevallig gelyktydig besoek het, mekaar vanweë hulle eersugtigheid en
drang na gesag nie kon verdra nie. Kommissaris Van Rheede het tydens sy besoek aan die Kaap in 1685 baie gedoen om die lot van slawe, veral dié van kinders
van slavinne en blanke vaders in die Slawelosie, te verbeter.

Die hoofstuk handel ook oor diplomatieke afvaardigings van Louis XIV van Frankryk en van Siam (Thailand) wat die Kaap op pad vanaf die Ooste aangedoen het.
Van der Stel se gul ontvangs en uitvoerige “skynhoflikheid” en eerbetoon aan hierdie gesante te midde van gespanne verhoudinge tussen Frankryk en Nederland
gedurende sy ampstermyn word aangetoon. Daar was selfs voorvalle tydens die oorlog met Frankryk toe Franse skepe wat Tafelbaai onbewus van die
vyandelikhede binnegevaar het, sonder omhaal aangeval en hulle vrag en skepe gebuit is. So verklaar Schoeman op bl 143: “Ook hierdie oorlogsgeweld moet
opgeteken en onthou word: ook dit maak deel uit van daardie verre sewentiende-eeuse werklikheid en die koloniale verlede van die Kaap, saam met die formele
onthale in die Kasteel, die musiek by kerslig, die wandelinge in die Kompanjiestuin, die vryburgers wie se veetroppe deur roofdiere aangeval word, die
skiet na die papegaai, die seekoeijagte, die rumoerigheid van die taphuise, die sterftes in die hospitaal, die geseling van oortreders en die geregtelike
verminking van slawe.”

Vanaf hoofstuk 4 skets Schoeman die fisiese omstandighede en toestand van die Europese nedersetting en Kaapstad self en beskryf aan die hand van
reisigerverslae hoedat die plaasopstalle en huise van die vryburgers na gelang van toename in rykdom ook verbeter het. Hy haal eietydse waarnemers aan wat
die skoonheid van bekende Bolandse plase soos Zorgvliet, Meerlust, Welmoed en Zandvliet in beeldryke taal besing. Die VOC-amptenary het van 120 in 1660 tot
ongeveer 2 000 teen 1795 toegeneem en het dus die amptelike lewe aan die Kaap bly oorheers, alhoewel hulle getalle in daardie stadium minder as dié van die
vryburgers was (15:2). Met uitsonderings soos Simon van der Stel het die meeste amptenare hulle nie aan die Kaap verbonde gevoel en hier agtergebly nie.
Interessant genoeg is rangorde en statusvlakke (amptenare vs vryburgers) sterker aan die Kaap en die VOC se Oosterse besittings gehandhaaf as in Nederland.

In hoofstuk 4 lees mens van die ekonomiese opkoms van die rykste vryburger in daardie tyd, Henning Hüsing, eienaar van die plase Welmoed en Meerlust buite
Stellenbosch, en van Adam Tas, sy neef. Schoeman bespreek Hüsing se onderskeie familieverwantskappe aan die Kaap, onder wie Tas, en hoe hulle mekaar ten
opsigte van grondverkryging, transaksies, kontrakte (pagte), ens gehelp en ondersteun het. Deur middel van ’n sosio-ekonomiese deursnit van die lewens van
sommige van WA van der Stel se prominentste teenstanders verskaf Schoeman ’n fassinerende blik op die derde generasie vryburger-elite aan die Kaap. Baie
van hierdie elite Kaapse boere het klaarblyklik in Europese styl uitgebreide tuine met visvywers, ens gehad en Schoeman haal heelwat beskrywings van sulke
plase in die Boland uit 17de en 18de eeuse reisbeskrywings van tydgenootlike waarnemers aan. Hy toon aan hoe daar alreeds in die 18de eeu duidelike
klassebelange, en veral ook klasseverskille, sosiale skeidslyne en gedragskodes onder die blanke vryburgers bestaan het. Dit was dus ’n proses van sosiale
stratifikasie. In die vryburgerklagskrif teen WA van der Stel kom ook die eerste sluimerende antikleurgevoelens van blankes teenoor vryswartes en ander
persone van kleur na vore.

Die argitektuur, boumateriaal en meublement van die huise aan die Kaap in die tydperk van die Van der Stels, die tuinuitlegte van gesiene persone aan die
Kaap en ambagslui en hulle ambagsvaardighede (ook die ontwikkeling van plaaslike slawe-ambagte) word in hoofstuk 5 aan die orde gestel. Heel interessant is
die kerkargitektuur van die voorloper van die Groote Kerk in Kaapstad en Schoeman beskryf hier ook die streng sitplekreëls waarvolgens kerkgangers aan die
hand van hulle status in die kerk gerangskik is, asook kerkstoele as statussimbole. Kerkgangers se slawe het hulle eienaars se stoele, wat met verloop van
tyd al hoe swieriger en deftiger geword het ten einde die ingesetenes se status in die samelewing te beklemtoon, vooraf kerk toe gebring – veral vir die
vroue was dit sosiaal baie belangrik. Selfs in die dood was daar sosiale onderskeid, met die deftigstes en mees welgesteldes wat ’n graf onder die
plaveisel van die kerkgebou vir 60 gulden kon koop.

Deur ’n ontleding van boedelinventarisse beskryf Schoeman in hoofstuk 6 die tipe materiale wat binnenshuis aan die Kaap gebruik is, meestal Oosterse
tekstielsoorte. Items soos gordyne, bedspreie en tafel- en bedlinne, asook eetgerei en kombuisware soos glase, lepels, messe, vurke en daarby skilderye,
spieëls, kledingstukke en voëlkoutjies word bespreek. Porselein is uiteraard op groot skaal deur die VOC vanuit die Ooste ingevoer en aan die Kaap was daar
ook Delftse erdewerk. Benewens uit China het Oosterse porselein ook uit Japan en Viëtnam gekom. Vanweë sy ligging ten opsigte van Batavia en die groot
moontlikhede vir privaathandel met verbyvarende skepe was porselein aan die Kaap makliker bekombaar as in Europa.

Die fokus van die boek is dus die middelklas en die elite van die Kaapse blanke koloniale bevolking in die tydperk van die Van der Stels (284). Selfs
vanuit die boedelinventarisse diep die skrywer besonderhede op wat daarop dui dat die Kaap, vanweë die feit dat dit ’n slawesamelewing was, onder andere
egter ook gekenmerk is deur ingeboude patrone van verset, dwang, weerwraak en geweld. Schoeman bespreek die slawe as vryburger-“besittings” en verklaar dat
’n groot deel van die slawebesit teen 1700 in die hande van ’n paar vermoënde individue gekonsentreer was, terwyl talle vryburgers self nog geen slaaf kon
bekostig nie. Slawevrystelling (wat ook die gegoede aansien van welgestelde slawe-eienaars gedemonstreer het dat hulle so iets kon bekostig) het naas
slawebesit ’n uitsonderlike koloniale statussimbool geword.

Hoofstuk 7 behandel die verskillende tipes handelsware vanuit Europa en die Ooste wat aan die Kaap as tussenhandel aangekoop is en die koloniale
betrokkenheid by onwettige handel en landbouprodukte aan verbyvarende skepe. Amptelike en plegtige feesvieringe in die Kasteel word ook bekyk. ’n Jaarlikse
kermis is in 1686 op Stellenbosch ingestel en ’n kompetisie waarin die burgermilisie na ’n houtpapegaai geskiet het, word beskryf. Huweliks-, doopvierings
en begrafnismaaltye, rytuie, gesellige kuiers, drankgebruik, onderwys en onderrig en intellektuele ontwikkeling aan die Kaap kom eweneens onder die loep.
Ook in hierdie gevalle in die statusbewuste wêreld van die VOC het sosiale rangorde, rykdom, swier en aansien baie saak gemaak.

Daarby word die 17de-eeuse Nederlandse strafstelsel en die tipes strawwe, soos teregstellings wat aan die Kaap toegepas is, bespreek. Strawwe is in die
openbaar uitgevoer om sodoende as effektiewe afskrikmiddel vir potensiële oortreders te dien. As skouspele was geweld vir die deursnee 17de-eeuse publiek
aanvaarbaar. So verklaar Schoeman (311): “Hierdie geïnstitusionaliseerde geweldpleging, die voltrekking van al hierdie gewelddadige strawwe en die bywoning
daarvan was as openbare skouspel alles deel van dieselfde wêreld as die nuwe openbare geboue met hul simmetriese fasades, die stinkhoutmeubels en die
porselein, die sykouse en pruike, degens en silwergespes; die wêreld van wapenskoue en papegaaiskiet, perdevervoer, slegte paaie en kers- en lanternlig,
van operasies sonder narkose en vroeë en skielike dood – die wêreld, met ander woorde, van die VOC in die sewentiende en agtiende eeu, die vroegkoloniale
wêreld van die Kaap.” Met passasies soos hierdie toon Schoeman aan dat hy die VOC-kolonie aan die Kaap in die tyd van die Van der Stels as ’n geïntegreerde
eenheid binne die destydse Nederlandse handelsryk skets en dat mens nie die gebeure, voorvalle, persoonlikhede, leefwyse en leefstyl van die mense van die
Kaapse handelspos in isolasie moet beoordeel nie.

In die laaste twee hoofstukke word veral op die twee Van der Stel-goewerneurs, Simon en sy oudste seun en opvolger Willem Adriaan, gefokus. Dit is
interessant om te lees dat die persoonlikhede van vader en seun in baie gevalle klaarblyklik heelwat ooreenstemming toon ten opsigte van kwessies soos
karaktertrekke, bestuurstyl en sosiale verhoudinge met die teenoorgestelde geslag. Nes sy vader het ook WA van der Stel ’n huwelik met VOC-verbintenisse
aangegaan. Hy het reeds boerdery-ervaring op sy eie plaas van 12 hektaar tydens sy verblyf as jongman in Nederland opgedoen, maar was (anders as sy vader)
nooit in die Ooste nie. Soos sy vader het hy geen vooraf kennis of ervaring van die Kompanjie se werksaamhede gehad nie – ook in sy geval het
familieverbintenisse ’n rol gespeel om hom die goewerneurskap van die Kaap te laat toekom. Hy vernoem dan ook die Land van Waveren (die huidige
Tulbagh-vallei) en die Witsenberge na patrisiër Nederlandse families met wie hy persoonlik bevriend was.

Hoofstuk 8 bespreek ook Van der Stel se leefstyl en maatskappyvoorregte aan die Kaap en Schoeman verklaar self (362) dat hy deur middel van die boek ’n
beeld weergee van die lewe in deftige Kaapse kringe vyftig jaar ná die koms van Jan van Riebeeck. Die uitleg en omvang van Van der Stel se plaas Vergelegen
by Somerset-Wes, so genoem na gelang van die afstand na die Kasteel in Tafelbaai, en die opstal word belig. Daar word uitgebrei oor die vryburgerklagtes
van die misbruik van Kompanjieseiendom en -arbeid vir privaatgebruik, asook Van der Stel se pligsversuim deurdat hy lang tye op sy eie landgoedere
Vergelegen en Nuweland deurgebring het en so die VOC se belange versaak het. Sy persoonlikheid word belig, sy hooghartigheid en opvlieënde humeur. Schoeman
haal selfs geskrifte aan wat suggereer dat hy ’n owerspelige verhouding met Helena Gulix, die vrou van die opperchirurgyn, Willem ten Damme, asook met
ander vroue, kon gehad het. Schoeman gee egter ’n gebalanseerde perspektief en kom tot die slotsom dat WA van der Stel, ten spyte van sy beweerde negatiewe
karaktereienskappe, ook ’n verfynde lewenstyl gehandhaaf en met kennis en ywer tot die ontwikkeling van landbou in Suid-Afrika bygedra het, asook ’n
beduidende bydrae tot die ontwikkelende kultuur van die jong kolonie gelewer het.

In hoofstuk 9 bespreek Schoeman die ander prominente amptenaarpersoonlikhede wat saam met WA van der Stel van korrupsie en magsmisbruik deur die vryburgers
aangekla is – die goewerneur se sogenaamde “hofkliek” – en toon hierdie persone se familieverbintenisse in die VOC aan wat ’n rol in hulle aanstellings en
posisies aan die Kaap gespeel het: Johannes Starrenburg, Samuel Elsevier, Johan Blesius, ds Petrus Kalden, Willem ten Damme, Oloff Bergh en Jacobus de Wet.
Dit bied ’n interessante deursnit van die Kompanjie se werknemers rondom die wisseling na die 18de eeu. In hierdie hoofstuk bespreek Schoeman ook die
onreëlmatige bevoordeling en leefwyse van WA van der Stel se broer, Frans, aan die Kaap. Daarby word die verloop en gevolge van die protesskrifte van die
vryburgers aan die Here XVII in Nederland teen WA van der Stel, sowel as sy vergeefse teenverweer, volledig bespreek.

As ’n gesoute skrywer skryf Schoeman onderhoudend en in ’n gemaklike styl. Soos reeds genoem, slaag hy uitstekend daarin om die onderwerp van die boek te
kontekstualiseer teen die agtergrond van die breër kulturele, politieke en sosiaal-ekonomiese milieu waarin die VOC-kolonie aan die Kaap gefunksioneer het.
Daar is egter enkele aspekte van sy skryfstyl wat pla, soos die geneigdheid om outydse of ongewone woorde en frases te gebruik, bv “page” (vir lyfkneg);
“alkatiewe”; “wydvermaarde” tuin; “memorie” (vir versoekdokument); “rendabiliteit” (vir volhoubaarheid); ’n brief wat “tereggekom” het; “klisjee” (vir
cliché); “representatiewe” (vir verteenwoordigende) voorbeelde; “skamper” (vir bitter of minagtend); “rankunes” (vir wrokke); “presedensie” (vir voorrang);
“krusiale” (vir waterskeidende of uiters belangrike); “geobsedeer” (vir gefassineer); kind “te vondeling gelê” (vir kind wat deur sy moeder gelaat word om
deur ander mense gevind en versorg te word); “vyandelike oorval op die Kaap”; “presiseer” (vir noukeurig omskryf); “pregnante” sin, ens. Hy neig ook om
lang passasies uit werke wat in die 17de-eeuse Nederlandse taal geskryf is aan te haal. Aangesien die Nederlandse grammatika en spelling in daardie stadium
nog nie gestandaardiseer was nie, raak die betekenis van hierdie passasies selfs vir Afrikaanssprekendes met ’n basiese kennis van moderne Nederlands in
baie van die gevalle verlore. Afrikaanse vertalings van hierdie aanhalings sou meer prakties vir die deursneeleser van hierdie boek wees.

Mens neem met ontsag en respek daarvan kennis dat Schoeman vir die reeks van vyf boeke, asook vir elke afsonderlike werk, ’n formidabele spektrum van
literatuur geraadpleeg het – vir Here en Boere alleen meer as 400 bronne, en baie daarvan antikwariese werke! Benewens bronne in Afrikaans en
Engels het Schoeman ook wyd geput uit Nederlandse, Duitse en Franse werke, wat fassinerende insigte na vore gebring het. As deurwinterde bibliofiel met die
vermoë om massas inligting uit ’n magdom bronne in sy werke te kan kontekstualiseer en integreer, verduidelik Schoeman in ’n vroeëre publikasie 1 self hoe dit vir hom moontlik was om al hierdie bronne en inligting vir sy VOC-studies te versamel en te
verwerk. Hy was vir sestien jaar, tussen 1982 en 1998, as bibliotekaris werksaam in die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek in Kaapstad (tans deel van die
Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika), toevallig gesetel aan die onderpunt van die einste Kompanjiestuin wat meermale in sy vyf VOC-werke beskryf word. Dit
het die voordeel ingehou dat hy ook na-uurs en oor naweke private en onbelemmerde toegang tot die biblioteek se waardevolle bronne gehad het. Volgens
Schoeman het die feit dat hy nie ’n familie het waaraan tyd en aandag spandeer moes word nie, asook die feit dat hy hom nie met sport en ander
naweekontspanningsaktiwiteite opgehou het nie, hom die geleentheid gebied om stelselmatig oor jare die omvattende leeswerk en navorsing vir die VOC-reeks
te doen.

Here en Boere
, soos trouens ook die ander werke in hierdie reeks, is volledig en omvattend van voetnote voorsien, wat uiters nuttig vir historici en ander
belangstellendes in VOC-geskiedenis is. Die werke van Woodward oor Kaapse meubels, materiaal, interieur en huishoudelike inhoud, wat Schoeman herhaaldelik
in hoofstuk 5 aanhaal en waarvan hy self verklaar dat dit onmisbare bronne oor daardie onderwerpe is,2 is
blykbaar per abuis uit die bronnelys weggelaat. Ek kon dit selfs na deeglike skrutinering nie daar vind nie.

Dis moeilik om die wetenskaplike waarde van Schoeman se VOC-werke, en spesifiek Here en Boere, op akademiese vlak te takseer. Schoeman maak in
wese slegs van sekondêre, dws gepubliseerde werke, vir sy navorsing gebruik. Waar hy wel van primêre argivale bronne van die Wes-Kaapse Argief gebruik maak
– veral die sg MOOC-bronne (Master of the Orphan Chamber) – is die vernaamste gedeeltes daarvan getranskribeer en op die internet beskikbaar. In ander
gevalle waar primêre argivale bronne in die voetnote aangedui word, gee hy toe dat hy dit deur middel van ’n ander navorser verkry het. 3 Vir ’n doktorale studie word normaalweg, tensy dit ’n historiografiese studie is wat gepubliseerde
historiese werke ontleed, benewens gepubliseerde werke van kandidate vereis om ook intensiewe primêre argivale navorsing te doen. Dit plaas Schoeman se
studie dus nie in dieselfde kategorie as byvoorbeeld Dan Sleigh se illustere en omvattende doktorale studie oor Kaapse koloniale geskiedenis wat
gepubliseer is4 en wat beide gepubliseerde en ongepubliseerde argivale bronne benut het nie.

Schoeman is dus in baie gevalle tot bespiegeling genoop waar hy sekere persoonlikhede en gebeure aan die Kaap bespreek, maar waarvoor hy nie altyd
klinkklare bewyse of inligting kon verkry uit die sekondêre bronne wat hy geraadpleeg het nie. Met bykomende primêre argivale navorsing in die Wes-Kaapse
Argief sou hy moontlik tot ander perspektiewe of meer inligting oor hierdie aspekte vorendag kon gekom het. Aan die ander kant het sy wye belesenheid in
sekondêre werke hom egter juis in staat gestel om deur middel van vergelykings met wat elders in die eietydse VOC-wêreld en Europa voorgekom het, ’n
situasie aan die Kaap te skets waar daar ontbrekende Kaapse inligting is. So het hy byvoorbeeld waar daar nie altyd inligting oor die leefwyse en
huisinhoude van sekere prominente elite Kaapse vryburgers beskikbaar is nie, soortgelyke omstandighede in Nederland geskets om by wyse van die vergelyking
die ontbrekende Kaapse prentjie te probeer rekonstrueer. Die meeste huidige akademiese Suid-Afrikaanse historici, ook ek, sal waarskynlik ruiterlik erken
dat min van hulle bereid sou wees om een omvattende historiese navorsingstudie wat die argivale omvang van ’n Dan Sleigh en die literatuuromvang van ’n
Karel Schoeman behels, aan te pak!

Watter waarde hou Schoeman se VOC-reeks en Here en Boere in die besonder dan vir die gewone leser in? Soos reeds gesê, is dit ’n gewigtige werk.
Alhoewel die reeks en hierdie boek op die breë lesersmark gerig is, beslaan die inhoud alleen 459 bladsye, sodat dit beslis nie ’n gemaklike
koffietafelpublikasie is nie. Die boek bevat ’n magdom feite en inligting en alhoewel dit uiters interessant en boeiend vir die belangstellendes in Kaapse
koloniale geskiedenis is, lees mens lank daaraan. Mens sou dit dus in die kategorie van “geskiedenis vir die fynproewers” kon plaas en dis daarom nie
populêre historiese literatuur in die breë sin van die woord nie. Gegewe die geneigdheid tot ontvlugtingsliteratuur soos speurverhale en kookboeke onder
die deursnee Afrikaanssprekende leserspubliek, tesame met die feit dat geskiedeniswerke in die algemeen nie wyd verkoop nie, is die feit dat Protea
Boekhuis nogtans bereid is om unieke en uiters waardevolle studies soos dié van Schoeman te publiseer, hoogs prysenswaardig.

Die waarde van Schoeman se VOC-studies lê in die volgende: benewens historici soos Anna Boëseken,5 Dan
Sleigh en andere (bv Leon Hattingh, Con de Wet, JLM Franken, Hans Heese, ens6) het geen ander skrywer so
omvattend oor die wêreld van die VOC en sy koloniale besittings en persoonlikhede as Karel Schoeman in Afrikaans gepubliseer nie en dis onwaarskynlik dat
die omvang van sy geesteskeppinge oor hierdie onderwerp gou in Afrikaans oortref sal word. Schoeman het ’n groot verskeidenheid inligting, insigte,
perspektiewe en kontekste ten opsigte van VOC-geskiedenis, en spesifiek sy Kaapse kolonie, vir Afrikaanssprekende lesers oopgeskryf.
Sodoende het hy ’n baie waardevolle bydrae tot die relatief klein maar gerekende korpus van Afrikaanse historiese literatuur oor Suid-Afrikaanse koloniale
geskiedenis gelewer. Vir beide akademiese en amateurhistorici is sy VOC-reeks, waaronder Here en Boere, uiters belangrike naslaanbronne en
verwysingswerke oor ons koloniale verlede, en aan Karel Schoeman en Protea Boekhuis, wat bereid was om die hele reeks te publiseer, is diegene groot dank
verskuldig.

 

1
Die Laaste Afrikaanse Boek: Outobiografiese Aantekeninge
, Human & Rousseau, Kaapstad, 2002.

2
Sien vn 173, bl 503.

3
Sien bv vn 133, bl 489 en vn 134, bl 509.

4
Die Buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur, 1652–1795
, Protea Boekhuis, Pretoria, 2004.

5
Sien bv Simon van der Stel en sy kinders, Nasou, Kaapstad, 1964.

6
Sien Schoeman se bronnelys in Here en Boere, ble 544–63.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top