Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 16001
Niemand kan kla oor ’n tekort aan aandag vir Suid-Afrika in die Lae Lande nie. Dink maar aan die Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika; die kursus Suid-Afrikaanse Letterkunde, Kultuur en Geskiedenis aan die Universiteit van Amsterdam; Stigting ZASM se werk ter bevordering van die Afrikaanse taal- en letterkunde en Suid-Afrikaanse kultuur en geskiedenis; Zuid-Afrika Huis met sy biblioteek in Amsterdam wat ná ’n groot restourasieprojek onlangs weer in ere herstel is; en die suksesvolle tweejaarlikse Afrikaanse kultuurfees in Amsterdam.
Hierdie belangstelling in Suid-Afrika is bevestig met die Rijksmuseum se aankondiging van ’n splinternuwe tentoonstelling2 oor die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland, “een relatie van hoop en liefde, van wanhoop en leed, van ergernis, ruzies en conflict”, soos Taco Dibbits, hoofdirekteur van die Rijksmuseum dit beskryf in die voorwoord van Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, die katalogus/boek wat gepaard gaan met die gelyknamige tentoonstelling (uitgegee deur die Rijksmuseum en Uitgeverij Vantilt) en deel uitmaak van die museum se Landenreeks oor Nederland se handels- en/of koloniale betrekkings met agt lande.3
Wie se verhaal? Wie se stem?
Vanweë die gevoeligheid rondom kolonialisasie, slawerny en die meer onlangse apartheidsgeskiedenis is so ’n tentoonstelling ambisieus, selfs gewaagd. Representasie in die postkoloniale wêreld is in sigself al ’n mynveld, en met die apartheidswonde steeds rou is Suid-Afrika hipergevoelig, soos byvoorbeeld merkbaar is in die kwessie van benamings. Die “Verantwoording” neem as voorbeeld die San, die oudste bewoners van suidelike Afrika: “De Nederlanders noemden hen ‘Bosjesmannen’. De naam ‘San’ wordt door sommigen als denigrerend ervaren, omdat het oorspronkelijk ‘foerageur’ betekent, iemand die voedsel zoekt […]. Tegelijkertijd is de term in Zuid-Afrika breed geaccepteerd en officieel erkend. De termen ‘Boesmans’, ‘Bushmen’ en ‘Basarwa’ worden ook nog steeds gebruikt, maar zijn meer omstreden.” Erg omstrede, sou ek sê. Ook word vermeld dat mens in Nederland nie sommer die woord “gekleurd” sou gebruik vir “de groep die niet onder de Nederlandse termen ‘wit’ of ‘zwart’ valt, maar in Zuid-Afrika zijn woorden als ‘coloured’ en ‘bruinmens’ nog steeds gangbaar”. Baie Suid-Afrikaanse ‘bruin mense’ wil egter “swart” genoem word, en ook hiervoor moet mens gevoelig wees.
Benoeming is één mynveld, maar dan is daar ook nog die kwessie van perspektief – wie se stem vertel namens wie hierdie pynlike verhaal? Die voorwoord beloof verskillende perspektiewe: “We kijken mee over de schouders van tot slaaf gemaakte Afrikanen en Aziaten, van vrijburgers, bannelingen, gouverneurs en als het even kan, de Khoiherders van de Kaapse Bergen en vlakten.” Goeie intensie, maar nie eenvoudig nie. Boonop verwag die leser, na aanleiding van die titel, eerstens ’n Nederlandse blik op Nederland se betrokkenheid by en invloed op Suid-Afrika én Suid-Afrika se invloed op Nederland, en tweedens ’n Suid-Afrikaanse blik (en daar is baie!) op die gevolge van Nederlandse betrokkenheid by Suid-Afrika.
Die boek Goede Hoop is, soos die tentoonstelling, ambisieus. In 21 hoofstukke met 34 intermezzo’s vertel 27 verskillende skrywers uit albei lande, onder leiding van Martine Gosselink, hoof van Geskiedenis van die Rijksmuseum, die gedeelde geskiedenis van Suid-Afrika en Nederland, vandat die Verenigde Oost-Indische Compagnie in die 17de eeu sy Kaapse verversingspos gestig het, tot vandag. Die outeurs is spesialiste in literatuur, taal, (kuns)geskiedenis, argeologie, politiek en joernalistiek en elkeen van hierdie vakgebiede kom ter sprake – sommige beskouïngs ooreenstemmend, ander uiteenlopend of totaal teensprekend. Die voordeel hiervan is dat die leser nie net passief informasie opsuig nie, maar gestimuleer word tot opinievorming. Die verskil in stylvorme sorg verder vir variasie:, so byvoorbeeld word die proloog opgefleur deur Adriaan van Dis se unieke stem – ironies, passievol en provokatief.
’n Steeds durende dans
In die kaleidoskoop van hoofstukke ontvou die eeue oue verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika soos ’n dans, beginnend by die die VOC-tyd aan die Kaap toe die twee mekaar nog onseker gemeet en beoordeel het: wat kan die een van die ander verwag, wen of verloor? Toe was daar nog ’n duidelike onderskeid tussen inheemse bevolking en binnekommers. Later, met kolonialisering, word dit ingewikkeld: die vryboere, later trekboere, begin ’n vaderlandse verwantskap met die land ontwikkel, terwyl die inheemse bevolking hulle steeds as indringers sien. Die kompleksiteit intensiveer wanneer Engeland sy invloed in suidelike Afrika uitbrei en Nederland sy greep verloor. Die tydelike verlies aan belangstelling swaai om as die Nederlandse volk intens begin meeleef met die Boereverset. Wat volgens Van Dis ’n rol hierby speel, is dat Nederland in die 19de eeu nie meer op die wêreldtoneel in tel was nie en homself nou kon “laven aan dat kleine, dappere volk. […] Boerengeneraals werden bezongen, gedichten aan de strijd gewijd, boeken, toeneelstukken, schilderijen.” Terwyl gewone Nederlanders ’n “Boerenmanie” beleef, bly die Nederlandse regering vanweë handelsbelange met Engeland tog neutraal. Na die rampsalige Anglo-Boereoorlog en die opvlam van Afrikanernasionalisme simpatiseer die Nederlanders nog ’n hele tyd lank met die Boere. Maar later, met verskerpte paswette in die vyftigerjare, die Sharpeville-bloedbad (1960), die Rivonia-verhoor van swart leiers soos Nelson Mandela (1963–1964) en die gewelddadige onderdrukking van die 1976-Soweto-opstande, keer Nederland sy rug. Van Dis: “De sympathie voor de Boeren sloeg om in weerzin tegen de Afrikaner. Wat waren we hartstochtelijk tegen. De anti-apartheidsverenigingen […] vormden bij elkaar een van de grootste solidariteitsbewegingen die Nederland heeft gekend. […] [B]ij god, wat waren we toen toch goed in het wijzen naar het onrecht buiten ons erf.”
Sedert demokrasie het die danspaartjie mekaar weer voel-voel nadergetrek in ’n steeds stewig wordende omarming en ’n in-die-oë-kyk. ’n Bewys hiervan is die manier waarop Goede Hoop die gemeenskaplike geskiedenis weer hersien, ook met hand in eie boesem. So byvoorbeeld keer Goede Hoop die geïdealiseerde verhale om oor die “volksplanting” met Van Riebeeck as vredeliewende volksvader. Martine Gosselink: “Als we de mythes achterwege laten en kijken naar de historische figuur Van Riebeeck zullen we […] geen held tegenkomen, geen stamvader, geen bringer van beschaving, maar wel een ploeteraar” (53). Sy skryf sy sogenaamde toleransie toe aan die strategiese en opportunistiese VOC-bevel teen die antagonisering van die inheemse bevolking. “Van Riebeeck zou het liefst, zo schrijft hij […] in december 1652, de Khoikhoi overmeesteren, al hun vee overnemen en hen als slaven naar Azië sturen” (57). Tog het die inheemse bevolking “met stijgend ongeloof” gesien “hoe hun land, vee, water en gezag in handen vielen van de buitenlandse handelskapitalisten. Vanaf het moment dat de muren van het Nederlandse fort in de Tafelbaai er stonden, waren wilde dieren het slachtoffer van de VOC-geweren en vielen oeroude bossen ten prooi aan de bijl en de zaag,” vertel Carmel Schrire (75). Ook die verdwyning van die Khoikhoi-taal sien sy as “een direct gevolg van de kolonisatie door de VOC” (81).
Skatkis van inligting
Die boek wemel met fassinerende informasie. So soek Muhammed Haron byvoorbeeld na antwoorde op vrae soos: “Waarom kwamen er moslims naar de Kaap?”, “Welke factoren droegen ertoe bij dat ze zich tot een bruisende religieuze gemeenschap ontwikkelden?” en “Waarom stonden de autoriteiten toe dat de gemeenschap zo snel groeide tussen 1770 en 1834?” Haron vertel van Abraham van Batavia wat in 1653 as slaaf aan die Kaap beland het, van die Moslem politieke gevangenisse – meestal hoogsopgeleide individue wat in verskillende dele van die argipel die verset teen Nederland gelei het – wat deur die VOC na die Kaap verban is en die dryfkrag binne hierdie gemeenskap geword het.
Pragtig is die gedeeltes oor die reisiger Robert Jacob Gordon, die anekdotes oor Jan Smiesing, die stuk van Marlene Dumas wat so begin: “Geboren worden is een schrikwekkende gebeurtenis. Een baby kan zijn of haar ouders, land of lichamelijkheid niet zelf kiezen en is van begin af aan overgeleverd aan anderen. De eerste ander is meestal de moeder, maar in die kolonies kwam er vaak nog een tweede vrouw bij.” Sy verwys natuurlik na die slaaf of bediende, verantwoordelik vir die versorging van die kinders van die “base”. Soms is hierdie tweede “vrou” sélf nog kind, soos Krotoa, die tienjarige Khoikhoi-meisie wat die Van Riebeeck-kinders moes oppas. Dumas: “In de tien jaar dat Krotoa voor het echtpaar werkte, leerde zij vloeiend Nederlands spreken en werd ze een van de belangrijkste tolken en intermediairs voor die Nederlanders en de plaatselijke bevolking.” Die mettertyd verworpe Krotoa sterf uiteindelik op Robbeneiland. Dumas bekla tereg die feit dat daar vir Maria en Jan Van Riebeeck in die Kaap standbeelde opgerig is, maar nie vir Krotoa nie. Van haar het Dumas ’n pragtige skildery gemaak wat op bl 60 verskyn.
Nog ’n indrukwekkende stuk is dié van Jan-Bart Gewald waarin hy vertel hoe die Kaap in die vroeë 19de eeu onder beheer van die jong Britse Ryk kom en hoe die goewerneur, sir John Cradock, besluit dat daar “noch voor de Kaffers [sic], noch voor de Nederlanders ook maar iets goeds kan voortkomen uit het product van hun vermenging” en dus begin om alle Xhosas in die Zuurveld-gebied óf te verdryf óf te vermoor. Alstesaam 20 000 Xhosas word hiervan die slagoffers. Luitenant-kolonel John Graham: “We schieten iedere man die we kunnen vinden dood […] we zijn gedwongen op ze te jagen als wilde dieren” (184). Gewald beaam die “zeer grote gevolgen” hiervan “voor heel zuidelijk Afrika” (183).
Ook die heroïese verhale van die Voortrekkers word in Goede Hoop op sy kop gekeer en gesien as voedsel vir die nasionalistiese mite “waarin Zuid-Afrika het door God geschonken beloofde land van de Afrikaners was”, ’n mite oor “nobele, bebaarde Afrikaner boeren en hun zedige vrouwen met hun kappies die de ‘lege’ binnenlanden van Zuid-Afrika binnentrokken om te ontkomen aan de onrechtvaardige wetten en discriminatie van de Engelsen” (189).
Allerlei verrassende wetenswaardighede kom verby, soos dat die broers van die skilders Piet Mondriaan (Frederik Mondriaan) en Vincent van Gogh (Cor van Gogh) deel was van die “Hollandercorps” wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het en tydens die Slag van Elandslaagte verslaan is, dat die oorblywendes verdeel is onder die Boerekommando’s. Op bl 216 is ’n skildery van hierdie slag te sien, geskilder deur Willem Frederik Mondriaan. Ook aaklige feite kom aan bod, soos dat die bekende Nederlands-Suid-Afrikaanse kunstenaar Anton van Wouw sy San-bediende Korhaan, van wie hy ook ’n beeldhouwerk gemaak het – in die etniese stereotipe van naakte wilde met pyl en boog – later saamgeneem het na die VSA, waar Korhaan as rariteit in vertonings tentoongestel is en daarna nog 30 jaar by ’n sirkus gewerk het. Terwyl die uitbuitingsverhaal van Sarah Baartman, Korhaan se vroulike eweknie, welbekend is, is die Korhaan-verhaal minder bekend.
Wat ontbreek
Die boek bied dus vars en veelsydige invalshoeke, hersiening van mites, fassinerende en ook ontnugterende feite met pragtige beeldmateriaal en ’n goeie beeld van aspekte van die gedeelde geskiedenis. Tekortkominge is helaas onvermydelik. Benewens ’n paar redaksionele foute, mis ek meer bydraes oor hoe Nederland beïnvloed is in sy kontak met Suid-Afrika, soos ook deur Mamokgethi Setati Phakeng in die epiloog genoem word. Waarom, wil ek ook weet, word daar in Nederlandse tekste, ook hier, so graag die Engelse ekwivalent van Suid-Afrikaanse plekname gebruik? Waarom byvoorbeeld Church Square (Pretoria) in plaas van Kerkplein? Ens. En kon die baie herhalings wat voorkom – hoeveel keer word daar nie vertel van Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap nie – nie ietsie uitgedun gewees het nie?
Ten slotte vind ek dit ook jammer dat daar nie meer bydraes deur, en dus perspektiewe van, swart of bruin outeurs is nie. Waar is byvoorbeeld die bruin akademici wat sulke interessante nuwe navorsing oor die ontwikkeling van Kaapse Afrikaans doen? ’n Kritiese blik ten opsigte van die verlede beteken helaas nie altyd dat wanneer daar ’n geleentheid vir herstelwerk kom (soos hier) dit ook gebruik word nie. Misnoeë, selfs woede, oor die steeds voortsluimerende gevolge van die verlede skemer deur in die stukke van Eusebius MacKaiser en Mamokgethi Setati Phakeng. Frustrasie is ook te bespeur. Dis niks nuuts nie. In 1660 al was van die plaaslike bevolking bewus daarvan dat hulle aan die kortste ent trek, en het ’n Khoikhoi-delegasie by die Kasteel gaan probeer onderhandel. Schrire: “Het ging […] over een door de Khoikhoi gepleegde veeroof, maar het onderliggende probleem was het verlies van land en weidegronden. De Khoikhoi vroegen of, als zij naar Nederland zouden reizen, ze daar het beste land in bezit zouden kunnen nemen. De VOC antwoordde dat ze het land eerlijk gewonnen had in een oorlog en dat ze vastbesloten was om het te houden” (79). In 2015 roep ’n Cochoqua-leier dieselfde gebeurtenis in herinnering, met ’n versoek om die grondonteiening ter tafel te bring in ’n gesprek met die Nederlandse minister-president, toe by president Zuma op besoek om handelsverhoudings te bespreek. Die versoek is egter van die hand gewys. Daar is nog duidelik ’n paar appeltjies te skil; miskien kon die boek iets meer ruimte hiervoor gegee het.
1 Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600. Onder redactie van Martine Gosselink, Maria Holtrop en Robert Ross. 2016. Nijmegen: Van Tilt & Amsterdam: Rijksmuseum.
2 Die tentoonstelling duur vanaf 17 Februarie tot 21 Mei 2017.
3 China, Japan, Indonesië, Sri Lanka, Indië, Ghana, Suriname, Suid-Afrika.
Lees ook:
Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600 LitNet Van 17 februari t/m 21 mei 2017 presenteert het Rijksmuseum een grote tentoonstelling over de relatie tussen Zuid-Afrika en Nederland tussen 1600 en 1994.Ook het Zuid-Afrikahuis Nederland zal de komende maanden in haar programmering veel aandacht besteden aan deze bijzondere relatie tussen Zuid-Afrika en Nederland en een aantal thema’s die in de tentoonstelling gepresenteerd worden. |
|
Onderhoud: Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, Rijksmuseum tentoonstelling Daniel Horst, Maria Holtrop, Annemarié van Niekerk "De geschiedenis van Nederland strekt zich verder uit dan alleen de landsgrenzen en dus hoort het gedeelde verleden van Nederland met een land als Zuid-Afrika bij onze nationale geschiedenis." |
Kommentaar
Deze bespreking van de Goede Hoop-tentoonstelling is een smaak- en wakkermaker voor eenieder die Zuid-Afrika en Nederland een warm hart toedraagt. Annemarié van Niekerk dompelt ons onder in de geschiedenis van wat beide landen bindt. Zij doet dat met de fijnste kleuren en met oog voor de details. Als het me ooit zou lukken de tentoonstelling te bezoeken, dan is het omdat zij me er warm voor heeft gemaakt.
Ek wonder of daar meer inligting sal wees van die VOC en die Jordaan-stamfamilie voor hul vertrek in 1688.
Hoe, waar kan ek hierdie boek koop?