Afrikaanse letterkunde laat regsmense met nuwe oë na sake kyk

  • 3

Melodie Labuschaigne, verbonde aan Unisa se Departement Jurisprudensie, se navorsingsartikel “‘The good, the bad and the ugly’: ’n Regsletterkundige besinning van Von Meck se Die heelal op my tong” is onlangs in LitNet Akademies se Regte-afdeling gepubliseer. Die artikel beklemtoon hoe regskwessies wat as tema in die letterkunde ontgin word, kan help om ’n beter begrip van die Suid-Afrikaanse samelewing te bewerkstellig. Melt Myburgh het vir Melodie uitgevra oor die manier waarop die regswese en die Afrikaanse letterkunde mekaar aanvul.

Melodie Labuschaigne (Foto: verskaf)

Melodie, in jou artikel wat pas in LitNet Akademies gepubliseer is, fokus jy op Anoeschka von Meck se roman Die heelal op my tong, spesifiek om lig te werp op “die waarde van regsletterkundige ontledings ten opsigte van regspleging in Suid-Afrika”. Jy wys daarop dat literêre werke waarin regstemas prominent aangespreek word, regsgeleerdes op ’n “nuwe” manier na die aard van die reg kan laat kyk. Hoe het fiksie met regstemas ’n verruimende invloed op regsmense se begrip van hul vakgebied?

Dankie, Melt, vir die geleentheid om ’n bietjie meer besonderhede te kan gee oor die rol van letterkunde vir die reg en die waarde van die reg-en-letterkundige-interaksie.

Die beste beskrywing wat ek raakgelees het oor hierdie interaksie, is Rockwood se opmerking dat die interaksie met ’n vuursteen vergelyk kan word:

Law and literature are like flint and steel over the kindling of our doubts and uncertainties in a rapidly changing modern, or postmodern, world. By knocking the flint of literature against the steel of law, we can make some sparks that will illuminate our way to the future, as the stories we tell and retell kindle our imagination and warm our hearts towards one another. (BL Rockwood (red) 1996, Law and literature perspectives: Critic of institutions. Volume 9. New York: Peter Lang, bl 9)

Alhoewel regskwessies in Afrikaanse literêre tekste al vanuit verskillende invalshoeke benader is, was daar tot onlangs nog geen gepubliseerde navorsing oor die reg-en-letterkunde-beweging in Afrikaans nie. Die interdissiplinêre invalshoek van hierdie beweging verskaf die sneller vir die vernuwende insigte wat die letterkunde vir die reg bied. Die letterkunde verskaf nie net meer insig en konteks vir die reg nie, maar maak dit moontlik om binne die konteks van fiksie regsbetekenisvolle gevolgtrekkings rakende sosiale, politieke en maatskaplike verhoudings te maak. Die letterkunde vervul dus onder meer ’n etiese funksie wanneer dit ingespan word om sosiale instansies en regsnorme te kritiseer. Beide die reg-in-letterkunde en die reg-en-letterkunde maak dit moontlik om die individu agter die regsorde raak te sien en terselfdertyd die invloed van die regs- en sosiale orde op dié persoon waar te neem.

Die letterkunde is voorts verruimend in die opsig dat dit geldige alternatiewe of alternatiewe verklarings bied vir protagoniste se ervarings in hulle spesifieke konteks. ’n Regstelsel is afhanklik van die regs- en sosiale norme en waardes wat ’n raamwerk daarstel waarbinne menslike gedrag gereguleer word. Enige evaluering van die geldigheid en die etiek van die regstelsel kan slegs geskied deur die onskeibare verband tussen wette en die samelewing (of sosiale norme) in ag te neem. Die reg het ook waarde vir die letterkunde, aangesien dit ’n menigte gewilde temas (byvoorbeeld hofsake, ongeregtigheid, diskriminasie) vir skrywers bied.

Anoeschka Von Meck se Die heelal op my tong stel die leser in staat om in retrospeksie na die representasie van apartheidskarakters en die invloed van die bestel op hulle lewens te kyk. Hedendaagse temas in die letterkunde wat met vrug vir regspleging ontgin kan word, is onder meer vraagstukke wat handel oor die regulering van grondeise, genetiese manipulasie, genoomkartering, kunsmatige intelligensie en aardverwarming – om net ’n paar te noem.

Dié reg-en-letterkunde-beweging, soos jy daarna verwys, is relatief nuut in die akademiese omgewing, en dit staan nog in sy kinderskoene in Suid-Afrika. Hoekom begin dit nou eers momentum kry? Watter rol speel die feit dat dié soort navorsing uitsonderlike eise aan akademici stel, soos dat hulle byvoorbeeld in die letterkunde én in die regskunde opgelei moet wees voordat hulle met temas soos dié kan omgaan?

Dit is ’n baie goeie vraag. Mens sou dink dat met ’n ryk bron van Afrikaanse fiksie wat regstemas betrek, die interdissiplinêre veld van reg-en-letterkunde lankal vastrapplek sou gekry het. My vermoede is dat die antwoord waarskynlik verband hou met die inhiberende regspositivistiese aard van Suid-Afrikaanse regspraak voor die inwerkingtreding van die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996.

Die Grondwet staan ’n heeltemal ander manier van regsontleding voor, waar die klem geplaas word op “transformative constitutionalism”, oftewel transformatiewe grondwetlikheid, en ’n meer waardegerigte ontleding wat, anders as regsuitleg in die tyd vóór die Grondwet, gemoeid daarmee was om formele gelykheid te bewerkstelling en nie substantiewe gelykheid nie (soos wat die Grondwet beoog).

Transformatiewe grondwetlikheid streef daarna om nie met die status quo tevrede te wees nie, maar voortdurend te soek na beter maniere waarop die regstelsel en sosiale orde hervorm kan word om beter uitdrukking te gee aan die bepalings van die Handves van Regte in die belang van die Suid-Afrikaanse kollektief. Hierdie benadering tot grondwetlike regsuitleg baan die weg vir ’n meer betekenisvolle rol van die letterkunde ten einde die menseregtediskoers te verstaan en te bevorder.

Aangesien regsletterkundige ontledings wesenlik ’n interdissiplinêre oefening is, sal dit ’n bonus wees as navorsers wat regs- en letterkundestudies onderneem, geskoold is in die tegnieke en metodologie van die regswetenskap en die letterkunde onderskeidelik. ’n Filosofie- of politiekewetenskap-agtergrond behoort ook van waarde wees.

Jy wys in jou artikel daarop dat die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), met die beklemtoning van die rol van slagoffer- en oortredernarratiewe, plaaslik ’n soort waterskeidingsmoment in die benadering tot literêre tekste met regstemas ingelei het. Hoekom is dit so? Wat spesifiek was die impak van die oortreders en slagoffers se verhale wat navorsers op ’n nuwe manier na dié verskynsel laat kyk het?

Deur na die verhale van slagoffers en oortreders te luister, vrae te stel en die narratiewe op skrif te plaas, het die WVK historiese, sosiale en psigologiese geldigheid (legitimiteit) aan hierdie stories verleen. Dit is belangrik om te onthou dat die WVK in 1996 gestig is en tot 2003 gefunksioneer het. Dit het saamgeval met die inwerkingtreding van die finale Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika in 1996. Die verhore van die WVK kan gesien word as die brug tussen die verlede en die nuwe grondwetlike demokrasie, aangesien dit rigtinggewend was vir die wyse waarop die nuwe demokrasie sou funksioneer, wat ter wille van die toekoms eerder versoenende en herstellende geregtigheid as vergeldende geregtigheid wou bevorder.

Die verhore en slagoffer- en oortrederverhale het ook die persoonlike lyding van slagoffers en bekentenisse van oortreders openbaar gemaak en dit gekollektiviseer, sodat dit deur almal gedeel kon word. Hierdie narratiewe het só deel geword van die “verhaal” van Suid-Afrika.

Om op te som: Die WVK het dus nie net op ’n persoonlike vlak die narratiewe gelegitimiseer nie, maar op ’n ander vlak versoening bevorder en uiteindelik ’n sleutelrol gespeel in Suid-Afrika se oorgang na ’n grondwetlike demokrasie.

Temas wat opduik wanneer ’n mens met navorsing soos hierdie omgaan, is byvoorbeeld die rol van regsgeskiedenis, verskille tussen geskiedenis- en geregtigheidsbeoefening, vergifnis, regsvergelding, kollektiewe skuld en versoening. Is daar spesifiek groter klem op hierdie fokuspunte gelê in die postapartheid Afrikaanse letterkunde? Wat is jou indruk wanneer jy kyk na boeke wat tydens apartheid – was daar iets soos preapartheid? – verskyn het? Hoe het vroeëre werke met dié temas omgegaan in vergelyking met die periode ná apartheid?

Afrikaanse fiksie afkomstig uit die tyd vóór apartheid wat met regstemas gemoeid was, blyk aanvanklik oorwegend te fokus op “reg-in-letterkunde”-temas, waar hofsake of formele reg-en-geregtigheid-temas in die fiksie figureer. Ek dink nou byvoorbeeld aan Langenhoven se Donker spore en Leipoldt se Die heks en Wit angeliere.

Fiksiewerke uit die apartheidsera, waarvan daar vele is, sluit onder andere FA Venter se Geknelde land, Bedoelde land en Gelofteland in, en ’n menigte van André P Brink se werke, onder andere Kennis van die aand, ’n Droë wit seisoen en die drama Die jogger. Ek dink Brink se werk het baie ruimte geskep vir die ontginning van temas soos die verband tussen geskiedenis en geregtigheid, die rol van geheue, vergelding en versoening. Hy wend met vrug regsgeskiedkundige gebeure of historiese regsbronne binne ’n spesifieke politieke bestel aan om sy stories te vertel en die invloed van ’n spesifieke wetlike orde op die karakters se lewens te vergestalt.

Die verband tussen geheue en geskiedenis was nog altyd ’n delikate dialektiese een, soos Paul Ricoeur tereg uitgewys het. Hy som dit goed op in die voorwoord tot sy boek Memory, history, forgetting, waar hy ’n baie geldige waarneming maak:

I continued to be troubled by the unsettling spectacle offered by an excess of memory here, and an excess of forgetting elsewhere, to say nothing of the influence of commemorations and abuses of memory – and of forgetting. (P Ricoeur, 2004, Memory, history, forgetting. Chicago: University of Chicago Press, bl xv)

Hierdie opmerking is van belang vir die werk van die WVK, want ten spyte van die waarde van die WVK-verslae vir historici is die verslae slegs een van vele lense of invalshoeke waardeur die apartheidsgeskiedenis beskou kan word. David Lowenthal som hierdie dilemma goed op wanneer hy skryf:

Memory and history are processes of insight; each involves components of the other, and their boundaries are shadowy. Yet memory and history are normally and justifiably distinguished: memory is inescapably and prima-facie indubitable; history is contingent and empirically testable. (D Lowenthal, 1985, The past is a foreign country. Cambridge: Cambridge University Press, bl 187)

So, om jou vraag te beantwoord: Daar is beslis sedert die apartheidsjare toenemend klem op hierdie temas in die Afrikaanse letterkunde geplaas, en ek hoop dat hierdie tendens verdere momentum sal kry in postapartheid letterkunde.

Anoeschka von Meck, skrywer van Die heelal op my tong (Foto: verskaf)

Hoe het dit gekom dat jy juis op Anoeschka von Meck se Die heelal op my tong gefokus het vir jou navorsing? Het die vaderfiguur in hierdie “bisarofiksie”, met sy ooreenkomste met die skrywer se vader, Vloog Theron, “wie se bedrogskemas en swendelary hom gereeld met die gereg laat bots het”, jou tot die navorsingsonderwerp aangespoor?

Ek was nog altyd gefassineerd deur die wyse waarop die menslike liggaam in die reg gekonstrueer en gereguleer is in verskillende kontekste van die publiek-, privaat- en strafreg oor die eeue heen, hetsy dit gehandel het oor aborsie, voortplanting en kunsmatige inseminasie, genoomkartering, geslagsoriëntasie, publieke gesondheidsmaatreëls, of verpligte militêre diensplig, ens.

Hierdie arbitrêre diskursiewe konstruksies van die menslike liggaam is meestal ambivalent, onverstaanbaar en konflikterend, afhangend van die konteks van die regsdiskoers. Die wyse waarop Von Meck in Die heelal op my tong die obese, gebroke en verslaafde liggaam gebruik om apartheid se vergrype op vele vlakke aan te dui, het my aandag getrek. Die vaderfiguur in die roman speel ’n sentrale rol in die protagonis, Willemien, se traumatiese lewe en haar sirkelreis na selfinsig en katarsis. Die skrywer waarsku tereg die leser om nie dit te glo wat geskryf is nie, hoewel diegene wat in die tagtigerjare nuusberiggewing oor Vloog Theron gevolg het, nie anders kan as om (outo)biografiese raakpunte tussen die outeur en die vaderfiguur raak te lees nie.

Jy haal Nini Bennett se verwysing in haar LitNet Akademies-resensie-essay oor Die heelal op my tong aan oor Von Meck se “roekelose spel tussen werklikheid en fiksie”. Hoe versigtig moet ’n navorser te werk gaan om, wanneer ’n fiktiewe personasie op ’n bekende, werklike persoon (lewend of dood) gebaseer is, nie self in ’n strik van moontlike laster teenoor daardie figuur te beland nie?

Navorsers oor die algemeen moet waaksaam wees om nie persoonlike aannames oor ’n persoon se karakter te maak wat nie op die objektiewe waarheid gebaseer is en dit dan te verkondig of te publiseer nie. Von Meck se verwysing na Die heelal op my tong as bisarofiksie maan lesers dat die roman se flirtasie met werklikheid en fantasie opsetlik is, en derhalwe dat enige gevolgtrekkings of raakpunte met die werklikheid toevallig of oordryf mog wees. Verwysings na die ooreenkoms tussen die vaderfiguur en Vloog Theron kan gevolglik slegs spekulatief wees.

Melodie, vertel asseblief hoe die literêre en regswêreld vir jou by mekaar uitgekom het. Watter Afrikaanse literêre werke dink jy bied stof vir navorsers wat in aansluiting by hierdie beweging uitsette wil lewer?

Melt, my akademiese agtergrond het my eintlik heel toevallig in hierdie rigting gelei. Ek het my doktorsgraad in Duitse letterkunde aan die destydse Departement Duits aan UP behaal met ’n proefskrif oor die politieke dramas van die Switserse dramaturg Friedrich Dürrenmatt, en daarna van vooraf met regstudies begin en uiteindelik met ’n doktorsgraad in die regte geëindig.

My belangstelling in die letterkunde en temas van politiek, regsgeskiedenis, geheue en geregtigheid het my opnuut laat kyk na die waarde van die letterkunde vir regspleging. Ek het begin deur van hierdie temas in Marlene van Niekerk se Agaat, Eben Venter se Horrelpoot, asook Bernard Schlinck se Der Vorleser deur ’n regsletterkundige invalshoek te beskou. Hierdie tipe navorsing is uiters bevredigend en ek hoop van harte dat die reg-en-letterkunde-beweging in die toekoms groter aftrek in Suid-Afrika sal kry.

Die huidige politieke en sosiale bedeling, om nie te praat van die impak van Covid-19 nie, kan by uitstek tematies by literêre werke aansluit. Ten opsigte van Covid verskaf Albert Camus se The plague (1947), Hermann Hesse se Narcissus and Goldmund (1930) en José Saramago se Blindness (1997) uitstekende bronne. Afrikaanse fiksie wat heelwat belofte inhou en wat ek nog verder wil verken, is Willem Anker se Skepsel en Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Benewens die boeke wat ek reeds genoem het, is daar heelwat literêre werke oor dekades heen wat met groot vrug ontgin kan word. Ek dink nou aan Die dieper reg van NP Van Wyk Louw (1938), Toorberg van Etienne van Heerden (1986), Engemi Ferreira se Die jaar toe my ma begin sing het (1993), John Miles se Kroniek uit die doofpot (2005) en Pérsomi, kind van die brakrand van Irma Joubert (2010). Vele van André P Brink se romans is ook uiters geskik.

Ek lees tans ’n roman van die ontslape hartsjirurg Chris Barnard getiteld The donor wat hy in 1996 in Londen uitgegee het. Hierdie roman konfronteer die regsetiese grense van onbeheerde genetiese manipulasie, en hoewel dit 25 jaar gelede gepubliseer is, is dit in die huidige tydperk meer relevant as ooit tevore.

 

Lees ook:

Melodie Labuschaigne se artikel in LitNet Akademies:

“The good, the bad and the ugly”: ’n Regsletterkundige besinning van Von Meck se Die heelal op my tong

Nini Bennett se LitNet Akademies-resensie-essay oor Die heelal op my tong:

LitNet Akademies-resensie-essay: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

Naomi Meyer en Liné Loff se gesprek met Anoeschka von Meck oor haar roman:

Die heelal op my tong: ’n onderhoud met Anoeschka von Meck

Inligting oor Die heelal op my tong:

Pasverskyn: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

  • 3

Kommentaar

  • Johan Coetzee

    Verder reken ek dat Simon Bruinders se DIE SIDEBOARD ook noemenswaardig behoort te wees oor die grondonteieningskwessie. Juis vanuit 'n "ander" hoek.

  • Fassinerend. Willem Anker se 'Skepsel' en Isa Konrad se 'Toekomsmens' is twee besondere boeke om die liggaam-as-regsidentiteit te beskou. Dankie vir hierdie wonderlike onderhoud.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top