African Book Festival in Berlyn: Boekfeeste en beskermengele in bewoë tye

  • 1

........

“Writing in troubling times” was die titel van ’n paneelbespreking waaraan ek laas naweek by die African Book Festival (ABF) in Berlyn deelgeneem het. Dit het my weer eens laat besef dat skrywers waarskynlik beter toegerus is as die meeste ander mense om die COVID-19-pandemie geestelik te oorleef.

........

“Writing in troubling times” was die titel van ’n paneelbespreking waaraan ek laas naweek by die African Book Festival (ABF) in Berlyn deelgeneem het. Dit het my weer eens laat besef dat skrywers waarskynlik beter toegerus is as die meeste ander mense om die COVID-19-pandemie geestelik te oorleef. ’n Onseker inkomste en afsondering en inperking is immers deel van wat dit beteken om heeltyds te skryf.

Maar skrywers mis boekfeeste moontlik selfs meerr as wat lesers dit mis, het ek ook besef.

Nog nooit het dit só lank geduur vandat ek ’n uitnodiging ontvang het om aan ’n fees deel te neem tot die fees oplaas kon plaasvind nie. Nog nooit het die program en die deelnemers van ’n fees waarby ek betrokke was, so aanhoudend verander terwyl opeenvolgende golwe van COVID-19 alle planne wegspoel nie.

Maar nog nooit – juis vanweë al bogenoemde faktore – was ek deel van ’n groep skrywers wat só dankbaar was om weer ’n slag in die geselskap van sielsgenote te wees nie. Om in lewende lywe, skouer teen skouer, saam te eet en drink en lag en gesels. Veral gesels.

.........

Ons maak onsself al amper anderhalfjaar wys dat virtuele feeste en boekbekendstellings op skerms darem beter as niks is. Liewers ’n halwe eier as ’n leë dop, nè. Maar dit was ’n belewenis om uiteindelik weer die hele eier op te slurp – die wit, die geel, selfs die stukkies dop het ons nie uitgespoeg nie.

........

Ons maak onsself al amper anderhalfjaar wys dat virtuele feeste en boekbekendstellings op skerms darem beter as niks is. Liewers ’n halwe eier as ’n leë dop, nè. Maar dit was ’n belewenis om uiteindelik weer die hele eier op te slurp – die wit, die geel, selfs die stukkies dop het ons nie uitgespoeg nie.

Dreams and assorted nightmares” was die titel van ’n ander paneelbespreking, heel gepas vir ’n fees wat maande lank soos ’n onmoontlike droom gevoel het terwyl reisreëlings ’n nagmerrie word. Uiteindelik kon slegs ’n tiental skrywers uit Afrika en die diaspora die ABF bywoon omdat ons almal ingeënt was – maar selfs inentingsertifikate kon geen sekerheid bied nie. Een van die vroueskrywers se dogter het twee dae voor die fees positief getoets vir Covid; haar tas was al gepak toe sy besef dat sy nie na Berlyn kon reis nie omdat sy in kontak was met haar kind en dus in kwarantyn moes gaan.

Paneelbespreking met die Angolese skrywer Ondjaki (Transparent City). Foto: Jörg Kandziora

“Telling the origin stories”, nog ’n paneeltitel, word in die program verduidelik as die terugflitstegniek wat so dikwels in films gebruik word om karakters se agtergrond te ontbloot. Die backstory van my betrokkenheid by die ABF begin teen die einde van 2019 toe Kalaf Epalanga, Angolese skrywer en musikant, my genooi het na ’n boekfees wat in April 2020 in Berlyn gehou sou word. Epalanga is aangestel as kurator van die derde ABF, met die klem op literatuur uit en oor Portugees-Afrika, en die Angolese skrywer José Eduardo Agualusa sou die ster van die geleentheid wees. Agualusa se boeke word wêreldwyd vertaal en het hom al op die kortlys van die International Booker Prize laat beland – ’n gróót naam in Duitsland en die res van Europa om as headliner aan te kondig. 

My uitnodiging was te danke aan my boek Borderline (Grensgeval) oor Suid-Afrikaners en Kubane se betrokkenheid in die Angolese oorlog in die jare sewentig, en die aanvanklike plan was om ’n paneel saam te stel met ’n Suid-Afrikaanse, ’n Angolese en ’n Kubaanse skrywer wat oor dié oorlog kan praat. Dit was die eerste van vele planne wat verander moes word – en dit selfs voordat Covid alles kom omkrap het – want die Kubaanse skrywer wat Epalanga wou nooi, kon nie ’n visum van die Kubaanse regering kry om na Duitsland te reis nie.

En toe, skaars ’n maand voor die fees, ontplof Covid soos ’n bom in die niksvermoedende mensdom se midde. Ek het reeds my vliegkaartjie na Berlyn ontvang (en in my verbeelding begin wandel in Unter den Linden waar ek byna dertig jaar laas was), toe dit oornag onmoontlik word om te reis en die organiseerders laat weet dat die fees uitgestel word.

Paneelbespreking saam met Ondjaki, Leye Adenie en die moderator Alexandra Antwi-Boasiako. Foto: Jörg Kandziora

Net ’n paar maande, dis mos wat almal laas jaar gedog het, dan sou ons hierdie nare virus verdryf het en “normaal” verder kon lewe.

Teen die einde van die jaar het dit tot my deurgedring dat die 2020-weergawe van die ABF nie gaan plaasvind nie – en dat ons idee van “normaal” moontlik vir altyd verander het. Ek het ook aanvaar dat dit neusie verby is vir my om in Unter den Linden te gaan stap, want indien die fees eers in 2021 sou herlewe, sou die program, die deelnemers en moontlik selfs die kurator moes verander om by “die nuwe normaal” aan te pas.

Maar ek het nie rekening gehou met die formidabele vrouespan van InterKontinental, die Berlynse boekwinkel en niewinsgewende organisasie wat die fees borg nie. Niks, net mooi niks, kan vir Stefanie, Karla en Venice onderkry nie. Nie die pandemie of die feit dat die fees twéé keer uitgestel moes word, eers na Mei 2021 en oplaas na Julie 2021, of die eindelose probleme met visums en reisreëlings vir skrywers wat van Afrika en elders in Europa moes vlieg nie.

Die boekkiosk by Freiluftkino Rehberge (foto: Marita van der Vyver)

Nie eens die vloedreën wat ’n deel van Duitsland laas naweek tydens die fees weggespoel het, kon hierdie vroulike drie-eenheid afskrik nie.

Ek was bitter benoud toe ek ’n paar dae voor die ABF op my Noorweegse weervoorspelling-app sien dat groot reën vir Berlyn voorspel word. Vanweë die virus sou die fees vir die eerste keer in die buitelug gehou word, in een van Berlyn se verstommende aantal groen parke, by die Freiluftkino in Rehberge. Moenie bekommerd wees nie, troos my man nog so ewe, die doeltreffende Duitsers sal wel ’n Plan B ingeval van reën hê.

Daarom is my eerste vraag aan Stefanie, toe ek in Berlyn land, wat haar Plan B is. ’n Groot tent? ’n Saal iewers naby die park? En Stefanie antwoord komkommerkoel, wel, Plan A is dat dit nie reën nie, en Plan B is dat dit nie reën nie. Toe is ek éérs benoud.

Sosiale afstand en sambrele teen son én reën (foto: Marita van der Vyver)

Maar ek het sommer die eerste middag al van ons hotel naby Alexanderplatz (in die gewese kommunistiese Oos-Berlyn) tot by Unter den Linden gestap. Voordat enige reën my nostalgiese uitstappie na my verre verlede kon bederf. Want my eerste besoek aan Berlyn was in die jare tagtig, toe Die Muur nog die stad middeldeur geskeur het. En ek het nie, soos die meeste Westerse toeriste destyds, net ’n vinnige bustoer deur Oos-Berlyn meegemaak nie. Ek het meer as ’n week in Oos-Duitsland deurgebring, in stede soos Dresden, Leipzig en natuurlik Oos-Berlyn, as jong redaksielid van Sarie wat ’n toer “Agter die Ystergordyn” vir lesers aangebied het. Hóé ons groepie Suid-Afrikaners visums gekry het om só lank agter die gevreesde Ystergordyn te kuier, omring deur die Rooi Gevaar van my kinderdae, kan ek tot vandag toe nie verklaar nie.

Iewers het iemand toutjies getrek, of anders het ons per ongeluk in ’n haasgat geval, soos die arme Alice wat in die onbekende Wonderland beland. Oos-Duitsland was vir my in my jeugdige onskuld inderdaad so verwarrend soos Lewis Carroll se Wonderland. Die eerste paar dae was alles net te grys en eenders, maar toe ek eindelik weer aan die ander kant van Die Muur kom, was ek geskok deur al die advertensies en neonligte, die glansende winkelvensters, die deftige vroue in pelsjasse, die opsigtelike weelde. Vir die eerste keer het ek besef dat die gierige verbruikerswaansin van kapitalisme net so sieldodend kan wees soos die grys eenvormigheid en gebrek aan keuse van kommunisme.

Tydens my volgende besoek vroeg in die jare negentig, kort ná die geskeurde stad weer aanmekaar gelap is, het ek van Unter den Linden tot by Alexanderplatz gestap om in die beroemde TV-toring se restaurant te eet en die herenigde stad van bo af te bekyk. Omdat die restaurant stadig in die rondte draai, kon ek die hemelse uitsig uit verskeie hoeke geniet, wat my laat voel het soos die engele Damiel en Cassiel in Wings of desire, Wim Wenders se poëtiese rolprent oor dié stad. 

Die engele van Berlyn is oral (foto: Marita van der Vyver)

Rolprente en boeke was nog altyd deel van my Berlynse belewenis. Die musiekfliek Cabaret, gegrond op Christopher Isherwood se boek Goodbye to Berlin, het my reeds in die jare sewentig na Berlyn laat verlang – lank voordat ek ’n voet in die stad gesit het. In die jare tagtig was dit Fassbinder se TV-reeks Berlin Alexanderplatz wat kultusstatus onder fliekvlooie bereik het en baie van ons laat hunker het na ’n stad waar ons nog nooit was nie.  In die slot-episode is daar weer eens twee engele te sien, genoeg om my te laat glo dat dié stad ’n spesiale verbintenis met engele moet hê.

En dalk, wie weet, is daar inderdaad ’n soort verbintenis. Hoe anders verklaar ek die feit dat dit nie tydens enige van die ABF se paneelbesprekings in die buitelug gereën het nie – terwyl meer as 150 mense elders in die land in fratsreën verdwyn het,  blykbaar die grootste ramp wat Duitsland sedert die Tweede Wêreldoorlog getref het?

Berlyn het nie die reën vrygespring nie, maar tydens die twee dae van die fees het die reën soos ’n soet kind net opgedaag wanneer dit ons nie sou pla nie. Enkele sekondes ná die laaste boekbespreking op Vrydag (Abubakar Ibrahim van Nigerië wat oor sy boek Season of crimson blossoms praat) het die druppels begin val, eers sag en toe met mening. Maar presies ’n halfuur later, toe die Kongolees-Franse danser Exocé Kasongo die verrigtinge met ’n vertoning moes afsluit, is die hemelkrane toegedraai. Duitse presisie, sou jy kon sê, as jy nie van beter geweet het nie.

Die TV-toring op Alexanderplatz - soos in Fassbinder se Berlin, Alexanderplatz (foto: Marita van der Vyver)

En daardie aand het dit oral in die stad gesousreën, maar ons skrywers was veilig en droog in die hotel.

Saterdag, die eintlike dag waarop stortreën voorspel is, het ek my sambreel saamgeneem na die Rehberge-park. Indien dit nie reën nie, wat hoogs onwaarskynlik was, sou die sambreel my ten minste teen die skerp son kon beskerm. Dit hét glo op ander plekke in Berlyn gereën, maar by die boekfees in die park het daar sowaar nie ’n druppel geval nie.

........

Asof die Berlynse engele waaraan ek skielik weer wou glo, besef het dat hierdie klompie skrywers by die ABF hierdie boekfees rêrig broodnodig het. Nodiger as brood, om die waarheid te sê. Boeke is ons brood, en vir die eerste keer sedert Maart 2020 kon ons weer ons krummels op die water gooi. Nie op ’n skerm nie, nie virtueel nie, maar driedimensioneel dáár, tussen ons lesers en potensiële lesers.

.........

Asof die Berlynse engele waaraan ek skielik weer wou glo, besef het dat hierdie klompie skrywers by die ABF hierdie boekfees rêrig broodnodig het. Nodiger as brood, om die waarheid te sê. Boeke is ons brood, en vir die eerste keer sedert Maart 2020 kon ons weer ons krummels op die water gooi. Nie op ’n skerm nie, nie virtueel nie, maar driedimensioneel dáár, tussen ons lesers en potensiële lesers.

Die feit dat soveel van die genooide skrywers deur die pandemie weggehou is uit Berlyn, het dié van ons wat wel daar kon uitkom, net nog meer bevoorreg laat voel. Selfs die headliner Agualusa kon uiteindelik nie daar wees nie; hy woon deesdae in Mosambiek, wat vanweë die nuutste golf van Covid saam met Suid-Afrika op die “rooi lys” in Europa geplaas het. Dis ook waarom Niq Mhlongo, die ander Suid-Afrikaner op die program, op die laaste oomblik nie sy vlug na Berlyn kon haal nie.

Chimeka Garricks, Leye Adenie en Kalaf Epalanga hou vir Abubakar Ibrahim vas, met Bisi Adjapon regs (foto: Marita van der Vyver)

Maar Epalanga en die vroue van InterKontinental het eenvoudig aangehou om die program aan te pas. Eers Donderdagaand, enkele ure voordat die fees amptelik sou begin, het ek ’n gedrukte “finale program” ontvang. Teen dié tyd het ek verwag dat dit weer eens sou verander, dat óf die pandemie óf die dreigende reën alles sou kom omkrap. En toe beskerm die engele van Berlyn ons sowaar twee volle dae lank.

Sondag het ek via Amsterdam terug na my Franse tuiste gevlieg, met Bisi Adjapon wat in Amerika gebore is en nou in Ghana woon, saam met my op die eerste vlug. In my handbagasie was haar roman, Of women and frogs, wat binnekort heruitgegee word onder die titel The teller of secrets. Op pad na die lughawe het ons ’n taxi gedeel met Sulaiman Addonia, die Eritreaans-Belgiese skrywer van die ontroerende Silence is my mother tongue.

Die Angolese kurator Kalaf Epalanga (in die agtergrond dans sy landgenoot Ondjaki met 'n leser). Foto: Marita van der Vyver

Nog ’n skrywer wat my uitsonderlik geïmponeer het, is Chimeka Garricks (gebore in Ierland, woon nou in Nigerië) met sy pragtige kortverhaalbundel, A broken people’s playlist, waarin elke storie die titel van ’n populêre liedjie dra: “Hurt”, Johnny Cash; “I put a spell on you”, Nina Simone; “Desperado”, Eagles; ens. Asook die gulhartige, bebaarde Leye Adenie, Londenaar van Nigeriese oorsprong wat ’n opwindende nuwe soort misdaadfiksie skryf (Easy motion tourist en when trouble sleeps). Adenie het almal soos ’n beer omhels – en ons groepie ingeënte skrywers was honger vir omhelsings. Dit was dadelik duidelik.

Die ander ding wat gedurende die fees duidelik geword het, is dat elkeen van hierdie skrywers ’n unieke bydrae lewer tot dit wat ons gans te gemaklik “Afrika-lettterkunde” noem, dalk net by gebrek aan ’n beter frase. Die letterkunde van Afrika en die diaspora kan nie in ’n one size fits all-uitrusting gedwing word nie. Dis waarlik so wyd soos die vlerke van die Berlynse engele – wat ons en ons uiteenlopende boeke die hele naweek lank droog gehou het.

Lees ook:

’n Baie lang brief aan my dogter: ’n oudio-onderhoud met Marita van der Vyver

Grensgeval deur Marita van der Vyver: ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Grensgeval as interteks tussen môre en gister

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top