Adam Small-fees 2019: Adam Small se profetiese stem is steeds relevant

  • 0

Izak de Vries
Foto: Suki Lock

Die profetiese stem van Adam Small is vandag nog net so relevant soos tydens die apartheidsjare toe hy met sy digkuns in opstand gekom het teen apartheid en die onreg van ’n onderdrukkende samelewing.

Die bevraagtekening van die godsdiens en teologie is egter tot ’n groot mate afwesig by vandag se digters.

So het Izak de Vries tydens die Adam Small-fees op Pniël gesê toe hy hulde gebring het aan die digter na wie die fees vernoem is.

De Vries het gepraat oor Small se rol om apartheid tot ’n val bring deur middel van sy digkuns. Dit is veral sy teologiese bevraagtekening daarvan wat deur De Vries beklemtoon is. Hy sê Small se profetiese stem het vandag steeds iets vir die Guptas en Ramaphosas te sê in ’n land waar soveel mense honger ly en waar die rykes ryker en die armes armer word.

De Vries het vertel hoe Small se eie gesprek met God binne enkele jare radikaal verander het tussen twee van sy digbundels. In sy eerste bundel, Verse van die liefde, wat in 1957 verskyn het, en Sê sjibbolet ses jaar later, in 1963, is daar ’n wesenlike verskil hoe Small met God in gesprek tree .

In Verse van die liefde voer hy nog met ’n strenge piëteit gesprek met God. Dit is die stem van iemand wat onderdrukking ken, maar steeds smeek vir liefde.

Ses jaar later verskil Small se gesprek met God radikaal van die gesprek wat hy in die eerste bundel met God voer en tree daar ’n woede in sy digkuns na vore wat voorheen nie daar was nie.

“Dit is wanneer hy spottend die kerk aanvat dat ek veral na sy profetiese stem luister,” het De Vries gesê en voorbeelde daarvan aangehaal. Wanneer daar sprake is van kerkkaping of staatskaping, is dit vandag steeds Small se profetiese stem wat opklink en sê “not ’n dêm”.

Highpriest van die Socialism
’n Profit van die liberation djy?
’n socialist?
djy met djou hys-palys
met djou lang slap mouterkar
djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die
oppressed
met djou tears
en djou woera warra oppie stage
met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class
vannie jets
djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal my
djou verbeel!
En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style
Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe
Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ’n chips?

Die gedig “Sê Sjibbolet” is gebaseer op Rigters 12:5 in die Ou Testament: “Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer ’n Efraimitiese vlugteling sê ‘Ek wil deurgaan’, sê hulle vir hom: ‘Jy is ’n Efraimiet.’ As hy sê: ‘Nee, ek is nie’, sê hulle vir hom: ‘Sê bietjie Sjibbolet’, maar dan sê hy ‘Sibbolet’, want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood.”

Sê Sjibbolet (Rigters 12)

Sê Sjibbolet
djulle ammal, djulle,
djulle wat sê djulle het
die Here,
djulle wat sê djulle is gared, 
...
en glo djulle hoef is vet
moet olie vannie Here, 
... 
sê net!
want ons wil wiet
wie’s Gileadiet,
wié’s Efraimiet,
wie veg regdeur tot by Minniet
en wie is riet
en wie moet staan
en wie kan gaan
deurie driwwe vannie Dood
ennie Jordaan
... 
nai? 
ôrait, 
ma sê net, 
sê net Sjibbolet!

Nog een van Small se gedigte waarna De Vries verwys het, is “Second coming 1”, wat op ’n satiriese wyse dui op Jesus se wederkoms. Die werke is destyds deur baie mense as godslasterlik beskou, maar was in werklikheid ’n profetiese stem. Daardie stem is volgens De Vries vandag nog net so relevant.

Izak de Vries
Foto: Suki Lock

Volgens De Vries was Small se werk ’n voorbeeld van protesteologie. Wanneer hy teen onderdrukking en die verdrukkers in opstand gekom het, geld dit ook vir die onderdrukking en uitbuiting van die armes vandag. Wanneer die heerser van destyds sê “apart maar gelyk”, is dit Small se profetiese stem wat sê “nie vir my nie”.

Vir Small was dit wat op die aarde gebeur wat saak gemaak het, en nie die belofte van ’n hemelse hiernamaals waar almal gelyk sal wees nie.

In sy omdigting van 1 Korintiërs 13 in die Nuwe Testament in Klein simbool skryf hy: “Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede./ Al sou hierdie land myne wees, en al sy godsdiens, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne sonder God./ .../ Toe ek ’n kind was , het ek gehaat soos ’n kind, maar noudat ek ’n man is het ek lief soos ’n kind./ As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde.”

 

Lees ook

Adam Small-fees 2019: foto's van die derde dag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top