Abraham Faure – ware Renaissance-mens en "vader van die Suid-Afrikaanse literatuur"

  • 0

Lizette Rabe (Foto: verskaf)

Lizette Rabe, voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, se navorsingsartikel “Die oorsprong van die (Hollands-)Afrikaanse joernalistiek, die tydsgewrig, en Abraham Faure as pionier” het einde 2021 in LitNet Akademies verskyn. In die artikel belig Lizette die wydlopende werksaamhede van Abraham Faure, wat in 1795 op Stellenbosch gebore is. Vanweë Faure se pionierswerk op vele gebiede is hy as die “vader van die Suid-Afrikaanse literatuur” beskryf, en sy ywer op veral die terreine van die kerk, onderwys en joernalistiek het die Afrikaanse kultuurwêreld grotendeels help vorm soos wat dit vandag nog daar uitsien.

Om die wêreld van die laat 1700’s en die 1800’s waarin Faure geleef het te probeer rekonstrueer, het Melt Myburgh vir Lizette uitgevra oor die aktiwiteite en milieu van dié invloedryke figuur aan die vroeë Kaap. Sy waarsku egter vooraf dat sy hier en daar moes spekuleer: “Ek is ’n mediahistorikus, nie ’n antropologiese sosioloog of kerkhistorikus nie; my antwoorde is dus suiwer gebaseer op die bietjie wat ’n mens wel oor jou eie vakgebied weet.” ’n Volledige lys van die bronne waarop Lizette haar antwoorde baseer, is in die artikel opgeneem – onder andere HA Heyns se uitnemende MA-verhandeling van 1946: “Die kerklike werksaamhede van Abraham Faure”.

***

Lizette, in jou interessante artikel laat jy die kollig op Abraham Faure val, wat van 1795 tot 1875 geleef het en pionierswerk op verskeie terreine gedoen het waarop daar vandag nog gebou word. Faure is in Stellenbosch gebore en het vir 50 jaar van sy lewe in Kaapstad gewoon. Kaapstad was toe nog maar klein, met iets soos 20 000 inwoners, maar hoe het Stellenbosch in Faure se geboortejaar daar uitgesien? Inwoners het toe nog seker Hollands gepraat en daar is van slawearbeid gebruik gemaak, nie waar nie? Weet ons waar Faure op die dorp skoolgegaan het?

“In Faure se kinderjare, toe Stellenbosch net 13 strate gehad het, was die enigste openbare geboue die drosdy, kerk en kruithuis.”

Ek is geensins ’n kerkhistorikus nie – verre daarvan – maar wat ek in byvoorbeeld Heyns se uitstekende magistertesis van 1946 lees (vandag sou dit kon staan as ’n PhD), het Stellenbosch met Faure se geboorte net 13 strate gehad.

Hy is op 29 Augustus 1795 op Stellenbosch gebore, “in dieselfde maand en jaar van die eerste Britse inbesitname van die Kolonie”, soos dit gestel is. Hy is dus waarskynlik in sy eerste lewensjare deur ’n Kaaps-Hollands-Gereformeerde identiteit gevorm. Die Kaap was kortstondig weer “Hollands” van 1803 tot 1806, waarop die tweede Britse besetting vanaf 1806 gevolg het.

Hy was ook ’n Hugenote-afstammeling, dus het ’n reformatoriese geskiedenis hom waarskynlik deeglik gevorm. Faure het toevallig kort voor die einde van sy studie in Amsterdam ’n familiebybel van 1669 van Antonie Alexander, stamvader van die Faures in Suid-Afrika, ontdek, wat hy voor sy demissie aan Stellenbosch se Kweekskool-biblioteek geskenk het.

In Faure se kinderjare, toe Stellenbosch net 13 strate gehad het, was die enigste openbare geboue die drosdy, kerk en kruithuis. Volgens Heyns was daar met Faure se “kleuter-opleiding” reeds twee “skooltjies” op die dorp. Heyns noem nie in watter een Faure was nie, wel dat “die bekendste een [...] die [een] in Dorpstraat [was], waar meester George Knoop tot aan sy dood in 1800 gewerk het”.

Ook sê Heyns: “Aan die hand van die Hellenbroeck [sic] is die leerlinge aan die sorg van die voorleser-onderwyser toevertrou, streng opgevoed in die belydenisse van die Kerk, omdat dit ’n oogmerk was om goeie belydende lidmate te kweek.” Abraham Hellenbroek (1658–1731, en sonder die c), was ’n Nederlandse gereformeerde predikant wat veral bekend was vir sy katkisasieboek Voorbeeld der Goddelijke Waarheden, die “Hellenbroeck” waarna Heyns waarskynlik verwys.

Voorts, met dié soort invloed, en soos Heyns dit ook stel, was dit dalk vanselfsprekend vir iemand wat só onder die invloed van die Gereformeerde Woord was, dat Faure “nog nie sestien jaar oud [was] nie, toe hy die belangrike besluit geneem het om in die bediening te gaan”. Hy het toe aan die “Latynse skole” in Kaapstad gestudeer as voorbereiding vir sy teologiese opleiding.

In 1814 en 1815 het hy in Gosport, Engeland, onder David Bogue gestudeer. Bogue was ’n groot voorstander van sendingwerk; die Londense Sendinggenootskap is deur hom gestig. Dit het vir Faure “tot spoorslag gedien”. Sy studie in Gosport het saamgeval met ’n herlewing van “godsdienstige en sendingywer”, gefundeer in die “Calvinisme van die Puriteine wat aan ’n streng behoudende opleiding” geglo het. Direk ná sy Britse teologiese opleiding is Faure in 1816 na die “beroemde ‘Hogeschool’ [universiteit] in Utrecht”.

Oor jou opmerking dat die koloniste Hollands gepraat het in Faure se tyd: Die Hollands van die 17de eeu het so te sê dadelik begin kreoliseer in Kaaps-Hollands, later in Hollands-Afrikaans, en natuurlik heelwat later in Afrikaans – benoem na Afrika, en as taal wat in die aarde van Afrika ontkiem en begin groei het. Die “kulturele middelpunt” van die taal is reeds in die vroegste studies beskryf as meer as 10 000 km ver, soos volgens die pionier-leksikograaf DB Bosman. Volgens hom was linguïstiese veranderinge reeds binne die eerste 50 jaar ná die Hollandse besetting, dus rondom 1700, herkenbaar.

Jy verwys na Faure as “’n verbysterend veelsydige en produktiewe mens” wat die grondslag gelê het vir vele instellings op gebiede soos die joernalistiek, teologie, opvoedkunde, en so meer. In die eerste plek was hy ’n predikant, en in Engeland is die belangrikheid van sendingwerk sterk in sy bewussyn gevestig. Jy verwys na Heyns se beskrywing in sy MA-verhandeling van 1946 dat Faure ’n “visioen” gehad het wat sy werksaamhede as kerkman en pionierjoernalis van vroeg af gerig het. Volgens dié “pragtige vergesig” het Faure ’n “kerklike drukpers” in die vooruitsig gestel, “waarmee hy die evangelie die kolonie wou indra, en daagliks in elke huis, aan elke huisgesin sy boodskap wou bring”. Watter faktore, in samehang met die idee van “sendingwerk” wat die Woord wyd moes verkondig, het tot dié vergesig bygedra?

Ek sal ongelukkig nie kan sê watter faktore alles bygedra het tot Faure se visioen van ’n kerklike drukpers om die evangelie uit te dra nie. Ek sou wel kon spekuleer dat al die faktore wat so intrinsiek op hom ingespeel het, tot so ’n visioen kon lei. Die piëtisties-puriteinse Hollands-Afrikaanse Calvinisme waarin hy grootgeword het; die invloed van Bogue, en Bogue se passie vir sendingwerk en die uitbou van die Christendom; dit waaraan hy in Nederland blootgestel is; met sy terugkoms en beroep na sy eerste gemeente op die ouderdom van ongeveer 22 (as die somme min of meer klop) na Graaff-Reinet: Álles het waarskynlik daartoe bygedra om daardie vlam hóóg te laat brand.

Die feit dat hy ’n pionierjoernalis was, is eintlik te danke aan sy godsdienstige passie, want dit was éintlik wat hy met die hulp van die drukpers wou verkondig: die Christelike boodskap.

Abraham Faure op meer gevorderde leeftyd. (Bron: https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/faure-abraham/)

As predikant het Faure sy eerste jare op Graaff-Reinet deurgebring voordat hy – sonder sy medewete – na die Kaap beroep is. En op dié Karoodorp het hy al laat waai met ’n drukpers om sy preke uit te gee. Faure is beskryf as ’n “indrukwekkendste prediker” met ’n “imponerende preekstyl en voordrag”. Sy prediking was “vermanend” en hy het vrees en bewing by sy toehoorders ingeboesem oor die “regmatige oordeel oor die sonde”. Later het sy jonger neef hom beskilder as die “verkondiger van die ‘blood and hell theology’”. Wat sê dié benadering vir ons oor die leefwêreld van mense in daardie dae?

“Godsdiens was dan dalk die anker, maar terselfdertyd ook ’n baie werklike “des Heeren vrees” om tog net nie af te dwaal nie, letterlik en figuurlik.”

Ek sal net kan spekuleer – slegs ’n antropologies-sosiologiese studie van daardie tydperk sal kan verduidelik hoe, en hoekom, ’n vaste geloof in predikante as gesante van God aan hulle só ’n posisie van mag gegee het om ’n geloofsboodskap met soveel vrees en bewing oor te dra.

Maar as ek moet raai (en ek baseer dit op die omstandighede van verskriklike ontbering wat die Europeërs, gewoond aan ’n Europese beboude omgewing en infrastruktuur van hul tyd, plus heel ander klimaat, in Afrika moes oorleef en deurleef), was daardie vaste geloof ’n oorlewingstrategie. Hul steun op ’n Almagtige (Gereformeerde) God om hulle deur dié benoudhede te help was waarskynlik dié deurslaggewende faktor in oorlewing.

Hulle was immers nie geneties geprogrammeer vir ’n lewe ver van wat ’n Europese leefstyl van daardie tyd gebied het nie – selfs vir die armstes onder hulle. Die vashou, of dalk vasklou, aan ’n sekere geloof was waarskynlik hul redding. In die beloofde ewige lewe sou dit immers beter gaan.

Aan die ander kant was juis die ontberings en verskrikkings van ’n lewe in ’n land wat hulle van ander geroof het (al het hulle dit uiteraard nie so gesien nie), dalk juis die lisensie vir die predikante van hul tyd om die meestal eenvoudige en skolasties onopgevoede burgers op die smalle weg te hou met daardie “blood and hell theology”. Godsdiens was dan dalk die anker, maar terselfdertyd ook ’n baie werklike “des Heeren vrees” om tog net nie af te dwaal nie, letterlik en figuurlik.

Nog iets waarvoor Faure hom beywer het, was die vestiging van SACS, die “eerste volwaardige skool vir jong mans aan die Kaap”, wat uiteindelik ook op die Universiteit van Kaapstad uitgeloop het. Voorts was hy een van die grondleggers van die Kweekskool op Stellenbosch. In daardie dae, lees ons in jou artikel, was goeie onderwysers so skaars soos hoendertande, in so ’n mate dat Faure iewers opgemerk het dat die onderwysers so swak was dat mens nie eens op straat met hulle wou praat as jy hulle raakgeloop het nie. Herinner ons lesers aan die stand van onderwys in daardie dae.

Weer eens, ek is ook nie ’n skoolhistorikus nie, maar wat duidelik uit my leeswerk blyk: Die VOC het hom geensins verplig gevoel om in enige kulturele behoeftes van die burgery in sy diens te voorsien nie, byvoorbeeld om onderwys te verskaf.

Die gevolg was dat kinders geen formele skoolopleiding gekry het nie. Die geskiedkundige Theal het die vroeë Kaapse inwoners beskryf as ’n mengsel van Hollandse, Duitse en Franse en slawe en inheemse Khoi. Theal het gemeen hierdie “mixture of blood” het hulle van Europa help soog, en dat ’n individu wat verder as die Skiereiland gewoon het, afgesny was van kommunikasie met Europa. Sy kinders, “knowing nothing of relatives abroad, did not concern themselves with the home of their ancestors. To this must be added the fact that many of them could not have written a letter if there had been a post with which to send it away.”

Daarom ook dat die geskiedkundiges Giliomee en Mbenga meen daardie mense het hulself as ’n “oorspronklike nasie”, gesien, “Africaanders” of “Africaners” – ’n groep van Afrika, gevorm deur Afrika, met bloed van Afrika. Die geskiedkundige Thom het ook gemeen die “onafhanklike natuur” van hierdie gemengde-ras-groep was ook van vroeg duidelik – daarom ook hul smagting na vryheid, insluitend selfregering.

Dit het daarom ook gelei tot die eerste poging tot vryheid van uitdrukking, naamlik die “smeekskrif” van so vroeg as 1656, na aanleiding van die ekonomiese onderdrukking as gevolg van die VOC se korrupsie met sy handelsbeleid.

Die voorblad, links, en die redakteursbrief of “Voorrede”, regs, van die eerste Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansche Tydschrift. Bron: US Africana-Versameling. Foto’s: Lizette Rabe

Wat joernalistiek betref: Faure was betrokke by die ontstaan en ontwikkeling van die eerste Hollandse publikasie in die land, Het Nederlandsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (HNZAT), en hy was ook stigter van die kerkblad De Honigbij, voorloper van D(i)e (Gereformeerde) Kerkbode, wat ons vandag as Kerkbode ken. Watter konteks betreffende die joernalistiek, en spesifiek die verhouding met die owerhede van daardie tyd, moet mense in gedagte hou as mens dink aan Faure se ywer in dié verband?

“Die gebrek aan persvryheid – dus die gebrek aan publikasies – het direk tot Thomas Pringle en Faure se onderskeie twee tydskrifte gelei.”

In die tyd toe HNZAT gestig is, het die regeringspublikasie The Cape Town Gazette, and African Advertiser / Kaapsche Stads Courant, en Afrikaansche Berigter reeds bestaan. In sy oorspronklike vorm is dit op 16 Augustus 1800 gestig. Dit was egter ’n blad direk onder beheer van die Britse koloniale goewerneur. Hoewel berigte ook in Hollands verskyn het, is dit beskou as ’n instrument om die Hollandse burgers te verengels.

In die kort tydperk toe die Kaap deur die Bataafse Republiek oorgeneem is (1803–1806), het dit eers steeds in Engels en Hollands, en toe slegs in Hollands verskyn. Daarna, en veral met die wetgewing in 1822 dat Engels die enigste amptelike taal aan die Kaap sou wees, het Hollands al hoe minder verskyn en toe verdwyn. Dit was eintlik nooit ’n blad vir die mense deur die mense nie, maar ’n staatskoerant – wat ook later die amptelike, tot vandag toe, Government Gazette / Staatskoerant geword het.

Die behoefte aan ’n eie, onafhanklike publikasie waarmee die Hollanders wat betref taal en identiteit kon identifiseer, het dus al hoe groter geword. Dit was duidelik dat Faure die regte mens op die regte tyd op die regte plek was.

In hierdie selfde tyd het die stryd om persvryheid in alle erns begin, want ’n vrye pers is ook in dieselfde tyd verbied. Faure was oortuig dat daar ’n onafhanklike Hollandse publikasie moes wees. Die gebrek aan persvryheid – dus die gebrek aan publikasies – het direk tot Thomas Pringle en Faure se onderskeie twee tydskrifte gelei. Buiten dat HNZAT Hollandse burgers moes inlig oor die kunste en die wetenskappe, het dit as vertrekpunt vanselfsprekend ’n Christelike Calvinistiese karakter gehad. Saam met John Fairbairn en George Greig het Pringle aktief die stryd om persvryheid gevoer. Die Kaapse regering het skynbaar Faure se Hollandse publikasie sy gang laat gaan – ’n mens kan spekuleer wat die redes daarvoor alles was.

Mens sou verwag het dat Pringle in daardie tyd eerder kragte met die ander Engelse pionierjoernalis, John Fairbairn, sou saamspan. Hoe het dit gekom dat die Hollandssprekende Faure Pringle se stalmaat geword het? En wat lei mens uit dié geskiedenis af oor Faure se politieke sienings?

Faure het nie eintlik sy hande vuilgemaak in die stryd om persvryheid nie. Sy blad se inhoud het ’n sekere taal/identiteitspolitiek gehad wat nie op die koloniale regering se radar geflikker het nie.

Daar kan verskeie redes daarvoor wees. Faure wou graag in die guns van die goewerneur bly, en soos gesê, het die goewerneur nie eintlik veel aandag aan die Hollandse publikasie gegee nie. Dit was die Engelse publikasies wat hom nie aangestaan het nie en wat hy wou onderdruk, en inderdaad ’n paar keer gesluit het – beide Greig se Engelse koerant wat in Januarie 1824 begin is danksy ’n skuiwergat in wetgewing, en Pringle se Engelse tydskrif (gelyknamig met Faure se Hollandse tydskrif, maar met heeltemal verskillende inhoud).

Fairbairn sowel as Greig was Pringle se medestryders om persvryheid. Die verklaring was dat dit die Engelse publiaksies was wat die goewerneur se wraak onteketen het; die Hollandse tydskrif het eintlik maar sy gang gegaan. Daar is gesê dat Faure, uit ’n vooraanstaande Kaapse familie, dit doelbewus vermy het om in die goewerneur se slegte boekies te kom. Faure het selfs geweier om ’n “memorial”, gerig aan die Britse koning, rakende persvryheid/meningsvryheid aan die Kaap te teken – waarskynlik “to keep his nose clean with Somerset, who cuttingly remarked that Faure seemed very anxious [not] to focus attention on himself”.

Faure se politieke ingesteldheid is ook bepaal deur die feit dat hy “uit ’n familie uit die Westelike Provinsie [was] wat nog altyd die aansien van die Britse amptenare geniet het”. Hy het dit selfs “as growwe pligsversuim beskou om nie gereeld in die openbaar vir die Kaapse en Londense owerhede te bid nie”.

En ook: “Met die goewerneur, by wie hy hoog aangeskrewe was, het hy diep meegevoel in die verantwoordelike plig wat hom deur ’n Hoër Hand opgelê was.” Dit was ook waarom hy nie ’n ondersteuner was van die burgers wat in 1838 uit die Kaapkolonie getrek het nie. Interessant dat hy nie op rekord is (in dit waartoe ek toegang gehad het) oor die protes teen die afskaffing van slawerny – een van die redes vir die Groot Trek –  nie.

’n Mens kan natuurlik spekuleer dat hy ’n groot verantwoordelikheid gevoel het teenoor sy mense, die Hollands-Afrikaner-burgers. Dit was beslis ’n groot faktor in sy opheffingswerk. Die NG Kerk was “volkome” ondergeskik aan die (Britse, koloniale) staat. Predikante was amptenare in diens van die goewerneur omdat hy die verantwoordelikheid gedra het vir “sowel die geestelike as die stoflike welvaart” van die kolonie. Hulle het maandeliks hul salaris van die regeringskantoor ontvang. Kerkrade was wel aan die hoof van ’n betrokke gemeente, maar “dan verder aan die goewerneur ondergeskik”.

Met die tweede Britse besetting, in 1806, is die Kaap aktief verengels, hoewel die meerderheid inwoners Hollands was. Die streng Britse klassestelsel sou ook vertaal in ’n gelaagdheid bestaande uit “outokratiese regeerders, welvarende grondbesitters, ondernemende sakelui, vrye arbeiders, arm bywoners, gekontrakteerde werkers en slawe”. In dié streng hiërargiese beskrywing word die inheemse bevolking nie eens genoem nie. Dié klassestelsel het bygedra tot ’n groeiende bewuswording van ras, nie net in terme van kleur nie, maar ook van die Hollanders as ’n aparte “ras” – en minderwaardig teenoor die Britte. Dit moes ook sekerlik swaar op Faure se gemoed gedruk het.

Dit is interessant dat Faure beskou word as “vader van die Zuid-Afrikaanssche literatuur”, soos wat Kannemeyer ook in band 1 van sy literatuurgeskiedenis aandui, onder meer omdat hy “graag ‘gediggies en artikeltjies’ van lesers” geplaas het om oorspronklike werk aan te moedig, “al was dit dikwels niks meer as vermaaklik nie, en oor onbenullige dinge”. Wat was Faure se motivering hiervoor?

Ek dink die bronne het die stelling hoofsaaklik gegrond op die feit dat hy die eerste Hollandse publikasie gestig het wat hom ook voorgeneem het om werk van waarde te publiseer. Ek dink nie hy is beskryf as vader van die Suid-Afrikaanse literatuur op grond van die gediggies en artikeltjies wat hy aangemoedig het nie – dit was bloot aanmoediging om sy mense, wat nie normaal sou skryf nie, aan die skryf te kry.

Die titel is eintlik hoofsaaklik gegrond op al die liggame wat hy tot stand gebring het wat met die literatuur verband hou, soos die Zuid-Afrikaansch Tractaat en Boek Genootschap, die Zuid-Afrikaansche Christelijke Boeken Vereeniging en die SA Bybelvereniging – alles wat met die geskrewe woord, en dus literatuur op een of ander manier, verband hou. Ek dink dus sy “titel” as “vader van die Suid-Afrikaanse literatuur” is gebaseer op sy pogings om skryf en lees aan die Kaap te bevorder.

En ook: Hoewel sy skryfwerk hoofsaaklik religieus-eties en geskiedkundig was, kan ’n mens tog sê dat sy pionierswerk as leier in die stryd om die behoud van die kultuur van die Hollandssprekende koloniste die grondslag gelê het vir wat daaruit sou ontwikkel wat betref die latere Afrikaanse joernalistiek en letterkunde.

’n Fassinerende stukkie geskiedenis waarna jy reeds hier bo verwys het, is dat Faure gekant was teen “uitgewekene boeren” se besluit om die Kaapkolonie te verlaat en na die binneland te trek, en hy het hulle in ’n sterk bewoorde brief ontmoedig om dit te doen. Hoe werp dié insident lig op Faure se politieke ingesteldheid?

Ek dink dit het twee gronde: een, die feit dat burgers hulle moet onderwerp aan die regering van die dag, uit ’n formele godsdienstige oogpunt, want daardie regering is deur ’n Hoër Hand oor hulle aangestel en hulle moet gehoorsaam wees daaraan.

Tweedens: dat daar geen herderlike begeleiding vir die trekkers sou wees nie, en dat ook dit in wese ongehoorsaamheid aan God aandui. Soos Heyns dit gestel het: “Met die goewerneur, by wie [Faure] hoog aangeskrewe was, het hy diep meegevoel in die verantwoordelike plig wat hom deur ’n Hoër Hand opgelê was”, en was dit die rede waarom hy nie ’n ondersteuner was van die burgers wat in 1838 uit die Kaapkolonie getrek het nie. Heyns het geskryf:

Dis om hierdie redes nie snaaks dat Faure met die sinode heelhartig akkoord gegaan het, en sy afkeuring te kenne gegee het oor die ontstellende wyse waarop honderde lidmate van die N.G. Kerk hulle gemeentes verlaat en sonder enige opgeleide kerklike leier die gevare van die woesterny tegemoet gegaan het. Faure het die herderlike brief van die Vyfde Sinode as Actuaris goedgekeur en onder die gemeentes laat versprei. In die brief is die “uitgewekene boeren” so veroordeel dat sommige predikante dit nie kon onderskryf nie. Die brief het die koloniste herinner aan hulle doopbelofte, voor die kansel afgelê, om die aardse gesag gehoorsaam te wees. Die toestande aan die oosgrens was beslis treurig, maar Faure het geglo dat dit so ’n groot waagstuk vir die kerk en die beskawing nie geregverdig het nie.

Faure was boonop oortuig dat die koloniste hul besluit uit onkunde geneem het: “Die trek was ’n opstandige daad wat volgens die Skrif nie goedgepraat kon word nie.” Faure self het deur ’n “ylingse poging” probeer om die trek te keer. Oor die trekkers het hy later geskryf (met implisiete kritiek op hul leiers):

The rising generation, following the example of their parents, is growing up more expert in the use of the gun than the knowledge of the alphabet: that their ignorance and credulity make them dupes of every designing individual, whose influence would be counteracted if good and efficient schoolmasters and faithful, zealous clergymen were placed amongst them. They may extinguish a fire before it has spread devastation, if acting with prudence and firmness.

Hoewel Faure so krities was oor die “Boere in die binneland van Afrika”, het hy nooit “die minste twyfel daaraan gehad dat die Kerk ’n besondere roeping teenoor hulle te vervul het nie”.

Faure het ongelooflik hard gewerk, ten spyte van die las van swak gesondheid. En daar is nooit ’n monument opgerig vir hom nie, al is sy nalatenskap monumentaal. Is daar maniere waarop sy naam by instellings in ere lewend gehou word, of sou jy ’n werklike standbeeld vir hom iewers wou sien staan?

“Hoewel daar dikwels van sy “siekte” gepraat word, is daar nêrens ’n aanduiding wat dit behels het nie.”

Soos wat Heyns skryf: Sy nalatenskap is eintlik die grootste monumente vir hom. Daaronder is daar twee instellings wat hy uitsonder. Die een is die Stellenbosse Kweekskool wat, soos Heyns skryf, “byna uitsluitlik die vrug is van die arbeid en volharding van Faure”, en die tweede die “Suid-Afrikaanse Kollege”, oftewel vandag se SACS en Universiteit van Kaapstad. Hy was “onvermoeid instrumenteel” in die stigting van dié eerste volwaardige skool vir jong mans aan die Kaap.

As ’n mens kyk na Faure se eintlik onbeskryflike werkywer, plus dan in ag neem dat daar tye was toe hy tot vier maande siek was – daar word gepraat van sy “langdurige siekte”, selfs toe hy nog betreklik jonk was, en hy graag by Kalkbaai moes gaan herstel – kan ’n mens nie anders as om te spekuleer of hy nie dalk aan ’n bipolêre gemoedstoestand gely het nie. Hoewel daar dikwels van sy “siekte” gepraat word, is daar nêrens ’n aanduiding wat dit behels het nie. Van wat ons vandag van bipolariteit weet, is dit asof dit op die lewe en werk van Faure pas.

Hy het byvoorbeeld ook ’n geweldige hoeveelheid “amptelike korrespondensie-werk” gehad – Heyns praat van “duisende briewe, van mense uit alle dele van die samelewing”, wat besonder “afmattend” was, en tog het hy tyd gevind “vir soveel aangename” briewe, “veral aan jongmense”. En: “Prettig is die groot aantal lugtige gediggies en berymde goeie wense wat hy vir sy jong vriende gestuur het.”

’n Mens kan jou maar eintlik net verstom, en laat inspireer, deur so ’n ware Renaissance-mens. Hoewel klein van postuur, ’n groter as groot figuur in sy tyd aan die Kaap, met boonop so ’n blywende en belangrike nalatenskap.

 

Nog LitNet Akademies-artikels deur Lizette Rabe

Lizette Rabe se artikel waarop hierdie onderhoud gebaseer is: Die oorsprong van die (Hollands-)Afrikaanse joernalistiek, die tydsgewrig, en Abraham Faure as pionier

’n Landboublad as “sosiale barometer”: Landbouweekblad as aanwyser van een eeu se landbou-ontwikkeling

Kroniek van ’n mondigwording? ’n Mediageskiedkundige herevaluering van die WVK, Naspers en Afrikaanse joernalistiek

Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as “skrif” van sy tyd

“Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie – Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top