
Abdullah Ibrahim: By Tore Sætre - Own work, CC BY-SA 4.0 (Via WikiMedia)
Vir die eerste keer ooit het Abdullah Ibrahim, voorheen bekend as Dollar Brand, Robbeneiland “besoek”. Op daardie stadium was alle musiek op die eiland verban. Volgens oorlewering het ’n prokureur ’n opname van een van Abdullah se komposisies in die beheerkamer ingesmokkel, die deure geblokkeer en die musiek oor luidsprekers na buite gespeel.
Dit sou Nelson Mandela se eerste aanhoor van musiek in dekades word.
In Oktober sou Abdullah Ibrahim 80 gewees het.
In 2014 het ek dié statige man se magic eerstehands beleef. ’n Lewende legende op ’n Bloemfonteinse verhoog en die samesnoerende krag van die uitvoering het my stom gelaat.
Die konsert sou duidelik laat begin en my Westerse gehoorsinisme het fluks opgebou en was gereed om oor te borrel. ’n Paar rye stoele voor my was leeg en ek het vermoed ons wag op ’n aantal BBP’s wie se horlosies op Afrika-tyd gestel is. Uiteindelik het dié stoele leeg gebly en ek sal nooit weet wat die rede vir die vertraging was nie.
Die konsertgangers is Bloemfonteiners, maar anders as gewoonlik, meestal onbekend aan my. Die oorgrote meerderheid het ek nog nooit teëgekom of ’n konsertsaal mee gedeel nie. ’n Verskeidenheid mense met ’n gemeenskaplike doelwit – om die legende, die persoon wat oor die jare met sy musiek hoop gebring het en wat die intrinsieke krag van musiek om mense saam te snoer en brûe te bou versinnebeeld, te beleef.
Die saal sit en wag met ingehoue asem op die Groot Man se aankoms.
En dan kom hy stadig van regs oor die verhoog aangestap – effens vooroorgeboë, amper skuifelend, bladmusiek in die hand. Erkennend.
Saggies begin hy speel – sy groot hande omvou die akkoorde soos gesonke katedrale, Debussy-agtig. Strelend. Polsend, maar nie gejaagd nie.
Die gehoor sit in absolute vervoering, stil. Die paar oningewydes, verstom.
Bietjie vir bietjie begin die melodieë bekend deurslaan, maar ’n mens moet mooi luister – die deuntjies is versteek – soos ’n wegkruipspeletjie, afhangend van hoe die musiek die maestro vanaand lei.
Dan kom die manne van die VSA by. Ekaya: vier koperblasers, ’n kontrabas en ’n drommer. Magic doubled. Elkeen ’n meesterlike vertolker van Cape jazz. Van ver oor die water, maar één in die musiek wat hulle saamsnoer. Met die musiek, met mekaar, met hul meester en met hul gehoor.
Abdullah is in volkome beheer, sy orkes paraat vir enige gebeurlikheid, enige wending, enige verandering van plan. Sy wysvinger beduie subtiel die rigting wat die musiek moet inslaan. Die ritmes pols, die atmosfeer bly gelade. Tussen nommers word daar nie op applous gewag nie. Die musiek stu net voort.
Reeds teen die einde van die eerste helfte spring die gehoor soos een man op vir ’n staande ovasie.
In die tweede deel van die program sorg “Mannenberg” vir ’n absolute ontploffing in die gehoor. Rondom my kan ek voel hoe breë glimlagte deurbreek. Vir elkeen beteken dié nie-amptelike SA volkslied iets persoonliks – dit bring ’n stukkie terug van die struggle en die oorwinning oor apartheid. “Mannenberg” raak die gom waarmee vanaand se konsertgangers, soos ’n reuseorganisme, saampols. Die voortstuwende vierslagmaat word die swaar grootwordjare, die vervulde en onvervulde drome.
“Cape Town flower”, “Blue bolero”, “Chisa”. Die byna orgasmiese oo’s en aa’s plof soos springmielies uit die stoele. O, hierdie is ’n bederf uit die boonste rakke. Agter my fluit ’n man saam, langs my sit ’n vrou met ’n groot glimlag en wieg, terwyl die musiek haar medereisigers stelselmatig hipnotiseer.
Ek wonder of Adolph Johannes Brand as ’n jong man op die Kaapse Vlakte geweet het dat hy eendag met sy musiek so ’n sintese sou meebring.
Madiba se benadrukking van sport as ’n universele krag om mense by mekaar te bring was beredeneerd. Ek sou egter graag aan Abdullah wou vra of hy ooit gedink het sy musiek sou dieselfde magiese uitwerking hê en of dit maar net ’n kwessie was van deuntjies en akkoorde wat in sy kop draal, wat moes uit.
Lees ook:
Wat hy geken het, wat hy saamgedra het: Abdullah Ibrahim en die musiek van sy tuiste
What he knew, what he carried: Abdullah Ibrahim and the music of home

