Abdullah Ibrahim, jazzikoon van internasionale statuur

  • 1

Abdullah Ibrahim: By Tore Sætre - Own work, CC BY-SA 4.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=193965020

As jong musiekstudente aan die destydse Bellville Onderwyskollege was ons blootstelling aan jazzmusiek redelik beperk. Die fokus van ons opleiding was klassieke musiek. En ons moes hard werk om die musiek van Beethoven, Mozart, Händel en vele ander klassieke komponiste onder die knie te kry.

Tydens een van my voorbereidingsessies vir my graad 8-eindeksamen vir klavier en sang aan die Royal Schools of Music het een van my dosente vir my die fassinerende verhaal van Abdullah Ibrahim vertel – ’n geniale jong man wat in Distrik Ses grootgeword het en wat hom op daardie stadium in die VSA bevind het, waar hy groot roem as jazzpianis verwerf het.

Distrik Ses was ook die plek waar my pa en sy ouers gebly het. Ek onthou hoe ons jaarliks as kinders per trein van Moravia-stasie naby Piketberg na Kaapstad-stasie gereis het om vir Ouma en Oupa van der Rheede in Distrik Ses te gaan kuier. Distrik Ses was ’n fassinerende plek waar mense nie net ’n oorlewingsbestaan gevoer het nie. Dit was ’n boeiende gemeenskap waar ’n ryke tapisserie van kerkmusiek, operamusiek, die musiek van die nagkore en klopse, jazzmusiek, popmusiek en langarmmusiek karakter gegee het aan mense se lewensbestaan. Musiekmaak was inderdaad die lewensaar van dié gemeenskap voordat apartheid die hart en siel daarvan met brute mag vernietig het.

Die eerste kerkorrelis uit Distrik Ses wat sy BMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, was Dan Ulster. Hy het ’n groot rol gespeel om kerkmusiek in die Morawiese Kerk te bevorder. Die beroemde komponis van film- en televisiemusiek in top flieks soos Notting Hill en The last of the Mohicans, Trevor Jones, was ook van Distrik Ses. Hy is ook onlangs deur die Presidensie met die Orde van Ikamanga vereer. Dan was daar ook May Abrahamse, ’n prominente lid van die Eoan Groep en ’n sopraan van formaat, wat in operas soos La Traviata, La Boheme en Madame Butterfly, roem verwerf het. Distrik Ses het ’n unieke ruimte vir musikante van alle agtergronde gebied om uiteenlopende musiekgenres te kon beoefen.

Dit is in hierdie era dat Abdullah Ibrahim (tot in 1968 bekend as Dollar Brand) as jong seun klavier leer speel het. In die 1960’s verlaat hy die land en begin skouers skuur met van die VSA se voorste jazzmusikante, onder andere Duke Ellington, wat hom gehelp het om tot die internasionale verhoog toe te tree. In 1974 stel hy die treffer “Mannenberg” bekend, ’n jazzkomposisie wat sinoniem raak met die stryd teen apartheid danksy musikante soos Basil Coetzee en Robbie Jansen wat dit tydens antiapartheidsbyeenkomste gespeel het.

Die gesprek met my dosent het ’n saadjie geplant om meer te wete te kom van Abdullah Ebrahim. Dit het ook die grondslag gelê vir om ook met jazz te eksperimenteer. (Natuurlik nie in die teenwoordigheid van die dosente, wat ’n streng klassiekemusiekbenadering gevolg het nie.) Ek kan goed onthou hoe meegesleur ek was met Ibrahim se komposisie getiteld “The wedding”. Dit het ek oor en oor na geluister en later nageboots op die klavier. Vir my was dit die mooiste, hartroerendste en perfekte jazzmelodie met ’n diep spirituele aanslag.

Terwyl ek die artikel skryf, luister ek daarna en lees van die kommentaar onderaan die YouTube-video. Een van die bewonderaars skryf:

What a beautiful melody! And how wonderful the harmonies. Great art – simple yet powerful in its expression! Thank you, Ibrahim!!! Time stands still, the music conveys a sense of eternity ...

Nog iemand skryf: “Teardropping masterwork ...”

Daar bestaan ook verskillende weergawes van hierdie ongelooflike melodie: vir klavier, saksofoon, strykorkes, klarinet. Ek was bevoorreg om ook hierdie komposisie te hoor toe hy dit by geleentheid saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes in Stellenbosch opgevoer het.

Die versameling African Suite, wat ’n hele aantal komposisies saam met die Jeugorkes van die Europese Gemeenskap bevat, is ’n demonstrasie van Ibrahim se unieke vakmanskap en musikale vermoë om Afrika-melodieë met jazz en ander klassieke elemente te integreer om ’n mens op ’n ryk en veelvlakkige musikale reis mee te sleur wat jou vir die res van jou lewe bybly.

Luister gerus na hierdie weergawe by https://youtu.be/mI0FgO-LHYg?si=gPFkHZa4nmTMW1s1.

’n Luisteraar beskryf dit soos volg: “If classical music and jazz music had a baby ... it would sound like that. I love the cross genre.”

My verhouding met Abdullah Ibrahim bereik egter ’n hoogtepunt in 2003 toe hy die skool waar ek sedert 1999 as prinsipaal aangestel was, gekies het om ’n musiekopleidingsprogram vir laerskoolkinders te loods. Vir die gemeenskap het dit baie beteken, want hul kinders kon nou leer om klavier, tromme, viool en ander instrumente te speel. Dit was een van die min skole in ’n agtergeblewe gebied wat ’n orkes gehad het. Van die leerders het later hul musiekstudies by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow voortgesit en ook aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege aan die Universiteit van Kaapstad. Vandag speel van hulle in verskillende top orkeste, soos die Mzansi Nasionale Simfoniese Orkes.

Abdullah Ibrahim se invloed strek veel verder as die unieke klanke van Distrik Ses, die townships en die klanke van Suid-Afrika en Afrika se stryd teen ongeregtigheid. Deur sy komposisies het hy nie net simfoniese diepte nie, maar ook blootstelling daaraan op die internasionale verhoog gegee. Dit leef voort in die gemeenskappe waar hy die grondslag vir die volgende geslag jazzmusikante gelê het. Dit leef voort op plaaslike en internasionale jazzverhoë. Dit leef voort in elke musikant wat hulde aan hom bring deur sy musiek hul eie te maak. Dit is die nalatenskap van ’n ware ikoon en toonbeeld van musikale integriteit.

Rus sag, my vriend.

  • 1

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Sy geboortenaam was Adolph Johannes Brand. Hy het vroeër in sy loopbaan bekend gestaan onder die verhoognaam Dollar Brand. Nadat hy hom in 1968 tot die Islam bekeer het, het hy sy naam amptelik na Abdullah Ibrahim verander.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top