Aardklop 2017: ’n Onderhoud met YOMA

  • 0

Menán van Heerden gesels met YOMA (Claudia Witbooi) oor OOR/EEN/STEM, met HemelBesem (Simon Witbooi), YOMA (Claudia Witbooi) en Coenie de Villiers.

Waar kom die idee vir OOR/EEN/STEM vandaan? Waarna kan die gehoor uitsien?

Ek, HemelBesem en Coenie is genader vir ’n show by die Taalmonument in Paarl verlede jaar. Toe ons met ’n konsep vorendag moes kom, het ons besluit om te praat oor dinge waaroor ons passievol voel.

Die show gaan oor hoe verskillend en tog dieselfde ons almal is en ons beeld dit lekker uit deur middel van teks en musiek. Dis ’n lekker impromptu show.

Ons het toe koppe bymekaar gesit om ’n naam uit te dink wat dit die beste sou saamvat en die briljante Simon het ’n aha!-oomblik gehad en sê toe: "OorEenStem".

HemelBesem (Simon Witbooi), YOMA (Claudia Witbooi) en Coenie de Villiers (grafika: aardklop.co.za)

Waar kom die naam YOMA vandaan?

YOMA sinspeel op “jou ma”.

Vertel meer van jou aktivisme in gemeenskappe.

Dis iets waaroor ek baie passievol is: ons mense! Ek werk met ATKV Crescendo, waar ons deur die land toer om opkomende en gevestigde kunstenaars ’n platform te bied om hul ding te doen. Hier skaaf ons graag ook aan karakter en berei die mense voor vir die bedryf daar buite. 

Ek kyk ook daarna om betrokke te raak by gemeenskapsprojekte hier bo in Johannesburg, Namibië en Prins Albert.

Watter temas raak jy aan in jou musiek?

Ek praat graag oor die huidige toestand van hip-hop, gemeenskapskwellinge, emosionele gesondheid, Afrikaans – ek probeer mense opbou deur my musiek en om vroue te bemagtig.

Tans is ek besig met my eerste konsepalbum, getitel Moedertaal, waar ek die reis van ma-wees deel en ook verskeie sosiale probleme op ’n poëtiese wyse aanspreek. Mense kan uitsien na features saam met Coenie de Villiers, Corlea Botha, DJ Ready D en nog vele ander super talentvolle kunstenaars.

Waar kom jou liefde vir digkuns en rymklets vandaan en wie inspireer jou?

Digkuns was nog altyd ’n wonderlike uitlaatklep vir my. Die hip-hop-gogga het kom byt toe ek meer leer oor wat hip-hop behels en besef dat ek my digkuns met die ritme daarvan kan meng – ’n nuwe wêreld het vir my oopgegaan.

Lauren Hill was nog altyd ’n groot inspirasie vir my. Ek waardeer haar eerlikheid, menslikheid en veral die feit dat sy haarself respekteer. Sy is ’n uitstekende musikant en legende in hierdie era. Ek luister ook graag ondere andere ‘60's-musiek, Bonobo en klassieke musiek. Omdat ek na verskeie genres luister, sal julle dit in my musiek ook hoor oorspoel. Ek is lief vir eksperimenteer.

Jy en HemelBesem is getroud – beïnvloed julle mekaar se musiek?

Definitief. Ek het groot respek vir hom as ’n kunstenaar en is sy grootste aanhanger! ’n Man met soveel integriteit, en ek dink hy's geniaal. Hy sê my hy's my grootste fan. Ag wat, dis net lekker om passievol oor dieselfde ding te wees en ’n verskil te kan maak in mense se lewens met die musiek. Ons tree ook graag saam op en elke keer is spesiaal. 

YOMA (Claudia Witbooi) (foto: Izak de Vries)

Word vroue genoeg in Afrikaanse rymklets verteenwoordig?

Ongelukkig nie. Dus wanneer ons die land plat toer, praat ek met duisende dames oor hoe belangrik dit is om jou stem te laat hoor en jou opinie te lug. Niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Dis vir my belangrik om vroue te bemagtig waar ek kan. Soveel vroue word afgekraak deur haatspraak, veral wanneer dit kom by die "new school" Amerikaanse standaard van hip-hop. Dit maak my hartseer, want hip-hop is ’n mooi, opbouende kultuur. Ek is YOMA in Afrikaans, om te wys dat dit lekker kan wees om jouself in jou moedertaal uit te druk. 

Saam met taal kom identiteit en kultuur – moet nooit jou moedertaal minag of ander toelaat om dit te doen nie. As jy wil rym in Afrikaans, doen dit dan. Dis ons taal.

YOMA se optrede by die WAT se Woordpret op 26 Mei 2017:

Vertel vir ons meer van jou passie vir Afrikaans, vorige projekte en toekomstige projekte.

Afrikaans lê so na aan my hart. Dis wie ek is, hoe ek oorkom en myself die beste kan uitdruk. Vir my is die doel van kuns juis om bloot te stel wie jy is. Ek het agtergekom dat daar duisende mense is wat nie hulself in hul moedertaal uitdruk nie agv die stigma wat daarmee gepaard gaan. Ek probeer dit breek, want saam met taal kom identiteit en karakter. Wat is die doel van kuns as jy nie jouself ten volle daarin kan uitdruk nie.

Tans werk ek aan my eerste konsepalbum, Moedertaal. Dit word hierdie jaar Desember of volgende jaar Januarie vrygestel. 

Ek blog ook vir Rooi Rose en deel graag wat ek as swanger vrou ervaar – dis als ’n aanloop tot die vrystelling van my album.

Ek is ’n trotste ambassadeur vir TICIA asook MUD Afrika. Wat ’n groot voorreg, om te kan wys wat moontlik is vir ’n Afrikaanse dame in Suid-Afrika.

YOMA en HemelBesem (foto: Liné Enslin)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top