2018: Mercy Kannemeyer gesels oor teaterhoogtepunte by kunstefeeste

  • 0

Kunstefeeste vorm deel van die hartklop van ons verskillende kulture. Die faktore wat moet saamwerk om ’n kunstefees tot sy reg te laat kom, is uiteenlopend. Teater tot musiek tot kuns tot debat tot kosstalletjies.

As ’n voorstander en bewonderaar van kunstefeeste, glo ek soos wat Martie Meiring op 8 Oktober 2018 op Voertaal skryf dat groot feeste die “temperatuur” van ons land meet.  Die uiterlike affekteer die innerlike. Kunstefeeste gebeur nie in isolasie nie en dit sal skadelik wees indien dit wat op ’n gegewe tydstip in die land aan die gebeur is, nié op een of ander manier by ’n kunstefees uitgelig word nie.

Ek skat myself gelukkig dat ek vanjaar ’n hele paar kunstefeeste kon bywoon. Ek was onder andere by die US Woordfees, Suidoosterfees, KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees), Vrystaat Kunstefees en Aardklop.

David Binder gesels in ’n Ted Talk getiteld “The Arts Festival Revolution” oor die impak wat ’n kunstefees op ’n dorp kan hê. Binder noem onder andere dat die viering van kultuur die hoogste vorm van uitdrukking van die menslike gees is. En die viering van ’n kultuur – wat daardie betrokke kultuur ook al behels – is tydens ’n kunstefees teenwoordig. Hoe die vorm daarvan ook al mag lyk – in ’n dans, in ’n teaterstuk, in die tipe musiek waarheen gehore stroom, in ’n roosterkoek oor die vuur. 

’n Kunstefees het die vermoë om mense saam te bring en sodoende ’n platform te wees vir groei en ontwikkeling. Myns insiens is gehore een van die belangrikste elemente van ’n fees, want die werk word tog vir mense geskep. Binder praat verder oor feeste en sê: “Festivals promote diversity, they bring neighbours into dialogue, they increase creativity, they offer opportunities for civic pride, they improve our general psychological wellbeing. In short, they make cities better places to live.”

Die voordele wat ’n fees vir ’n dorp inhou, mits dit behoorlik bestuur word, in ag genome die ekonomiese hupstoot wat met ’n fees gepaardgaan, is legio. En die kunstefeeste wat ek vanjaar bygewoon het, het elk op verskeie gebiede hiervan getuig. Dit verg egter ’n veel langer artikel. Ek wil graag oor teater en gesprekke gesels.

Ek is tans besig met my meestersgraad in Drama en Teaterstudie en is gereeld op die uitkyk vir interessante teaterproduksies.

Tydens vanjaar se US Woordfees het die produksie Ons is almal freaks hier geskryf deur Ingrid Winterbach, lank nadat ek die vertoning gekyk het, nog in my kop gedwaal. Die storie, wat in ’n neutedop handel oor Saartjie Baartman en die manier waarop sy vir die wêreld vertoon was, het gesorg vir nodige gesprekke rondom kulturele toeëiening. Wie mag nou eintlik wie se stories vertel? Tydens ’n teatergesprek oor die produksie het Winterbach gesê dat die storie nou al vir byna 20 jaar saam met haar aankom. Die uiteinde was ’n goed nagevorsde verhaal gepaardgaande met genoeg verbeeldingrykheid om ’n storie op die planke te bring wat aan die hartsnare roer.

Rokkie, geskryf deur die Khoe-aktivis en skrywer Denver Breda, wat by die Suidoosterfees opgevoer is, handel oor die lewe van ’n transgendervrou. Hulle noem haar Rokkie en sy maak gereed om vir haar geslagsveranderingsoperasie te gaan. Die storie bly ’n mens by omdat daar nog nie genoeg van dié stemme in die teaterwêreld is nie. Charlton George se vertolking van Rokkie is beeldskoon en hy kry dit reg om die gehoor op ’n tog deur Rokkie se wel en weë te neem.

By die KKNK was die produksie Babbelagtig ’n hoogtepunt. Narrespel vir oud en jonk wat jou herinner dat ons meer gereeld vir onsself moet lag, word hier aangetref. Wat my die meeste van Babbelagtig opgeval het, is die brabbeltaal wat gebruik word. In ’n taalsensitiewe land soos Suid-Afrika, is dit blywend dat daar ’n produksie soos hierdie kan wees – een met ’n wye teikengehoor en ’n kamma-kamma taal wat niemand verstaan nie, maar tog ook hééltemal weet waaroor die storie gaan. Verder was dit kleurvol, speels en propvol a-ha!- en ta-da!-oomblikke.

Jefferson J Dirks-Korkee (foto verskaf)

Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee wat tydens die Vrystaat Kunstefees gespeel het, het veral beïndruk deur die manier waarop die akteur die storie gedra het sowel as die manier waarop dit geskryf is. Die stuk handel oor gesinsgeweld en die vertelling was rou. Die akteur neem die gehoor deur middel van sy afgeronde spel na ’n wêreld wat hulle dalk nie sal ken nie, en laat hulle dan aan die einde met ’n traan in die oog vry.

GodgOdgoD, geskep deur Mount Maak, belig vrae en realiteite rakende die skeppingsproses. Dié multidissiplinêre teater-aanbieding is enig in sy soort – eksperimentele teater, met ’n wye teikengehoor, wat opvoed én vermaak. Die geselskap wandel ook op die randjie van dinge waaroor ons samelewing dikwels swyg – geloof vervleg met wetenskap is dikwels ’n moeilike gesprek, maar dié produksie wys dat dit nie so hoef te wees nie. Uiteraard stap ’n mens van GodgOdgoD af weg en wonder “wat kan ek doen?”, want ons is besig om die aarde te vernietig. Myns insiens moet ALMAL hierdie produksie kyk.

Tydens Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom het produksies soos Huishou en Toutjies en Ferreira uitgestaan.

Huishou: Nadia Valvekens en Cintaine Schutte

Huishou, geskryf deur Philip Rademeyer met regie deur Nico Scheepers en spel deur Cintaine Schutte en Nadia Valvekens, handel oor ’n gay-paartjie waar die jonger vrou ’n identiteitskrisis beleef en die ouer vrou besef haar biologiese uurglas is besig om leeg te loop. Hulle wil ’n swart baba aanneem, maar weens onder andere identiteitspolitiek ervaar hulle moeilikheid. Dié stuk bly ’n mens by as gevolg van die betowerende spel vanaf albei die aktrises en die manier waarop die teks nie enige politiese aspekte oorpolitiseer nie. Boonop is dit ’n groot plus dat LGBTQI+-onderwerpe soos hierdie nie genoeg in die Afrikaanse toneelbedryf gedek word nie – Huishou kom net betyds, want ek glo die queer-gesprek in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf gaan nog behoorlik vlamvat.

Toutjies en Ferreira, geskryf deur Saartjie Botha met regie deur Nicole Holm en Wolf Britz word as ’n dubbeldosis-teaterstuk verpak. In die eerste deel sien die gehoor wat tydens ’n kunstefees gebeur voor die deure vir ’n vertoning open. In die tweede deel speel die stuk waarvoor voorberei is. Wat hierdie produksie besonders maak, is hoe jy skaterlag in deel een en dan in deel twee heeltemal meegevoer word deur die manier waarop die storie bymekaarkom. Die gebeure in deel twee handel oor ’n ouer paartjie, die Ferreira’s wat hul dogter se huis oppak. Hul kinders emigreer. Hulle raak ouer. ’n Bekende prentjie vir talle Suid-Afrikaners.

In dié produksie kry die gehoor die geleentheid om agter die skerms te sien, wat die waardering vir deel twee – wanneer die produksie waarvoor voorberei is, speel – soveel groter maak, want ’n mens besef teater is harde werk. Uit Botha se meesterlike teks kan wye afleidings gemaak word – die omgee van ouers, grond en talle mense se behoefte om net iewers te behoort.

Diskoerse is ’n belangrike deel van samekoms. Teaterstukke lok dikwels gesprek uit. Daar is wel mense wat meen ons praat te veel en doen te min, maar die voordeel van gesprekke is natuurlik dat dit ’n platform bied waar opinies gewissel kan word. Sodoende is daar ruimte om te luister en te leer.

Ten slotte – kunstefeeste het ’n nasionale sowel as ’n plaaslike verantwoordelikheid. Dit is die werk van ’n kunstefees om hul gehore se behoeftes op die voorgrond te stel en dan betrokke te bly by groter gesprekke wat in die samelewing plaasvind. “Sonder populêre kultuur sal ons nie kunstefeeste kan hê nie,” sê Saartjie Botha aan Hanlie Retief op 11 Maart 2018 op Netwerk24. Ons moet almal ons ore op die grond hou. Kunstefeeste is ’n wonderlike plek van samekoms, vermaak, opvoeding en lekker laatnagjol. Ek sien geweldig uit na 2019!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top