Ons is almal freaks hier: ’n resensie

  • 1

Die storie handel oor die lewe en dood van Saartjie Baartman, wat in 1810 per skip vertrek het na Londen, waar sy later in Parys uitgestal is vanwee haar liggaamsbou wat vir die mense van daardie tyd vir groot vermaak gesorg het. Saartjie Baartman het toe ’n ikoniese figuur geword, tot haar dood in 1815. Daarna is haar liggaamsdele in Frankryk uitgestal en in 2002 word haar oorskot teruggestuur na haar tuisdorp in Suid-Afrika.

In Winterbach se teaterstuk word Saartjie Baartman se naam nie een keer genoem nie, en so word ’n universele storie van vrouwees vertel. Almal weet dit gaan oor Baartman, maar deur haar nie op haar naam te noem nie, word sy byna vergod; haar naam word te heilig om uit te spreek. En met goeie reg, want nadat ek Ons is almal freaks hier gesien het, het dit gevoel asof ek nodig het om direk daarna met vroue in gesprek te tree. Want hier word ’n storie vertel van ’n vrou, en ’n deel van haar sit in die meeste van ons. Hoe kan ons dit ignoreer?

Tydens die Woordfees was daar ook ’n teatergesprek oor die produksie, waar Saartjie Botha in gesprek getree het met Nicole Holm, Ingrid Winterbach en Lee-Ann van Rooi. Een van Botha se eerste vrae aan Winterbach was hoekom sy besluit het om die toneelstuk te skryf, waarop Winterbach geantwoord het dat terwyl sy in 1998 klasgegee het by die Universiteit van KwaZulu-Natal en ’n uitnodiging ontvang het om iets te skryf, sy onmiddellik besluit het om iets oor Saartjie Baartman te skryf.  Daar was ’n paar ou woordeboeke waar sy klasgegee het, en sy was geïnteresseerd in woorde wat nou nie meer regtig gebruik word nie, byvoorbeeld Hottentotwoorde, soos swartasempie.

Winterbach het ook na Saartjie se begrafnis op televisie gekyk en “dit was heeltemal fassinerend”. Sy onthou ook dat die begrafnis vir haar ’n “baie baie vreemde belewenis” was. Winterbach sit al 20 jaar met die teks vir Ons is almal freaks hier, dus was dit vir seker nie ’n ligte besluit om die teks vanjaar op te voer nie.

Botha se volgende vraag het my ook nogal laat wonder. Sy vra vir Winterbach of haar perspektiewe op of indrukke van die teks en die storielyn verander het soos die tyd verloop het, waarop Winterbach “nee” antwoord. Die kern van die prosateks is behou en sy “was wel bewus daarvan dat Saartjie Baartman meteens hot stuff geword het. Daar was oral tekste en verwysings na haar.”

Wat die regie betref, noem Holm dat sy ’n intuïtiewe benadering tot die teks gevolg het. Sy het baie oorgelaat aan Smith en Van Rooi, en het aanvanklik gesukkel met die isolasie van regisseur wees. Winterbach het bygevoeg dat dit net reg gevoel het om Holm as die regisseur te kies. En ek stem saam – die spel was fyn en duidelik, met die nodige nuanses om die teks, wat aanvanklik moeilik op die oor val, maar geleidelik duideliker word, uit te lig en elke gehoorlid op ’n tog deur die Sasol-museum te lei.

Op ’n vraag aan Van Rooi oor die uitdagings wat sy in die gesig gestaar het, antwoord sy: “Dit was baie baie moeilik. Om myself as bruin vrou in die oë te kyk, my ma, my ouma, al die mense wat voor my geloop het, die vrou wat daar lê, die kind wat sit sonder ma, sonder pa. Die teks het so ver gevoel, ek kon nie naby kom nie. Toe besef ek ek moet net spring om daar uit te kom, en toe ek spring, het dit alles verander. Elke dag as ons speel was dit vir my ’n ongelooflike ding, want jy het nie die veiligheid van ’n verhoog nie, jy is deel van die mense. Jy moet hulle lei deur iets. Ek is nie net Lee-Ann nie, maar the actress, the Sarah for now, flavour of the moment, die vrou, die freak.”

Die begeleiding deur die museum dra vir seker by tot ’n magiese dog donker teaterervaring, want die gehoor wat so saam-saam deur die museum skoffel, word deel van die toeskouers wat gekom het om die freaks te aanskou. As gehoorlid het ek ook onkant betrap gevoel, want soos jy staan en kyk na die aksie en toneelspel, kyk jy ook na die gehoorlede wat oorkant jou staan of sit, en die hele proses voel soos ’n ontbloting, ’n ontmaskering – dit voel asof jy vir die persoon oorkant jou wil sê: “Ons is saam in hierdie ding.”

Oor eienaarskap en stories

Wie van ons sal ooit werklik weet? Ek het baie uitgesien na die produksie om eerstens te sien hoe dit opgevoer word, en tweedens omdat ek oortuig was dat die projek sal sorg vir interessante gesprekke oor kulturele appropriasie, eienaarskap en stories. Daar is ’n stroom van jong bruin mense wat meen: hier is ons, laat ons toe om ons eie stories te vertel. Daar is natuurlik niks wat ons keer nie. En dan aan die ander kant, wie van ons sal ooit werklik weet? Daar bestaan ’n groot grys area in die debat, want wie besit wie se stories? Besit enige van ons enige stories? Of is ons gedeelde erfenis so groot dat ons maar mekaar se stories mag vertel? Dit raak egter ontsaglik ingewikkeld wanneer ’n groep mense vir lank nie ’n stem gehad het nie, en nou, wanneer die stem en die platform daar is, word hul stories steeds namens hulle vertel. Maar ek sê weer, daar is niks wat die jong generasie keer om dié tipe stories te vertel nie.

Ons is almal freaks hier maak my opgewonde en ek sien uit na nog sulke gesprekke!


 

Ons is almal freaks hier
Deur: Ingrid Winterbach
Regie: Nicole Holm
Met: Lee-Ann van Rooi, Kay Smith en Albert Pretorius

  • 1

Kommentaar

  • By my eerste Woordfees omtrent 12 jaar gelede het ek onder die bekoring van Diana Ferrus se verse gekom en vir die eerste keer die aangrypende Baartman gedig gehoor. Dus het ek uitgesien na “Ons is almal freaks hier” maar op ’n vreemde manier het dit my onvergenoegd gelaat.
    Kay Smith se amper woordelose en intense voorstelling van “Sarah” was baie treffend: die lieflike, weerlose meisie tot freak gemaak. Die toneel waar sy so verbete aan daardie truitjie rem om haar waardigheid te probeer behou, sal my lank bybly.
    Maar die oordadig gegrimeerde verteller in daardie blinkertjiesrok wat kwalik haar parte kon binne hou het my dwars in die krop gesteek - wat natuurlik ook die bedoeling van toneel is. Ek kon nie uitmaak hoekom sy so freakerig moes oorkom nie.
    Op ’n manier het dit my herinner aan die feministiese versugting na respek terwyl vroue/meisies dikwels so disrespekvol optree teenoor hulle omgewing. Baie sigbaar op ’n universiteitskampus waar meisies rondloop wat lyk of hulle net terloops ’n klas moet bywoon terwyl hulle eintlik reeds op pad strand toe is.
    Lyk my ek sal die teks moet lees as ek regtig wil weet wat die skryfster gesê het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top