Ons is almal freaks hier: kladaantekeninge vanuit die gehoor

  • 0

’n Koproduksie van die US Woordfees en Kunste Onbeperk
Regie: Nicole Holm
Teks: Ingrid Winterbach
Verhoogbestuurder: Danielle Louw
Akteurs: Lee-Ann van Rooi, Kay Smith, Albert Pretorius

 

In 1810 vertrek ’n vrou van die suidpunt van Afrika onder (waarskynlik) valse voorwendsels per skip na Londen. Sy word later ’n “tentoonstelling” in Parys en sterf in 1815 in ellende. Haar liggaam word tot 1974 in ’n museum in Frankryk uitgestal. In 2002 word haar oorskot na Suid-Afrika teruggebring en in haar oorspronklike geboortestreek op Hankey ter ruste gelê. (Lees nog inligting hier.) 

Die ruimte

Night at the museum. “In the jungle, the mighty jungle, the lion sleeps tonight,” speel in die agtergrond terwyl die gehoor hul plekke net duskant die US-museum se voorportaal inneem. Speelse musiek, met ironiese subtekste gelaai.

Hier begin die ongemaklike reis. Die verhaal van Saartjie Baartman word vertel sonder om haar naam een enkele keer te noem. Die gehoor reis saam met die verteller, Saartjie en haar sogenaamde weldoener deur die tyd, oor die see, en in die US-kunsmuseum. Wanneer Saartjie op uitstalling oorsee is, staan sy reg voor die “Jagter-versamelaar: Boesmans”-kennisgewing.

Ons kan nie miskyk waar ons is nie, ons die lede van die gehoor van die vertoning; ons, ook aktiewe lede van die besigtiging van Saartjie Baartman, asof ons terugverplaas is in die tyd en kaartjies gekoop het om haar te kom kyk, soos die buitelanders destyds gemaak het. Die museum vertel soveel stories. Daar is kuns, daar is geskiedenis wat geskryf is met die skrywers van die geskiedenis se vingerafdrukke wat sigbaar op alles is. Saartjie dans by ’n paal langs die trap, en Albert Pretorius is die verraderlike marionettemeester met die sagte aanslag en die harde oë.

Ons reis voort en ons voel asof ons nie liggaamspasie het nie. Ons is te veel mense wat mekaar vertrap om na Saartjie Baartman te kom kyk. Ons staan tot vlak teen haar. Ons kyk na haar, al wil ons nie. Sy wil ook nie dat ons na haar kyk nie. Maar niemand van ons kan wegkom nie.

Uiteindelik spring ons ’n ontsettende sprong in die tyd. Een oomblik het ons nog vir Saartjie gekyk, en toe is sy dood. Nou is dit die 21ste eeu. Haar oorskot word teruggebring Suid-Afrika toe en nou is ons die aktiewe deelnemende gehoor wat kaartjies gekoop het om die ekonomie ’n inspuiting te gee en wat deelneem aan die oordadige karnavaleske partytjie van haar terugkoms. Die klank oor die luidsprekers is te hard. Die man wat haar welkom heet, terug in die land, is wit. Hy skreeu dat almal hom hoor. Ten slotte bespeel ’n man ’n tradisionele instrument; sy musiek is al wat agterbly. Toe hy klaar gespeel het en buig, klap die gehoor vir hom hande.

Ons wag dat ons kan hande klap vir die akteurs, maar hulle kom nie terug nie. Ons was nie hulle gehoor nie, ons was deelnemers.

Laaste kladaantekening is ’n klad op die naam. Ons kyk nog die hele tyd, slaan gade. Ons is almal freaks hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top