NP Van Wyk Louw (1906–1970)

  • 2

Gebore en getoë

Nicolaas Petrus Van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 op Sutherland gebore. Hy was die tweede oudste seun van die prokureur Bismarck von Moltke Louw en die oudste van twee digter-seuns. Die jongste van die vier broers is die bekende letterkundige en digter WEG (Gladstone) Louw. Van Wyk se ander broers was Koos en Bismarck.

Van Wyk deel ’n bloedlyn met heelwat ander Afrikaanse skrywers wat ’n familieverband het met Oupa Klaas Honderdjaar (Nicolaas Salomon Louw) wat van 1810 tot 1910 geleef het en op die plaas Groot Toren, noord van Calvinia, in die Hantam gebly het. Ander skrywers wat die bloedlyn deel, is WEG Louw, Anna M Louw, George Louw, Peter Louw, Rona Rupert, Charles Fryer, Willem Steenkamp, Nico Louw, Johnita le Roux en Pieter Strauss.

Die stamvader was die eerste geleerde uit die ou familie Louw van Calvinia, en hulle moeder, Martha Hendrina Johanna Fredrika (of Poppie, soos sy bekend gestaan het), stam uit die Van Wyks wat baie geslagte lank skaapboer op Sutherland was. Van Wyk het dan ook groot gedeeltes van sy jeug op Gunsfontein en Boesmanshoek, sy moeder se familieplase, deurgebring.

Soos baie Kaapse gesinne was die Louws Engels-georiënteerd, maar Van Wyk was van jongs af met ’n oortuigde nasiegevoel besiel.

JC Steyn skryf in sy biografie: "Die afgesonderde maar weidse Karoo-wêreld met sy strawwe winters en sy besondere plantegroei en verskeidenheid diere en voëls het aan hom die regte agtergrond besorg waarin hy in afgesonderdheid kon peins en wonder."

Van Wyk se begaafdheid was vandat hy ’n kind was, al duidelik. Hy het ’n besondere aanvoeling vir die klavier gehad en was so goed daarmee dat sy familie van mening was dat hy ’n loopbaan van sy musiek sou maak. Hy was veral lief vir die musiek van Bach, Beethoven en Mozart. Hy het ook ’n liefde gehad vir outydse plaasdanse en volksliedjies.

Vir hom was die feit dat hy in ’n streek gebore is waar Afrikaans nog “byna heeltemal ongerep en skoon was”, een van ’n paar stukke geluk wat hom by geboorte getref het. Engels was egter die voertaal op skool toe hy en sy ouer broer, Koos, in 1911 op Sutherland begin skoolgaan het.

Daarby het hy ’n fotografiese geheue gehad, wat volgens hom “’n afskuwelike ding” kan wees. Op skool het die onderwysers hom by sy ouers gaan verkla omdat hulle gedink het hy skryf af in die eksamen. Hy het alles woordeliks weergegee. Van Wyk het hieroor gesê: “Vir ’n digter is so ’n geheue iets ellendigs. ’n Mens is byna te bang om iets te lees, en as jy poësie lees, lees jy so gou as moontlik daarna ’n speurverhaal sodat jy dit nie in jou geheue vasvang nie.”

Sy eerste gedig – in Nederlands – met die titel “Bij een siekbed” het hy geskryf toe hy agt jaar oud was.

Op dertienjarige ouderdom is Van Wyk saam met sy familie na Kaapstad, waar die nuwe natuurskoon – die veelvuldige kleure van die Bolandse berge en valleie – hom beïndruk het Al hierdie dinge het sekerlik meegewerk tot die vorming van die jong man wat later ’n digter sou word.

Hy het al sy skoolopleiding in Engels ontvang – eers aan die plaaslike skool op Sutherland, soos reeds genoem, en later aan die South African College (SACS) in Kaapstad – met Nederlands as tweede taal. Boerneef was een van sy onderwysers.

Verdere studie en werk

  • Studie en werk

Na voltooiing van sy skoolloopbaan is Van Wyk in 1923 na die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1925 sy BA-graad behaal, in 1926 sy MA in Duits, en daarna sy BEd. Boerneef was hier een van sy dosente.

Nadat hy ’n jaar lank op Steynsburg onderwys gegee het, is hy in 1929 aangestel as lektor in die Fakulteit Opvoedkunde aan sy alma mater, ’n pos wat hy beklee het totdat hy aan die begin van 1950 na Nederland vertrek het.

In 1935 is hy aangestel as sekretaris van die Vereniging vir die Vrye Boek (VVB), wat onder meer gehelp het met die publikasie van Hettie Smit se roman Sy kom met die sekelmaan.

Hy, Gladstone (sy broer) en die letterkundige HA Mulder stig dan die letterkundige tydskrif Standpunte.

Van Wyk was ook ’n bekende en hoogaangeskrewe vryskutverslaggewer. Vanaf 1936 tot 1946 het hy ’n blad in die destydse Jongspan versorg, vir Die Huisgenoot geskryf en selfs in Nederland in koerante en oor die radio oor die groot vloed van 1953 verslag gedoen.

  • Persoonlike lewe

In 1930 is Van Wyk met Joan Wessels getroud en uit hierdie huwelik is twee dogters gebore: Ria, wat in 1964 oorlede is, en Anna (Nakkie), wat later met Koos Human getroud is. Hierdie huwelik was teen Desember 1937 op die rotse weens Van Wyk se verhouding met Truida Pohl, vrou van Fred le Roux. In 1941 is hy met Truida getroud; sy het baie van sy dramatiese werk opgevoer, tekste van sy poësie verwerk en hom as skrywer op baie maniere bygestaan. Twee kinders, Pieter en Reinet, is uit die huwelik gebore.

Van Wyk se huis in Cliftonwas vir baie jare lank dié plek waar digters en skrywers, asook ander besoekers, nie net van plaaslike plekke nie, maar ook van veral Nederland en België, bymekaargekom het.

In 1946 ontmoet Van Wyk Louw vir die eerste keer vir Sheila Cussons in sy Cliftonse huis toe sy en haar eerste man, Stoffel Nienaber, hom op afspraak daar besoek het. Hulle het weer kontak gehad nadat Van Wyk as hoogleraar in Februarie 1950 in Amsterdam aangekom het. Nienaber moes terugkeer na Suid-Afrika om sy vader se begrafnis by te woon en Truida Louw en haar kinders sou eers later na Nederland gaan. Hierdie omstandighede het Van Wyk en Sheila se vriendskap verstewig en nie lank na sy aankoms in Nederland nie, het hulle vriendskap ’n ernstige verhouding geword.

In Insig van Januarie 1999 vertel Sheila aan Amanda Botha dat Van Wyk daarop aangedring het dat sy vir Stoffel ná sy terugkeer uit Suid-Afrika moet vertel dat hulle op mekaar verlief is en dat sy hom wil verlaat. Van Wyk sou daarna vir Truida inlig dat hy haar wil verlaat. “Maar voordat sy dit kon aankondig, het Nienaber vir Sheila en Louw die middag in Vondelpark saam gesien en Sheila gekonfronteer. Sheila het Nienaber kort daarna verlaat en alleen in Stadionplein gaan woon. Hier het haar en Louw se verhouding in alle erns voortgegaan."

Daar was volgens Sheila ’n "onmiddellike aanvoeling" tussen haar en Louw. Eers het hulle saam gaan dans en kort daarna was hulle elke middag en aand saam. "'’n Heerlike argumenteerdery het baie van ons saamwees gekenmerk – dit was idee teen idee en argument teen argument,’ onthou sy. Hulle het nie maklik kop gegee nie. ’n Wye reeks onderwerpe was deel van die gesprek – ‘die skilderkuns, die poësie, die Katolisisme, die liefde en die lewe’." Hulle was veral lief om gedigte te lees wanneer hulle saam was.

Amanda Botha het verder geskryf: “Hulle het in twee leunstoele teenoor mekaar gesit en Louw het voorgelees – eie werk, maar meesal die gedigte van WB Yeats (hul gunstelingdigter; Sheila se geskenkeksemplaar van Yeats se versamelde werk dra ’n inskripsie van Louw wat afsluit met die ewigheidsteken, die ‘simbool van ewigdurende liefde’), Ezra Pound, Gerard Manley Hopkins, TS Eliot, Emily Dickinson en Lorca. [...] Oor bepaalde gedigte en reëls uit gedigte van die bogenoemde digters het hulle intense gesprekke, selfs meningsverskille gehad, wat hierdie ontmoetings boeiend en onderhoudend gemaak het. ’n Gunsteling-aktiwiteit van ‘saam wees en saam doen’ was die skryf van gedigte. Hulle het groot plesier gehad met die kies van onderwerpe waaroor elkeen ’n vers moes skryf en dan het hulle die digpogings agterna by mekaar aangepas. Elkeen het ’n beurt gehad om ’n tema te noem en dan het die aand verloop met glasies jenewer, potlood en papier om reëls neer te skryf. ‘Dit was pure plesier – dit was ons gunsteling saamwees.’”

Nadat die verhouding tussen Cussons en Louw geëindig het, het Van Wyk desperaat probeer om Truida te oortuig dat sy moet terugkom na hom toe. In Mei 1957 het daar egter ’n groot breuk in Louw se verhouding met Truida ontstaan, maar hulle is tog later herenig.

In 1950 het die gesin na Johannesburg teruggekeer en het hulle jare lank in Parkview gewoon in ’n baie lekker huis met ’n pragtige tuin. Van Wyk Louw was baie lief vir tuinmaak en die studie van plante en blomme. Vroeg in 1970 is hulle na ’n nuwe huis in Linden, ook in Johannesburg.

Van Wyk se gesondheid het in November 1961 ’n knou gekry toe hy ’n trombose-aanval by sy huis in Parkview gehad het. Dit was ’n redelik ernstige aanval, maar die spesialis was van mening dat hy nie lank van sy werk af sou weg wees nie. Sy gesondheid het egter ’n bron van kommer gebly en in 1969 het die dokters hom na ’n ondersoek afgeraai om ’n hartoorplanting te hê. Hy het gereeld mediese dokters gaan spreek, maar sy gesondheid was die laaste ses maande voor sy dood redelik goed.

Enkele weke voor sy dood het daar ’n agteruitgang ingetree toe hy brongitis opgedoen het. Ten spyte hiervan het hy aangegaan met sy werk. Die aand van 18 Junie 1970 is hy, nadat hy en sy skoonseun lank gesels het, vroeg bed toe. Toe hy die volgende oggend laat nog in die kamer was, het Truida gegaan om hom wakker te maak. Sy het hom egter dood in sy bed aangetref.

Daar is tydens ’n roudiens in die NG Kerk in Vyfde Straat in Linden op 22 Junie 1970 wat deur sy swaer, ds Willie Huyzers, gelei is, van NP van Wyk Louw afskeid geneem. Die teks was Jeremia 31:3: “Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” Ernst van Heerden het namens die familie die bedankings gedoen. Die verassing was privaat.

Louw se private boekery (sowat 14 000 bande oor literatuur, wysbegeerte, staatsleer, geskiedenis, teologie en ander) is deur die Randse Afrikaanse Universiteit aangeskaf, terwyl sy manuskripte en ander dokumente in die dokumentasiesentrum van die Universiteit Stellenbosch gehuisves word.

  • Akademiese lewe

In 1948 ken die Rijksuniversiteit van Utrecht in Nederland ’n eredoktorsgraad in die letterkunde aan Van Wyk Louw toe op grond van die baanbrekerswerk wat hy op die gebied van die jong Afrikaanse letterkunde verrig het en as bewys van die verbondenheid van Suid-Afrika met Nederland. Hierdie toekenning was nie alleenlik ’n verering van die 42-jarige digter en essayis nie, maar ook ’n erkenning en verering van die Afrikaanse letterkunde op internasionale vlak. Hy het hierdie graad persoonlik in ontvangs geneem en ’n verdere agt maande in die buiteland vertoef.

In 1950 het hy die leerstoel van buitengewone leraar in “de taal van Zuid-Afrika” aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam met sy rykvoorsiene boekery aanvaar. Die titel van sy intreerede was “Die digter as intellektueel”.

Hy is ook versoek om lesings oor die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteite van Leiden, Utrecht en Groningen aan te bied. Sy lesings was veelsydig en omvattend en het gestrek oor die Suid-Afrikaanse taal, letterkunde, kultuur en geskiedenis. Verskeie letterkundiges van naam het gedurende hierdie jare (1950–1958) sy lesings bygewoon.

Eredoktorsgrade is deur die Universiteite Stellenbosch, Utrecht en Rhodes aan hom toegeken. Hy was ook lid van die Koninklike Vlaamse Akademie en van die Fryske Akademie.

  • Publikasies

In 1935 verskyn Van Wyk Louw se eerste digbundel, Alleenspraak, waarvoor hy in dieselfde jaar met die Hertzogprys bekroon word. Hy wys dit egter van die hand, omdat die prys aan hom en ID du Plessis gesamentlik toegeken is.

DJ Opperman meld in sy Digters van dertig dat "Van Wyk Louw se belangstelling in die heroïese reeds in Alleenspraak te sien is, asook sy strewe na die suiwer woord, die suiwer en hoë gedagte, die strewe na die goddelike, sy verlangende uitreik na die skoonheid. In hierdie eerste bundel word ook die eensaamheid van die kunstenaar ’n tema. Die mens wat skoonheid nastreef, en so ook die stryder, moet dikwels die eensame paaie bewandel.”

CJM (Stoffel) Nienaber het die volgende oor Alleenspraak geskryf: "Die waarde van die woord is die opvallendste kenmerk van sy voldrae eerste bundel, waarin hy in versigtig-afgewoë verse, met die woord as rykste besit, aan sy alleensprake oor die diepste sin van ons menslike bestaan gestalte en duursaamheid wou gee."

Die verse in Alleenspraak tref vir Gerrit Dekker (Die Burger, 11 November 1935) nie deur "breedgolwende ritme, deur musikaliteit nie, maar wel deur die natuurlike ritme, die beheerstheid, die lusiditeit, die verfyning van uitdrukkingsvermoë. Wie hoopvol uitsien na die vernuwing van ons digkuns, sal die ontwikkelingsgang van hierdie digter belangstellend volg.”

Hy vergelyk die bundel met Die ryker dwaas van Van Wyk se broer, WEG Louw, maar is van mening dat Van Wyk se poësie ryper en meer eenvoudig is met ’n sterker harmoniese persoonlikheid. "Sy poësie word ook gekenmerk deur die individuele, en ook die individualistiese, van sy voele en denke."

In 1937 volg Die halwe kring, in 1938 die feesstuk Die dieper reg, in 1941 Raka, en in 1942 Gestaltes en diere. Met hierdie vier werke wat oor ’n tydperk van slegs sewe jaar verskyn het, het Van Wyk Louw Afrikaans se "grootste en roemrykste verteenwoordiger" geword, volgens Meinhard Peters (Fragmente, 1999).

In Die halwe kring blyk die erns wat die digter met die digkuns het, nog helderder as in sy eerste bundel en kom sy bewustheid van die roeping van die digter nog sterker na vore. Die resensent in Die Unie (Maart 1938) skryf dat hy die grootste gedeelte van die boek nie verstaan het nie.

Volgens Gerrit Dekker (Die Huisgenoot, 11 Maart 1938) openbaar Die halwe kring ’n "duidelike verdieping en groei van Louw se digterspersoonlikheid. 'Vier gebede by jaargetye in die Boland' behoort tot die allerbeste wat daar in ons taal met die sonnetvorm bereik is. Die vergeestelikte siening van die natuur bereik sy hoogste vlug in die ekstaties-jubilerende slot van ‘Sneeu’, die hoë noot, waarop hierdie bundel eindig. Louw bring hier ’n heeltemal nuwe ontwikkeling in ons digkuns sodat ons na die moderne Europese poësie, met name die Dietse, moet gaan om ’n vergelykingsbasis te vind."

Met die Voortrekker-eeufees in 1938 word Die dieper reg: ’n spel van die oordeel oor ’n volk deur Nasionale Pers uitgegee. Dit is ’n koorspel wat gees en gehalte betref, ’n werk soos ons van Louw sou verwag het, skryf Gerrit Dekker in Die Huisgenoot (9 September 1938). Vooraan die stuk gee Louw ’n opsomming daarvan: "Die Voortrekkers verskyn ná hul sterwe in die Saal van die Ewige Geregtigheid om die oordeel oor hul dade te verneem. ’n Voorspraak noem hul dade en verklaar hul beweegredes. ’n Aanklaer ontken die waarde van hul dade, en eis hul vernietiging. Die Trekkers noem hul lyding, maar eis hul reg, nie om die smart wat hulle verduur het alleen nie, maar om die daad self waarmee hulle die geloof aan hul bloedsbesef se waarde betuig het; en hulle vermoed dat ook daardie bloedsbesef die uiting van die wil van God is. Aan die einde klink die Stem van die Geregtigheid op om die sekerheid te gee dat die kragtige en eenvoudige daad van die Trekkers voor God regvaardig is en dat hulle as volk in die land wat hulle verower het, sal bly bestaan.” Die dieper reg is in 1938 met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument die eerste keer opgevoer met Anna Neethling-Pohl as regisseur.

FCL Bosman (Die Burger, 24 September 1938) was in verskillende opsigte teleurgesteld met Die dieper reg. "’n Tweeslagtigheid in die benaming van die stuk pla my, want terwyl die skrywer dit ’n 'spel' noem, noem die uitgewers dit ’n 'gedig oor die Voortrekkers'. Ek word ook nie veel wyser omtrent dit wat die diepere reg is nie. Dit is my grootste beswaar teen die stuk, want die betekenis kom nie helder en duidelik uit nie en dus verloor dit sy 'raison d’être'.

In teenstelling hiermee is Die dieper reg vir FEJ Malherbe (Ons Eie Boek, Julie–September 1938) "geen teruggaan na die patriotiese trant van vroeër van Louw nie; eerder toon hy in die streng persoonlike styl en in die voortsetting van die beste in sy vorige digkuns hoe hy moderne digter kan wees in verdiepte en verfynde skoonheid en tog Afrikaans getrou kan hou aan wat hy 'die bloedbesef se waarde' noem."

Dekker beskryf Die dieper reg as "geen volkskuns nie, nóg wat die gees nóg wat die vorm betref. Dit staan, nieteenstaande die Bybelse taal en beelde wat daar telkens in hul primêre krag voorkom, heeltemal buite die Calvinisme van die Trekkers – die grondkonsepsie druis in meer as een opsig lynreg daarteen in. Dis ook geen gemoedelik-vaderlandse samespraak geskik vir opvoering deur plattelandse kultuurverenigings nie. Dis die tot hewige kuns deurgloeide, bo alle ‘toevallige’ tydsverskynsels en gebeurtenisse uitstygende vertolking van die sin van ons verlede deur ’n twintigste-eeuse, uit gans ander religieuse oortuiging lewende digter, die verbeelding van sy tot essensie gesuiwerde geloof in die geroepenheid van sy volk.”

In 1939 word Louw se bundel prosabeskouings Lojale verset gepubliseer. In die motto vir hierdie bundel vat hy die begrip lojale verset as volg saam: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.” Onder verskillende hoofde lewer die skrywer kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging. Veral is sy aanvalle gemik teen die selfgenoegsaamheid, “die versteende gedagte” wat elke nuwe lewensuiting in ons kultuur wil dooddruk.

FIJ van Rensburg skryf in Beeld van 16 Junie 1995 dat lojale verset ’n konsep is wat lynreg uit Louw se nasionalisme voortgekom het. "Oor die nasionalisme as sodanig, dus as universele konsep, wat met ander woorde nie net by klein volke voorkom nie, maar ook by die grotes, al sou dit in hulle geval taamlik verskuild wees, sê hy: 'Dit sluit die politiek nie uit nie, maar sluit ook baie meer as politiek in. Dit is ’n vurige meeleef met alles wat in die volk omgaan; dis ’n liefde vir die dinge wat die volk trotser en bewuster maak; dis medelye met sy swaarkry en stryd teen dié wat hom laat swaar kry; dis bitter haat teen alles wat kleinlik in die volk is en alles wat sy trots aantas en hom kleineer.’”

Gerrit Dekker (Die Burger, 25 November 1939) het Lojale verset nie gelees as ’n boekie "met verhole leedvermaak om die pikante van die aanvalle op gesaghebbende literatore of met nobele verontwaardiging oor die astrante spot met eerbiedwaardige kultuur- en literatuurleiers nie. Vir my is dit ’n uiters verblydende en belangrike verskyning in ons jong letterkunde. Verblydend en belangrik om die eerlike, onverskrokke toon wat voortvloei nie uit jeugdige bravour nie, maar uit ’n diep oortuiging, uit die skrywer se hartstogtelike besef van die geroepenheid van sy volk, van sy geslag en van homself as kunstenaar. Oor die skerpheid van die aanvalle op enkele persone en op ons letterkundige kritiek en toestande in die algemeen kan verskil van mening bestaan, oor die hoogheid van sy strewe nie.”

Van Wyk se gewildste en bekendste werk, die epos Raka, is in 1941 gepubliseer. Daar was later nie alleen heruitgawes nie, maar ook spesiale uitgawes, en om sy 60ste verjaardag in 1966 te gedenk is ’n luukse uitgawe met litografieë deur die kunstenaar Katrine Harries uitgegee. Raka is ook vertaal in Duits (deur Kellner) en Engels (deur Dawes), sowel as in Zoeloe, Sotho en Xhosa vir uitsendings deur die SAUK.

In sy bespreking van Raka beskryf HA Mulder (Ons Eie Boek, Desember 1945) dit as ’n "klein epos met ’n objektiewe verteltrant waardeur die digter se persoonlike visie, sy innerlike konflikte, sy ontroering as die bron waaraan die gedig ontspring, gesien kan word. Maar hierdie subjektiewe elemente word as ’t ware verberg in die objektiewe verhaal. Ook is daar ’n sterk dramatiese element in Raka, maar ook dít word ondergeskik gemaak aan die breë tafereel wat die digter skilder. Behalwe die objektiewe verhaaltrant, met die woordplastiek as hoofbestanddeel, vind ons ook ander kenmerke van die ou epos in Raka terug: die uitbeelding van reusegroot gestaltes (Raka en Koki), die simboliek daarin, en die mitologiese atmosfeer, wat veral deur die tradisies van die stam, sy spreekwoorde, raaisels, liedere en danse gevorm word. Die groot verskil tussen ’n ou en moderne epos, soos Raka, is dat die moderne digter veel meer uitdrukking gee aan sy persoonlike probleme. ’n Moderne epos sal dus oor die algemeen veel subjektiewer wees, sodat dit ál moeiliker word om die grens tussen epiek en liriek skerp te trek. Die ritme van Raka vorm die belangrikste ontroeringsfaktor in die gedig. Die ritme is baie onreëlmatig, besiel met driftige lewe wat dit eers vinnig, dan weer stadig laat voortvloei."

In Die Vrye Afrikaan van 21 Julie 2006 skryf Lina Spies: "Raka isdeel van die kollektiewe onderbewuste van die Afrikaanssprekende, soos onder meer blyk uit die feit dat daar nog gereeld oor die betekenis van die gedig en oor die karakter van sy protagonis Koki en sy antagonis Raka gedebatteer en gepolemiseer word."

Spies haal DJ Opperman aan wat Raka gesien het as die massamens. Hierdie massamens – Opperman praat ook van die “oermens” – is die een wat los raak van “alle tradisies, kultuur en godsdiens”; hy ken hoofsaaklik “seks, spel en spier”. “Raka is die verskyning voor die Westerse beskawing van hierdie mens: honderde tonne wellustige, vernielsugtige, spierkragtige, vlees – die opstand van die horde wat die ondergang van die Weste meebring. Koki offer hom vir die waardes waarvan sy stamgenote, onder die bose bekoring van Raka, losgeraak het. Hierdie waardes is ten diepste transendente waardes; waardes van die gees wat vir die mens uitsig gee op wat duskant die einders lê van sy alledaagse, fisiese bestaan," sê Spies.

Stefans Grové het Raka omskep in ’n “Toondig in die vorm van ’n concerto vir klavier en orkes”. Oor hierdie toondig skryf Paul Boekkooi: "Grové het, met sy rype scala van Afrika-elemente die spanning wat tussen Van Wyk Louw se versreëls verskuil lê, met ’n meesterlike sin vir suggestie na vore gebring." Die première van Grové se klavierkonsert was op 28 Augustus 1998 in Pretoria, met Gérard Korsten as dirigent en die Kaapstadse pianis Mark Nixon.

In 1999 is Raka ook as woord- en klankaanbieding in die Teaterhuisie in Pretoria aangebied met Carel Trichardt en Petru Wessels as die woordkunstenaars, aangevul deur die toweragtige klankeffekte van Abraham en Lizanne Helberg (Marimba!). Paul Boekkooi (Beeld, 22 April 1999) was die volgende mening aangedaan: "Met die beeldrykheid van die woord wat sentraal staan, asook die magiese ouditiewe van ’n alomteenwoordige Afrika-misterie wat deur die twee musici voortgebring word, word ’n nuwe eenheid geskep wat die digter se grensloosheid onderskryf."

Van Wyk Louw se kwartet van sonnette, “Drie diere”, het die komponis Peter Klatzow gelei tot die musiek vir ’n ballet wat deur Veronica Paeper gekoreografeer is. “Drie diere” is in 1942 geskryf, ’n tyd van wêreldspanning tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dit weerspieël hoofsaaklik die oorheersende vrees by die digter dat die laaste dierlike roofinstinkte in die mens weer te voorskyn kan kom. Die bundel Gestaltes en diere word met “Drie diere” afgesluit. In sy gedig plaas Van Wyk Louw die Sfinks eerste, gevolg deur die Assiriese Bul en derde die Arend. In die ballet staan die Sfinks egter sentraal. Klatzow verduidelik dat die Bul en die Arend soortgelyk is: “Al twee is manifestasies van brute krag en verwoesting. Dis om hierdie rede dat ons die twee diere in die ballet geskei het deur die Sfinks in die middel te plaas.” Die ballet Drie diere is vir die eerste keer in 1980 in die destydse Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer en in 1997 in die Baxter-teater, ook in Kaapstad.

Gestaltes en diere verskyn in 1942 en twee van Louw se allergrootste gedigte kom hierin voor, naamlik “Die hond van God” en “Die swart luiperd”. Ernst van Heerden (Standpunte, Junie 1966) beskryf laasgenoemde gedig as een van daardie soort literêre meesterstukke wat eenmaal in ’n geslag voorkom en wat só ’n komplekse reaksie by die leser wakker roep en so by elke herlees nuwe verwikkeldhede van menslike ervaring ontbloot dat ons intuïtief weet dat ons met ’n groot kunswerk te doen het. Van Heerden meen dat “Die hond van God” ’n pragtige eenheid is, eintlik ’n klein drama, met sy eie dramatiese verloop, sy stiller en hewiger momente, sy terugskouings en introspeksies.

In 1952 verskyn Dias: ’n hoorspel wat, volgens WAP Smit (Die Huisgenoot, 27 Maart 1953), kragtens die dialoogvorm en sy algemene opset die meeste aansluit by Die dieper reg en fragmente uit Germanicus wat in 1946 in Standpunte gepubliseer is. “Ten aansien van Die dieper reg strek die verwantskap hom só ver uit, dat in albei gevalle die dramatiese struktuur nie essensieel blyk nie en die wese van albei liries is. Vir Dias geld dit in nog sterker mate as vir die spel uit 1938 – in so ’n mate selfs dat die figuur van Dias, soos hy hier vir ons geteken word, hom asof vanself voeg in die reeks ‘gestaltes’ uit Van Wyk Louw se liriese bundels, met name die Profeet uit Die halwe kring en ‘Die Hond van God’ uit Gestaltes en diere. Die rymlose verse van Dias bevat telkens pragtige gedeeltes en dit is waardig om werk van Van Wyk Louw te wees – maar ek sal dit derde op die lys van Louw se verskene oeuvre plaas, ná Gestaltes en diere en Die halwe kring en Raka."

Vir AP Grové (Ons Eie Boek, 1953) toon Dias ernstige struktuurgebreke: “[D]it bly ’n aaneenskakeling van los episodes, verbind met prosakommentaar, sodat daar van ’n strak spanningskurwe nouliks sprake kan wees. Verder het hierdie stuk ’n eenpersoonspel gebly. Die byfigure is so vaag dat die konflik enigsins teoreties aandoen, met die gevolg dat Dias se stryd en neerlaag, sy uiteindelike gelatenheid en ondergang dramaties nie oortuig nie. [...] Gesien teen die agtergrond van Louw se ontwikkelingsgang as digter wil dit dus voorkom of hy hom met die Dias-figuur ’n haas onmoontlike taak gestel het. Ná gestaltes soos die profeet, die inkwisiteur, die visser en die jagter (uit Die swart luiperd) sou Dias tot ’n karakter van enorme formaat moes uitgroei om nie die indruk van ’n soort epigoneprofeet te maak nie. En dit, meen ek, sou, om mee te begin, ’n drama van veel groter opset as hierdie hoorspel vereis.”

Hoewel Louw gedurende sy Amsterdamse verblyf slegs een digbundel, Nuwe verse (1954), gepubliseer het, het die meeste gedigte wat later in Tristia (1962) opgeneem is, reeds hulle ontstaan hier gehad.

Nuwe verse het ontstaan tussen 1945 en 1953 en is dus gedeeltelik in die Nederlandse “ballingskap” geskryf, "in hoë mate vergroeid met die Afrika-son en -veld. Die titels van die gedigte bewys dit, soos 'Wrede landskap', 'Clifton' en 'Duif en perd' wat ’n beeld gee van die digter se Karoo-jeug, om van die 'Klipwerk' nie eens te praat nie. Nuwe verse proe suidelik en somers," het AP Grové in Ons Eie Boek van 1954 geskryf.

Rob Antonissen skryf in Die Huisgenoot van 12 November 1954 dat Nuwe verse "onmiskenbaar bestaan uit poësie wat, in gedagte (veral), houding en (gedeeltelik) vorm, in so ’n mate nuut en anders is dat die titel daardeur ten volle geregverdig word. Met Nuwe verse maak Van Wyk Louw wel deeglik ’n nuwe begin, al sou dit nooit volkome verstaanbaar wees sonder sy vroeëre werk nie.” Volgens Antonissen is Nuwe verse, eenders en anders, na Gestaltes en diere geen daling nie en het Van Wyk Louw “hiermee vir sy kuns ’n nuwe verskiet oopgeslaan”.

In Nuwe verse verskyn die gedig “Die beiteltjie", wat deur Antonissen beskryf word as een van die wonderlikste gedigte wat amper soos ’n kinderversie aanhef en ook speelsgewys verder ontwikkel. “Van Wyk Louw het hier ’n gedig geskep wat uniek is in die Afrikaanse letterkunde: aan die onberekenbare krag van nietige handelinge, aan die metafisiese draagwydte van die digter se ‘spel’-met-ritme-en-rym, gee ‘Die beiteltjie’ gestalte in ’n boeiende kruising van argeloosheid en raffinement.”

Een van die afdelings in Nuwe verse is “Klipwerk” wat volgens Antonissen sonder twyfel wel die “nuutste” verskynsel in die Afrikaanse digkuns is. "Elementêre poësie is in 'Klipwerk' volop. Die afdeling bestaan uit ’n dertigtal bladsye kleurlingrympies – jeugherinneringe? en dan in hoever deur die digter bewerk? – die meeste skynbaar ‘betekenisloos’ en ‘onderbeskaaf’. Nietighede, maar met dieselfde potensie as ons menslike nietigheid; so belangrik as die nietigheid van die rym en van die klein woord se beitelwerk. Dis klein skerwe van blink woorde, waarin flitse leef van die aarde se heerlikheid en (dikwels grotesk-voorkomende) flitse van die besetenheid van die aarde deur magiese magte, goddelike en sataniese.”

In 1958 is die Hertzogprys weer aan Van Wyk Louw toegeken – hierdie keer vir sy kritiese prosa wat vervat is in die bundels Die “mens” agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde. Dit was die eerste keer dat die Hertzogprys vir Kritiese Prosa en Essay aan iemand toegeken word. In sy huldigingswoord het Gerhard Beukes gesê dat dit ’n vreugde is dat die Akademieraad eenparig besluit het om dit aan NP Van Wyk Louw toe te ken. “Van Wyk Louw is nie net ’n groot en belangrike digter nie, hy is ook ’n geestelike leier in ’n ander besondere sin van die woord. Die volwasse, intellektuele besinning en verantwoordelikheidsgevoel van die Afrikaanse mens teenoor eie geestesdinge en sy plek, hoe nederig ook al, in die ry van beskaafde volkere, was en is nog steeds begrippe wat Van Wyk Louw se denke volkome oorheers. Daarom was hy deur al die jare in sy kritiese arbeid die onversaagde inkwisiteur, die soeker na daardie waarheid en suiwerheid wat die voedingsbron vir eie denkrigting en waardeoordele moet bly indien ook die Afrikaanse Gedagte sy deel tot die universele beskawingsbydrae wil lewer. [...] Met die toekenning van hierdie onderskeiding aan NP Van Wyk Louw eer die Akademie nie net ’n ywerige padbreker en wegwyser na nuwe geesteshorisonne nie, maar toon ook daarmee dat hierdie liggaam as die avant-garde van die Afrikaanse intellektuele lewe ‘skoon en helder dinge’ kan herken en waardeer” (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Oktober 1959).

Die “mens” agter die boek (1956) bestaan uit opstelle wat van 16 Januarie tot 3 April 1953 in Die Huisgenoot verskyn het as deel van die reeks "Die Oop Gesprek". Nasionale Boekhandel het besluit om ’n spesiale uitgawe te laat druk om hulde te bring aan Louw in die jaar wat hy 50 word. Dit is in ’n beperkte oplaag van 300 genommerde eksemplare gedruk en aan belangstellendes wat ’n waglys geteken het, beskikbaar gestel. Al 300 bundels was uitverkoop toe die bundels in die boekwinkels verskyn.

Kort na Van Wyk se terugkoms in Suid-Afrika is sy versdrama Germanicus met die ingebruikneming van die Aula-teater in Pretoria deur die Nasionale Toneelorganisasie opgevoer. Gedeeltes van Germanicus het ook in Standpunte verskyn. Die stuk is die eerste keer in 1947 deur die SAUK uitgesaai, weer in 1956 met Louw se 50ste verjaardag, en ook in 1975 as deel van die taaljaarprogram.

In 1960 word die Hertzogprys aan Louw toegeken vir Germanicus. Tydens die toekenning het AP Grové gesê dat "Louw ’n groot bydrae gelewer het tot die mooi en blywende dinge in die Afrikaanse taal. Hierdie dinge is ’n pleitgrond vir die voortbestaan van die Afrikaanse volk, en daarom moet ons aan hom dankie sê.” Hy het die bekroning van Germanicus as ’n “vanselfsprekende bekroning” beskryf. Van Wyk het in sy toespraak verduidelik dat hy die terrein van die drama betree het “om die geluid van meer as één instrument te hoor”.

MS du Buson skryf in Tydskrif vir Letterkunde (Junie 1957): “Germanicus self is die losgemaakte uit die kosmiese eenheid vanweë sy verset teen die voos toestande in die Romeinse Ryk onder keisers Augustus en Tiberius. Menslikergewys is nog veel van hom verwag, inagnemende sy heldedade aan die front in Germanië. Hy is nie die tragiese held wat deur innerlike verskeurdheid gefolter word en wat deur botsende magte heen en weer geslinger word nie. Hy is die krygsman; hy is bewus van die toestande van verval in Rome en is vervul met die drang om te hervorm. In plaas daarvan dat Germanicus heldhaftige pogings aanwend om hom met die kosmos op ’n hoër, hervormde vlak te vereenselwig, is hy die persoon ‘deur wie se wil so baie barste loop’. Wanneer hy hom in die teenwoordigheid van Tiberius bevind en wanneer ons hervormingsoptrede van hom verwag, verneem ons slegs by herhaling dat hy toegelaat moet word om te rus. Germanicus aanvaar die benoeming as opperbevelhebber oor die Romeinse Ryk se besittings in die Ooste, en Piso word goewerneur van Assirië. Die komplot van Livia Augusta en Plancina (Piso se vrou) om Germanicus geleidelik te vergewe, word hier in die Ooste ten uitvoer gebring.”

Du Buson het geskryf dat die tegniek om die tragiese held "skuldig-onskuldig" uit te beeld, nie geslaagd was nie. "Die tragedie is nie moontlik in die geval van die held wat die begrensinge transendeer nie. Tog tel Germanicus onder die beste dramas in Afrikaans: die meesterlike skildering van die voos en verrotte toestande in die Romeinse Ryk in die begin van die Christelike jaartelling; die forse karakterbeelding in die persone van Livia, Tiberius, Piso en Thusnelda; die konflikte wat met volgehoue intensiteit gehandhaaf is: tussen Piso en Germanicus en Livia en Thusnelda.”

Met die verskyning van die 1963-uitgawe van Vernuwing in die prosa het Van Wyk Louw toevoegings gemaak tot die uitgawe wat in 1961 verskyn het. Sy teenkritiek teen Opperman en Grové se besprekings van die eerste uitgawe word hier opgeneem, asook opmerkings oor Lobola vir die lewe van André P Brink en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, wat albei ná 1961 gepubliseer is.

TT Cloete (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 1964)) voel dat hierdie boek in ’n sekere sin ’n "boek van prosateorie genoem kan word, hoewel Louw hom eerder toespits op die Afrikaanse romankuns. Dit is in elk geval ons beste (en eintlik ons eerste) teoretiese boek in Afrikaans oor die prosakuns, en ’n mooi toevoeging tot Van Wyk Louw se ander literêr-teoretiese geskrifte."

In Nederland het Louw, op versoek van die SAUK, die teks van die radiofoniese opera Asterion geskryf waarvoor Henk Badings die musiek gekomponeer het. Van Wyk het self gesê die teks is “vir 99,9 persent dieselfde as wat getoonset is en kan dus gebruik word by die luister na die radio-opera”. Dit is op 11 April 1958 vir die eerste keer deur die SAUK uitgesaai en in 1965 gepubliseer.

PG du Plessis (Sondagkoerant, 27 Junie 1965) beskryf die verhaal van Asterion as eenvoudig: "aan ’n hof word ’n Magiër deur die prinses gevra om iets nuuts te maak vir ’n verveelde volk. Hy maak ’n Magiër, ’n skerf van homself – Asterion. Maar Asterion sien slegs die skoonheid van die voltooide, die absolute en dus statiese: sirkels, glas. Die skoonheid van lewe, gang, lyne wat toegee, dié ken hy nie. In ’n Midastog waarin hy alles (water, graan) tot die absolute stilstand maak, die lelike, ou en onvolgroeides laat sterf, word hy ’n bedreiging. Die ou Magiër moet die skerf van homself laat sterf sodat die tyd weer kan vloei. Ek hoop dat operaliefhebbers Asterion sal lees – al is dit dan net om ’n slag te kyk hoe ’n libretto lyk en kan lyk as dit goed is. Dit is ’n kunswerk uit eie reg."

Drie hoorspele van Van Wyk Louw, Die held, Dagboek van ’n soldaat en Lewenslyn, verskyn in 1962 en 1963. In 1982 is die drie in een bundel uitgegee.

Dagboek van ’n soldaat se handeling is geskryf rondom die Bevrydingsleër wat uit jong idealiste bestaan, wat probeer om ’n eilandvolk te bevry deur ’n opstand teen die diktator te beplan. "Op konkrete vlak veg hulle uit die staanspoor teen oorweldigende magte – rou en jong rekrute, min wapens, onvoldoende kos, geïmproviseerde telefone, ensovoorts. Hulle brandende geesdrif alleen is ook nie bestand teen twee verdere struikelblokke op geestelike vlak nie: Eerstens die volk se wanbegrip van die doel van die rebellie en tweedens die verlammende en verwarrende besef dat Lobos nie beskaaf gaan veg nie wat lei tot die geleidelike verswakking van die Bevrydingsleër se strewe."

Estelle Stumpf (Inset, Junie 1962) skryf: "As hoorspel lê die aksie van die drama slegs in die taal, en hier dra treffende beelde veral daartoe by om die dramatiese handeling van die verhaal te intensiveer. Die dagboekvorm met tussenflitse maak groot variasie in toneel, aksie en styl moontlik. Terselfdertyd verleen dit ook kontinuïteit en ’n persoonlike toon aan die verhaal – dit is nie net die geskiedenis van die Bevrydingsleër nie, maar ook dié van die stryd van één man – Gerardo, die mens. [...] Die skrywer beeld fyn uit, die ironiese kontras tussen die leër se geesdrif en die slapheid van die volk of die huigelagtige ‘geesdrif op plate’ van Lobos se magte.” Vir Stumpf besit Dagboek van ’n soldaat nie die felle tragiek van Germanicus nie en bereik dit ook nie die poëtiese hoogtepunte nie, maar dit is ’n groot werk, dikwels intens-dramaties en deurgaans baie dinamies.

Volgens Lina Spies (Inset, September 1962) word die veelduidigheid en onpeilbaarheid van mens- en held-wees in Die held belig. “Die Duitse besettingsleër in Frankryk het veel moeite van die sogenaamde ondergrondse verset. Kolonel von Oberhorst slaag egter daarin om die leier van die beweging in sy distrik, Jacques Baudier, deur SS-kaptein, Müller gevange te laat neem. Dieselfde nag word ook Louis Girod op Baudier se plaas gewond en gevang met die veronderstelling dat hy volgens afspraak ’n geheime vergadering van die versetsbeweging wou bywoon. Later voor die krygsraad erken Girod aandadigheid, weier om die name van medepligtiges bekend te maak en word ter dood veroordeel. Louis bely egter die nag voor sy teregstelling aan die militêre geneesheer, dr René Ménard, dat hy geen held is nie, maar ’n gewone dief. Sy sending na Baudier se plaas was gerig op inbraak en nie op ’n vergadering nie. Hy belet die dokter om Kolonel von Oberhorst van sy ‘onskuld’ te gaan oortuig, want ‘Miskien moet ek juis sterf vir wat ek nie gedoen het nie, ómdat ek dit nie gedoen het nie. En vir wat ek van my gemaak het.’ Sy vrou en kinders sal ook gelukkiger wees as hulle dink hulle vader was ’n held. So sterf Louis Girod as ’n held en word hy jaarliks saam met ander wat hulle lewens vir Frankryk in die Tweede Wêreldoorlog gegee het, gehuldig.”

Vir Spies was die karakterisering nie sterk genoeg nie. Die spanningslyn is egter strak en die omkeer aan die einde is goed gemotiveer en ’n totale verrassing. Hoewel die taalgebruik sober is en gemaklik vloei, kom die oppervlakkigheid van Die held sterk na vore as dit met die skrywer se ander dramas vergelyk word.

Lewenslyn vertel die verhaal van Esmé, ’n koorddanseres en later die motorfietsjaer teen die dodemuur. Sy verongeluk reg aan die begin van die hoorspel en moet voor Morse, die "alwetende, selelteerder, stasiemeester of opsigter" te staan kom. "Hy laat haar haar hart in ’n spieël sien. Deur die funksie wat Morse vervul, kry ons ’n insig in die lewe en karakter van Esmé wat die sentrale gegewe van hierdie hoorspel is", aldus JL Steyn (Vaderland, 26 April 1963). “Vir hom kan sy nie lieg nie, en deur hom word die leuen wat haar lewe was, blootgelê. Sy smeek Morse vir ’n tweede kans sodat sy kan teruggaan dat sy word wat sy wou word. Die tweede kans word haar gegun en sy kan die laaste twee jaar van haar lewe oorleef, maar van die 'hemelse' episode sal sy niks kan onthou nie. Morse se woorde word bewaarheid: Esmé leef haar tweede lewe weer soos haar eerste met identiese gevolge. Lewenslyn is ’n eenpersoonsdrama. Esmé se belangrikste teenspeler is die bo-aardse wese Morse.”

Steyn beskou Lewenslyn as nie van dieselfde gehalte as Germanicus nie, maar dit is veral weens die besondere konsepsie daarvan en die feit dat die hoofkarakter baie oortuigend uitgebeeld word, tog ’n werk wat Van Wyk Louw waardig is.

In 1962 verskyn Louw se laaste groot bundel, Tristia. Die meeste gedigte in die bundel is tussen 1950 en 1957 geskryf. Hiervoor het hy in 1962 die CNA-prys ontvang en in 1965 is dit met die Hertzogprys bekroon. Tydens die oorhandiging van die CNA-prys aan hom het hy in sy repliek op AM van Schoor se huldeblyk die twee begrippe vernuwing en sensuur aangeroer: “As ’n skrywer ’n ware skrywer is, sal hy nie nadink oor hoe hy homself en sy skrywe kan vernuwe nie. Hy sal net sy sê sê en as dit iets van ’n werklik individuele stuk lewe gee en redelik goed verwoord is, kan dit dalk ’n vernuwing wees. Wat seker is, is dat die navolging van ’n buitelandse of selfs ’n eielandse modestroming nooit ’n werklike vernuwing kan bring nie. Die man wat navolg, vernuwe nie; hy loop net agter ander se vernuwings aan.” Oor die begrip sensuur het hy gesê dat dit die openbare aanklaer sal wees wat ’n klag aanhangig moet maak en dat dít hom ’n ietsie gerusstel.

“Die feit dat ons howe moet besluit oor wat verderflike lektuur is, stel my nog meer gerus. As ons howe ook oor literêre waarde sou moes besluit, sou baie van my gerustheid verdwyn. Ons vrees bly egter nog, in weerwil van alle gerusstellings: Sal uitgewer én skrywer nie in die toekoms té versigtig wees nie? Gedwing word om te wees nie? Ons wat ’n eksperimentele volk is – ons versigtig!” Hy het sy toespraak as volg afgesluit: “Daar word gesê dat 1962 ’n goeie wynjaar vir ons letterkunde was. Mag ons hoop dat sensuur dit nie tot die laaste goeie wynjaar maak in ’n letterkunde wat nog so kort bestaan, wat nog nie sy Bredero, sy Shakespeare of Rabelais het om na terug te gryp nie.”

Volgens AP Grové (Die Huisgenoot, 12 April 1963) is Tristia oorwegend ’n “noordelike bundel”, soos die titel aandui. “Teenoor die trots van ’nuwe’ verse staan nou die triestigheid van die jongste titel, ontleen aan Ovidius se Tristia – klaagsange wat hy rig tot sy vriende in die ‘warm’ Rome vanuit sy ‘koue’ ballingsoord aan die Swart See. [...] Die meeste titels is ook noordelik soos ‘Meifees in Amsterdam’, ‘Otto dei Visconti’, ‘Innocentius III’. Tallose gedigte wat ontstaan het om die naam en figuur van kunstenaars, denkers en heiliges, maak hierdie bundel Europees, wysgerig miskien, abstrak, ysig, sekerlik gesofistikeerd – noordelik, noordelik en winters in meer as een sin van die woord.”

PG du Plessis skryf in Sondagstem van 11 Julie 1965 dat Tristia die grootste is wat ons in Afrikaans besit. "Dit verteenwoordig in die werk van Van Wyk Louw die derde groot rigtingsverandering en ’n hoogtepunt in die Afrikaanse poësie en letterkunde. Daar is soveel moois en geslaagd in Tristia selfs in die punktuasie wat wissel van funksionele ongepunktueerdheid tot die sterk logiese stelsels waar die leser langs ’n reeks dubbelpunte kan in- en afkyk na steeds nuwe beligtings en fasette van ’n onderwerp; maar ook in die woordspelinge en spel; in die veelvuldige vorme van die ironie wat deur woordgebruik, die gebruik van ’n naam, ’n aksent, ’n stelwyse, ’n tussenwerpsel of ’n terugkyk op die maakproses, byna deurgaans aanwesig is; in die wyse waarop dié dinge wat op die oppervlakte na puur intellek lyk, dieper in steeds nuwe nuanses openbaar; in die gestalteverse, die bedigtings en herdigtings; in die beryminge en elegieë se blootstel van fasette van die ironie-self.”

TT Cloete het, nadat Tristia in 1965 met die Hertzogprys bekroon is, gesê: “[T]og kan mens dit nie nalaat om te sê dat Tristia ons literatuur en met name ons poësie gebring het by ’n nuwe verskiet waar dit nog nie voorheen gestaan het nie.”

Van Wyk het in 1960 opdrag van die Nasionale Toneelorganisasie ontvang om ’n stuk te skryf vir die Uniefees van 1960. Die gevolg was Koning-Eenoog, of, Nie vir geleerdes, wat die eerste keer in die Bloemfonteinse Stadskouburg opgevoer is. Dit is in 1963 gepubliseer. Die stuk speel af in ’n Afrikaanse universiteitstad of -dorp vanaf 30 Mei tot 1 Junie 1910, die dae van Uniewording. "Dit is ’n blyspel wat op kostelike wyse die spot dryf met Afrikaanse akademici van daardie dae. Dit is egter nie so tydgebonde dat dit nie aktueel was vir die sestigerjare nie. Die situasie wat voorgestel word, is kortliks: met Uniewording besef die professore van ’n Afrikaanse universiteit dat hulle ’n belangrike historiese gebeurtenis beleef en dat hulle ook iets in verband met die saak moet doen. Hul bydrae is dan om die universiteit se senaat deur Bokkh te laat skilder. Hul tronies moet verewig word. Hulle dink dus nie aan die wetenskap nie, maar aan hulleself. Hul eie persoontjies is belangriker as die groot saak wat hulle veronderstel is om te dien. Koning-Eenoog is ons beste blyspel wat ook speelbaar is," skryf JL Steyn (Vaderland, 27 Desember 1963).

JC Kannemeyer skryf in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980) dat daar in die spel veral die spot gedryf word met die Suid-Afrikaanse akademici: "hulle belangstelling in die diepte-sielkunde, die kuns, hulle gebruik van Frans, Duits en Latyn en hulle geweldige eersug en drang na onsterflikheid. In die loop van die spel word almal een-een ontmasker en hulle ware gedaantes vertoon. Koning-Eenoog is nie van Van Wyk Louw se grootste werke nie. ’n Mens verwelkom egter die ligter aanslag (soos ook in sy jongste gedigte).”

In 1964 word Kruger breek die pad oop en ander hoorspele by Human & Rousseau uitgegee. Die ander hoorspele is Die vonnis en Die eerste Voortrek. Kruger breek die pad oop vertel die verhaal van Paul Kruger op 38-jarige ouderdom, 20 jaar voordat hy president sou word. Dit speel af in 1863 in Transvaal, “een van die donkerste tydperke in die geskiedenis van die Boere-republieke. Kruger word gesien as die krygsman-profeet wat die pad uit die chaos na die orde moet oopbreek, nie omdat hy wil nie, maar omdat hy geroepe daartoe voel.”

Die vonnis is gesitueer in Van Riebeeck se dae en verwys na ’n voorval uit Van Riebeeck se bewind aan die Kaap. "Die insident word deur middel van terugflitse opgeroep waar Van Riebeeck in 1665 in Batavia is en wrewelig terugdink aan die tien goeie jare wat hy aan die Kaap gemors het en die straf wat vir ’n dronk en beledigende muiter opgelê het: om hom trompetter te maak.

Die eerste Voortrek neem die luisteraar terug na 1691 in die tyd van Simon van der Stel op ’n eensame veepos op die verste grens van die Kolonie. "Die boere het bevel gekry om hulle terug te trek binne die 'landsgrense', maar dié met ’n visioen op die nuwe land wat hulle ken en liefhet, wou nie luister nie. Veral die gebruik van dialoog en die soepel hantering van dramatiese stof laat ’n mens dit betreur dat die skrywer sommige van hierdie stukke nie verder uitgewerk het tot eenakters nie, of in die geval van Kruger, selfs ’n volwaardige stuk vir die toneel nie," het WEG Louw (Die Burger, 20 November 1964) geskryf. JL Steyn (Vaderland, 13 November 1964) meen dat die figuur van Paul Kruger nog nie vantevore op so ’n wyse in die letterkunde gepeil en geïnterpreteer is nie.

Van Wyk Louw se laaste boek voor sy afsterwe in 1970 was Berei in die woestyn: ’n sinne- en wa-spel, ’n opdragstuk wat geskryf is vir die Fees van die Grond en by geleentheid van die sentrale fees in Kaapstad in 1968 opgevoer is.

FIJ van Rensburg (Volksblad, 6 Maart 1969) beskryf dit so: "Een van die treffendste dinge wat in ’n lang tyd verskyn het wat so eenvoudig is, so tooiloos en juis so aangrypend deur die eenvoud. Die subtitel word aangedui as ’n sinne- en wa-spel. Sinne- en wa-spele was belangrike toneelwerke in die laat Middeleeue. In die sinnespel is lewensverskynsels deur figure voorgestel. Die verskynsel kon dus, anders as in die allegorie, helder en onmiddellik praat. Die wa-spel is gewoonlik deur rondreisende toneelgeselskappe op die Middeleeuse markpleine opgevoer. Albei soorte spele was didakties van aard.

“Van Wyk Louw laat dus ’n ou toneelvorm herlewe. Dis egter ’n moderne sinne- en wa-spel wat hy ons bied. Daar word byvoorbeeld nie alleen geleer nie, maar ook kommentaar gelewer op die feit van die leer.

“Nes in die geval van Die pluimsaad waai ver herinner die skrywer ook weer by geleentheid van ’n volksfees daaraan dat ons midde-in die roem moet stilstaan en ook oor vergete dinge moet besin. ’n Volk word hier pynlik oopgebreek sodat die water van sy Gode-afhanklikheid weer vrylik kan vloei: droogte en hongersnood, dié magtige twee, word gebruik om die pad van die Here te ‘berei in die woestyn’.

"’n Profeet waarsku ’n heerser en sy volk oor die rampe wat op hulle wag. Hy noem die sondes op om een na die ander na vore te kom. Eers kom Verwatenheid, met voornaam Oormoed. Dan volg Oordaad en Versekerdheid. Traak nie volg hom. Die skare protesteer dat die profeet dié laster wat vas in die geloof is, wat die markte laat lewe, wat teen die twyfel in verset is, wat die dinker van liberalistiese idees is. In ’n passaat voorspel die profeet dan wie aan die kom is – Droogte en Hongersnood, en in ’n ekstase besing Droogte sy mag, wat nie net die aarde uitdor nie, maar ook die liefde, sodat net die klip kan heers."

Ná Van Wyk Louw se dood word daar in 1975 ’n keur uit sy gedigte deur Adam Small in Engels vertaal en onder die titel Oh wide and sad land gepubliseer. Small het besluit om hierdie keur te vertaal omdat hy gevoel het dat Afrikaans ’n ruimer Engelse gehoor verdien – binne Suid-Afrika en buite sy grense in Afrika, as taal van hierdie kontinent, vertel Small aan Amanda Botha (Oggendblad, 24 Oktober 1975). “Niemand spreek meer direk tot Afrika as NP Van Wyk Louw nie. Daarom het ek besluit dat dit my beskeie bydrae tot die groot taaljaar sal wees om ’n keur van poësie van Van Wyk Louw in Engels te vertaal en naas die Afrikaanse werk te publiseer. Dit was ’n moeilike opdrag aan myself, want ek weet self nie of ek die grootsheid van die seggingskrag van Van Wyk Louw in woorde kon vasvang nie. Dit het groot dissipline gevra om nie letterlik te vertaal nie, omdat ek graag in my vertalings wou geprobeer het om dit as kunswerk ’n plek te laat verdien. [...] Die aspek wat Van Wyk Louw so aan my beklemtoon het en ek ook in my werk opgeneem het, was die idee van hierdie plek en hierdie tyd. Hy was van Afrika en was een van die eerstes wat Afrikaans as taal van Afrika beklemtoon het.”

  • Wits-jare

In Julie 1958 word Van Wyk Louw aangestel as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand en hoof van die departement as opvolger van CM van den Heever – ’n pos wat hy tot sy dood beklee het. As professor in Afrikaans en Nederlands by Wits het hy in 1959, saam met studente en ander akademici, deelgeneem aan die straatoptog teen apartheidsuniversiteite.

Net na sy terugkeer is hy in Johannesburg terugverwelkom tydens ’n funksie in die Johannesburgse Stasie-eetkamer, gereël deur die Skakelkomitee met Hennie Roux en sy gade as gasheer en gasvrou. Die welkomwoord is gespreek deur JJ Kruger, wat op daardie stadium hoofredakteur van Die Transvaler was. Hy het sy toespraak as volg afgesluit: “U werk is vir ons mooi, u koms is vir ons ’n versterking, u aanwesigheid is vir ons ’n inspirasie. Ons verwelkom u met die verwagting van mense wat na ’n groter toekoms reik.”

H Van der Merwe Scholtz skryf in SA Panorama van November 1958 dat Wits gelukgewens moet word met die aanstelling van Van Wyk Louw, want “in Van Wyk Louw het hierdie universiteit nie alleen ons grootste literêre kunstenaar getref nie, maar ook een van die beste kenners van ons literatuur en van die literatuurkunde. [...] Maar natuurlik: Louw is in eerste en laaste instansie groot kunstenaar omdat hy oor ’n buitengewone vormvermoë beskik. Hy kon op die verwikkelde menslike situasies poëties beslag lê danksy die verskeidenheid van vorme en tegnieke wat hy beheer. Hy skryf – om ons by enkele voorbeelde te bepaal – die eenvoudige liedjie, die volkse rympie, die sonnet, die vrye en die rymlose vers, die ballade wat so dramaties van opset is dat dit nie ver lê van sy belangrike dramatiese alleensprake nie, die koorspel, die moderne epos, die versdrama.” DJ Opperman het gesê dat Louw in elke genre die mooiste, of van die mooiste, in Afrikaans skryf, en elkeen van sy digbundels is nuwe hoogtepunte in ons poësie.

In sy laaste honneursklas voor sy dood was onder meer TT Cloete, PG du Plessis, Cecile Cilliers, Ingrid Winterbach, Hans Ester (van die Universiteit van Nijmegen) en Hennie van Coller. Elize Botha was ook ’n student van Van Wyk Louw en het erken dat hy ’n wesenlike invloed op haar toekomsrigting gehad het.

  • Polemieke

In 1937 is die Hertzogprys vir poësie aan beide NP Van Wyk Louw en ID du Plessis toegeken. Louw het egter hierdie hoogste letterkundige toekenning van die hand gewys. Sy redes was (a) dat die Akademiebesluit insake die Hertzogprys hom deur die pers bekend geword het en (b) dat maar ’n deel van die prys aan hom toegeken is.

In ’n brief aan Die Burger van 11 Desember 1937 skryf EC Pienaar en FEJ Malherbe, wat albei lede van die Akademie se Letterkundekommissie was: “Ons sou dit oorbodig gevind het om te reageer op die heer NP van Wyk Louw se teatrale gebaar, was dit nie dat daarin ’n totaal onjuiste voorstelling van sake gegee word nie, waardeur die Akademie se goeie naam in die openbaar aangetas word. Wat (a) betref, lyk dit ons voorbarig om nog voor die offisiële aanbieding met soveel heftigheid vir die eer te bedank. Wat (b) betref, moes die blote feit van bekroning, afgesien van watter geldsom daaraan verbonde is, al dan nie, reeds vir die bekroonde meer dan voldoende onderskeiding gewees het. Maar nee, dit moet die hele prys wees of glad nie, want dit skyn benede sy waardigheid te wees om soos Totius of Leipoldt in die verlede die onderskeiding met iemand te deel.

“So ’n hooghartige afwysing het ’n geniale volksfiguur soos CJ Langenhoven indertyd gepas, maar dit lyk ’n bietjie belaglik by ’n jong literator wat nog sy spore moet verdien en wat aan die Akademie nog maar ’n eerste bundeltjie kon toon. Maar by sy komies-teatrale gebaar kom nog hierdie beledigende teregwysing: ‘Die Akademie was weer magteloos om te besluit oor die sake waarin hy hom juis die reg van ’n beslissing toeëien.’”

Hulle plaas dan die verslag van die Letterkundekommissie van die Akademie oor die geskikte kandidate vir die Hertzogprys. Hierdie verslag eindig as volg: “Op grond van voorgaande bevindings het u kommissie nie die vrymoedigheid om een digter uit te sonder en vir bekroning aan te wys nie, want dit gaan nie om die beste van een digter bo die beste van ’n ander te stel nie, al sou daar sterk gronde aan te voer wees vir die bekroning van ID du Plessis se veelsydiger en gesamentlike werk, wat ons as sodanig nommer een plaas.

“Uit bostaande blyk voldoende dat die Letterkundekommissie van die Akademie, spesiaal belas met die verantwoordelike taak van keuring, nie magteloos was om een digter nommer een te plaas nie, want hy het ID du Plessis vir die eer aangewys. Hoewel ons dit nie eens is met die bevinding van die breër kommissie van vyftien lede nie (iets wat hier nou nie ter sake is nie), wil ons dit baie sterk afkeur dat die eerste die beste jong skrywertjie sy teleurstelling op ’n dergelike aanmatigende toon lug teenoor ’n erkende liggaam soos die SA Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, wat ook al sy prosedure of besluit mag wees.”

Van Wyk Louw se reaksie op hierdie skrywe van Pienaar en Malherbe was: “’n Antwoord op hierdie skrywe lyk oorbodig. Die seniel-histeriese toon daarvan wys vir die publiek (wat met die persoonlike verhoudinge minder bekend is) die gesindheid van lede van die kommissie teenoor my. Daarom laat ek dit met des te meer gerustheid aan die toekoms om ’n oordeel insake die betrokke werke en die beoordelaars self te vel.”

In 1964 het Louw in die letterkundige tydskrif Sestiger teen Nadine Gordimer en Alan Paton te velde getrek. Hy het onder meer gesê dat die Engelse Suid-Afrikaanse skrywers dit makliker het as Afrikaanse skrywers. Hulle raak net aan die rasseprobleem en bied oplossings van ’n liberale of progressiewe aard aan, terwyl hulle ’n deur oophou om na veiligheid (en ekonomiese sekuriteit) te vlug indien die dinge waarvoor hulle propaganda maak, sou verkeerd loop. “Miss Nadine Gordimer might do this and Mr Alan Paton might find safety here, not as a Prime Minister, but as a small functionary.”

Gordimer het skerp hierop gereageer in die Engelse letterkundige tydskrif Contrast. Sy meen Van Wyk Louw se vulgêre aanval op haar en Alan Paton is interessant slegs vir wat dit op Louw self reflekteer. “But one must correct gross errors of fact. During the past ten years, South Africa has lost many English-speaking writers and intellectuals generally, including the entire nucleus of the newly-emergent Black African writers. All these people have left during the heyday of apartheid while they could count on those ‘steadfast’ ranks of Afrikaners behind whom Professor Van Wyk Louw says the English-speaking writers know they stand protected. If I, or any other English-writing White South African like me should leave my homeland, it would be for the same reason that these others have already gone; not because they fear the Black man, but they grew sick at heart with the lies, the cheating, the intellectual sophistry. They grew sick of the brutalities perpetrated as Whites in their name.”

Oor die hele aangeleentheid het ’n ander Engelse Suid-Afrikaanse skrywer, Jack Cope, as volg gereageer: “Prof Van Wyk Louw is a fine and distinguished poet: What is more he has probably more authority than any other single writer in South Africa. To misuse this authority, to allow his name to stand behind a slur on an important section of fellow artists, would constitute a lasting injustice. He held everybody’s trust and admiration when he came out against the Censorship Bill and signed the historic writers’ protest last year. This situation since then has deteriorated rapidly and, more than ever, it is clear that writers and the future of the genuine unshackled literature in this country are threatened. No doubt Prof Van Wyk Louw has read most of the work of ‘English South African writers’, but not all. In the light of full knowledge, he would not hold to such a sweeping generalisation and would withdraw implications against the two writers he mentioned.”

Jan Rabie het ook tot die geveg toegetree. Hy het in Sestiger geskryf en gesê dat hy ook al ’n gevoel van wrewel gehad het teen Engelse skrywers wat in Brittanje skryf en wat ’n bevooroordeelde standpunt het van Suid-Afrika se probleme en kompleksiteite, asook ’n onwilligheid om reg te laat geskied aan die Afrikaner. Maar, gaan hy voort, “[I]s it Louw’s right, as an example to younger writers, to indulge in the universal game of creating a scapegoat (South Africa is an easy scapegoat) and to make our English-speaking fellow citizens that scapegoat? There are those who will flee when things go wrong, who will be able to earn a living overseas. There are those who will fawn hypocritically on Afrikaners. But they are the minority with whom the English can well do without. That the greatest representative of Afrikaans, Prof Van Wyk Louw, should also demean himself like this is to the detriment of Afrikaans.”

Einde 1964 het Van Wyk ’n opdrag van die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap gekry om ’n toneelstuk vir die Republiekfees van 1966 te skryf. Hy het in Die Volksblad van 3 Februarie meer vertel oor die agtergrond van die stuk, wat aanvanklik Bitter begin getiteld was, maar later Die pluimsaad waai ver geword het: “Hoewel die keuse van ’n tema heeltemal aan my oorgelaat is, het ek tog gevoel dat ek vir so ’n geleentheid nie ’n stuk wil skryf wat suiwer individuele probleme behandel nie. Dit behoort ’n stuk vir die volk en uit die volk se ervaring te wees. Ek het jare lank reeds ’n groot bewondering vir president Steyn gehad en van tyd tot tyd met die gedagte rondgeloop om ’n greep uit sy lewe dramaties te behandel. Waarom juis Steyn? Ek het soms so die gedagte dat hy een van ons eerste – moderne – nasionaalvoelende Afrikaners was: in sy agtergrond, sy leefwyse, sy voorkoms ’n egte outydse ‘boer’, aan sy ander kant geleerd, ’n man met ’n wye kennis van die wêreld, vry van die beperkte insigte en verwagtings wat ons mense tog soms kan hê. En dit is juis die vereniging van hierdie teenoorgestelde eienskappe wat van hom so ’n groot volksleier gemaak het. [...] Maar nadat ek soveel oor pres Steyn gesê het, moet ek tog hierdie verduideliking gee. Hier en daar is in koerante reeds gesê dat Bitter begin ’n drama oor die lewe van pres Steyn is. Dit is nie heeltemal juis nie. Steyn speel wel ’n belangrike rol, maar as iemand vra: Wie is die held van hierdie stuk? sou ek moet antwoord: Die Afrikaanse volk self. Hierdie volk is teen sy sin en sonder vorige ervaring in ’n stryd met ’n wêreldmag gesleep. Hoe hy hom verweer het, wat hy moes leer en afleer. Ook die skeurings wat daar binne hom gekom het – dit is die tema.

“Formeel gesproke het die stuk twee gedeeltes. Die eerste is taamlik breed epies vertellend met die slag van Paardeberg, die oorgawe van die dapper genl Cronjé en die verwarring wat daarop gevolg het. In die tweede gedeelte word die probleme van die tydperk van die guerilla-oorlog behandel. Hier kom dan ook, as ek dit self durf sê, die dramatiese element in strenger sin na vore. [...] ’n Ander probleem was die volgende: Vir hierdie feesstuk sou ek dit onjuis gevind het om ’n fel stryd van Boer teen Brit in die middelpunt te stel. ’n Stryd van Boer teen Brit was dit wel, maar waarom ou bitterheid laat herleef? Die gevolg van hierdie oorweging was dat die stryd grotendeels binne die Afrikanervolk afspeel, en glo my, dit was al ’n groot genoeg tema. [..]

“Dit is duidelik dus dat daar ’n reeks kompromisse, of ’n reeks versoenings van moontlike eensydighede gevind moes word. [...] Nog ’n voorbeeld van ’n kompromis wat getref moes word, is dat ek verplig was om die geweldige stryd saam te trek rondom die figure van Steyn en De Wet en as ’t ware die brandpunt in die Vrystaat te plaas. Dit is eenvoudig onmoontlik om die hele stryd soos hy ook in Transvaal, in Natal, in die Kolonie gevoer is, in ’n beperkte tyd op een verhoog te bring.”

Die volgende uittreksel uit JC Steyn se Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal skets die verdere verloop van hierdie polemiek: “Op 18 Maart 1965 het prof Gerrit Dekker van die feeskomitee van die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap aan Louw geskryf hy is bly hy het ’n tema met pres MT Steyn as sentrale figuur gekies. Hy het dankbaar Louw se belofte aanvaar om toe te sien dat geen praktiese politiek ‘van ons tyd’ ingesleep word nie. Dr HF Verwoerd het die eerste opvoering op 25 Mei 1966 in Pretoria bygewoon. Hy het besware teen die stuk gehad. Volgens die historikus GD Scholtz, ’n vriend en oud-kollega van Verwoerd, het laasgenoemde aan hom gesê sy beswaar teen Die pluimsaad waai ver was dat dit nie histories getrou was nie, aangesien Steyn nie ’n held, maar ’n patetiese figuur gemaak is.”

Op die Republiekfees van 31 Mei 1966 op Monumentkoppie was daar enkele sinne in Verwoerd se toespraak wat tot die polemiek sou lei. Die betrokke gedeelte van Verwoerd se toespraak het woordeliks in Die Burger verskyn: “En nou wil ek uiting gee aan die onuitgesproke, dikwels onuitgesproke verlange van ons volk dat daar vir ons ook, soos vir ander volke in hul wonderuur, dié skrywers en dié digters mag ontstaan wat kan en sal wil besing die heldedade van hul eie geslag. So kan dit vir ons ook gegee word, soos in die uur van roem van groot volke in die verlede was, waar diegene kon opstaan wat nie weifelend vra: Wát is ’n volk? nie, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, só is my volk, só kan hy ook wondere verrig, só is hy skepper van ’n eie toekoms!

“Die skrywer en digter wat in hierdie tyd só kan besing wat nou gebeur, sal aangehaal word so lank soos die volk van die Republiek van Suid-Afrika bestaan. As daar uit ons midde diegene kan ontstaan wat die mooie van ’n volk se lewe wil besing, wat nie terughuiwer om patriotisme, vaderlandsliefde, te huldig nie, wat nie net volgens moderne patrone soek na wat elders in die volkere wat reeds oud is, die mode is nie, maar wat ooreenkomstig die vaste patroon van huldebetuiging aan die eie volk, die lelike, die vleeslike opsy kan skuiwe en kan kyk na die geestelike, en die mooie en die grootse, wat die moderne geskiedenis kan besing!

“Kon ons nou maar in ons tyd ook sulke skrywers en digters vind, hoe ryk sou ons ons nie ag nie, hoe ryk sal ons volk van die toekoms nie wees nie, om dan te weet, deur sulke tolke, wát in die hart van die volk van vandag omgaan terwyl hy belewe, vyf jaar ná die gebeure, hierdie wonderwerk, hierdie groot mylpaal in die geskiedenis van ons volk.”

Die hele storie is opgeneem in die dagblaaie, soos Die Burger, Beeld, Die Transvaler en ander. Louw se familie was baie ontsteld oor die toespraak, maar sy reaksie was: “Geen politikus sal van my ’n Sap maak nie.” Anna Neethling-Pohl het gesê dat die aanvalle op die opregtheid van sy Afrikanerskap Louw baie seergemaak het. Terwyl die trane oor sy wange gerol het, het hy aan Piet Muller gesê: “Ek bid die Here dat as hulle eendag ’n inperkingsbevel op my sal dien, dit nie geskrywe sal wees in die swak taal van Die Transvaler nie.”

Tydens sy 60ste verjaardagviering het Louw hom as volg uitgelaat oor die saak: “As ’n mens koppig, eiewys en individualisties wil wees, moet jy nie ’n opdrag aanvaar nie. Maar ’n ordentlike skrywer sal nie ’n opdrag aanvaar waarin hy met sogenaamde ‘goeie taal en styl’ die wense van die opdraggewer uitvoer nie. Dit het die Regering nie van my gevra nie, en ek sou dit nie kon gee nie.”

Met sy volgende woorde het hy beslis gesinspeel op Verwoerd se woorde: “Die walvis en die olifant baklei nie; hulle het elkeen hulle eie ‘element’, hulle eie gebied. As iemand sê ek is ’n swak skrywer, haal ek my skouers op. Wie is ek om te oordeel? Maar as my Afrikanerskap in twyfel getrek word, kan dit nog seer maak, bitter seer.”

Van Wyk was ook baie ongelukkig oor die stilswye van sy literêre kollegas. Hy het hom weerhou van deelname aan die polemiek, maar by die huis het hy dikwels opmerkings gemaak. Verwoerd het later teenoor CJ Engelbrecht, ’n oudredaksielid van Die Transvaler, opgemerk dat hy baie ongelukkig is oor die polemiek en dat hy spyt was dat hy ooit die saak aangeroer het.

Die pluimsaad waai ver is eers in 1972, ná Louw se dood, gepubliseer.

In November 1966 het Van Wyk Louw ’n toespraak voor die Johannesburgse Rapportryerskorps gelewer wat weer eens verantwoordelik was vir ’n hewige polemiek in die pers. Teen die einde van sy toespraak, getiteld "Nasionale letterkunde, vandag", wat volledig in Beeld van 6 November 1966 gepubliseer is, het hy gesê: “Maar met die klein kampanje teen Pluimsaad het ek vir die eerste keer aan my lyf gevoel iets wat al ’n hele paar jaar aan die gang is. Daar is ’n klein, maar baie aktiewe groepie wat probeer om die Afrikaanse literatuur onder hulle voet te kry, te beheer. Hulle werk deur middel van die pers, briewe, artikels in tydskrifte, hulle werk deur kerklike vergaderings en met ander soorte optrede. Hulle wil letterkundig bo-oor die sensuur van die Publikasieraad sensureer; hulle wil vir die kerk sy werk doen wat hy glo nalaat; hulle affiliasie en simpatie met ’n soortgelyke strewe van ’n groepie in die politiek is nie onbekend nie. Hulle wil die hele groot nasionale letterkunde na hulle klein ewebeeldjie herskep. Dit is een van die grootste bedreigings van ons literatuur. As dit tot ’n uitbarsting kom – sê binne ’n jaar of wat – kan dit ons taalstryde na rustige aksietjies laat lyk.

“’n Volk kan dit nie bekostig om van sy beste skrywers neutrales, of skerp kritici, of selfs vyande te maak nie. Nêrens in die wêreldgeskiedenis, behalwe miskien in Rusland, het die skrywers al ooit finaal so ’n stryd verloor nie. Waar hulle vandag miskien doodgedruk kan word, kom hulle, al is dit na vyftig jaar, weer terug.”

In sy hoofartikel van 7 November 1966 kritiseer Die Vaderland vir Van Wyk Louw oor die uitsprake in sy toespraak. ’n Gedeelte van die artikel lui: “Die reg van hierdie ‘groepie’ om oor die werk van die kunstenaar en skrywer te oordeel, staan net so onaantasbaar soos die vryheid van die kunstenaar om na eie aard en siening te skep. Wat in die Afrikaanse literatuur so raar geword het, is dat die kunstenaar nie alleen sy vryheid opeis en beoefen om te skryf wat en hoe hy wil nie, maar ook die maatstawwe formuleer en afdwing waarvolgens sy eie werk beoordeel sal word, met ander woorde, homself verhef tot regter oor die ‘kuns’- of bekroningswaarde van sy eie werk. Wie nie met die skrywer-regter saamstem nie, word tot ’n veragtelike ‘groepie’ gerelegeer!”

Na ’n brief van ’n persoon met die skuilnaam Agtdrie in Die Burger van 5 Januarie 1967 het Van Wyk Louw gereageer deur die name van die groepie waarvan hy in sy toespraak gepraat het, te noem. Hulle is Hymne Weiss (soms met, soms sonder haar man, prof PFD Weiss), prof Du Preez, ds De Beer, soms ’n ds Potgieter en baie dikwels ene mnr Beetge. Prof Weiss het gereageer deur te sê dat Louw se tirade teen die Afrikaner en die Afrikanerkultuur al drie maande voortduur. “Die groepie wat dan, volgens prof Louw, die Afrikaanse kultuur wil oorheers, bestaan net in sy verbeelding. Wie openbaar ’n gebrek aan nederigheid deur homself as letterkundige meerdere van ander te beskou net omdat hulle van hom verskil? Wie is dit wat al jare met die politiek besig is? Wie is dit wat die bekroning van letterkundige werke deur die Akademie probeer beïnvloed het?”

Hierdie polemiek het etlike maande geduur en vele het tot die stryd toegetree – sommige téén Van Wyk Louw en ander vír hom. Selfs in Julie 1968 het Louw weer sy nek uitgesteek deur in ’n artikel in Beeld, getiteld “Só broei hulle mekaar warm”, die Pretorianers aan te vat. Selfs na sy dood het die spanninge tussen hom en die Weiss-egpaar voortgeduur toe Hymne Weiss ’n stuk in Die Afrikaner geskryf het.

Van Wyk Louw was ook na sy dood die middelpunt van kontroversie. Die Vlaamse letterkundige Luc Renders lewer in 2002 die NP Van Wyk Louw-gedenklesing. Die titel van sy lesing was "Die dramatiese werk van NP Van Wyk Louw: met volk-wees as inspirasie". Hy haal hom die gramskap van etlike mense op die hals met sy uitspraak dat die literêre verdienste van Van Wyk Louw definitief nie in sy dramatiese oeuvre lê nie, onder meer omdat die dramatiese werk vanuit ’n nasionalistiese perspektief geskryf is oor temas wat net vir die Afrikanergemeenskap relevant is. Artikels deur onder meer Leopold Scholtz, Jaap Steyn en Peter Louw, Van Wyk se seun, verskyn in koerante en op LitNet. Ander kenners, soos Louise Viljoen, Hennie van Coller en John Kannemeyer, meen dat Louw se dramas nie waardeloos is nie. Hulle meen egter dat hierdie tipe kritiese ontleding voordelig en gesond is vir die Afrikaanse letterkunde. Louise Viljoen meen dat persoonlike aanvalle op die kritikus onsin is, aangesien dit dui op ’n onwilligheid om ’n kritiese gesprek oor kulturele ikons oop te maak. “Elkeen het die reg, mits genoeg navorsing gedoen is, om krities te kyk.”

JC Kannemeyer is in 2005 die samesteller van Ek ken jou goed genoeg: die briefwisseling tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw 1936–1939 wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. En weer veroorsaak dit ’n geskarrel in die hondehok toe Van Wyk Louw se nasate die uitgewers hof toe vat om verspreiding van die bundel te keer. Peter Louw, seun van Van Wyk Louw, het in hofstukke gesê dat die publikasie van die briewe “die doodskoot kan wees vir die reputasie van die Louws” en dat dit enorme skade kan berokken aan Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde. Die regter het egter in die guns van die uitgewers en Kannemeyer beslis.

  • Huldeblyke en vererings

Van Wyk Louw was vir baie jare baie nou verbonde aan die SAUK. Baie van sy dramas, ook in vertaalde vorm, is uitgesaai en so ook sy hoorspele en die talle praatjies wat as reekse uitgesaai is. Die eerste Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir Afrikaanse hoorspele is in 1961 aan hom toegeken vir Dagboek van ’n soldaat.

In 1963 het die Akademie hulle hoogste toekenning, naamlik erelidmaatskap van die Akademie, aan Van Wyk Louw toegeken.

In 1966, met sy 60ste verjaardag, is verskeie van sy werke in ’n huldigingsuitgawe in pragformaat gepubliseer en word daar ook ander huldigingsbundels uitgegee.

Tristiasketsboek word deur Human & Rousseau gepubliseer. Dit is ’n notaboek waarin die digter benewens heelwat gedigte, of dele van gedigte (wat later almal volledig in Tristia verskyn het), ook allerlei los aantekeninge gemaak het: alles in potlood geskryf. Hierdie gepubliseerde sketsboek stem presies ooreen met die oorspronklike wat die digter geskryf het. In die kolofon staan dat die Tristiasketsboek gedruk is van litografiese positiewe. Vir LC Eksteen (Standpunte, Februarie 1967) was die deurgaan deur hierdie sketsboek ’n boeiende verkenning van die wêreld van Van Wyk Louw.

Smal swaard en blink: bundel aangebied aan NP Van Wyk Louw by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 11 Junie 1966 het by Academica verskyn. In hierdie bundel is die blyke van persoonlike vriendskap met Van Wyk Louw deureengestrengel met ’n waardebepaling vanuit Dietse (spesifiek Vlaams-Nederlandse) standpunt. LC Eksteen (Standpunte, Februarie 1967) meen dat Ernst van Heerden as redakteur gelukgewens kan word met hierdie bundel, want daar is ’n “ruime verskeidenheid” studies wat met die dubbele snykant van die “smal swaard en blink” groot gebiede van Van Wyk Louw se eie werk én die wyere Afrikaans en buitelandse literêre belewenis onder woord bring. “Dit is ’n ryk en goedversorgde huldeblyk aan die groot digter en kultuurmens (in die ware sin van dié woord), wat op sy sestigste verjaarsdag opnuut ons agting en waardering bevestig.”

In 1966 het Louw ook ’n eredoktorsgraad van Rhodes-universiteit ontvang, wat getuig het van die agting wat hy van sy Engelstalige landgenote geniet het. ’n Soortgelyke eer is aan hom toegeken deur die Universiteite van Kaapstad en Stellenbosch.

Die Hertzogprys is ’n ongeëwenaarde vier maal in drie verskillende genres aan Van Wyk Louw toegeken: poësie, drama en prosa. In 1937 is dit aan hom toegeken vir sy digbundel Alleenspraak. Hy sou dit met ID du Plessis vir sy Vreemde liefde en Ballades, gedeel het, maar het dit afgewys. In 1940 ontvang hy die prys vir sy digbundel Die halwe kring, in 1958 vir sy kritiese prosawerke Die "mens" agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde, en in 1960 vir sy versdrama Germanicus.

Na sy dood in 1970 het die SAUK in sewe tale aan Van Wyk Louw hulde gebring. Ernst van Heerden het die huldigingsprogram van die Afrikaanse diens saamgestel en Ridley Beeton dié van die Engelse diens. Die Zoeloediens se huldeblyk het grepe ingesluit van die Zoeloeverwerking van Raka wat in 1962 uitgesaai is en ook vir die Italia-prys ingeskryf is. Buitelandse dienste se huldebetuigings is in ses tale aangebied: Portugees, Nederlands, Duits, Frans, Engels en Afrikaans.

Van sy werke is in onder meer in Engels, Duits, Frans en Italiaanse vertaal, asook in vier inheemse Afrikatale.

In 1970 het die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, nou UJ) die jaarlikse NP Van Wyk Louw-gedenklesing ingestel. Die eerste een is in 1971 gehou.

In 1980 het die Britse komponis Donald Swann vier van Van Wyk Louw se gedigte getoonset. Hierdie werke – “Grense”, “In waansin het ek gevra”, “Paniese angs” en “Wat is ’n volk?” – is in Januarie 1980 by die Markteater uitgevoer.

Die Afrikaanse Kultuurvereniging van die Polisie het in 1983 ’n vasvrawedstryd oor Van Wyk Louw gehou, wat deur die Hoërskool Sutherland gewen is. Daarna is ’n borsbeeld van Louw aan Sutherland se Museumraad oorhandig wat ’n ereplek in die Louw-huismuseum sou inneem.

In 1999 word die produksie Spieël op die Aardklop Kunstefees op die planke gebring. Gerben Kamper was die regisseur en hy vertel aan Carel Lessing dat die produksie slegs uit Van Wyk Louw se gedigte bestaan, omdat sy krag die sterkste in sy poësie lê. Wilhelm Joubert het die gedigte getoonset en die klavierbegeleiding behartig. Charl van Heyningen was die sanger en Louw Verwey die speler.

In 2005 is Louw by die Uniegebou in Pretoria postuum vereer met die hoogste nasionale toekenning vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en die bevordering van inheemse taalregte. Reinet Louw het die Orde van Ikhamanga (goud) namens haar ontslape pa ontvang. Luidens die raadgewende komitee vir nasionale ordes blyk Louw se “diep liefde” vir Suid-Afrika uit al sy werke en hoewel hy in sy jonger jare “regsgesind” was, het hy later die land se rassepolitiek gekritiseer. “Hy het taalregte vir Afrikataalsprekers ondersteun en sy bekendste werk, die epiese gedig Raka, vertel van ’n swart held se stryd teen ’n nagmerrieagtige monster om sy mense se erfenis en taal te red,” lui die beskrywing van Louw. “Dié metafoor is vandag, in die era van globalisering, net so sterk soos dit toe was.”

Ook in 2005 het die minister van kuns en kultuur, Pallo Jordan, eerbewyse vir letterkunde in al 11 amptelike landstale uitgedeel. ’n Paneel akademici wat bestaan het uit Hennie van Coller, Helize van Vuuren, Joan Hambidge, Dorothea van Zyl, Ronel Foster en Quintus van der Merwe, het Jordan raad gegee oor die beste Afrikaanse tekste. Twee skrywers is vir hul bydraes in Afrikaans uitgesonder: NP Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach. Nadat die Departement van Kuns en Kultuur daarop aangedring het dat net een aangewys moet word, is Breytenbach aangewys. Tristia is eenparig as die beste digbundel in Afrikaans benoem. “Dit is nie net uitstaande poësie waarmee alle digters rekening moet hou nie, maar met die herlees duik telkens ’n ander dimensie op met fyn verwysings na die klassieke en verdraaiings van Latynse tekste.”

Tydens die Woordfees van 2007, waar Van Wyk Louw se 100ste geboortejaar herdenk is, is NP van Wyk Louw en die meisies onder regie van Albert Maritz opgevoer, met Erica Wessels en Tinarie van Wyk as die meisies; die musiek van Frieda van den Heever is daarvoor gebruik.

Persoonlike huldeblyke

  • PG du Plessis: "Die grootste mens wat ek ooit geken het." (Lantern, Desember 1970)
  • Robert Mohr: "Ek twyfel of ek weerspraak waag as ek NP Van Wyk Louw ’n genie noem. Soos sy 'Beiteltjie', het hy barste in die Afrikaanse gees geslaan waardeur die sterre oopgegaan of versplinter het, waardeur resonansies ontketen is waarvan ons skaars nog alle naklanke kan bepaal ... NP Van Wyk Louw was ’n man wat in die hele sfeer van die Westelike gees, eietyds en histories, geleef het, nie slegs in enge nasionalisme nie."
  • Guy Butler: "The greatest poet our complex society has yet produced; and one of the most sensitive and conscientious thinkers on such key issues as the relationship between language, culture and nationalism."
  • Marthinus Versfeld: "Those who knew Van Wyk well, knew that they knew a great man as well as a great poet. They say that the style is the man. What Van Wyk wrote, had a fundamental integrity which reflected a soul which had come to terms with itself. Often this hit me most in his prose, which has a simplicity and clarity which is amoral as well as [having] an aesthetic quality. He had a patriotism of the purest kind which was not afraid of falling foul of fatherland for the sake of their egos, and which was rooted in a fidelity to what was human in himself. Perhaps this was the source of his strong sense of evocation. I asked him some years ago what he intended to do with the rest of his time. He replied: I shall just go on doing what I was put here to do. It was a remark in character. His presence always suggested the presence of a higher hand."
  • Ernst van Heerden: "It is a fact that in Van Wyk Louw’s work the prestige of Afrikaans, and concomitantly the standing of Afrikaans as a language have been immeasurably enhanced. He revealed with instinctive insight the possibilities – in many ways still unplumbed – of Afrikaans as a language and a literary medium. But he also introduced new rhythmic patterns, used colloquial speech as a poetic vehicle and created the most memorable imagery in Afrikaans. Apart from the superb quality of his poetry Van Wyk Louw set new standards in Afrikaans literary criticism. The modern approach to the literary work as a sovereign entity in its own right is largely due to his influence in Afrikaans letters. All in all, the force of his intellect and creative ability were so great that he became a rarity – a legend in his own lifetime."
  • Ernst van Heerden: "Met sy dood verloor die Afrikaanse letterkunde sy grootste, sy indrukwekkendste gestalte. Deur sy werk het ons letterkunde internasionale status verkry en sy digterlike stem is een van die groot stemme in die wêreldletterkunde van ons tyd." (SA Panorama, Augustus 1970)
  • Ernst van Heerden: "Vir [Louw] was die prestasie en genoegdoening beskore om in sy leeftyd te sien hoe die hoogtepunte van sy skepping reeds tot die klassieke van ons letterkunde geryp het. Die grootste nasionale poësie, die liefdesliriek, die sublieme natuurverse, die historiese gestaltes, die metafisiese verkenning, die heroïese figure in oorwinning en ondergang, die gefluisterde belydenisse – al dié dinge behoort tot die kern van ons wese en ervaring ná hulle in Van Wyk Louw se woord tot so ’n vitale lewe gewek is. Ons lewe – as Afrikaners, as mense – is anders ná hy ‘op weerlichten doortocht’ gekom en gegaan het.”
  • Geoff Cronjé, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: "NP Van Wyk Louw sal steeds een van die heel grootste Afrikaners en woordkunstenaars van sy volk bly. Sy gees het ver gestrek en met sy begenadigde gawes van hart en intellek het hy ’n onuitwisbare en onvergeetlike bydrae tot die Afrikaanse kultuur en letterkunde gelewer."
  • PJ Nienaber: "Hy sal veral onthou word omdat hy Afrikaans in die buiteland prestige gegee het. Hy was Suid-Afrika se grootste kulturele ambassadeur. Sy werk sal bly voortlewe."
  • VG Hiemstra: "Van Wyk Louw het die Afrikaner geleer daar is so iets soos ’n wyer menslikheid. Hy het hom verset teen selfsug en heerssug."
  • AP Grové: "Wat hy kon gegee het, het hy gegee. Daarom is ek seker sy werke sal bly voortleef, al sou die herinnering van Van Wyk Louw vervaag."
  • Elize Botha: "Hy was ’n onvergelyklike leermeester en ’n digter wat die profesie van die eerste taalbeweging vervul het. Hy het die Afrikaanse taal ’n koningin gemaak in hierdie land."
  • Anna Neethling-Pohl: "Hy was ’n eenvoudige mens wat nie gehou het van eerbetuigings en verklarings nie. Daarom wil ek sy gevoel eerbiedig en nie hulde aan hom bring nie."
  • Henry Katzew, ’n denker en skrywer oor Joods-Afrikaanse verhoudinge: "Van Wyk Louw het my gegee wat elke Engelssprekende Suid-Afrikaner moet hê: ’n Afrikaanse intellektuele en geestelike gebied om in te woon. [...] Van Wyk Louw het Suid-Afrika vir my ’n tuiste gemaak. En as ek dalk op ’n dag my Suid-Afrikaanse burgerskap sou prysgee en ’n burger van Israel word, sal Suid-Afrika nog altyd my tuiste wees, en ek sal twee huise hê, net soos mens ’n vader en ’n moeder het. Ek kan Van Wyk Louw se soepele insigte ewe min uit my gestel tap as wat ek die psalms van Dawid uit my kan weer."
  • FIJ van Rensburg: "Met die dood van Van Wyk Louw het ek myself die vraag van die afgelope aantal jare by vernuwing gestel: as Van Wyk Louw moet wegval, wie sal daar wees om sy werk voort te sit, die leiding te neem, die aparte kragte soos ’n brandpunt saam te trek? En ek het by vernuwing beklemd besef: Van Wyk Louw kan deur niemand vervang word nie. Ook ná sy dood sal hy die leiding moet neem. [...] Van Wyk Louw was veel meer as maar net ’n kunstenaar. Hy was een van die belangrikste Afrikaners wat tot dusver geleef het. In die ry van groot Afrikaners het hy sy natuurlike makkers onder genl Hertzog en dr Verwoerd. Hy het die nasionalisme egter so omvattend en diepgaande verwoord soos geeneen voor hom nie. As iemand vra na die bestaansrede van die Afrikanervolk, kan hy die antwoorde nêrens ander so dwingend vind as in die geskrifte van Van Wyk Louw nie." (Vaderland, 20 Junie 1970)
  • DJ Opperman in Digters van Dertig: "Hy staan soos ’n berg bo die landskap van Dertig. Hy lewer die grootste bydrae, bring die groot tematiese en verstegniese vernuwing."
  • Uys Krige: "Hy het die rigting van die Afrikaanse poësie verander en dit tot in die voorste gestoeltes van die digkuns van die wêreld gedruk. Hy het die Afrikaanse taal gesuiwer, dit kaal gestroop tot skoon poësie en subtiele en direkte prosa. Hy het bewys waartoe die Afrikaanse taal in staat was in sy oneindige nuanses en subtiliteite."
  • WA de Klerk: "Die woorde van ’n digter soos Van Wyk Louw is soos ’n hemelse beitel – om sy eie metafoor te gebruik – wat die planeet en die heelal gesplyt het tot dit wat is en wat nie is nie."
  • Adam Small: "I shall best remember Professor Van Wyk Louw for his profound quarrel with everything that was bourgeois. While branded by lesser Afrikaners for my criticism of South African injustices so blatant that they mock us all, he wrote to me once saying that he was moved by my criticisms. That was the word he used – moved. If such acknowledgement could come from a man like Van Wyk Louw, whose philosophy is the mould of what is best in Afrikanerdom, then one can laugh off the censures of lesser Afrikaners. This was a great universal man."
  • Etienne Leroux: "His loss is not only to Afrikaners, but to world literature. He was one of the finest poets in the world today."
  • J du P Scholtz: "Van Wyk Louw het as plattelands-gebore Afrikaner, later as digter en prosaskrywer groot liefde en eerbied gehad vir die onbedorwe plattelandse Afrikaans. Min kon soos hy ’n onversierde, suiwer en helder Afrikaans gebruik, in sy geskrifte en in sy gesprekke. Hy het so ’n skerp aanvoeling gehad vir wat Afrikaans is en wat Afrikaans kan, dat hy later in sy gedigte meermale onvertaalbare kultuurterme uit die Europese kultuursfeer opgeneem het sonder dat dit in die minste detoneer. So het hy Afrikaans help oopmaak en sy grense wyer gestel." (Die Burger, 19 Junie 1970)
  • Die Burger (19 Junie 1970) se eerbetuiging het gelui: "NP Van Wyk Louw laat aan Suid-Afrika ’n onskatbare erfenis van skoonheid en profesie. Sy baanbrekende gees was ’n gawe vir sy eie tyd, maar omdat sy medium die woord in sy voortreflikste aanwending was, is sy nalatenskap ook onsterflik. Hoe verder dit in jare verwyderd raak van die verganklike omstandighede waarin dit vorm gekry het, des te suiwerder sal die onverganklike daarin te voorskyn tree. [...] Sy woorde sal om hul skoonheid, hoë besieling en glansende vakmanskap ’n ereplek hê in ons literatuur solank die Afrikaanse taal bestaan. Sy gedagtes sal die komende geslagte help om te lewe. Vir wat hy reeds in sy leeftyd vir die Afrikaanse woord en die Afrikaanse denke gedoen het, is Suid-Afrika, en met name die Afrikaners, aan Louw meer verskuldig as wat hulle besef."

Publikasies

Publikasie

Alleenspraak

Publikasiedatum

  • 1935
  • 1937
  • 1938
  • 1943
  • 1958
  • 1971
  • 1978

ISBN

0624012085 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1937

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die halwe kring

Publikasiedatum

  • 1937
  • 1942
  • 1947
  • 1958
  • 1967
  • 1971
  • 1976
  • 1985

ISBN

0624000575 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1940

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die dieper reg: ’n spel van die oordeel oor ’n volk

Publikasiedatum

  • 1938
  • 1942
  • 1947
  • 1961
  • 1971
  • 1978

ISBN

0624010880 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Berigte te velde: opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse nasionale letterkunde

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1959
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Pretoria: Van Schaik
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Hertzogprys 1958 (ook vir Maskers van die erns; Lojale verset en Die “mens” agter die boek)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Lojale verset: kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1954
  • 1965
  • 1970
  • 1975

ISBN

0624006417 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Hertzogprys 1958 (ook vir Maskers van die erns; Die “mens” agter die boek en Berigte te velde)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Raka

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1943
  • 1945
  • 1947
  • 1956
  • 1958
  • 1959
  • 1964
  • 1965
  • 1967
  • 1969
  • 1975
  • 1977
  • 1980
  • 1983
  • 1985
  • 1986
  • 2000

ISBN

  • 0624001520 (hb)
  • 0624003337 (sb)
  • 0624039412 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Nasionale Pers Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels vertaal deur Anthony Dawes, 1968
  • Duits vertaal deur WA Kellner, 1970

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gestaltes en diere

Publikasiedatum

  • 1942
  • 1947
  • 1954
  • 1958
  • 1972
  • 1975
  • 1980

ISBN

0624002624 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die digter as intellektueel. (Intreerede by aanvaarding van die amp van Buitengewone Hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam op 22 Mei 1950)

Publikasiedatum

1950

ISBN

(sb)

Uitgewers

’s-Gravenhage: Stols

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dias

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1953
  • 1955
  • 1959
  • 1964
  • 1965
  • 1972
  • 1977
  • 1978
  • 1980
  • 1982
  • 1986
  • 1987
  • 1988
  • 1989
  • 1994
  • 1996

ISBN

0624003086 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nuwe verse

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1956
  • 1963
  • 1969
  • 1981
  • 1987

ISBN

  • 0624014996 (hb)
  • 0624024679 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1954

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Maskers van die erns

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1956
  • 1977

ISBN

0628011164 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Hertzogprys 1958 (ook vir Die “mens” agter die boek; Lojale verset en Berigte te velde)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Germanicus

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1957
  • 1959
  • 1961
  • 1963
  • 1967
  • 1968
  • 1970
  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1986
  • 1987

ISBN

  • 0624000907 (hb)
  • 0624000915 (hb)
  • 0624023435 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 1956
  • Hertzogprys 1960

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die “mens” agter die boek (Uitgegee by geleentheid van die digter se 50ste verjaardag op 11 Junie 1956)

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Opstelle

Pryse toegeken

Hertzogprys 1958 (ook vir Maskers van die erns; Lojale verset en Berigte te velde)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Swaarte- en ligpunte: benaderings van die literatuur I

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1967
  • 1975

ISBN

0624007219 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Wêreld deur glas

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1967
  • 1975

ISBN

0624007227 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liberale nasionalisme: gedagtes oor die nasionalisme, liberalisme en tradisie vir Suid-Afrikaners met ’n kulturele nadrup

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

NP Van Wyk Louw: ’n Keur uit sy gedigte. Saamgestel deur Elize Botha en AP Grové

Publikasiedatum

[19-]

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vernuwing in die prosa

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1967
  • 1970
  • 1973

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Academica

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dagboek van ’n soldaat

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1964
  • 1973
  • 1974
  • 1983
  • 1985
  • 1987

ISBN

  • 0628003544 (hb)
  • 062803220X (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

SAUK-prys vir Hoorspele 1961

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Lewenslyn

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1971
  • 1974

ISBN

0798101431 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Simondium
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die held

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1964
  • 1967
  • 1970
  • 1972
  • 1981
  • 1993

ISBN

  • 0628000073 (hb)
  • 0628035195 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tristia en ander verse, voorspele en vlugte 1950–1957

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1975

ISBN

0798104090 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1962
  • Hertzogprys 1965
  • Departement van Kuns en Kultuur se toekenning as beste poësiebundel 2005

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Koning-Eenoog, of, Nie vir geleerdes: ’n spel van anachronismes en ’n anachronisme

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1968
  • 1970
  • 1975
  • 1988

ISBN

  • 0624006530 (hb)
  • 0624026485 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kruger breek die pad oop en ander hoorspele

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1966
  • 1973

ISBN

0798103582 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Hoorspele

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Asterion: libretto vir ’n radiofoniese opera

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Raka. Met illustrasies deur Katrine Harries. (Uitgegee in ’n beperkte oplaag van 450 genommerde eksemplare by geleentheid van die digter se 60ste verjaardag.)

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tristiasketsboek. (Uitgegee by geleentheid van die digter se 60ste verjaardag.)

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Huldigingsbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Berei in die woestyn: Jesaja 40:3; ’n sinne- en wa-spel

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Rondom eie werk. Saamgestel deur Truida Louw

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Radiopraatjies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Opstelle oor ons ouer digters

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1985

ISBN

0798101288 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die pluimsaad waai ver, of, Bitter begin

Publikasiedatum

1972

ISBN

0798102144 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Blomme vir die winter

Publikasiedatum

1974

ISBN

0798104619 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Oh wide and sad land: Afrikaans poetry of NP Van Wyk Louw. Vertaal deur Adam Small.

Publikasiedatum

1975

ISBN

0623008742 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Maskew Miller

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die val van ’n regvaardige man: eerste ontwerp vir ’n hoorspel

Publikasiedatum

1976

ISBN

  • 079810676X (hb)
  • 079812749X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Deurskouende verband

Publikasiedatum

1977

ISBN

0798107731 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1988
  • 2002

ISBN

  • 0624016021 (hb)
  • 0624041832 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie hoorspele: Die held; Dagboek van ’n soldaat en Lewenslyn

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1986

ISBN

  • 0798114622 (hb)
  • 0798121238 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Perskor
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Hoorspele

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skietlood

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113668 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Weegskaal

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113642 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versamelde prosa I

Publikasiedatum

1986

ISBN

0624023729 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Versamelbundel van Louw se kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Versamelde prosa II

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798120053 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Versamelbundel van Louw se kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gedagtes vir ons tyd: uit die prosa van NP Van Wyk Louw. Saamgestel deur PA Joubert.

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026833 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verborge vuur: ’n keur uit die korter poësie van Van Wyk Louw. Saamgestel deur Peter Louw

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624028410 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die mooiste van Van Wyk Louw. Saamgestel deur Peter Louw

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798133082 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek ken jou goed genoeg – die briefwisseling tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw, 1936–1939. Saamgestel en geredigeer deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

20065

ISBN

1869190882 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Briewe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

NP Van Wyk Louw as samesteller

  • Treknet: bloemlesing uit die Afrikaanse poësie; saam met E Lindenberg. Pretoria: Academica, 1966, 1968, 1969, 1971, 1972, 1973, 1976, 1977, 1978, 1981, 1986 [ISBN 0868740101 (hb); 0798106646 (hb); 0868741426 (hb); 0868742392 (hb)]

NP Van Wyk Louw as redakteur

  • Tussen die engtes: ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers; saam met DB Bosman en WEG Louw. Kaapstad: HAUM, 1940

Artikels oor NP Van Wyk Louw beskikbaar op die internet

Bronne

  • Steyn, JC: Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal. Deel 1 en 2. Kaapstad: Tafelberg

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 2

Kommentaar

  • Baie baie dankie Erika vir hierdie lekker kompakte bron van inligting en waardevolle verwysingsbron vir ons NP Van Wyk Louw aanhangers/bewonderaars.Die dae wat dit jou gekos het om dit saam te stel gaan maande se tyd spaar vir ander wat dit gaan gebruik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top