
Hendrik Verwoerd en NP Van Wyk Louw
Verwoerd en Louw het elkeen ’n resep vir die Afrikaner se oorlewing aangebied: Verwoerd deur groter skeiding van rasse en Louw deur die beklemtoning van die kulturele eenheid van alle Afrikaanssprekers.
Die 1950’s en ’60’s was storm-en-drang-jare in Suid-Afrika. In 1952 is ’n voormalige akademikus cum koerantredakteur aangestel as minister van naturellesake, ’n kabinetspos wat allerweë beskou is as ’n “selfmoordportefeulje” waarheen politici gestuur word van wie ’n mens ontslae wil raak. Hy was Hendrik Verwoerd, en met sy skerp intellek, merkwaardige organisasievermoë en denkvernuf het hy nie net van sy portefeulje ’n sukses gemaak nie, maar ook van sg Groot Apartheid, die ruggraat van die Nasionale Party (NP) se beleid.
Sedert die laat jare dertig het ’n jong NP Van Wyk Louw, toe reeds Afrikaans se grootste digtersfiguur, hom gevestig as Afrikaans se belangrikste “kultuurdenker”, met opstelle in verskillende publikasies. Later het opstelbundels soos Lojale verset en Berigte te velde verskyn. In 1958, die jaar waarin Verwoerd tot leier van die NP en die land se eerste minister verkies word, verskyn sy opstelbundel Liberale nasionalisme, wat hom vestig as voorste “liberale nasionalis” in Afrikaans – ’n rigting wat hom lynreg in stryd plaas met die ambisieuse en nogal hardkoppige Hendrik Verwoerd.
As ’n jonkgetroude Vrystater wat in daardie tyd “in ballingskap” in die Kaap kom woon het, het ek gevind dat baie van my politieke stellighede onder my uitgeruk word deur navorsing onder die Afrikaanssprekende Moslemgemeenskap van die Kaap. My vrou was ook ’n maatskaplike werkster in Distrik Ses en het die harteloosheid van skeiding tussen mense op grond van velkleur eerstehands beleef.
Van Wyk Louw se Liberale nasionalisme het ons help sin maak uit al hierdie ervarings. Net soos wat dit vandag help sin maak vir ’n nuwe geslag wat uit die puin van die verlede ’n toekoms probeer skep.
’n Mens sou Louw kon beskryf as ’n “volksnasionalis”, vir wie die voortbestaan van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur onlosmaaklik verbind was met die toekoms van Afrikaans se moedertaalsprekers. Verwoerd, daarenteen, was die grootste eksponent van “staatsnasionalisme”.
Louw het hom voorheen al – onwetend – die argwaan van die regerende party op die hals gehaal met die skryf van sy radiodrama Kruger breek die pad oop, wat toevallig ook tydens Verwoerd se bewind in boekvorm verskyn het.
Tydens die skryf daarvan het Louw in Nederland gewoon en was nie altyd so bewus van die politieke nuanses tuis nie. Die drama handel oor die geskil tussen die Transvaalse Volksraad en die afgesette president Stephanus Schoeman. In ’n stadium sê die jong kommandant-generaal, Paul Kruger, in Van Wyk Louw se drama aan Schoeman: “Ons moet almal buig voor die wet. Nie jou wet of my wet nie, maar dié wet.”
In die NP was daar egter nog talle mense wat bitter gevoel het omdat die Appèlhof hulle daarvan weerhou het om kleurlingstemreg met ’n gewone meerderheid van die twee huise van die parlement van die wetboek te verwyder. Selfs toe die twee huise omskep is in ’n “’n hoë hof van die parlement” sodat die verkose politieke verteenwoordigers ook die hoogste regterlike gesag in die land kon wees, het die Appèlhof met ’n goedberedeneerde uitspraak daar ’n stokkie voor gesteek.
Kruger se woorde aan Schoeman is deur sommige beskou as ’n steek na hierdie smadelike neerlaag. Dit het die digter by ’n groot deel van die politieke establishment verdag gemaak, terwyl hy op daardie tydstip juis nog ’n sterk ondersteuner van die NP was.
Louw het goed besef dat baie mense sy opvattings as “’n struikelblok en ’n dwaasheid sal beskou, want binne elke groep – Afrikaners, Engelse, bruines en swartes – is daar die wat geen redelike oplossing vir ons probleem wil hê nie. Die wat oplossings nastreef wat slegs met geweld op ander groepe afgedruk kan word.”
Die groot verskil tussen Verwoerd en Van Wyk Louw was oor die plek van bruin mense in die Afrikaanse samelewing. Verwoerd het, toe hy uiteindelik kies, onverbiddelik vir skeiding gekies. Vir Van Wyk Louw was dit ’n fout wat die Afrikaner se toekoms alleen kon benadeel.
In sy voorwoord tot DP Botha (’n dominee) se opspraakwekkende boek oor bruin mense, Die opkoms van ons Derde Stand, wat in 1960 verskyn, skryf hy: “Die bruinmense is ons mense, hoort by ons. Hoogtepunte in die boek, waar trane in ’n mens se oë kom, is die paar sober mededelings van hoe daar in die verlede as die Afrikaner gely het, sy bruin broer by was om saam te ly.”
In nog ’n belangrike opsig het Louw van Verwoerd verskil: vir Verwoerd was Suid-Afrika ’n verlengstuk van Wes-Europa en teen dié soort standpunt het Van Wyk Louw dieselfde beswaar gehad as teen Jan Smuts se beskrywing van Suid-Afrika as “a far-off corner of the world”. Dit het hy beskou as ’n koloniale mentaliteit. ’n Volk en kultuur wat sekerheid in homself gevind het, leef wel uit al die tradisies wat op hom inwerk, maar hy self is die middelpunt van kultuurskepping en sy toekoms. “’n Volk wat uit die koloniale bewussyn loskom, uit watter klein wêreldjie ontsnap hy,” skryf hy in Liberale nasionalisme.
Vir Van Wyk Louw was die “swart engel” van nasionalisme die neiging tot chauvinisme en jingoïsme wat voortdurend fluister: “Jy is beter as ander ...” Hy het volgehou dat nasionalisme nie aggressief is in die sin dat dit wil onderwerp en beheer nie. Nasionalisme is iets wat eerder by die kleiner volke voorkom; by “groepe aan wie nasionale regte, veral taal- en kultuurregte, ontsê word, (dan) is ’n redelike mens geneig om ’n nasionalis te word”.
In Liberale nasionalisme skryf hy: “’n Mens het ’n volk lief, nie omdat hy heerlik en die beste volk is nie; hy het ’n volk lief om sy ellende ... Die liefde waarmee ’n mens ’n volk lief het is nie soos die liefde tussen man en vrou nie; dis eerder die liefde waarmee ’n mens ’n kind liefhet. Dit is nie in hoofsaak gerig op deugde of krag nie ... maar op swakheid, verblindheid, hulpeloosheid en blote moontlikheid.”
Sonder kritiek laat Louw die nasionalisme ook nie los nie. “Twee dinge het die nasionalisme nagelaat om te doen:
- Hy het geen redelike antwoord gevind op die fundamentele politieke vraag: Watter morele reg het ’n klein nasie om as nasie te wil voortbestaan?; en
- Die Afrikaanse nasionalisme het in die hitte van sy eie stryd om selfbehoud baie min aandag gegee aan die voortbestaan van ander groepe in Afrika as aparte nasies.”
Van Wyk Louw verkwalik egter ook die Suid-Afrikaanse liberalisme dat dit wel die ekonomiese en maatskaplike nood van die swart man kan raaksien, maar blind is vir sy kulturele nood. ’n Kritiek wat vandag steeds geldig is.
Waar die “stryd” tussen Verwoerd en Van Wyk Louw tot op hierdie punt bloot ideologies en teoreties was, kry dit tydens die vyfjarigebestaansviering van die Republiek in 1966 ’n hoogs persoonlike kleur wat Louw diep sou kwets. Hy word naamlik genooi om ’n feesdrama vir die geleentheid te skryf en besluit om president MT Steyn, die bittereinder-president van die Oranje-Vrystaat, as hoofkarakter te gebruik vir die feesdrama Die pluimsaad waai ver.
Vir Steyn en sy Skotse vrou het Louw ’n groot bewondering gehad. Miskien was Steyn vir hom die beliggaming van die idee dat ’n mens nie ’n volk lief het om sy grootsheid nie, maar veral ook oor sy ellende en sy “blote moontlikheid”.
Steyn trek aan die begin van die oorlog saam met sy burgers te velde, maar hy leer gou van verraad en afvalligheid. Later sit net hy en sy knapste generaals, soos De Wet en Hertzog en ’n handvol bittereinders, die stryd tot die einde toe voort. Hoewel dit militêr ’n hopelose stryd is, gaan dit om meer as politieke voortbestaan. Dit gaan ten diepste om die siel van ’n volk. Oor die vraag “Wat is ’n volk?”
Sy biograaf, Jaap Steyn, haal Van Wyk Louw aan waar hy verduidelik: “Ek glo werklik dat as ons gaan lê het na die eerste agt maande, soos sommige van die groot leiers wou gedoen het, daar nooit weer sprake sou gewees het van ’n republikeinse ideaal in hierdie land nie. Ons sou eenvoudig met hart en siel en liggaam oorgegee het. En dit is hierdie bittereinders wat aangehou het totdat liggaam en vlees dit nie meer kon hou nie, wat dit vir ons moontlik gemaak het om weer op te staan. Die pluimsaad het baie ver gewaai.”
’n Mens moet byvoorbeeld onthou dat Bloemfontein voor die uitbreek van die oorlog vir alle praktiese doeleindes ’n Engelssprekende dorp was. Selfs die Steyns het waarskynlik meestal Engels gepraat, aangesien mevrou Steyn van Skotse afkoms was. Maar na die oorlog was dit juis sy wat besluit het dat hulle by voorkeur Afrikaans sal gebruik.
Haar standpunt is onderskraag deur die oudpresident se gevleuelde woorde, wat die lyfspreuk van ’n nuwe taalbeweging sou word: “Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde, is die taal van slawe.”
Vir Steyn, en ook vir Van Wyk Louw, was die Anglo-Boereoorlog nie net ’n stryd wat op die slagveld gestry is nie, maar een wat veral in die harte en gemoedere van mense gewen moes word.
Van Wyk Louw se drama is nie die tradisionele “feeswerk” waarin heldefigure die een na die ander op die verhoog geroep word nie, maar ’n drama wat eintlik in die hart van ’n volk afspeel. Ek onthou goed hoedat ek met betraande oë uit die teater gestap het, omring deur mense met ewe nat oë.
Later sou een van die toneelspelers my vertel van ’n Engelssprekende meisie wat ná die opvoering na die kleedkamers gekom en tussen trane deur gesê het: “As dit is hoe Afrikaners is, wil ek ook een wees.”
Tog het hierdie drama om die een of ander rede die gramskap van Verwoerd gewek. Daar was ’n effense stilte voor die storm wat etlike dae geduur het, totdat hy op 31 Mei die reusesaamtrek van mense rondom Monumentkoppie toegespreek het. Verskeie koerante het dit die grootste saamtrek van mense nog in die land genoem en die Rand Daily Mail het selfs van ’n driekwartmiljoen mense gepraat.
Teen hierdie agtergrond het Verwoerd se woorde byna smalend geklink toe hy met ’n snedige stemtoon die wens uitgespreek het dat daar tog spoedig skrywers sal opstaan wat nie huiwerend sal vra: “Wat is ’n volk?” nie, maar trots en onomwonde sal sê: “So is my volk!”
Na die oorwegend gunstige resensies van die voorafgaande dae was Verwoerd se woorde byna soos ’n sweepslag.
Sonder dat iemand dit vooraf sou kon voorsien het, het Pluimsaad die spreekwoordelike lading springstof geword wat ’n breuklyn in die Afrikaanse kultuurlewe oopgeruk het. ’n Breuklyn wat al hoe sigbaarder sou word weens die “persstryd” tussen die “Noorde” en die “Suide”.
Nasionale Pers van Kaapstad, wat Die Burger gepubliseer het, maar ook Die Volksblad (Bloemfontein) en Die Oosterlig (Port Elizabeth), het dit gewaag om op die voorstoep van die twee Transvaalse persgroepe, Afrikaanse Pers (Die Vaderland) en Voortrekkerpers (Die Transvaler, waarvan Verwoerd die stigter-redakteur was), ’n nuwe Sondagkoerant, Die Beeld, te kom plant.
Almal wat die perswese dopgehou het, het besef dat iets sal moet meegee. Daar was net nie ruimte in die hartland van Transvaal vir soveel koerante – en hul uiteenlopende vertolkings van wat “nasionaal-ortodoks” is – nie. Een of meer van die persgroepe sou in die stryd ondergaan en saam daarmee ’n spesifieke vertolking van wat Afrikaner-nasionalisme was.
Nadat daar oorwegend gunstige resensies van Pluimsaad in Die Vaderland en Die Transvaler verskyn het, het lang en giftige lesersbriewe skielik in die twee koerante se briewekolomme verskyn, waarin selfs beweer is dat Louw se werk “deurdrenk (is) van die hedendaagse negativistiese défaitisme en sieklike anti-heroïsme wat hom wil meester maak van ’n siek Westerse beskawing.” Die soort argument wat nog jare later gebruik is om die vernuwing wat die Sestigers in die Afrikaanse letterkunde gebring het, verdag te maak.
Maar dit was die nuwe koerant, Die Beeld, wat die vet in die vuur sou gooi. In ’n berig haal Rykie van Reenen breedvoerig uit ’n lesersbrief in Die Transvaler aan en verwys ook na die “duidelike en misprysensde” verwysing na Pluimsaad in dr Verwoerd se feesrede; asook ’n hoofartikel in Die Transvaler, waarin geskryf word van “talentvolle mense wat geen gesonde lewensbeskouing huldig nie”; en ook verwys na die “dekadente kunstenaars van vandag”.
Die eerste skote het geklap in ’n “kulturele burgeroorlog” tussen “verlig” en “verkramp” (soos Willem de Klerk van Potchefstroom dit later genoem het), wat vir meer as twee dekades die Afrikaner se politieke lewe sou oorheers. En in die middel van dit alles was NP Van Wyk Louw.
In daardie tydperk, enkele maande voor die sluipmoord op hom, was Verwoerd ’n kolos op die politieke toneel. Om teen hom te wees was om jouself in die buitenste duisternis te bevind, en selfs van Van Wyk Louw se kennisse onder die Johannesburgse Afrikaner-elite het “veilig gespeel” deur eerder kontak met Louw te vermy – selfs van sy “vriende” in die Afrikaner-Broederbond.
Louw het homself al meer verstote en vereensaam gevoel. Hy sou skimpe oor sy morele indiskresies van die verlede nog gelate aanvaar, maar wanneer sy Afrikanerskap en sy lojaliteit teenoor Afrikaans en die Afrikaanse kultuur bevraagteken word, het dit hom diep gekwets.
Een oggend moes ek iets by sy huis met hom bespreek en tref hom alleen in die sonkamer aan. Wat ek na al die jare onthou, is die gesig van hierdie ouer man vir wie ek grenslose bewondering gehad het, wat so oorweldig was deur sy emosies dat hy skaars kon praat. Lank het ons swyend saam gesit. Ek verleë, omdat ek as jong man nie weet hoe om in so ’n situasie op te tree nie, en hy totaal oorweldig deur sy emosies. Trane het oor sy wange gebiggel.
In die politiek was dit onstuimige dae, toe die nuwe minister van justisie, John Vorster, meermale inperkingsbevele uitgereik het wat mense vir 90 of 180 dae onder huisarres geplaas het.
Toe kry Van Wyk Louw so ’n verleë, skewe glimlaggie op sy lippe: “Jy weet Piet, ek bid die Here dat as hulle die dag ’n inperkingsbevel op my dien, dit tog net nie geskryf sal wees in die soort Afrikaans van Die Transvaler nie.”
Die digter het die politikus Verwoerd met vier jaar oorleef. Vier jaar waarin hy feitlik aan elke belangrike polemiek deelgeneem het, ook politieke polemieke, maar dit het nie juis daartoe bygedra om hom by ’n invloedryke groep Afrikaners meer aanvaarbaar te maak nie. Hy was wel ’n ondersteuner en vriend van jong kunstenaars, maar vir die establishment toenemend die Groot Buitestander. Sy verhouding met die Broederbond het ook killer geword, met die gevolg dat hy besluit het om ’n rustende lid te word.
Na ’n lang siekbed, waartydens selfs ’n hartoorplanting oorweeg is, is NP Van Wyk Louw onverwags op 18 Junie 1970 oorlede, en sy roudiens vanuit die NG Kerk, Vyfdestraat Linden was op Maandag 22 Junie. Die kerk was nie vol nie, met sowat 300 mense teenwoordig en met geen politieke roubeklaers nie. Die diens is gelei deur ds Willie Huyzers, Louw se swaer en iemand vir wie hy baie agting en liefde gehad het – en toevallig self ’n Broederbonder.
Toe die konsistoriedeur oopgaan en ds Huyzers die kerk binnekom, is hy gevolg deur Piet Meyer, voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, en lede van sy uitvoerende komitee. Huyzers se eerste woorde op die kansel was: “Broeders en susters, Broers ...”
So het die finaliteit van die dood uiteindelik weer versoening en aanvaarding gebring.
In die volgende paar dae het eers Tini Vorster, vrou van die nuwe eerste minister, John Vorster, ’n pragtige brief in die pers oor Van Wyk Louw geskryf, en enkele dae later het haar man in gloeiende woorde na die ontslape digter verwys. Die soort woorde wat hooggeplaaste politici nooit tydens sy lewe gebruik het nie.
Kommentaar
Ek verwonder my altyd aan die alleenlopers wat sien wat die res van ons nie kan of wil insien nie, en Van Wyk Louw lyk soos een van die grotes. Ons geneigdheid om blindelings te volg - toe en nou - is ons land se tragedie.
Dit is jammer dat die andersdenkendes nie harder praat nie.
Dankie vir 'n insiggewende essay.