Wysheid is besig om by Suid-Afrikaanse kiesers pos te vat

  • 0

Jason Lloyd (foto: verskaf)

In die vorige aflewering van dié rubriek het ek geskryf Suid-Afrikaners sal moet kies watter soort toekoms hulle wil hê. Dit was met die oog op die munisipale verkiesings, wat sedertdien plaasgevind het.

Gebaseer op die ou patrone van hoe Suid-Afrikaners sedert 27 April 1994 stem, was ek heel skepties dat Suid-Afrikaners ooit “reg” sal begin stem.

Dit was omdat die aanbreek van die nuwe politieke bedeling in 1994 nie die gewenste uitwerking gehad het waarop baie Suid-Afrikaners gehoop het nie.

Die nierassige Suid-Afrika waarna almal uitgesien het waar almal gelyke kanse sou kry, is nooit verwesenlik nie. Inteendeel, ’n tipiese “nuwe apartheid” met ’n dodelike mengsel van korrupsie, staatskaping, onbevoegheid, kaderontplooiing, arrogansie, rassisme en uitsluiting (en uitbuiting) van minderhede het die oorhand na 1994 gekry.

Hoe die meeste mense die afgelope 27 jaar gestem het, was op bogenoemde skande geskoei. Ironies het die “etniese”, “rasgebaseerde” en “baantjies vir boeties”-stempatrone bly voortbestaan, al is Suid-Afrika leeggesteel en in die grond in regeer deur totale korrupsie, onbevoegheid, rassisme en arrogansie.

.......

Die uitslae van die munisipale verkiesings het egter verras en daar blyk ’n nuwe houding by Suid-Afrikaanse kiesers te wees. ’n Houding dat die ou stempatrone van etnisiteit, rassisme, korrupsie en baantjies vir boeties die hele land gaan vernietig. ’n Houding dat dié ou stempatrone vervang moet word deur ’n omarming van wysheid.

........

Die uitslae van die munisipale verkiesings het egter verras en daar blyk ’n nuwe houding by Suid-Afrikaanse kiesers te wees. ’n Houding dat die ou stempatrone van etnisiteit, rassisme, korrupsie en baantjies vir boeties die hele land gaan vernietig. ’n Houding dat dié ou stempatrone vervang moet word deur ’n omarming van wysheid. Wysheid wat die onreg, korrupsie, staatskaping, rassisme en algemene verval moet vervang, want sonder wysheid kan geen samelewing floreer nie. ’n Wysheid wat Suid-Afrika onherroeplik op ’n pad van sosiale kohesie, politieke en ekonomiese herstel kan plaas.

In hoe Suid-Afrikaners op 1 November gestem het, is daar vir veral die regerende party en die amptelike opposisie ’n boodskap opgesluit.

Vir die regerende party het kiesers gesê hulle is besig om stadig maar seker na ’n alternatiewe party of partye of koalisies te kyk om Suid-Afrika ná die 2024 algemene verkiesing te regeer. Dat hulle moeg is vir arrogante, diktatoriale en onbevoegde Afrika-bevrydingsbewegings wat dink hulle kan vir ewig regeer en hul mense in die proses deur korrupsie, staatskaping, kaderontplooiing, onbevoegheid en rassisme vernietig.

Vir die amptelike opposisie het kiesers gesê hulle is moeg vir hul gebrek aan ’n duidelike ekonomiese plan vir Suid-Afrika en hul houding van “ons weet alles” wat totaal uit voeling is met die aspirasies van die meerderheid Suid-Afrikaners.

........

Vir die amptelike opposisie het kiesers gesê hulle is moeg vir hul gebrek aan ’n duidelike ekonomiese plan vir Suid-Afrika en hul houding van “ons weet alles” wat totaal uit voeling is met die aspirasies van die meerderheid Suid-Afrikaners.

.........

Die tipe wysheid by die meeste Suid-Afrikaners en tekens van ’n ontwaking van politieke volwassenheid skep hoop dat die politieke en ekonomiese landskap besig is om stadig maar seker te verander.

Die slegte nuus is egter dat die herskikking van die politieke en ekonomiese landskap nie gou genoeg sal gebeur nie. Veral die stand van die ekonomie sal eers slegter word voordat dit beter word. Beurtkrag, sigbare korrupsie en onbevoegheid, veral nog op munisipale vlak, gaan ons vir ’n lang ruk lamlê.

Trouens, al die makro-ekonomiese doelwitte, soos ekonomiese groei, volle indiensneming, prysstabiliteit, betalingsbalansstabiliteit en billike verdeling van inkomste – wat gebruik kan word as kriteria om die stand van die ekonomie te beoordeel – wys dat Suid-Afrika armer word by die dag.

'n Onlangse opname het getoon dat Suid-Afrika van die onaangenaamste lande is om in te woon. Dit is hoogs aanvegbaar, maar die meeste Suid-Afrika sal hiermee saamstem.

So maak vas julle veiligheidsgordels, want vir die volgende twee tot drie jaar gaan dit veel slegter word om in Suid-Afrika te woon, maar die tikkie wysheid wat gedurende die munisipale verkiesings by Suid-Afrikaners posgevat het, skep darem hoop. Kom ons hoop dit hou tot by die 2024 algemene verkiesing en daarna.

Lees ook:

Suid-Afrikaners sal moet kies watter soort toekoms hulle wil hê

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top