Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal: ’n resensie

  • 4

Wit issie ’n colour nie
Nathan Trantraal
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795707988

Nathan Trantraal se Wit issie ’n colour nie, behoort verpligte leesstof te wees. Vir wie? Wel, alle politici, alle kerkgangers en almal wat in die onderwys belangstel. Gooi sommer mediese mense en regsmense ook hierby in.

Waarom? Want, dit is bitter min dat armoede van binne beskryf word. Hierdie resensent was onlangs in gesprek met ’n baie senior bestuurder van een van ons groot boekwinkelgroepe en dié sê toe: “Lesers is middelklas, daarom is skrywers ook middelklas.” Sy is natuurlik korrek, en daarom is die probleme wat tans in ons boeke aangespreek word, middeklasprobleme. Dit is maklik om oor armoede te sê: “Ek het nie geweet nie.”

Suid-Afrika het ras baie vinnig met klas vervang. In my woonbuurt woon mense van alle rasse. Hulle is hoogs professioneel. Met sommige, van alle rasse, kom ons goed genoeg oor die weg, daarom kuier ons oor en weer. Hier woon egter nie ’n enkele arm persoon in ons buurt nie. Huispryse skakel selfs die gemiddelde inkomstegroepe uit. Dit is dus maklik om te sê: “Ek weet nie. Ek betaal wel my bediende meer as die minimumloon.”

Dis maklik. En dit geld vir alle rasse in my buurt.

Die Afrikaanse letterkunde het ’n baie trotse en deeglike rol gespeel in die stryd teen apartheid. Die lys boeke en skrywers wat aktief die staat se wanstaltigheid uitgedaag het, is lank en indrukwekkend. Maar wat nou?

Een van die redes waarom middelklasprobleme aangespreek móét word, is presies omdat daar universele kwessies is wat ons almal raak: seks, gender, die (skyn)heiligheid van ’n verbrokkelende huwelik, vroueregte in ’n manswêreld... so kan ons aangaan.

Sophia Kapp is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat namens haar portuur skryf, maar neem haar na die Kaapse Vlakte, dan ken die lesers haar karakters asof hulle ou vriende is. Die werkersklasvroue, veral, kan identifiseer met vroue wat mishandel word. Dit maak nie saak van watter stand of klas jy is nie, geweld in die huwelik vind orals plaas.

Maar wat van armoede? Hans du Plessis se Drie vroue en ’n meisie (LAPA Uitgewers), is ’n onlangse boek wat hierdie kwessie aanspreek – maar dan in ’n historiese konteks.

’n Mens sou verder in die Afrikaanse letterkunde kon gaan delf in Boerneef se sketse en beslis sommige van daardie bergies se honger kan ervaar, maar... hoe weet ek tans in my wit huis (-watdit is) versteek agter ’n sesvoetmuur met viervoet-elektriese-heining, wat aangaan in iemand se huisie op die Kaapse Vlakte?

Sommige van ons ry wel “daarheen” om te gaan help. My geliefde werk in ’n buurt waar geen ambulans sonder polisiebegeleiding mag ingaan nie. Sy ry vrou alleen daar in en uit. Elke weeksdag.

En tog: Tog kan ons terugkeer, die outomatiese hek oopmaak nadat ADT die straat veilig verklaar het, en weer die hek outomaties toemaak om te kan skuil agter die elektriese heining, diefwering en alarm.

Dis die punt. Selfs ons wat daagliks in ons middelklashuise worstel met ander se armoede, doen dit met ’n daaglikse bord kos om te geniet.

Nathan Trantraal (Foto: Naomi Bruwer)

Enter Nathan Trantraal, stage left

Nathan mag dalk vandag al opbeweeg het. Ons weet waar hy studeer (feit) en hoe die Nederlanders vliegkaartjies borg (so skinder die jaloerses graag). Is Nathan al middelklas? Wie weet? Maak dit saak? Hy is steeds na genoeg aan die honger en die skaam wees oor armoede om daaroor te kan skryf. Van binne.

Interessant genoeg verwys hy na ’n gedig van sy broer, André, toe hy by geleentheid gevra word om oor sy komvandaan te vertel: “Skaam oo alles / Skaam oo kakpapie / Koerante in plaas van toiletpapie”.

Maar, al is Nathan deesdae meer bevoorreg, is die honger naby genoeg aan hom dat hy vanuit sy eie maag kan skryf daaroor. Een van die treffendste stukke is juis die verhaal “Departures” waarin hy praat oor hoe hy wegvlieg van die Kaapse armoede af. Lees dit.

Het hierdie resensent pas geskryf “een van die treffendste stukke”? Hoe kies ’n mens? Dit is waar dat sommige verhale dalk minder seer in die maag skop as ander, maar daar is min van hulle wat nie skop nie. Keer op keer het Nathan se gestroopte verhale, gemeng met die allerslimste aanhalings uit die wêreldletterkunde, hierdie leser na sy asem laat snak.

Ek kan nie anders nie as om te sê: Lees Wit issie ’n colour nie.

Nathan Trantraal is dalk nie uniek nie. HemelBesem se biografiese werk God praat Afrikaans (LAPA Uitgewers) vertel ook verhale van swaarkry en sou as tweelingteks interessante vergelykings met die van Trantraal oplewer. Ek sou beslis ook Jeremy vannie Elsies, deur Jeremy Veary (Tafelberg) aanbeveel. Laasgenoemde is ’n fantastiese teks. Ook sou ’n mens Skollie – One man’s struggle to survive by telling stories, die boek deur John W. Fredericks (Penguin), waarop die film Noem my Skollie gebaseer is, moet noem.

Eintlik is die eerste sin in die vorige paragraaf louter snert. Nathan se stem is juis nie uniek nie. Daar is duisende ander op die Kaapse vlakte wat stories het soos syne, en wat praat soos hy. Maar hoeveel van hulle sit in ons huise en vertel daardie stories?

Dis waarom Wit issie ’n colour nie so ’n wonderlike boek is. Ten spyte van die overte rasverwysing in die teks, is daar bitter min geskryf oor rassituasies. Hierdie boek spreek armoede aan op ’n manier waarop niemand kan sê “ek het nie geweet nie”. Mag die diknekke in die parlement elkeen so ’n boek kry vir Kersfees.

Wit issie ’n colour nie is geskryf in Trantraal se dialek van Kaaps. Ek lees dit baie maklik met slegs enkele woorde wat my gepootjie het.

Daar is al gewag gemaak van Trantraal se aanvallende houding oor Adam Small se taal, maar net soos “Standaardafrikaans” geen standaard is nie, so is daar ook geen standaard vir Kaaps nie.

Nathan Trantraal is dalk nie uniek nie, ook nie noodwendig altyd reg nie. Dit is egter sy storie en sy stem hierdie en hy vertel ’n storie waarvan ons moet weet – juis omdat Nathan nie uniek is nie.

Lees ook op LitNet en Voertaal

LitNet Eerste slukkie: God praat Afrikaans deur HemelBesem

God praat Afrikaans met HemelBesem en Raj Mohan: ’n teaterresensie

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

’n Onvoltooide tapisserie: fakkeldraer Vearey se Jeremy vannie Elsies

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey

  • 4

Kommentaar

  • Hélène Lewis

    Daar's iets wat Nathan raakvat in sy skrywes wat ek mis by meeste skrywers, (geskiedkundiges ingesluit).
    Dis asof hulle lykskouings hou met hulle “stories”.
    Asof hiérdie mens ... hierdie ”lyk” – 'n bloot eendimensionele ding was met plek en datum. Dis al.
    En daarom sal ek Nathan aanhou lees, al vind ek hom soms krapperig. Want ook dit is lewe. En ten minste eerlik.

  • Dennis Basson

    Hoe maak ek kontak met Nathan Trantaal?
    Ek soek die liedjies wat die kleurlingkinders van Montague by die Muskadelfees gesing het. Dit het woorde soos Dagatjies en Bybetjies ens in die liedjie gehad het ek wil dit herhaal in iets soos die Afrikaanse FAK.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top