Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n Instagram-resensie

  • 0

Foto: wwww.woordfees.co.za

Sonder vooropgestelde verwagtinge is ek totaal deur Windroos oorweldig. Boonzaaier se beeldryke innovasie met sy programmatiese nabootsings van die wind in bo- en ondertone in die overture, sowel as die soortgelyke reënmotiewe in “Weskuswind”, kleur die tekstuur in sagte, sensitiewe skakerings, wat ’n gevoel van teerheid oordra.

Die koor was na persoonlike mening ietwat oor-klankversterk, met die gevolg dat die lirieke dikwels onverstaanbaar was en die strykers soms ook daarin verswelg was; tog het die intensheid van die klankmengsel positief oortuig.

Kühn se afronding van die orkes was onverbeterlik, en vir alle doeleindes was die orkes uiters professioneel, met besondere eenheid tussen hulle en die koor. Die sensuele vioolsolo in “Song of the Universal” is meesterlik deur Bell en Hinniker behartig en die Vivox-koor het deurgaans uitdagende harmonieë en dissonante met oorgawe en genot baasgeraak.

’n Mens sou moontlik meer afwisseling in harmoniese kleur en soms ook dinamiek kon vra, maar die geheel het die siel van die poësie pragtig beliggaam.

In die “warm” kleure van die stemme en orkes was die klavier ’n welkome koel verkwikking van druppelagtige artikulasie. Dankie vir die naatlose samewerking van soveel ywerige talent!

  • Chantal Grove-le Guillou werk by die Universiteit Stellenbosch en is self ook ’n violis. Sy deel haar kortlikse Instagram-indrukke oor die "Windroos"-optrede op Saterdagaand 7 Oktober 2023 deur dié orkes en koor, wat meestal uit amateurspelers bestaan, met LitNet.

@woordfees @winelandsphilharmonic

Lees ook:

Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met komponis Kristi Boonzaaier

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top