"Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor." So verwoord CP Hoogenhout die taalstryd van die 1800’s in een van sy bekendste gedigte.
In dieselfde jaar waarin Afrikaans sy honderdjarige bestaan as amptelike taal vier, het daar weer ’n golf van woede en wantroue uit Afrikaanse geledere oor die land gespoel. Dié keer is Hoogenhout se versetkreet oor die verengelsing na die Tweede Anglo-Boereoorlog aan die adres van die SAUK gerig.
Dit volg na ’n beweerde "skeduleringsfout" wat veroorsaak het dat die Afrikaanse nuusbulletin onlangs nie oor ’n naweek uitgesaai is nie.
Die SAUK se verduideliking dat dit bloot ’n "skeduleringsfout" was, het min gedoen om die groeiende onsekerheid te besweer. Vir ’n gemeenskap wat reeds die kansellasie van geliefde programme soos 7de Laan en Pasella betreur, voel hierdie insident soos nog ’n teken van ’n sistematiese afskaling van Afrikaans deur die openbare uitsaaier.
Ondanks die SAUK se herhaalde versekerings dat Afrikaanse nuus ’n prioriteit is, bly kykers skepties. Dit word gevoed deur jare se persepsies van marginalisering en ’n gebrek aan deursigtigheid.
Of dit werklik ’n onskuldige fout was, en of daar ’n dieper agenda teen een van Suid-Afrika se amptelike tale is, bly ’n debatspunt waaroor mense verskil.
Die sogenaamde skeduleringsfout met die Afrikaanse TV-nuusbulletin op 5 en 6 April is nie net ’n geïsoleerde insident nie. Dit word deur baie gesien as deel van ’n groter, meer sistematiese probleem wat wantroue teenoor die SAUK aanwakker.
Die Afrikaanse nuusbulletin, met meer as 300 000 kykers, is een van die laaste bakens van Afrikaanse inhoud op die SAUK. Enige dreigement daarteen word as ’n aanval op kultuurerfenis ervaar.
Die voorval het emosies opgerakel omdat dit volg op jare se persepsies dat Afrikaans in die breër Suid-Afrikaanse samelewing gemarginaliseer word, byvoorbeeld in onderwys of by openbare dienste soos howe en polisiestasies, om slegs enkeles te noem.
Dit is moeilik om Afrikaanse mense te oortuig dat die insident net ’n tegniese fout was. Dit word wyd ervaar as ’n katalisator wat jare se frustrasies na vore gebring het. Selfs al was dit werklik ’n fout, het die SAUK se swak hantering daarvan en die historiese konteks dit vir baie mense laat lyk soos deel van ’n groter plan om Afrikaans af te skaal. Dit verklaar waarom kykers, ondanks die SAUK se versekerings, bly twyfel aan hul bedoelings.
Die SAUK is Suid-Afrika se openbare uitsaaier en het ’n mandaat om programme in al 11 gesproke amptelike tale (Suid-Afrikaanse Gebaretaal dus uitgesluit) aan te bied, insluitend Afrikaans. Die Afrikaanse nuusbulletin op SABC2 met sy lojale kykersbasis was dekades lank ’n belangrike bron van inligting vir Afrikaanssprekendes.
Die afgelope jare was daar egter toenemende kommer oor die vermindering van Afrikaanse inhoud op SAUK-kanale. Die kansellasie van programme soos 7de Laan en Pasella het spekulasies dat Afrikaans as taal al hoe minder prioriteit geniet, verder aangeblaas.
Hierdie onlangse insident het dus noodwendig groot verontwaardiging onder kykers veroorsaak. Politieke partye soos die DA en VF Plus, en organisasies soos AfriForum, het die alarmklokke luid laat lui. Die publiek en hierdie groepe het gevrees dat dit ’n bewuste stap was om Afrikaanse nuus op TV permanent te staak.
Die SAUK het vinnig wal gegooi en aangevoer dat dit nie die gevolg was van ’n besluit om Afrikaanse nuus te kanselleer nie.
Hulle het kykers verseker dat Afrikaanse nuus nie gestaak word nie, en ook nie gedeprioritiseer word nie – die SAUK is daartoe verbind om alle amptelike tale, insluitend Afrikaans, gelyk te bedien. Interne prosesse is glo aan die gang om die fout aan te spreek en te verseker dat dit nie weer gebeur nie.
Woordvoerder Mmoni Ngubane het byvoorbeeld gesê: "Ons wil die publiek en ons belanghebbendes verseker dat daar geen plan of besluit is om Afrikaanse nuus te staak of te deprioritiseer nie."
Hierdie verskonings val egter op dowe ore. Die Afrikaanse publiek sluk swaar aan hierdie pil. Ondanks die SAUK se verduideliking bly daar skeptisisme.
Kritici soos die DA en AfriForum het gevra vir deursigtigheid en verduidelikings, met sommige wat spekuleer dat die "fout" dalk ’n toets was om die publiek se reaksie te peil. AfriForum het selfs ’n versoek ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om meer inligting te kry.
Politieke partye het beklemtoon dat die SAUK ’n verpligting het om alle taalgemeenskappe te dien, aangesien kykers TV-lisensies betaal en Afrikaanssprekendes ’n beduidende mark is.
Sosiale media het gemengde reaksies getoon. Sommige gebruikers het die SAUK beskuldig van sistematiese marginalisering van Afrikaans, terwyl ander die verduideliking aanvaar het, maar steeds bekommerd is oor die breër tendens van minder Afrikaanse inhoud.
Daar is inderdaad geen amptelike aankondiging van die SAUK dat hulle Afrikaanse nuus permanent wil staak nie. Inteendeel, die SAUK het herhaaldelik gesê dat Afrikaans ’n belangrike deel van hul uitsaaimandaat bly.
Die SAUK se benarde finansiële posisie en die prioritisering van ander tale (soos Engels of inheemse "swart tale") word wyd gesien as moontlike redes vir die vermindering van Afrikaanse inhoud. Dit alles versterk die agterdog dat Afrikaans al hoe meer afgeskaal word en Afrikaanse TV-nuus op sy sterfbed lê.
Daar word onder meer gegis dat die SAUK se TV-hoofde reeds in Maart opdrag gegee het dat Afrikaanse naweeknuus vanaf April permanent gestaak moet word. Hierdie bewering word deur die SAUK ontken en kon nog nie bewys word nie, maar die persepsie dat dit waar is, bly staan.
Die debat oor Afrikaanse nuus raak ook aan groter taalkwessies in Suid-Afrika. Met 11 amptelike tale is daar noodwendig soms spanning oor hoe die SAUK sy hulpbronne tussen al die tale verdeel. Afrikaans, hoewel wyd gepraat, word steeds deur sommige geassosieer met die apartheidsera. Dit lei tot komplekse politieke en kulturele debatte, al is die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit nie.
Afrikaanssprekendes voel dikwels dat hul taal en kultuur gemarginaliseer word, en vergeet soms dat ander groepe dalk dieselfde oor hulle eie tale voel. Dit kan nie maklik wees vir die SAUK om hierdie balans te probeer handhaaf nie, veral gegewe sy finansiële posisie.
Die SAUK se jare lange geldprobleme veroorsaak aanhoudende besnoeiings in programme en personeel. Dit kan tot ’n mate verklaar waarom sommige Afrikaanse programme afgeskaal is. Afrikaans is in dié opsig egter nie uniek nie – ook ander tale se inhoud word geraak.
Sedert die nuusbulletinblaps is die Afrikaanse nuus weer terug in sy normale tydgleuf. Dit bied egter weinig troos. Die Afrikaanse TV-nuus is reeds op die agtergrond geplaas toe dit na ’n onhebbelike tyd na TV3 geskuif is. Dit het duisende Afrikaanse mense permanent so vervreem dat hulle glad nie meer Afrikaanse TV-nuus op die SAUK se kanale kyk nie.
Dit is dus te verstane dat die publiek en groepe soos AfriForum en die DA waaksaam agterdogtig is en die situasie noukeurig dophou vir enige tekens van verandering in beleid.
Die Afrikaanse taalkundige en akademikus Wannie Carstens, wat bekend is vir die bevordering en bewaring van Afrikaans, is ook skepties oor die SAUK se verskoning dat die voorval bloot ’n skeduleringsfout was.
"Ek dink hoegenaamd nie dit is ’n gewone skeduleringsfout nie," het hy aan LitNet gesê. "Ek dink eerder dit is ’n poging om die reaksie van die Afrikaanse gemeenskap te probeer bepaal."
Indien daar min reaksie is, gaan hulle doodgewoon voort daarmee, meen hy. Die feit dat daar tot op hede nie optredes was teen mense hieroor nie, is volgens hom reeds ’n aanduiding dat die uitsaaier vere voel vir Afrikaans.
"Sal die SABC so dom wees om nog van hulle lisensiebetalers hieroor te wil verloor? En die advertensie-inkomste wat die bulletins self meebring? Of is ideologie so sterk dat dit alle gesonde verstand troef? As dit is wat die mense wil doen, wees dan net eerlik daaroor, dan kan ander planne gemaak word," het Carstens gesê.
Carstens raak ’n sentiment aan wat inderdaad wydverspreid is onder Afrikaanssprekende gemeenskappe.
Sy kommentaar oor die SAUK sluit aan by sy lewenslange passie vir die bewaring van Afrikaans as ’n lewende, funksionele taal. Sy vraag of die SAUK "so dom" sou wees om lisensiebetalers te verloor, en sy pleidooi vir eerlikheid, wys hoe hy die insident as deel van ’n groter uitdaging vir Afrikaans se plek in die openbare media sien.
Dit resoneer met die wantroue onder Afrikaanse TV-kykers, aangesien hy die emosies van kykers versterk deur te vra vir konkrete antwoorde en aksie.
Dat daar oor die afgelope dekade verskeie Afrikaanse programme deur die SAUK gekanselleer is, help geensins om die wantroue teenoor die SAUK te besweer nie. Dit dra by tot die persepsie dat Afrikaanse inhoud stelselmatig verminder word.
Die SAUK se verduideliking van ’n "skeduleringsfout" bly vaag en sonder gedetailleerde inligting oor wat presies verkeerd geloop het en laat ruimte vir spekulasie.
Plasings op sosiale media soos X wat beweer dat daar interne opdragte was om Afrikaanse nuus te staak, versterk die publiek se wantroue verder, al is dit nie noodwendig waar nie.
Die feit dat Afrikaans dikwels steeds in openbare debatte gepolitiseer word, met sommige wat dit assosieer met historiese ongelykhede, dra verder by tot ’n gevoel onder Afrikaanssprekendes dat hul taal doelbewus geteiken word.
Organisasies soos AfriForum en partye soos die DA en VF Plus versterk dikwels hierdie narratief op ietwat oordrewe manier wanneer hulle die SAUK se optrede as ’n aanval op Afrikaanse kultuur skets, wat emosies verder aanwakker.
Ongelukkig doen die SAUK weinig van sy kant om hierdie narratief te besweer. Wanneer Afrikaanse programme skielik geskuif of gekanselleer word, bevestig dit baie mense se vermoede dat daar ’n patroon is om Afrikaans af te skaal.
Tot dusver is daar geen amptelike dokumente of bevestigde verklarings wat bewys dat die SAUK ’n eksplisiete beleid het om Afrikaanse nuus of inhoud permanent te staak nie.
Dit is ook waar dat die SAUK onder geweldige begrotingsdruk verkeer en groot finansiële uitdagings in die gesig staar. Alle tale word deur besnoeiings geraak – Afrikaans word nie alleen geteiken nie.
Vir die duisende Afrikaanse mense met ’n sterk emosionele belang by Afrikaans, gaan dit egter nie net oor ’n taal nie, maar is dit ’n kernaspek van identiteit. Enige verandering, selfs ’n tegniese fout, word as ’n bedreiging gesien.
Die SAUK se geskiedenis van swak kommunikasie en finansiële wanbestuur maak dat kykers hul verduidelikings met ’n korrel sout neem en versterk die verlies aan vertroue.
Die SAUK het ’n verantwoordelikheid om hierdie wantroue op ’n veel meer deursigtige manier aan te spreek as wat tot dusver die geval was. Hulle sal moet verduidelik presies wat die "skeduleringsfout" veroorsaak het en hoe ’n herhaling daarvan voorkom sal word.
Intussen sal die waaksaamheid van groepe soos AfriForum en kykers voortduur. Enige verdere insidente sal waarskynlik soortgelyke reaksies ontlok.
Uiteindelik is dit alles deel van die land se breër taaldebat. Dit beklemtoon die behoefte aan ’n groter gesprek oor hoe die SAUK taalgelykheid in ’n finansieel beperkte omgewing balanseer.
Die persepsie dat die SAUK Afrikaans afskaal, sal nie vanself verdwyn nie. Selfs al mag daar dalk harde bewyse van ’n doelbewuste afskalingbeleid van Afrikaans by die openbare uitsaaier ontbreek, word die agterdog aangevuur deur historiese tendense, swak kommunikasie, en kykers se emosionele sensitiwiteit.
Die wantroue op sigself is ’n teken dat die SAUK meer moet doen om Afrikaanssprekendes te verseker dat hul taal gewaardeer word.


Kommentaar
Ek dink dis doelbewus gedoen, en ook voetspore wat verdwyn het?
Net voor godsdienstige programme, soos bv "Die aandgedagte", word daar oorwegend Engelse liedere gespeel, terwyl die Afrikaanse gewyde liedere afgeskeep word.
En die Engelssprekendes onder die wit bevolking sal ook nie ’n vinger verroer om Afrikaans ter wille te wees nie.