Die SABC het kanker, soos in die ou dae

  • 15

Cobus Bester (foto: Facebook)

Die skorsing van drie lede van die SABC se nuusspan verlede week is net 'n duideliker simptoom van 'n kanker wat daardie ou organisasie al baie jare beet het. Lank voor Hlaudi Motsoeneng, Jimi Matthews en Kaizer Kganyago. Lank terug, toe die eerste SAUK-base post-Gideon Roos die knie gebuig het voor die heilige Nasionale Party en die patroon gestel het vir die SAUK as regeringsmondstuk in plaas van die BBC-model van openbare uitsaaier.

Jy kry net een geleentheid om jou rug sterk te hou. Daarna is jy vir ewig in die skuld en op jou rug. 'n Les wat Vorster en al twee die Bothas en al hulle skoothondamptenare maar te goed verstaan het. Spring! het hulle gesê en die base het inderdaad, met dankbaarheid, gespring.

Daar wás, soos altyd, die uitsonderings, diegene wat dit duidelik gemaak het dat hulle nie saamstem of saamgaan nie. Dis hier waar die destydse base ietwat meer subtiel te werk gegaan het as die huidige groep septerswaaiers. Dwarstrekkers en teëstribbelaars is bloot opsy geskuif na nuustake waar hulle nie hóéf te wroeg nie. Waar hulle selfs kon glo dat hulle hul integriteit intakt gehou het.

En dan was daar natuurlik die oorsese poste. Ander nuusorganisasies gebruik sodanige aanstellings om goeie mense te beloon en voor te berei op groter dinge. Die SAUK het Londen en Washington gebruik om mense wat in die pad was of vir "grootbase" soos PW Botha kwaad gemaak het, uit die pad te kry. Vra maar vir Freek Robinson wat gebeur het toe hy sy rug teen PW styf gemaak het.

Die FW de Klerk- en Nelson Mandela-eras het beter verloop. Min inmenging, indien enige, en my gevoel was dat sommige amptenare wat dit wel probeer het, dit uit hulle eie misplaaste sin van mag gedoen het. Onder die daaropvolgende leiers se heerskappy met die sweetheart-rade wat hulle aangestel het en die gedienstige en onbevoegde uitvoerende hoofde het sake egter baie gou weer skeefgeloop.

Die SABC se topbestuur en sy nuusdiens se bestuur bestaan vandag grootliks uit 'n konglomeraat van meelopers en skoenlekkers wat desperaat aan hulle poste vasklou deur Hlaudi Motsoeneng gedienstig te wees. Sonder Hlaudi gaan die tier op wie se rug hulle sit, hulle opvreet. En Hlaudi Motsoeneng bly aan bewind, de facto hoof van 'n organisasie wat wél 'n uitvoerende hoof het, maar dié arme man is verlede jaar geskors sommer kort na hy aangestel is. Hlaudi het nie van hom gehou nie. En hoe bly Hlaudi daar, afgesien van die meelopers wat hom binne die organisasie steun en beskerm? Net soos hulle dit in die ou dae gedoen het. Sonder Pik se steun was sy vriend Koedoe Eksteen sommer gou weer weg. So word Hlaudi aan bewind gehou deur 'n hele falanks pryssangers, soos die voormalige raadsvoorsitter, Ben Ngubane, en minister Faith Muthambi, wat van uitsaai niks weet nie, maar so graag vir "baba" Nr Een wil "happy" maak.

Niemand leer nie. Die afgelope jare het 'n hele regiment mislukkings deur die korporasie se deure ingeloop en weer uit, gewoonlik ook met 'n reuse goue handdruk. Dink hier by voorbeeld aan die EFF se huidige voorsitter, Dali Mpofu, en die politieke kommissar vroeër van Sofia, Bulgarye, kameraad Snuki Zikalala.

So, wie is Thandeka Gqubule, Foeta Krige, Suna Venter? En hoekom is hulle regtig in die moeilikheid?

Thandeka is 'n struggle-kind. Ek ken haar die swakste van die drie; min met haar te doen gehad. Iemand wat haar goed bekwaam het, onder meer aan die Universiteit van Columbia, New York. Suna, eweneens goed gekwalifiseer en wat reeds bewys het dat die vuur van die joernalistiek warm in haar are brand. Van die drie ken ek vir Foeta Krige die heel beste. Die joernalis se joernalis. Die reisiger se reisiger. Die persoon met wie jy die graagste oor 'n bottel wyn om 'n kampvuur wil sit en luister na sy nugtere, eerlike siening van wie weet wat. 'n Man wie se soms grimmige, ruwe voorkoms 'n sagte, warm sy verskuil wat veral verskyn wanneer 'n kollega 'n werklike probleem het. Die effens beeragtige beskermende pa van twee slimkopdogters.

 Met ander woorde, ons praat nie hier van natuurlike opstokers nie. Net mense wat goed is in hulle werk en dit graag reg wil doen.

Die vergadering verlede Maandag waarin hulle die groot "sonde" gepleeg het, was die daaglikse dagboekvergadering waar 'n mens juis openlik moet kan praat, verskil, menings rondgooi en besluit hoe die stories op jou dagboek gedek moet word. Die waarnemende hoof van nuus, Simon Tebele, het opdrag gegee dat sekere protesoptrede teen die SABC nie gedek of na verwys mag word nie. My drie oudkollegas het beswaar gemaak, aangevoer dat dit die SABC se integriteit gaan vernietig. Simon Tebele het nie saamgestem nie. Simon weet hoe om sy base tevrede te hou en sy werk te behou. Donderdag skors Simon toe die drie beswaarmakers.

 Die "saak" teen dié drie bestaan eintlik nie. Hulle het heeltemal binne hulle regte opgetree, maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie. Dis duidelik dat Motsoeneng opdrag het om die ANC die verkiesing te help wen. Hou die protesoptrede uit nuus uit en ander mense hoor dalk dan nie dat dinge elders ook sleg gaan nie. In 'n sekere opsig is hulle skorsing en die storm wat dit ontketen het, iets om voor dankbaar te wees, want dit het sekere persoonlikhede aan die ander kant help ontbloot as Hlaudi se steunpilare. Dis nou as sodanige ontbloting nog nodig was, maar daar is mos altyd sommiges wat dinge stadiger snap as ander.

Die vraag wat regtig gevra moet word, is: Wie is dit wat Hlaudi Motsoeneng beskerm het en hom steeds beskerm? Wat is hulle loon vir dié onbaatsugtige naastediens? Wie is Anton Heunis byvoorbeeld? Baie mense sal hom onthou as die vaal seun wat nou die dag by 'n nuuskonferensie Hlaudi se besluit om nie enige onluste uit te saai nie, verdedig het as 'n slim stap om te keer dat buitelandse beleggers afgeskrik word. Nadat dié stukkie briljantheid jou asem weggeslaan het, sou jy begin wonder het oor waar dié man met die skitterende joernalistieke insigte nog al die jare wegkruip. Wel ... in 'n verskeidenheid kantore in die SABC waar hy met allerhande goed te doen gehad het, behalwe met joernalistiek. Blykbaar goed in sekere opsigte ook. Maar nie 'n joernalis nie, en duidelik geen kennis van dié beroep se etiek nie. Maar na hy as hoofbestuurder (en waarnemende groep uitvoerende hoof) afgetree het, is hy nou blykbaar konsultant en regterhand aan Hlaudi.

Nog 'n vraag: Hoekom is die één persoon wat weet wat die waarheid is, nog nooit deur óf die parlement se staande komitee op kommunikasie óf Hlaudi se dissiplinêre verhoor ondervra oor die man se aanstelling nie? En oor die daaropvolgende gekonkel en geknoei nie? Ek weet dié persoon is bang, maar dit mag mos nie as verskoning dien as iemand letterlik met misdaad wegkom nie?

Pleks daarvan is 'n bekwame maar dooie man se nagedagtenis beswadder, is hy voorgehou as die aartsrassis wat die arme Hlaudi gruwelik wou bedônner deur daarop aan te dring dat die SABC se regulasies nagekom word en dat hy nie kwalifiseer vir indiensneming nie.

Iewers op Facebook dryf daar 'n stuk rond waar 'n ander pleitbesorger 'n roerende pleidooi lewer vir die behoud van die grote Motsoeneng se rare kundigheid. Dié meesleurende stuk gatkruipery word gelewer deur die SABC se soveelste waarnemende groep uitvoerende hoof, Jimi Matthews. Matthews het uiteindelik nou die eerbare pad gevolg en bedank, maar nadat hy self oor die jare baie skade aangerig het en sy afdeling (hy is eintlik hoof van nuus) gelaai het met sy trawante. Gespring? Gestoot? 'n TV-kameraman wat tot die hoogste vlak gevorder het. Sou 'n mooi storie gewees het as hy nie soveel skade veroorsaak het nie.

Ook die nimlike Simon Tebele, waarnemende hoof van nuus. 'n Nuttige onderdaan in die dae van die apartheidserabestuur wat dit op een of ander manier reggekry het om 'n mynmaatskappy te oorreed om hom as segsman aan te stel. Tot hy hom die eerste keer teen RSG se Monitor/Spektrum se verslaggewer Anél Heydenrych vasgeloop het. Maar die SABC is mos altyd simpatiek genoeg om 'n ou (mislukte) tjom weer aan te stel. Sommer as hoofbestuurder. Want so 'n kêrel gaan klou aan sy joppie, teen elke prys.

En dan is daar Klara ... Klara is een van die groot sondaars in hierdie sage. Maar oor Klara sal ons anderdag praat. Benoude katte maak benoude spronge.

Die probleem met 'n geval soos dié is dat dit 'n klomp mense die geleentheid gee om skielik en luidrugtig aan die "regte kant" te wees. Ek ken baie van die name wat die afgelope dae op sosiale media boer en oor mekaar val in die stormloop om die grootste weeklaer en die eerste klipgooier te wees. Jy mag mos nou maar, want dis die bose Hlaudi-hulle wat nou die arme wit, Afrikaanssprekende verslaggewers se regte skend. Wel, amper almal wit en Afrikaans. Twee uit drie is mos 'n meerderheid? Maar daardie name is ook die name wat al vir ons in die verlede goed sleggesê het oor die items wat ons uitgesaai het, die stellings van ons ontleders wat nie ooreengestem het met hulle eie enge wêreldvisie nie. Demokrasie en spraakvryheid is blykbaar opsioneel, van tyd tot tyd en na gelang van 'n mens se behoefte.

Dus, dit is goed dat ons nou te velde trek om my oudkollegas te verdedig. Maar as jy dit net doen oor dit tydelik jou eie siening pas en jy môre, oormôre weer klippe wil gooi oor hulle bydraes jou ongemaklik stem, dan is jy deel van die probleem, nie die oplossing nie. Net nog 'n Hlaudi. Of Jacob.

  • Cobus Bester skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

 

  • 15

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Selfregverdigend en polities korrek moet kritiek op die hede altyd kort-kort gekwalifiseer word deur (dikwels ontoepaslike) kritiek op die verlede ...

    • So 'n bek moet jêm kry. Ek hoop die SABC-base en hulle trawante lees die brief.
      'n Lewensbeginsel : Wat jy in die donker doen sal in die lig openbaar word, ja, vanaf die dakke uitgeskreeu word. Wat jy (uit)saai sal jy maai.

  • Ek het baie respek vir Cobus Bester oor dekades. Jou veroordeling van wat onder die Nasionale Party gebeur het maak hierdie 'n baie gebalanseerde, nugtere uitspraak. Ek kyk lankal nie meer na die ANC se nuusprogramme op SABC en AN7 nie. Monitor op RSG veg nog, maar helaas, hoe lank voor hulle moet inval of loop. Dit verg baie moed om jou loopbaan op die spel te plaas vir jou oortuigings. Ek salueer almal wat dit doen, al is dit laat in die geveg. Die wiel draai stadig, maar Zuma en sy Hlaudis sal agterkom die wiel draai wel. Al is die leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.

  • Goed geskryf Cobus! 10 uit 10.Dankie daarvoor.Ek wil net graag weet wie is Klara?
    Ons mis jou op Monitor en hoor dit gaan goed met jou? staan Magdalene Kruger agter haar joernaliste? Veg sy vir hulle? Groete.

  • Frans van Aardt

    Cobus, dit is baie raak beskryf. Waarheen is ons op pad? Sosiale media kan help, maar dalk meer van die wal af tot in die sloot. Onkundige mense lê nou almal saam eiertjies en lig hul mening. In die proses gaan die paar mense wat ernstig is oor die ongeregtigheid se stemme verlore in die hoofstroom van onkundigheid. Ek begin al vir die laaste paar maande die gevoel kry dat daar 'n lelike ding aan die smeul is. Êrens gaan iemand vasskop en dan gaan die land ontplof. Ek hoop ek is verkeerd! Maar as die gematigdes so voel ...

  • Francois van Jaarveld

    Skep jou eie nuuskanaal op sosiale media (video en leesstof) en maak al die ongemaklikes meer ongemaklik daardeur!

  • Ons moet maar ons TV-lisensiegeld terughou. Dink net hoe sal dit gaan met die referendum oor twee jaar!

  • Frans Petoors

    Wel gedaan Cobus, dat jy vir jou oud-kollegas in die bresse tree. Ek bewonder ook hulle moed om teen knoeiers en bedriëers op te staan. 'n Bewys van hulle integriteit en passie vir hulle taak.

  • Ek reageer op die opskrif; het nog nie die hele lange artikel gelees nie. "Soos in die ou dae" - louter snert. Die huidige toestand is die eindresultaat van Cobus en sy mede-liberales se aksies, desnieteenstaande die waarskuwings van die meer behoudendes destyds. Cobus-hulle het toe gekry waarvoor hulle hulself beywer het en noudat dinge PRESIES gebeur soos destyds teen gewaarsku is, kla hulle SONDER die ordentlikheid van verskoning vra vir die verkeerde perd wat hulle opgesaal het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top