Die land se onderwys is in ’n krisis en die toekoms van miljoene kinders is duister. Die drome wat ons tydens die vroeë negentigerjare met die onderhandelinge en oorlegpleging oor ’n nuwe bedeling gehad het, het eenvoudig nie gerealiseer nie. Jean Oosthuizen het met Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), gesels om agter die kap van die byl te probeer kom.
Verlede jaar se matriekuitslae het wye reaksie in die media uitgelok. Daar was ’n 2,4%-daling in die slaagsyfer (75,8% in 2014 teenoor 78,2% in 2013). Dit was die eerste keer sedert 2008 dat daar ’n daling was. Wat is die belangrikste rede vir die daling en wie moet die skuld dra?
Die belangrikste rede vir die daling is eintlik die swak prestasie in KwaZulu-Natal (KZN). As KZN maar net dieselfde persentasie slaagsyfer as in die vorige jaar gehandhaaf het, sou die slaagpersentasie 77,8% (dus net 0,4% swakker as verlede jaar) gewees het. Dan sou die verskynsel waarskynlik geen opslae verwek het nie. ’n Mens moet dit beskou teen die agtergrond van die feit dat KZN byna ’n kwart van die totale aantal matrikulante oplewer en dat die slaagpersentasie in daardie provinsie gedaal het vanaf 77,4% tot 69,7% - ’n massiewe 7,7%.
Ons is lankal bekommerd oor wat in KZN aangaan. Benewens Oos-Kaap is dit tans die provinsie met die grootste arbeidsonstabiliteit onder onderwysers, om redes wat niks met die onderwys van kinders te doen het nie. Dit is dus KZN wat grootliks die skuld moet dra en hier is dit swak leierskap in owerheidsgeledere en vakbonde wat die vernaamste sondebokke is.
![]() |
| Paul Colditz |
![]() |
Is die slaagsyfers wat bekendgemaak word, werklik betroubaar en word die uitslae nie gepoets om dit beter te laat lyk nie?
Ons (Fedsas) glo dat die syfers inderdaad nie ’n betroubare barometer is van die ware stand van skoolonderwys in die land nie. Ek wil nie te kenne gee dat dit doelbewus gepoets word om dit beter te laat lyk nie. Die integriteit van die eksamen self en die prosesse wat daarmee verband hou, is grootliks bo verdenking.
En die kullery by sekere skole?
Die skaduwee wat wel oor die geloofwaardigheid van die eksamen gewerp is deur die beweerde moontlike kullery by sommige eksamensentra, is betreurenswaardig, maar dit beïnvloed nie regtig die groter prentjie wesenlik nie.
’n Belangrike faktor wat ook in ag geneem moet word, is die gehalte van die nasieners. Wes-Kaap kry pakslae omdat daardie provinsie teen verwagtinge in nie die topprovinsie is betreffende uitslae nie of nie minstens die tweede plek beklee nie. Wes-Kaap is egter die enigste provinsie wat sy nasieners toets voordat hulle matriekvraestelle mag nasien. In die ander provinsies weier die vakbonde, onder andere Sadou, om hulle lede aan toetsing te onderwerp. Ek wil nie noodwendig beweer dat hierdie faktor ’n invloed het op die slaagsyfer nie, maar dit kan sekerlik beteken dat Wes-Kaap strenger beheer uitoefen oor die gehalte van die nasieners en dat dit bydra tot ’n laer (en meer akkurate) slaagsyfer in Wes-Kaap.
Die groot probleem is egter dat die gerapporteerde slaagsyfer ’n tragiese verhaal verbloem. Daardie tragiek is die deurvloeisyfer, wat ’n meer realistiese beeld van die stand van ons onderwys weerspieël. In 2003 was daar 1 252 071 kinders in graad 1. Dit is hulle wat verlede jaar matriek moes geskryf het, maar net 403 874 het geslaag. Dit is dus ’n skrale 32,3%, wat terloops ook laer is as 2013 se 34,9%. Praat van agteruitboer! Wat my aanbetref moet dit die ware maatstaf wees van hoe die stelsel vaar – in elk geval veel eerder as die matriekslaagsyfer.
Kom ek val sommer met die deur in die huis: Wat is die stand van onderwys in Suid-Afrika regtig en hoe bekommerd moet ons wees?
Ons het werklik ernstige rede tot kommer – sonder dat ek alarmisties daaroor probeer wees.
Die probleem is dat ons eintlik twee onderwysstelsels het: die een stelsel (die minderheid) wat hoogs suksesvol is en kan meeding met die beste in die wêreld en die ander (die meerderheid), wat ’n tragiese mislukking is. Die drome wat ons tydens die vroeë negentigerjare met die onderhandelinge en oorlegpleging oor ’n nuwe bedeling gehad het, het eenvoudig nie gerealiseer nie. Dit is omdat die regte dinge nie aandag gekry het nie en omdat verkeerde besluite geneem is. Die voor die voet sluiting van alle onderwyskolleges en die versuim om vakbonde se invloed in die beheer en bestuur van skole en die stelsel as geheel aan bande te lê is goeie voorbeelde hiervan.
Maar watse toekoms is daar vir jong Suid-Afrikaners as slegs ’n derde van alle skoolbeginners uiteindelik matriek voltooi? Is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nie besig om die meeste kinders in die steek te laat nie?
Dit is inderdaad die geval dat die stelsel die meerderheid kinders se belange en toekoms versaak. Die toekoms van miljoene kinders is duister, want sonder behoorlike opleiding en onderwys is daar weinig hoop vir hulle om ’n sinvolle en lonende werk te bekom. Een van die ander groot foute wat gemaak is, is die uitfasering van tegniese en vaardigheidskole. In suksesvolle stelsels oor die wêreld heen word groot klem op onderwys en opleiding in hierdie rigtings gelê. Finland word allerweë as een van die suksesvolste stelsels beskou. Dáár is die verdeling tussen skole wat akademiese opleiding voorsien en dié wat tegniese/vaardigheidsopleiding voorsien, ongeveer 50-50. In ons land is die klem bloot op akademiese opleiding. Die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV, of beter bekend as CAPS) is nou herskryf om die tegniese komponent daarvan uit te brei, maar implementering daarvan gaan eers vanaf 2016 geskied, ten spyte van al ons pogings om dit onmiddellik te laat implementeer.
Tog stroom belastinggeld na die onderwys. Meer as R160 miljard word jaarliks nasionaal aan onderwys bestee, maar dit lyk nie of die belegging dividende oplewer nie.
Die werklike syfer is inderdaad R254 miljard, waarvan R214 vir skoolonderwys bedoel is. Die totale onderwysbegroting verteenwoordig sowat 20% van die totale landsbegroting. Hierdie persentasie is van die hoogste ter wêreld, maar dit is inderdaad so dat dié belegging weinig dividende oplewer. Dit is klinkklare bewys daarvan dat dit nie ’n tekort aan geld is wat die probleem is nie; dit is die wyse waarop daardie belegging aangewend word.
Hierby moet nog ook die bydrae van ouers in die vorm van skoolgeld in ag geneem word. Dit is volgens ons raming ongeveer R14 miljard.
Die hoë uitvalkoers en onsuksesvolle prestasie van studente beteken ’n verlies van sowat R1,3 miljard per jaar vir die staat. Hoe vergelyk ons situasie met dié van vergelykbare lande?
Ek is van oordeel dat die verlies veel hoër is as ’n mens die totale spandering aan onderwys in ag neem. Presies hoeveel dit is, is moeilik om te bereken, maar gegewe die uitsonderlik hoë begroting vir onderwys, en die feit dat net ’n derde van die leerders hulle skoolloopbane suksesvol voltooi, moet dit dan beteken dat net ’n derde van daardie massiewe bedrag produktief aangewend word. Enige besigheid wat daardie swak opbrengs op sy belegging het, sou summier bankrot verklaar word!
Die hoë uitvalkoers is ook nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Die getal kinders in skole in die VSA is natuurlik veel meer as in Suid-Afrika, maar daar word bereken dat tot 8 000 kinders per dag uitval in hoërskole in die VSA. Nietemin is ons uitvalkoers van ongeveer 66% veel hoër as die internasionale uitvalkoers van ongeveer 35%. Hier moet ons in gedagte hou dat ons praat van alle lande in die wêreld. Dit sluit dus lande in wat veel minder ontwikkel is as Suid-Afrika tot lande (soos Finland) wat nie die woord “uitvalkoers” in hulle woordeskat het nie.
Uit wat jy hier sê, is dit duidelik dat daar enorme probleme in die onderwys is met burokrasie en ondoeltreffendheid aan regeringskant. Is privatisering van skole nie dalk vir Suid-Afrika ’n opsie om onderwys reg te ruk en uit die moeras te kom nie?
Privatisering is ’n opsie, maar nie die oplossing nie, en wel om twee redes.
Die eerste rede is die feit dat die meerderheid mense (sowat 90%) nie private onderwys sal kan bekostig nie.
Die tweede rede is polities van aard. As die staat sien dat privatisering op baie groot skaal suksesvol is ten koste van die openbare sektor, sal die staat eenvoudig die private sektor koöpteer/nasionaliseer om juis om politieke redes die staat se mislukking te verbloem.
Wat baie mense in Suid-Afrika nie goed begryp nie, is dat ons nie “staatskole” in ons land het nie. Ons het openbare skole. Daar is ’n baie groot verskil tussen hierdie twee modelle. In eersgenoemde het die staat alle beheer en ook eienaarskap; in laasgenoemde het die plaaslike skoolgemeenskap, weliswaar in vennootskap met die staat, die leeue-aandeel in die beheer en “eienaarskap” van die skool.
Ons voorstel vir die oplossing van die probleme is deels dat die model waarvoor ons in die vroeë negentigerjare gekies het, tot sy volle konsekwensies uitgevoer moet word. Dit beteken dat maksimum verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid tot die laagste vlak in die stelsel, dit is die skool self, afgewentel moet word. Enige groot stelsel, soos die onderwys in Suid-Afrika met sy tien burokrasieë en meer as 24 000 skole inderdaad is, is gedoem tot mislukking as jy dink dat beheer en bestuur hoog op gesentraliseer moet word.
Prakties beteken dit dat die geld wat aan onderwys spandeer word, direk na die skool toe moet gaan en nie via ’n lang voorsieningskanaal wat deur die burokrasieë loop en in die proses daar vermors word nie. Al wat die staat dus behoort te doen, is om:
- onderwysers op te lei en dit baie goed te doen
- befondsing direk aan skole te gee en gereeld verantwoording vir die aanwending van die geld te vereis
- die kurrikulumuitkomste voor te skryf en die suksesvolle implementering daarvan te assesseer
- plaaslike gemeenskappe (veral ouers) op groot skaal toe te rus om maksimum verantwoordelikheid vir die skool te aanvaar.
In plaas van bogenoemde het ons in Suid-Afrika massiewe onderwysburokrasieë gaan skep wat weinig bydra tot dit wat in die klaskamer gebeur. Dit was nooit die bedoeling nie.
Jy het by ’n vorige geleentheid daarop gewys dat 60% van openbare skole disfunksioneel is. Omtrent net 3 000 van die 24 000 openbare skole is werklik produktief. By water skole kom die grootste probleme voor?
Nee, my standpunt is dat 90% van die skole inderdaad disfunksioneel is, maar ek sou toegee dat my standaard vir ’n ontwikkelende land dalk te hoog is. Ernstige en geloofwaardige onderwyskenners en -navorsers is dit egter eens dat die syfer minstens 80% is. Dikwels word beweer dat die voormalige model C-skole die enigste suksesvolle skole is, maar dit is nie waar nie. Op geen stadium het hierdie skole meer as 7% van die totale aantal skole in Suid-Afrika uitgemaak nie.
Die probleme kom hoofsaaklik voor by skole in daardie gebiede waar onderwys juis die nodigste is, naamlik die armer en minder ontwikkelde dele van die land. Die swak prestasie en werksetiek van skoolhoofde en onderwysers in baie van daardie skole is grootliks die oorsaak van die probleem.
Die gemiddelde graad 9-leerder in Suid-Afrika het onlangs 10,8% behaal vir syfergeletterdheid in die jaarlikse nasionale assesseringstoetse, of ANA-toetse. Hoewel daar geringe verbeteringe in ander grade en vaardighede was, word vanjaar se uitslae deur dramatiese agteruitgang gekenmerk. Die gemiddelde prestasie in huistaal vir graad 9-leerders is net 48%. Word daar nie te veel klem op wiskunde gelê terwyl kinders vandag nie eers kan lees of skryf nie?
Ek moet eerstens beklemtoon dat die ANA-toetse juis die grondliggende probleem in onderwys in Suid-Afrika blootlê en beklemtoon. Die uitslag van hierdie assessering dui aan dat kinders in graad 1 nie te sleg vaar nie, maar dat daar drastiese agteruitgang is namate die kinders tot in graad 9 vorder. Die ironie is dat hoe langer jy in die skool is, hoe slegter vaar jy! My verklaring hiervoor is dat die grondslag van onderrig wat in die grondslagfase gelê moet word, nie goed is nie en wanneer die kind dan in graad 9 kom en die moeilikheidsgraad van die kurrikulum toeneem en assessering strenger word, val hulle spreekwoordelik uit die bus uit. Ek haas my sommer ook om te sê dat die amptenare van die nasionale onderwysdepartement wat vir hierdie assessering verantwoordelik is, heelhartig met my siening saamstem.
Twee opmerkings hieroor verdien aandag.
Die eerste is dat die meeste kinders in Suid-Afrika nie in hulle moedertaal onderrig word nie en daar van hulle verwag word om oor te skakel na Engels aan die einde van die grondslagfase (graad 3). Dis fataal vir die ontwikkeling van die kind. Die debat oor die voordele van moedertaalonderrig is lankal afgehandel, maar klaarblyklik moet ons in Suid-Afrika die wiel van vooraf probeer ontdek.
Die tweede is eenvoudig dat basiese vaardighede soos lees, skryf, tel en rasionaliseer nie behoorlik onderrig en vasgelê word nie. Daar word altyd in Engels van “the three Rs” gepraat, maar ek meen daar is minstens vier r’e: reading, ‘riting, ‘rithmetic en reasoning.
Dit wil voorkom of die onderwys regeer word deur sommige vakbonde wat hul eie belange bo dié van die leerders stel. Onderwysprobleme moet tog seker eerder deur onderwyskenners hanteer en bestuur word? Hoe bekommerd is jy oor de politieke rol wat die onderwysvakbond Sadou in skole speel?
Ek is erg bekommerd oor Sadou se destruktiewe rol en gelukkig is daar ’n toenemende aantal mense wat hierdie bekommernis deel. Sadou is verreweg die grootste onderwysvakbond in die land en is boonop in alliansie met die regerende party. Dit maak dit enersyds onmoontlik vir die regering om Sadou vas te vat, maar aan die ander kant gee dit hulle ook ’n binnebaan om sake in die onderwys na hulle sin te manipuleer. Hierdie manipulasie strek vanaf “kaderontplooiing” tot daadwerklike pogings om skole se beheer en bestuur tot hulle voordeel te destabiliseer.
Twee jaar gelede het die einste Sadou gedreig om onderwys tot stilstand te dwing as die Minister en die direkteur-generaal van basiese onderwys nie afgedank word nie. Kwalik ’n jaar later is die direkteur-generaal onskuldig bevind aan die dinge wat hom deur Sadou ten laste gelê is, maar hy is nogtans op aandrang van Sadou uit sy pos uitgeskuif. Kort daarna verklaar dieselfde minister by Sadou se kongres dat laasgenoemde ’n “beacon of hope” en ’n “shining example” is! Dit wys die omvang van die regering se gedienstigheid aan Sadou en hoe hy sake tot sy eie voordeel manipuleer. Die ruimte ontbreek om al die gruwelike voorbeelde van ontwrigting te noem.
In die vakbonde – daar is gelukkig meer as net Sadou – is daar wel baie kundiges, maar hulle word ook deur vakbondaffiliasie aan bande gelê. Vakbonde behoort hulle as vakbonde te beperk tot die regte en die diensvoorwaardes van hulle lede en behoort glad nie ruimte gegun te word om enigsins by die beheer en bestuur van skole en die groter onderwysstelsel betrokke te wees nie. Die kenners in vakbonde behoort wel in die beheer en bestuur betrek te word, maar dan buite hulle vakbondverband en as kenners uit eie reg.
Daar is reeds ’n aanduiding dat daar ’n toenemende tekort aan onderwysers in die ouderdomsgroep 30 tot 50 jaar is. Besef die owerhede dit en wat stel jy voor om die situasie te beredder?
Ek dink die owerheid besef die probleem, maar nie genoeg word daaraan gedoen nie. Die Funza Lushaka-beursskema is ingestel om die probleem die hoof te bied. Ons moet egter baie meer doen om die status van die onderwysberoep te verhoog, sodat veel meer van ons beste jong talent bereid sal wees om die onderwys as beroep te wil kies. Solank baie onderwysers self egter nie skouer aan die wiel sit om die negatiewe persepsie wat oor die beroep bestaan, hok te slaan nie, sal dit egter nie gebeur nie. Ek verwys hier na onderwysers wat geen werksetiek het nie, wat dronk by skole opdaag of glad nie opdaag nie, wat hulle eie belange bó die van die kinders wat aan hulle toevertrou is, stel, of wat kinders seksueel molesteer en misbruik. Dit waaraan hulle hulle skuldig maak, is ’n kriminele klad teen toegewyde goeie onderwysers en skaad die beeld van die beroep ongelooflik.
Die beginpunt om die beroep vir jongmense aantreklik te maak sou baie strenger keuring en toelatingsvereistes vir onderwysstudie wees. In Finland word hierdie benadering streng toegepas, met die gevolg dat onderwys in daardie land ’n hoogs gesogte beroep is. Slegs 10% van diegene wat aansoek doen om in die onderwys te studeer, word aanvaar. In ons land moet ons mense letterlik smeek om onderwys te gaan studeer.
In Suid-Afrika word onderwysers ook nie na waarde geskat nie. Ek het veral die indruk dat daar tussen onderwysowerhede en onderwysers self geen goeie verhouding bestaan nie. ’n Mens kan baie spekuleer oor die redes daarvoor, maar ruimte ontbreek om dit volledig te bespreek. Die feit is egter dat onderwysers hulle as gevolg hiervan dikwels in ’n slegte werksomgewing bevind en dit is allermins bevorderlik vir werksbevrediging.
Die ekonoom Dawie Roodt het onlangs na lae produktiwiteit in die onderwys verwys en gesê onderwysers is wat hom betref “oorbetaal en onderwerk”. Dit is volgens hom een van die redes waarom daar geen verbintenis daartoe is om gehalte te verbeter nie. Wat is jou kommentaar hierop?
Ek kan nie ongekwalifiseerd met Dawie saamstem nie. Daar is duisende onderwysers wat hulleself afsloof ter wille van die kinders. Dit is die onderwysers in die suksesvolle skole. Geen geld kan hulle na waarde vergoed nie.
Ongelukkig is dit egter so dat Dawie reg is met betrekking tot die meerderheid onderwysers. Dit is tog immers wat die resultate van die stelsel vir ons sê, want geen onderwysstelsel kan beter wees as wat sy onderwysers is nie.
Terloops, in wêreld- en spesifiek Afrika-konteks, kan onderwysers in Suid-Afrika nie kla oor hulle vergoeding nie.
Nog ’n saak wat vanjaar op die onderwysagenda is, is die hele kwessie van godsdiensonderrig in skole. Sou dit nie beter gewees het om ’n oop proses van beraadslaging met alle betrokkenes te voer as om hof toe te gaan nie? Diegene wat beswaar maak teen die toepassing van die godsdiensbeleid in skole, beweer vorige pogings tot beraadslaging en korrespondensie met beheerrade, die onderwysdepartement, Fedsas en andere het, waar dit enigsins beantwoord was, tot weinig gelei. Is die kool die sous werd om daaroor ’n geveg in die howe aan te knoop en sal dit nie beter wees om dit deur gesprekke op te los nie?
Jy is heeltemal reg. Die stelling dat vorige pogings tot beraadslaging nie geslaag was nie, is egter nie reg nie. Daar was nie werklik sodanige pogings waarvan ek bewus is nie. Ek en Hans Pietersen, die dryfveer agter die saak, het wel gedurende 2009 met mekaar oor ’n spesifieke skool se situasie gekorrespondeer, maar daarna het dit doodstil geraak totdat die hofaansoek uit die bloute en sonder enige waarskuwing of vooraf gesprek op die ses skole beteken is.
Ons is egter nou in die ding en eintlik verwelkom ons die saak. Die saak bied vir almal die geleentheid om nou op beskaafde en grondwetlik aanvaarbare wyse debat te voer oor die tipe Suid-Afrika waarin ons graag wil leef. Konsensus daaroor is grootliks bereik met die aanvaarding van die Grondwet en die Handves van Regte wat daarin vervat is, maar die implikasies van byvoorbeeld artikel 15, wat onder andere oor godsdiensregte handel, is nog nie heeltemal uitgepluis nie. Wat niemand in Suid-Afrika sekerlik wil hê nie, is dit wat nou in Parys, Frankryk aangaande Charlie Hebdo gebeur het. Die hofsaak bied die ideale geleentheid om daardie tipe situasie in Suid-Afrika uit te skakel.





Kommentaar
Dankie vir reguit, op die man af vrae oor die onderwys, en ook reguit antwoorde. Ons wat heeldag in die omgewing werk, moet daarteen waak om nie soms moedeloos te word nie, maar niemand kan ook ontken dat daar wel sedert 2009 beduidende vordering gemaak is nie. Ek werk spesifiek in Mpumalanga en die vordering wat bv in Bosbokrand gemaak is, is merkwaardig - van 'n gemiddelde slaagsyfer van 28.2% in 2009 na 76.8% in 2014. Daar is verbetering. Maar die deurvloei is 'n krisis en laerskole moet seker maak dat hulle die basiese en sosiale vaardighede goed vestig!
Die invloed en druk wat ouers en gemeenskappe behoort uit te oefen, word nog totaal onderskat. Ouers moet ten volle betrokke raak om te verseker dat skole goed bestuur word. Daar is altyd hoop. Ons het baie kundige mense in die onderwys, maar dit moet weer 'n passie en roeping word. Onderwysers BLY rolmodelle en moet dit waardig wees.Die vestiging van waarde-stelsels moet prioriteit geniet.
Ek het Paul Colditz se deskundige opinie met groot belangstelling gelees. Kundiges soos hy en organisasies soos FEDSAS lewer 'n groot bydrae tot die verbetering van onderwys in ons land.
Dankie vir 'n verfrissende eerlikheid duidelik gestroop van politieke gedienstigheid. Die onderwys is 'n groot skip om te draai en te veel matrose word van die dek afgespoel voor die beloofde aankoms. Skoolgeboue word meestal net tot 2nm gebruik ... Vaardigheidsonderrig en beroepsvoorbereiding kan in klubformaat by skole aangebied word in 'n sg tweede skof , geborg deur die privaatsektor as potensiële verskaffers van internskappe en tydelike werksgeleenthede. Die NEET's jonger as 24 jr nader die 3miljoen merk. Skoolverlaters kan toegerus word om klubs self te bestuur met die hulp van mentors uit die gemeenskap geskoei op besigheidsbeginsels. Dit kan 'n positiewe suurdeeg-effek op die indiensneembaarheid van die hele skoolgemeenskap hê. Die vereistes van 'n veranderende werkplek word sodoende nader aan die skool gebring en die realiteit van selfonderhoudende lewenstyle in 'n moderne globale ekonomie sodoende bevorder.