Donovan Lawrence, Afrikaans en Nederlands-dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, se LitNet Akademies-artikel “Afrikaansstudente se persepsies en gebruik van WhatsApp as platform vir (taal-)leer: ’n nuwe norm(aal)?” het onlangs verskyn. Regardt Visser het twee jong onderwysers, Willene Theart en Zubayr Charles, na aanleiding van Lawrence se navorsing uitgevra oor die gebruik van WhatsApp as onderrighulpmiddel tydens die staat van inperking. Willene is vakhoof in dramatiese kunste by Hoërskool Strand, en Zubayr Charles gee Engels by die Good Hope Seminary Girls’ High School in Kaapstad.

Willene Theart en Zubayr Charles (Foto’s: verskaf)
Met die inperkings van COVID-19 het die gesig van tradisionele klaskamers verander en onderwysers is uitgedaag om nuwe leerruimtes te kweek, onder andere WhatsApp-klaskamers. Die tegnologie was nog altyd tot ons beskikking, maar nou sien ons hoe kreatiewe oplossings gevind moet word om die leerkultuur te laat voortgaan. Wat was van die struilkelblokke wat gepaard gegaan het met hierdie verskuiwing van leerruimtes?
Willene: Dit was ’n groot aanpassing vir beide onderwysers en leerlinge. Toegang tot wifi, data, selfone en skootrekenaars was van die begin af ’n groot struikelblok. Almal neem gewoonlik die toegang tot tegnologie as vanselfsprekend aan, maar ongelukkig is die realiteit dat baie leerlinge beperkte toegang tot daardie tegnologie het.
Dit was ’n “trial and error”-proses. Daar is vir elke vak ’n WhatsApp-groep gestig. Daarop sal elke week hulle les met take, ondersteunende dokumente, inligting en video’s gelaai word. Ons het oorspronklik gedink ons loop die ekstra myl deur videolesse te bied waar dit ’n gewone klaskamer namaak, maar ons het gou besef dit plaas finansiële druk op leerders wat nie die data vir al die dokumente kan bekostig nie. Natuurlik probeer ons hierdie gevalle tegemoet kom deur kleiner “compressed” video’s te stuur en dokumente so klein as moontlik te hou.
Zubayr: Baie leerlinge het beperkte finansiële hulpbronne en dus nie toegang tot wifi of selfoondata vir Zoom- en Skype-lesse nie. As onderwyser moes ek ander maniere vind om WhatsApp-klaskamers effektief aan te bied.
Met hierdie nuwe ruimte, wat is die nuwe metodes van lesse voorberei en hoe belangrik is dit om ’n gemaklike en toeganklike leeromgewing te skep?
Willene: Nuwe metodes sluit in die gebruik van stemnotas, video’s en PowerPoint om die lesinhoud te ondersteun. Onderwysers moes noukeurig omgaan met lesvoorbereiding deur al die nodige informasie in kort brokkies deur te stuur. As kinders iets nie verstaan het nie, is veilige ruimtes soos die WhatsApp-groepe geskep om vrae uit te lig en saam te bespreek.
As ek gesien het ’n leerling sukkel, sou ek hulle persoonlik bel. Dit mag dalk vreemd klink, maar met die inperking moet ons gebruik maak van tegnologie om ’n natuurlike ruimte te probeer skep. Die belangrikste is om ’n reeds vreemde situasie so angsloos as moontlik te hou. Op ons WhatsApp-groepe sal ons meer informele boodskappe stuur, net om die gemoedere hoog te hou. ’n Mens moet konstant aanpas.

WhatsApp in die virtuele klaskamer (Skermgreep: Willene Theart)
In sy artikel dui Donovan Lawrence aan dat nuwe prosedures soos stemnotas en Word-dokumente kinders se luister- en leesvaardighede verbeter. Stem jy saam?
Willene: Tot ’n mate het kommunikasie verbeter met die uitdagende aard van die nuwe onderrigplatforms. Leerders wat gewoonlik skaam sou wees in ’n fisiese klaskamer, sou nou meer gereeld vrae vra deur persoonlike boodskappe te stuur, en so ook aangemoedig word om te kommunikeer en meer interaktief deelneem aan die leerproses. Dit gebeur wel dat leerders konstant vrae vra, al het ons iets reeds klaar bespreek, maar dis positief vir ’n onderwyser om te sien hoe hulle motivering vir deelname toeneem.
Zubayr: In vandag se tegnologiese era kom kinders die klaskamer binne met ’n goeie begrip van hoe toestelle, media en aanlyn onderrig werk, asook hoe nuttig hierdie metodes van leer kan wees. Leerlinge kan altyd teruggaan na stemnotas en dokumente. Ek het agtergekom dat hulle verkies om vanaf hulle selfone te werk in plaas van net dokumente deurlees. Leerders voel ook meer gemaklik om boodskappe te stuur en vrae oor die selfoon te stel, soos dit gewoonlik gebruik word in ’n informele konteks. Dus sou leerders wat nooit hulle hande in die klas sou opgesteek het nie, meer interaktief te werk gaan met selfone wanneer hulle iets nie verstaan nie.
Wat ervaar leerders as positief en negatie ten opsigte van digitale klaskamers?
Willene: Om goed georganiseerd te bly is ’n groot uitdaging en lei dikwels tot frustrasie. Kinders sukkel ook met hoe oorweldigend die boodskappe op ’n groep kan wees. As ek ’n opdrag deurstuur, sal daar ’n paar leerders wees wat dadelik terugvoer gee, maar ’n leerder wat eers ’n halfuur later na hulle foon kyk, mag dalk voel hulle is agter of het iets misgeloop. Leerders kommunikeer op onreëlmatige tye, wat soms steurend of angswekkend kan raak vir dié wat al klaargemaak het met die taak, of vir dié wat dit nog moet afhandel.
’n Positiewe gevoel is onder almal ervaar deur die feit dat ons met lesse kon aangaan, dat ons ’n kultuur van kommunikasie geskep het waar leerders se kommunikasievaardighede verbeter het.
Zubayr: Klasse was meer toeganklik aangesien leerders hulle eie tye kon uitsit vir die lesse. Hulle het egter wel na die fisiese klaskamer verlang, en spesifiek na sosiale interaksie.
Hoe belangrik is dit om ’n leernetwerk onder studente te skep? Dat dit nie net ’n les is wat afgehandel moet word nie, maar ’n geleentheid om interaktief te leer? Begryp die kinders die werk beter deur hierdie netwerking met mekaar?
Willene: Dit was moeiliker om via WhatApp interaktief met almal te wees, omdat mens nie kon bepaal presies wanneer leerders op hul fone sou wees nie. Maar die leerders het mekaar in dié tyd makliker gehelp, want hulle sou privaat met mekaar WhatsApp, en selfs videocall om oor die werk te gesels.
Ek het probeer om dinge meer informeel te hou. Ons deel memes en grappies met mekaar. Dit is om interaksie tussen leerders en leerder-onderwyser-verhoudings te versterk en die idee van nabyheid te skep.
Zubayr: Gewoonlik kweek leerders entoesiasme vir idees en kennis onder mekaar. Dit word egter moeilik wanneer leerders op hulle eie moet leer. Dus, om hulle te motiveer, probeer ons interaksie aanmoedig binne die WhatsApp-klaskamers. Sterker kommunikatiewe leerders floreer natuurlik meer as skaam leerders met swakker kommunikasievaardighede.
Noudat ons sien ons kan met tegnologie omgaan om onderwys te laat voortduur, glo jy dat WhatsApp-klaskamers tradisionele klaskamers sal vervang?
Willene: Nee. Leerders neig na fisiese interaksie met hulle onderwysers en klasmaats. Tydens die staat van inperking sal ons so ver gaan as moontlik probeer gaan om dit te simuleer.
Zubayr: Alhoewel WhatsApp-klaskamers vir nou ’n oplossing is en ons hierdie tegnologie tot ons voordeel kan gebruik, sal dit nie tradisionele klaskamers vervang nie, want Suid-Afrika het ’n tekort aan die hulpbronne om so iets moontlik te maak.
Lees ook:
Donovan Lawrence se LitNet Akademies-artikel: “Afrikaansstudente se persepsies en gebruik van WhatsApp as platform vir (taal-)leer: ’n nuwe norm(aal)?”
Christa van Staden se LitNet Akademies-artikel: “WhatsApp? Die ontwikkeling van ’n positief-interafhanklike e-praktyknetwerk tydens die samestelling van e-portefeuljes in afstandhoëronderwys”
Estelle Kruger in gesprek met Christa van Staden: “WhatsApp en die onderwys? Die sosiale media tot die redding!”
Leah Slinger-Steenberg en Doria Daniels se LitNet Akademies-artikel: “Verkenning van WhatsApp as ondersteuningsplatform om ouerbetrokkenheid by Xhosasprekende leerders se opvoeding te bevorder”
Burgert Senekal se essay: “Tussen verskeie vure: WhatsApp-privaatheidsinstellings, enkripsie en alternatiewe boodskaptoepassings (Telegram en Signal)”
Burgert Senekal se essay: “Sosiale media en die Afrikaanse leefwêreld uit ’n navorsingsoogpunt”


Kommentaar
Die konvensionele klaskamer is lankal uitgedien en nog nooit was die tyd so ryp soos nou om oor te skakel na ʼn buigsame model nie. Hoërskole behoort meer soos universiteite te funksioneer met verskeie geallokeerde ruimtes op die perseel waar skoliere met die nodige toesig en tegnologie selfwerksaam kan wees. Iewers het die gedagte verkeerdelik posgevat dat onderwysers kinderoppassers is wat ouers se kinders besig moet hou tot hulle “van die werk af” kom.
Die ou worsmasjien waar in groepsverband van klas na klas na klas beweeg word en ʼn opvoeder dan ʼn magdom gefrustreerde jongmense deurlopend moet dissiplineer om iets te probeer leer is kontraproduktief. Elke klasgroep bestaan uit diverse individue wat tot verskillende mate in ʼn bepaalde vakgebied belangstel en etlike wat geensins geïnteresseerd is nie, maar meeste van die onderwyser se tyd in beslag neem (mors). Kurrikulum moet relevant wees en as Lesufi en Kie hul werk na behore doen en fondse reg aanwend, sal skole niemand wat ʼn werktuigkundige wil word met Shakespeare belas nie. Korrekte plasing sal dissipline by skole verbeter en minder onderwysers laat voel gods water moet maar oor gots akker loop.
Die opvoeder se hooftaak van kennis oordra kan deesdae tot ʼn groot mate deur tegnologie verrig word. Individuele vordering kan egter onder meer aanlyn gemonitor word en spesifieke leerders afwisselend na gelang van behoefte na die klaskamer ontbied word vir ʼn in diepte analise, motivering, opheldering van werk ens. Terme soos Engels ‘gee’ kan gerus met doseer vervang word. Wie weet, dalk word dit nog ʼn professie.