WhatsApp as ondersteuningsplatform: ’n onderhoud

  • 0

Bo: Leah Slinger-Steenberg en onder: Doria Daniels

Leah Slinger-Steenberg en Doria Daniels het onlangs die volgende artikel in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer: “Verkenning van WhatsApp as ondersteuningsplatform om ouerbetrokkenheid by Xhosasprekende leerders se opvoeding te bevorder”. Naomi Meyer het hulle hieromtrent gevra.

Doria en Leah, ek het met belangstelling julle artikel in LitNet Akademies gelees. Hoe het dit onder julle aandag gekom dat daar baie Xhosasprekers is wie se kinders in Afrikaanse skole geplaas word?

Leah: Ek is ’n graad 1-opvoeder by ’n plattelandse skool waar hierdie tendens algemeen is. Die graad 1-klasse sluit in beduidende getalle Xhosasprekende leerders wat min tot geen Afrikaans verstaan nie. Ek het eers besef dat ons skool se situasie nie uniek is nie toe ek tydens ’n werkswinkel met opvoeders van ander skole in die distrik oor ons “probleem” gepraat het. Hulle skole het ook demografiese verandering in hulle leerderpopulasie opgemerk, wat gepaard gegaan het met multikulturele uitdagings. Na gesprekvoering met my studieleier, Doria Daniels, het ons besluit dat die verskynsel wetenskaplik nagevors behoort te word.

Ek sien julle studie het onder die ouers van graad 1-leerders plaasgevind. Graad 1 is 'n belangrike jaar vir enige kind, omdat die kind dan basies begin leer lees en skryf en ook vroeë wiskundige begrippe leer. Kon die ouers met wie julle gewerk het, enige Afrikaans praat toe julle hulle in die studie betrek het? Gee ons ‘n bietjie insig in watter mate hulle taalvaardig was in Afrikaans.

Kognitiewe resepsie, ontwikkeling en uitdrukking word deur die moedertaal van ’n kind geoptimaliseer. Dus, as die prosesse deur ’n tweede of soms ’n derde voertaal geskied, kan dit tot negatiewe opvoedkundige uitkomste lei vir sulke kinders. Hierdie Xhosasprekende graad 1-leerders begin hulle skoolloopbaan sonder enige kennis van Afrikaans, en het dus ’n groot agterstand wat soms nie ingehaal word nie. Hulle hoor moontlik Afrikaans vir die eerste keer wanneer hulle ingeskryf word by die skool.

Hulle ouers het lae tot geen taalvaardigheid in Afrikaans as onderrigtaal gehad nie en kon met die aanvang van die studie slegs in Engels kommunikeer. Dis daarom dat die onderhoude en die WhatsApp-groep-kommunikasie in Engels geskied het. Met verloop van die studie (en die WhatsApp-kommunikasie) het die ouers egter begin Afrikaanse woorde gebruik wanneer hulle met die opvoeder kommunikeer.

En wat van die kinders? Kon hulle al basiese Afrikaans praat toe hulle in die skool ingeskakel het?

Met die aanvang van die naskoolse leerondersteuningsprogram kon die meeste van die graad 1-deelnemers Afrikaans praat, omdat hulle toe reeds ’n kwartaal op skool was. Soos verwag, het hulle egter swak presteer in die vak Afrikaans Huistaal. Tydens die naskoolse leerondersteuningsprogram was prente dus ’n baie belangrike fasiliteerder tot begrip. As hulpmiddel kon die prente die deelnemers help om assosiasies tussen die Engelse en Afrikaanse taal te maak.

Wat het julle presies in die studie gedoen? Watter boodskappe is per WhatsApp aan die ouers gestuur?

Opvoeders het ’n geneigdheid om dit as vanselfsprekend te aanvaar dat alle ouers oor die nodige kundigheid en geletterdheid beskik om hulle kinders te kan ondersteun. Hierdie navorsing was deelnemende-aksie-navorsing, wat ten doel gehad het om die ouers toe te rus met vaardighede om hulle kinders met huiswerk te ondersteun. Verskeie stappe is gevolg om die ouers se vaardighede aan te vul en te bevorder. Met die verkenningsgesprek tussen die ouers, die graad 1-opvoeder en die navorsers kon die navorsingsprobleem beter omskryf word, en kon daar oor ’n plan van aksie beding word. Sekere disposisionele en situasionele uitdagings vir ouerdeelname is uitgewys, soos dat hulle nie Afrikaans as onderrigtaal magtig is nie, en dat hierdie enkelouers beperkte tyd tot hulle beskikking het. Hierdie waardevolle inligting het ons besluite oor die kommunikatiewe proses gerig. Die partye het saam besluit op ’n naskoolse leerondersteuningsprogram vir die betrokke leerders, met die ouers en die klasonderwyser as mede-opvoeders wat die huiswerktake fasiliteer. Die leerders het taakkaarte vir huiswerk ontvang, en hulle ouers moes hulle in ’n toesighoudende rol bystaan.

Die WhatsApp-kommunikasie met die ouers is eers in Engels gedoen sodat hulle sin kon maak van die opdrag. Dit is opgevolg met ’n Afrikaanse klankbaan wat die huiswerk se klanke en woorde in Afrikaans aan die ouers kommunikeer het. Die ouer moes die tweede klankbaan gebruik om die leerders by te staan tydens die voltooiing van die huiswerk. Ons het bevind dat die ouers tydens hulle gebruik van die Afrikaanse klankbaan vertroud begin raak het met die uitspraak van woorde, en dit selfs begin gebruik het in hulle gesprekke met die opvoeder.

Hoe het die kinders se prestasie gelyk voordat die ouers betrek is en hoe het dit agterna gelyk?

Ons het die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsinstrument gebruik om die Xhosa-moedertaalsprekende graad 1-leerders se prestasie in Afrikaans te bepaal. Met die aanvang van die studie was die hoogste telling vir Afrikaans Huistaal ’n kode 3 op die 1–7-skaal. Die leerondersteuningsprogram het in die tweede kwartaal begin en tot in die derde kwartaal gestrek. In hierdie twee kwartale het die graad 1-deelnemers beter uitslae begin toon en was hulle finale vordering op die prestasieskedule gemiddeld 2 kodevlakke hoër as hulle intreeprestasie.

Hoe belangrik dink julle is ouerbetrokkenheid by kinders se skoolprestasies?

Uiters belangrik! Ouersbetrokkenheid speel ’n baie belangrike rol in die skoolprestasie en bemagtiging van die kind. Wanneer ouers betrokke is, bly hulle ingelig oor die kind se skoolprestasie sowel as belangrike gebeure by die skool. Wanneer daar goeie kommunikasie tussen ouer en opvoeder is, weet ouers wanneer hulle kinders opvoedkundige probleme ervaar en kan hulle die kind bystaan. Navorsing toon ook dat kinders wie se ouers belangstelling toon in hulle skoolwerk, ’n meer positiewe benadering teenoor hulle skoolwerk, en die skool, openbaar.

Hoe meet julle die sukses van 'n kind se ontwikkeling op skool?

Dis ’n moeilike vraag! In prestasiegedrewe omgewings word sukses dikwels net gekoppel aan wat meetbaar is. Leerdersukses word bepaal deur assesseringstake wat gedurende die skoolkwartaal plaasvind. Aan die einde van die kwartaal word terugvoering daarvan in die vorm van ‘n verslagkaart gegee. Dus, as die leerder ’n toets of eksamen geslaag het, was hy suksesvol. Vir my (Doria) is daar sukses wanneer leerders hulle stem vind. Sukses is daarom menslike groei soos dit in die skooljaar te bespeur is. Watter vordering het die leerder wat aanvanklik nie die skooltaal magtig was nie, en nooit aan klasgesprekke deelgeneem het nie, gemaak? Sukses in so ’n geval blyk wanneer hy/ sy woordeskat begin aanleer en dit gebruik om te kommunikeer; wanneer hy/sy hom-/haarself as deelnemer kan laat geld. Die dag wanneer die graad1-leerder nie meer haar maatjie nodig het om vir juffrou te vra of sy klas kan verlaat nie, is ’n aanduiding van sodanige sukses. Persoonlike bemagtiging is die bousteen van sukses op skool, en akademiese prestasie is ’n uitkoms daarvan.

Suid-Afrikaanse skole het so baie uitdagings. Taal is maar net een daarvan. Maar wat dink julle kan in ander meertalige skoolomgewings gedoen word om ouers en kinders saam te laat meewerk sodat die kinders beter presteer?

Daar is oplossings vir enige probleem, mits daar hard genoeg gesoek word daarna! Die skool en die huis moet gesamentlike verantwoordelikheid begin aanvaar vir die kind se opvoedkundige ontwikkeling en sukses. Daarvoor is kommunikasie tussen die huis en skool ononderhandelbaar. Skole sal ouers as vennote moet intrek by die leerproses, sodat hulle saam aan oplossings werk ter bevordering van suksesvolle leerkulture in skole en huise. Meer erkenning moet gegee word aan die rol wat die huisomgewing en ouers in die opvoeding van hul kinders speel, en ouers as vennote in die daarstel van suksesvolle opvoeding moet erkenning geniet.

Ongeletterdheid is die grootste struikelblok tot sukses in multikulturele skoolomgewings. In Suid-Afrikaanse staatskole is dit nie ongewoon dat leerders in ’n derde of vierde taal onderrig word nie. In baie voorstedelike hoërskole het die groei in vlugteling- en immigranteleerdergetalle die onderrigomgewing onkant betrap. Leerders word groot in huise waar hulle immigrante-ouers geen van Suid-Afrika se tale magtig is nie, en dus groot hindernisse tot deelname in hulle kinders se opvoeding ondervind. Die onderwysdepartement sal opnuut moet kyk na intergenerasie-geletterdheidsprogramme, want ongeletterdheidsprobleme gaan toeneem tensy gesinsgeletterdheid deel word van die nasionale opvoedingsagenda.

Is julle besig met nog meer navorsing?

Leah se MEd-navorsing sluit aan by my groter NRF-navorsingsprojek oor ouerbetrokkenheid en -deelname. Hierdie MEd-studie het aan ons getoon dat daar baie inligting is wat nog ontgin moet word oor die kompleksiteit van multikulturele klaskamers en die kommunikatiewe hindernisse wat ouers in die gesig staar wanneer hulle nie hul kinders se opvoedingstaal magtig is nie. Die studie is einde verlede jaar voltooi. Ons is in gesprek oor hoe die navorsing verder gevoer kan word, dalk as PhD-studie. Daar is ook ’n nuwe projek wat Leah graag wil aanpak wat ook te make het met ouerbetrokkenheid by Xhosasprekende leerders.

“It takes a village to raise a child,” word gesê. Tot watter mate is dit die verantwoordelikheid van skole en tot watter mate is dit die verantwoordelikheid van ouers en gemeenskappe om kinders deur hulle skoolloopbane te laat vorder?

Bernstein identifiseer beide die huis en die skool as pedagogiese leeromgewings. In die verlede is die huisomgewing as ’n versorgingskonteks gesien wat ondersteunend tot die opvoedingsomgewing moes werk. Skole het dus besluit hoe ouers die skool moes ondersteun. Ons verwelkom die paradigmaskuif van die ouer as ondersteuner van opvoeding na die ouer as mede-opvoeder. Die SASA (South African Schools Act) legitimeer die ouers se rol in ook die skoolomgewing.

Elke mens het die reg op ’n basiese opvoeding, en die samelewing vind baat daarby as sy burgers geletterd is. Die bevordering van ’n geletterde samelewing moet daarom deur elke landsburger nagestreef word. Dit verg spanwerk van al drie partye. Alhoewel die kind vir ’n groot deel van die dag in die opvoeder se sorg is, is dit die ouer se verantwoordelikheid om toe te sien dat dit wat die kind by die skool leer, op voortgebou word by die huis. Die kind moet te alle tye bevoeg voel om sukses te behaal. Indien die kind nie bemagtig word in sy opvoedkundige gemeenskap nie, sal dit iewers anders ’n negatiewe uitwerking hê. Indien die kind nie ondersteuning van die huis af kry nie, sal dit ’n negatiewe uitwerking by die skool hê en andersom. Dit is daarom belangrik dat daar vennootskappe gevorm word sodat die kind ondersteuning op alle vlakke kan ervaar.

https://www.litnet.co.za/search/?q=skoleseminaar

Verkenning van WhatsApp as ondersteuningsplatform om ouerbetrokkenheid by Xhosasprekende leerders se opvoeding te bevorder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top