Die wenner van die 2105-kompetisie is Karla Muller. Haar verhaal "Gisters" het die beoordelaars se voete onder hulle uitgeslaan. Karla het altesaam tien inskrywings ingestuur.
“Toe ek die oproep ontvang om te sê dat ek gewen het, was my eerste reaksie: Het ek miskien verkeerd gehoor? Maar na bevestiging het die idee baie stadig begin insink. Ek wil graag dankie sê aan LitNet wat die geleentheid bied aan tieners om hulle talente te gebruik. Ook natuurlik die beoordelaars wat tyd afgestaan het vir die kompetisie, en die borge, LAPA.
“My idees het begin as bloeisels wat rond en bont gegroei het en tien verhale later het die bloeisels in blomme verander.
“Ek wil ook baie dankie sê, asook nederig om verskoning vra, aan my familie, wat al tien stories tien keer elk moes hoor tydens die skrop-en-skaaf-proses. Die ondersteuning word opreg waardeer.
“Maar, die heel belangrikste, aan my Hemelse Vader kom al die eer toe,” het Karla gesê.
Karla wen R4 000 kontant, ’n Kindle Fire-bondel ter waarde van R4 500 en ’n boekpakkie van LAPA Uitgewers. Karla se skool, die Hoërskool Framesby, ontvang ook R4 000.
Thea Booysen van die Hoërskool DF Malan se verhaal "Die einde" het die beoordelaars net so beïndruk en besorg aan haar die tweede plek.
Thea wen R3 000 en ’n boekpakkie van LAPA Uitgewers. Thea was verras, maar natuurlik baie bly om van haar prys te hoor.
“Dit het my regtig motivering gegee om verder te skryf,” het Thea gesê.
In die derde plek is Handré Jankowitz van die Hoërskool Jim Fouché met sy verhaal "Tyd wag nie".
“Ek het my eindproduk vyfuur die oggend klaargemaak en vir LitNet ingestuur. Ek was onseker, omdat ek nog nie vantevore wetenskapfiksie geskryf het nie, maar my Afrikaansonderwyseres, mev Irene Raath, het my aangepor om deel te neem. Ek bedank LitNet vir die uitstekende kompetisie, die beoordelaars, asook mev Raath. Dit was 'n groot verrassing om te hoor ek is in die top 10. Baie dankie.”
Handré wen R2 000 en ’n boekpakkie van LAPA.
Daar word ook twee merietepryse aan die vierde- en vyfdeplekwenners toegeken. Die ywerige jong skrywers wat hierdie pryse wen, is Marilene Blom van die Hoërskool Strand en Juané Cronjé van die Hoërskool DF Malan.
“Ek het dit glad nie verwag nie! Dit was baie lekker om 'n wetenskapfiksiestorie in Afrikaans te skryf, want die twee word nie gewoonlik met mekaar geassosieer nie. Ek wil graag dankie sê vir my Afrikaansonderwyser, mnr Visser, wat my van die kompetisie vertel het en elke dag soveel moeite doen om ons lief te maak vir die taal,” sê Juané.
Marilene is net so oopgewonde oor haar prys: “Ek is so bly dat ek iets kon skryf wat ’n unieke storie vertel. Ek dink wetenskapfiksie is ’n wonderlike idee. Dit voel asof Afrikaanse literatuur so maklik kan vashaak in dramatiese plaasstories en hierdie kompetisie breek heeltemal weg daarvan. Ek wil net baie graag vir my Afrikaansonderwyser, mnr Andries Louw, en vir my ouers dankie sê vir hul ondersteuning. Dankie aan LitNet vir hierdie geleentheid.”
Juané en Marilene ontvang elk R1 000 en ’n LAPA-boekpakkie.


