WF 2015: Vorige wenners gee raad

  • 0

Die wenners van LitNet Akademies se heel eerste wetenskapfiksie-kortverhaalkompetisie in 2012 het met ons gesels oor waar hulle vandag is en watter raad hulle vir hierdie jaar se deelnemers het.

Trudie Coetzee

Trudie Coetzee

Trudie Coetzee studeer tans BA Tale by die Universiteit van Pretoria. Haar kortverhaal, “Kloon”, het met die eerste prys weggestap. Sy skryf nog wanneer sy kans kry en wil graag ook kreatiewe skryfkuns en joernalistiek nagraads swot.

“My raad aan jong skrywers is die woorde van Ernest Hemingway wat my altyd motiveer om te skryf: ‘All you have to do is write one true sentence. Write the truest sentence you know.’ Dit is nie altyd maklik om eerlik te wees oor wat ’n mens wil skryf nie, maar as jy net vir jouself skryf, kan niemand anders jou negatief beïnvloed nie. Dit is hoe mens jouself deur jou skryfwerk leer ken. Dit en goeie grammatika sal mens ver bring in die lewe.”

Stephan Bester het met sy verhaal, “Eksperiment AL1: ALONe”, die derde prys losgeslaan. Hy is tans ’n eerstejaarstudent by Open Window School of Visual Communication en studeer film. Stephan sê hy wil graag ’n draaiboekskryf en in produksieontwerp spesialiseer.

“Skryf in en maak die beste daarvan,” sê Bester aan voornemende deelnemers. “Jy het niks om te verloor nie, 

Stephan Bester

Stephan Bester

maar alles om te wen. Jy sal nie noodwendig eerste plek behaal nie, maar jy kry ervaring en groei so in jou studies en as mens. Om te skryf, of dit fiksie of ’n ware verhaal is, is ’n manier om jou gedagtes, drome, vrese, liefdes, passie en ervaring met die wêreld te deel. As die beoordelaars kritiek lewer, is dit nie om jou af te breek nie, maar om jou te help om jouself te verbeter.”

Emlyn Allwright se kortverhaal, “Papie”, het die tweede prys gewen. Emlyn studeer nou medies by die Universiteit van Kaapstad, en skryf nog baie graag. Sy is tans besig om die manuskrip van haar eerste tienerroman persklaar te maak.

Emlyn Allwright

Emlyn Allwright

Emlyn se raad aan voornemende deelnemers is eenvoudig: “Geniet dit! Moenie jouself te ernstig opneem nie, want wetenskapfiksie floreer op ’n goeie humorsin en kreatiwiteit wat vir niks skrik nie. Wees gereed om nuwe idees aan te pak; moenie in jou eie morele mure vasstaar nie: daag jouself uit! Wees aspris. Wees geniepsig en spitsvondig. Lig die wenkbrou voor jy iets tik. Eet bloubessies onderstebo en verf jou hele kamer oranje. En onthou om altyd genoeg water te drink!”

 

Lees hier meer oor hierdie jaar se wetenskapfksie-skryfkompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top